Donderdag 14 November
[Liefde] glo alles. – 1 Kor. 13:7.
Dit beteken nie dat Jehovah verwag dat ons ander blindelings moet vertrou nie; hy verwag eerder dat ons hulle moet vertrou omdat hulle bewys het dat ons hulle kan vertrou. Net soos respek, moet vertroue verdien word, en dit vat tyd. Hoe kan jy leer om jou broers te vertrou? Leer ken hulle goed. Praat met hulle by die gemeentelike vergaderinge. Doen saam met hulle velddiens. Wees geduldig met hulle, en gee hulle die geleentheid om te wys dat hulle vertrou kan word. Aan die begin sal jy seker nie al jou persoonlike gedagtes en gevoelens met iemand deel wat jy nog nie goed ken nie. Wanneer jy hulle beter leer ken, sal jy dalk meer gemaklik voel om jou gevoelens met hulle te deel (Luk. 16:10). Maar wat kan jy doen as ’n broer jou vertroue breek? Moet hom nie vinnig afskryf nie. Laat eerder ’n bietjie tyd verbygaan. En moenie toelaat dat die gedrag van ’n paar jou keer om jou broers en susters te vertrou nie. w22.09 4 ¶7-8
Vrydag 15 November
Die oë van Jehovah deursoek die hele aarde. – 2 Kron. 16:9.
’n Ouerman met die naam Miqueas het gevoel dat hy baie sleg behandel is deur party broers in verantwoordelike posisies. Maar hy het helder van verstand gebly en hard gewerk om sy gevoelens te beheer. Hy het baie gebid en Jehovah gevra om hom heilige gees en krag te gee om te volhard. Hy het ook inligting in ons publikasies gesoek wat hom kon help. Wat is die les? As jy voel dat ’n broer of ’n suster jou sleg behandel het, bly kalm en probeer enige negatiewe gevoelens beheer wat jy dalk het. Jy weet dalk nie hoekom die persoon gesê het wat hy gesê het of gedoen het wat hy gedoen het nie. So praat met Jehovah in gebed, en vra hom om jou te help om dinge te sien soos die ander persoon dit sien. Dit kan jou help om nie te dink dat jou broer of suster jou aspris wou seermaak nie en om te probeer om hom of haar te vergewe (Spr. 19:11). Onthou Jehovah is bewus van jou situasie, en hy sal jou die krag gee wat jy nodig het om te volhard. – Pred. 5:8. w22.11 21 ¶5
Saterdag 16 November
Ek vermy mense wat wegsteek wat hulle is. – Ps. 26:4.
Kies vriende wat lief is vir Jehovah. Jou vriende sal ’n groot uitwerking hê op jou vordering as ’n Christen (Spr. 13:20). Julien, wat nou ’n ouerman is, sê: “Toe ek jonger was, het ek goeie vriende gemaak terwyl ek velddiens gedoen het. Hierdie vriende was ywerig, en hulle het my gehelp om te sien hoe lekker die bediening kan wees. . . . Ek het ook besef dat ek uitgemis het op goeie geselskap en interessante vriendskappe omdat ek net vriende was met mense van my eie ouderdom.” Wat as jy besef dat iemand in die gemeente nie goeie assosiasie is nie? Paulus het geweet dat party Christene in die eerste eeu nie geestelik was nie, en daarom het hy Timoteus gewaarsku om weg te bly van hulle af (2 Tim. 2:20-22). Ons vriendskap met Jehovah is kosbaar. Ons het baie hard gewerk om nader aan hom te kom, so ons moenie vriende hê wat ons vriendskap met ons hemelse Vader sal beskadig nie. w22.08 5-6 ¶13-15