Die Bybelse verskoung
Was die apostel Paulus teen vroue gekant?
DIE apostel “Paulus se leringe is as die grondslag vir baie van die vooroordeel teen vroue in die Christelike . . . kerk gebruik”. Dít is wat regter Cecilie Rushton van Auckland, Nieu-Seeland, gesê het in ’n dokument wat vroeg in 1993 aan die Statebondsregskonferensie in Ciprus voorgelê is. “Sy Sendbrief aan Timotheüs”, het sy bygevoeg, “onthul sy denkwyse: ‘Maar ek laat ’n vrou nie toe om onderrig te gee of om gesag oor die man oor te neem nie, maar sy moet stil wees.’”—1 Timotheüs 2:12, King James Version.
Was dit bloot Paulus se persoonlike mening wat uitgespreek is of was hy deur God geïnspireer toe hy oor vroue se rol of posisie geskryf het? Weerspieël die sendbriewe, of briewe, van Paulus in hulle geheel beskou werklik ’n vooroordeel teen vroue? In watter konteks is Paulus se woorde aan Timotheüs wat hierbo aangehaal is van toepassing?
Bewyse van Paulus se geloofwaardigheid
Van die 27 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte word 14 aan Paulus toegeskryf. Sy wonderbaarlike vermoë om in baie tale te spreek, was ’n bewys van die heilige gees se werking op hom. Daarbenewens het hy getuig dat hy bonatuurlike visioene ontvang het (1 Korinthiërs 14:18; 2 Korinthiërs 12:1-5). Sy selfopofferende, heelhartige en liefdevolle voorbeeld het ’n intieme band van innige broederlike geneentheid tussen hom en sy Christentydgenote laat ontstaan (Handelinge 20:37, 38). Sy geskrifte, met inbegrip van wat hy oor vroue gesê het, maak deel uit van die ‘hele Skrif wat deur God ingegee en nuttig is tot lering’.—2 Timotheüs 3:16.
Vroue in Paulus se briewe
Dwarsdeur Paulus se geskrifte is daar oorvloedige bewyse van sy erkenning van en agting vir vroue. Hy verwys herhaaldelik na hulle in hulle verskillende rolle in die gemeente en in die gesin. In een van sy briewe het hy die gewenste eienskappe van ’n Christenherder vergelyk met dié wat ’n sogende moeder aan die dag lê.—1 Thessalonicense 2:7, vgl. NW.
Baie van die apostel se Christensusters, wat in sy briewe by name genoem word, word hartlik deur hom geprys. Sy groete aan lede van die gemeente in Rome het ook groete ingesluit wat in die besonder aan sekere vroue gerig is wat “harde werksters vir die Here” was (Romeine 16:12, NAV). Waar hy na Euodia en Sintiche verwys het, het hy die broers in Filippi aangemoedig om ‘hierdie vroue behulpsaam te wees wat met my saamgestry het in die evangelie’ (Filippense 4:3). In sy brief aan Timotheüs het Paulus die voorbeeldige geloof van daardie jong man se ouma Loïs en sy ma Eunice erken.—2 Timotheüs 1:5.
Is daar enige aanduiding van hoe Paulus se Christensusters op hulle beurt teenoor hom gevoel het? Hy het met dank na Aquila en Priscilla verwys, ’n egpaar met wie hy noue persoonlike omgang gehad het, want nie net Aquila nie, maar ook sy vrou, Priscilla, het “vir [hom] hulle lewe gewaag”.—Romeine 16:3, 4.
Vooroordeel teen vroue?
“’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (1 Timotheüs 5:1, 2). Weerspieël hierdie woorde van Paulus aan Timotheüs nie ’n heilsame respek vir vroue nie? Paulus het aan mans en vroue in die Christengemeente gelyke eer gegee. “Daar is nie meer Jood of Griek nie”, het hy geskryf, “daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”—Galasiërs 3:28.
Aangaande elkeen se godgegewe rol in die huwelik het Paulus geskryf: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.” (Efesiërs 5:22, 23; vergelyk 1 Korinthiërs 11:3.) Ja, die onderskeie rolle van die man en die vrou verskil, maar dit beteken nie dat die een huweliksmaat minderwaardig is nie. Die rolle vul mekaar aan en die vervulling daarvan bied ’n uitdaging wat die gesin se welsyn bevorder. Daarbenewens moes die uitoefening van die man se hoofskap nie onderdrukkend of liefdeloos wees nie. Paulus het voortgegaan: ‘Die mans behoort hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame’ en moet gewillig wees om groot opofferinge vir hulle te maak (Efesiërs 5:28, 29). Kinders moes beide die vader en moeder gehoorsaam.—Efesiërs 6:1, 2.
Daar moet ook kennis geneem word van Paulus se woorde met betrekking tot geslagsgemeenskap in die huwelik. Paulus het met onpartydigheid geskryf: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.”—1 Korinthiërs 7:3, 4, NAV.
“’n Vrou . . . moet stil wees”
Het Paulus se woorde in 1 Timotheüs 2:12, wat in die inleidingsparagraaf aangehaal is, waarin hy sê dat vroue “stil” moet wees uit vooroordeel teen vroue voortgespruit? Nee! Die “stilte” wat vereis is, was met betrekking tot onderrigting en die uitoefening van geestelike gesag in die gemeente, en dit was uit eerbied vir die voormelde verwantskap tussen man en vrou wat deur God voorgeskryf is.a
Dit beteken nie dat vroue nie onderrigters van Goddelike waarheid kan wees nie. Paulus het ouer vroue aangemoedig om vir die jonger vroue “leraresse van wat goed is” te wees. Christenmoeders wat die voorbeeld volg van Eunice en Loïs, wat Timotheüs onderrig het, moet hulle kinders in Goddelike weë oplei (Titus 2:3-5; 2 Timotheüs 1:5). Vandag, in gemeentes van Jehovah se Getuies, vind honderdduisende Christenvroue geestelike vervulling deur die voorbeelde van Euodia en Sintiche te volg om die goeie nuus in die openbaar te verkondig en dissipels van manne sowel as vroue te maak.—Psalm 68:12; Mattheüs 28:19; Filippense 4:2, 3.
Wat is dus jou gevolgtrekking? Regverdig Paulus se geskrifte, in hulle geheel beskou, die aantyging van vooroordeel teen vroue?
[Voetnoot]
a Met betrekking tot die uitdrukking “volle onderdanigheid” in 1 Timotheüs 2:11 (New International Version) sê die Bybelkenner W. E. Vine: “Die opdrag beteken nie ’n oorgawe van die verstand en die gewete, of om afstand te doen van ’n verpligting teenoor persoonlike oordeel nie; die sinsnede ‘met alle onderworpenheid’ is ’n waarskuwing teen die wederregtelike toe-eiening van gesag, soos, bv., in die volgende vers.”