Jongmense vra . . .
Is dit normaal om ’n maagd te wees?
‘Pla iets jou vandag, Jane?’ het die vriendelike dokter gevra.
‘Dokter’, het sy huiwerig gesê, ‘so baie van die meisies by die skool sê dat hulle die pil gebruik en geslagsomgang het. Is daar iets met my verkeerd omdat ek nie geslagsomgang het nie?’—What Shall We Tell the Kids? deur dr. Bennett Olshaker.
MAAGDELIKHEID. In die verlede was dit ’n teken van eer. Deesdae beskou baie jongmense dit as iets om oor skaam en verleë te wees, ’n abnormale toestand, ’n siekte wat so gou moontlik “genees” moet word.
Dit is dus nie verbasend dat rekordgetalle jongmense hulle maagdelikheid prysgee nie. Byvoorbeeld, ’n opname wat in 1983 onder Duitse jongmense gedoen is, het bevind dat net 9 persent van 15-jarige meisies en 4 persent van 15-jarige seuns al geslagsomgang gehad het. Teen 1989 het die getalle tot 25 persent en 20 persent onderskeidelik gestyg! Soortgelyke tendense word oor die hele wêreld opgemerk.
Maar wat het maagdelikheid ’n slegte naam onder jongmense gegee? Jongmense uit alle geslagte moes al die sterk gevoelens verwerk wat gedurende puberteit opgewek word. Maar vandag se jongmense word groot in ’n wêreld wat hulle min of geen sedelike leiding gee nie. In een Europese land rapporteer ’n groep Christen- ouere manne: “Hoewel dit lyk of hierdie land godsdienstig is, is dit in werklikheid ’n amorele land. Ongeoorloofde geslagsomgang word as ’n ‘menslike swakheid’ geduld. Kinders word grootgemaak in gesinne waar die ouers nie getroud is nie. Seksgeoriënteerde reklame is hier erger as in enige ander land in die Westerse wêreld.”
Jongmense in ontwikkelende lande word eweneens blootgestel aan kragtige kulturele en ekonomiese magte wat promiskuïteit aanmoedig. ‘As ’n jong man nie geslagsomgang het nie’, word jongmense in een Afrikaland gewaarsku, ‘sal sy liggaam verswak.’ Net so algemeen is die opvatting dat ‘’n meisie die lewe nie ken totdat sy geslagsomgang met ’n seun gehad het nie’.
’n Meisie kan boonop as gevolg van wydverspreide werkloosheid en armoede huiwer om ’n voornemende werkgewer se eis om met hom geslagsomgang te hê af te wys. Onderwysers kan ook aandring op geslagsomgang as betaling vir ’n slaagpunt in die skool. Dit is glad nie ongewoon vir arm meisies om geslagsomgang aan te bied in ruil vir basiese noodsaaklikhede nie—selfs vir ’n koekie seep! “Geslagsomgang is amper so alledaags as om iets te drink of te eet”, sê waarnemers in een ontwikkelende land.
Portuurdwang
Maar dit is portuurdwang wat veral ’n invloed kan hê. ’n Jongmens wat nog ’n maagd is, sal waarskynlik die slagoffer van meedoënlose tergery en treitering wees. En as jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy veral in hierdie opsig die teiken wees. Jou portuurs sê dalk vir jou dat jy nie werklik ’n man of vrou is nie tensy jy al geslagsomgang gehad het. Hulle redeneer dalk dat dit ’n goeie idee is om “ondervinding” voor die huwelik op te doen. Of hulle probeer dalk om vir jou van allerhande ongeoorloofde seksuele eskapades te vertel.
“Sally het alewig gepraat oor hoe fantasties geslagsomgang met haar kêrel was”, het een jong vrou gesê. “Sy het my ook laat dink dat ek een van die lewe se groot genietinge mis.” Aangesien baie jongmense nie besef dat “daar baie grootpratery, oordrywing en leuens oor seksuele ondervinding onder tieners is” nie, word baie deur sulke stories beïnvloed (Coping With Teenage Depression, deur Kathleen McCoy). Een jong vrou, Maria, wat haar maagdelikheid tydens ongeoorloofde geslagsomgang prysgegee het, vertel: “Ek het gevoel dat daar druk op my uitgeoefen word, en ek wou so graag aanvaar word. Hoewel ek geweet het dat dit verkeerd is, wou ek soos al die ander wees—ek wou ’n kêrel hê.”
Miljoene jongmense het eweneens die wêreld se propaganda vir soetkoek opgeëet en begin glo dat maagdelikheid abnormaal is en dat voorhuwelikse seks net onskuldige pret is. Maagde het dus al amper ’n bedreigde spesie onder jongmense geword.
Maagdelikheid—God se beskouing
Maar daar is ’n sy van voorhuwelikse seks waaroor jou portuurs moontlik nie praat nie. Maria vertel: “Ek het agterna verleë en skaam gevoel. Ek het myself en my kêrel gehaat.” Sulke ondervindings is baie algemener as wat die meeste jongmense erken. Vergeet van die grootpratery en oordrywings wat jy dalk by jou portuurs hoor. Voorhuwelikse seks is in werklikheid dikwels ’n emosioneel pynlike en vernederende ondervinding—met verwoestende gevolge!
Dit moet jou nie verbaas nie. Want die wêreld beskou voorhuwelikse seks dalk as gesond en normaal, maar dit regverdig dit nie voor God nie. Jesus Christus herinner ons daaraan dat ‘wat by die mens hoog geag word, ’n gruwel voor God is’ (Lukas 16:15). God het sy eie standaarde vir aanvaarbare gedrag. Die Bybel sê: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer . . . Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”—1 Thessalonicense 4:3-7.
Maagdelikheid in ’n jong man of vrou is dus vir God nie net normaal nie maar ook rein en heilig! In eertydse Israel het maagde ’n hoë status geniet. Die Wet het hulle teen seksuele uitbuiting beskerm (Deuteronomium 22:19, 28, 29). En maagdelikheid word nou nog onder ware Christene gerespekteer. Die Christengemeente self word met “’n reine maagd” vergelyk omdat dit sedelik rein is.—2 Korinthiërs 11:2; Openbaring 21:9.
Die Bybel sê nêrens dat jongmense hulle maagdelikheid as ’n vloek moet beskou nie. Inteendeel, die apostel Paulus het gesê dat “hy wat in sy hart vasstaan . . . om sy maagd [“maagdelikheid”, NW] te bewaar [deur ongetroud te bly], hy doen goed. Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.”a Paulus het nie eerbare geslagsomgang in die huwelik veroordeel nie. Hy het eerder getoon dat ’n Christen wat besluit het om sy of haar maagdelikheid te behou deur ongetroud te bly “’n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here” kan geniet.—1 Korinthiërs 7:25, 33-38.
Vir ’n jong Christen is maagdelikheid dus nie ’n teken van skande nie, maar dit is getuienis van sy onkreukbaarheid teenoor God. Dit is weliswaar nie maklik om kuis te bly nie; dit verg baie selfbeheersing. Maar die Bybel verseker ons dat God se ‘gebooie nie swaar is nie’ (1 Johannes 5:3). Die psalmis verseker ons: “Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë” (Psalm 19:9). Dit is altyd heilsaam en voordelig om God se weg te volg.
‘Sondig teen jou liggaam’
Daarenteen sê die Bybel in 1 Korinthiërs 6:18: “Wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam.” Hoewel mense graag glo dat dit nadelig is vir jou liggaam as jy nie geslagsomgang het nie, is daar geen bewys daarvoor nie. Dit is wanneer jy jou aan ongeoorloofde geslagsomgang oorgee dat dit liggaamlike risiko’s inhou! ’n Bekende dokter sê: “Seksueel oordraagbare siektes sal toenemend voorkom tensy doeltreffende beheermaatreëls toegepas kan word, en die onlangse toename in hierdie siektes kan deels toegeskryf word aan verhoogde vlakke van seksuele aktiwiteit onder jongmense.”—Current Controversies in Marriage and Family.
Promiskue gedrag onder jongmense het ook tot ’n epidemie van tienerswangerskappe gelei. In die Verenigde State word die helfte van hierdie swangerskappe deur spontane en kunsmatige aborsies beëindig. Dan is daar die emosionele verwoesting wat ongeoorloofde geslagsomgang kan aanrig. “Nadat hy gekry het wat hy al die tyd wou hê”, vertel jong Diana, “het hy my laat staan.” Paulus se woorde is waar. Voorhuwelikse geslagsomgang is ’n ‘sonde teen jou liggaam’.
Hoerery sal ander ook ‘skade berokken of inbreuk maak op hulle regte’ (1 Thessalonicense 4:6, NW). Dit ontneem ’n ander die reg om ten minste in ’n skoon sedelike toestand in die huwelik te tree. ’n Toekomstige huweliksmaat word ook sy of haar reg ontneem om ’n huweliksmaat te hê wat ’n maagd is.
Die boek Why Wait Till Marriage? maak dus hierdie nugtere opmerking: “Na jou eerste seksondervinding is jy nie meer ’n maagd nie. . . . Jy kan net een keer kies.” Maak die regte keuse! Moenie deur die wêreld se propaganda mislei word om te dink dat daar iets met jou skort as jy Bybelstandaarde handhaaf nie. Maagdelikheid is nie vreemd of abnormaal nie. Dit is ongeoorloofde geslagsomgang wat verlagend, vernederend en nadelig is. Deur jou maagdelikheid te behou, beskerm jy jou gesondheid, jou emosionele welsyn en die belangrikste, jou verhouding met God.
Presies hoe ’n jongmens dit kan doen, sal in toekomstige artikels bespreek word.
[Voetnoot]
a Die Griekse woord wat in die Bybel as “maagd” weergegee word, is op mans en vroue van toepassing.
[Prent op bladsy 21]
Daar is baie grootpratery en leuens oor seksuele ondervindings