Die jaarlikse besoek van die reuseleerskilpaaie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MALEISIË
DIT is amper middernag. Die volmaan gooi ’n goue glinstering oor ’n stil en kalm see. Op die strand by Rantau Abang is daar groepies mense, party staan, ander hurk of sit op die koel, fyn sand. Wat doen hulle hierdie tyd van die nag hier? Hulle wag geduldig op die besoek van ’n reusagtige dop met vier swempote—die reuseleerdop- of reuseleerskilpad.
Hierdie geheimsinnige amfibiese besoekers het internasionale bekendheid aan hierdie andersins geïgnoreerde strand gebring. Rantau Abang is aan die ooskus van die Maleisiese Skiereiland geleë, net noord van Dungun en ongeveer 400 kilometer noord van Singapoer. Dit is een van die min plekke ter wêreld waar die leerskilpaaie jaarliks op ’n edele sending besoek aflê.
Die seisoen waartydens die eiers gelê word, strek hier min of meer vanaf Mei tot September. Gedurende die besigste maande Junie, Julie en Augustus is dit redelik maklik om te sien hoe die eiers gelê word. Die skilpaaie sal gewoonlik ná donker uit die see begin kom. Het hierdie besoekers van regoor Maleisië, Singapoer en die Weste tevergeefs gewag?
Daar kom hulle uit die see!
Skielik, afgeteken teen die glinsterende water nie baie ver van die strand af nie, kan iets gesien word wat op en af dobber. Die toeskouers raak opgewonde! Namate dit die strand nader, begin ’n koepelvormige voorwerp uit die water te voorskyn kom. Dit is ’n skilpad wat aan land kom! Die paar gidse wat teenwoordig is, waarsku almal om so stil moontlik toe te kyk sodat die lawaai die skilpad nie afskrik nie.
Eers verskyn die kop, dan die nek, gevolg deur die voorste deel van die dop en die voorste swempote, totdat die hele skilpad uiteindelik op die strand is. Die sagte gety spoel oor die skilpad se stert en agterste swempote. Wat ’n reus is sy tog, ongeveer 1,8 meter of meer van haar neus af tot by die punt van haar stert! Daar lê sy roerloos op die strand.
Skielik lig die skilpad haarself met haar voorste swempote op en gooi haar liggaam vorentoe sodat sy die grond met ’n dowwe slag tref. Sy lê ’n oomblik stil, asof sy asem en krag vir die volgende oplig-en-gooi-beweging bymekaarskraap. Dít is hoe sy op land beweeg. Die toeskouers aan beide kante van haar word op ’n afstand gehou. Die gidse is baie streng hieroor. Met elke beweging vorentoe gee die toeskouers ook ’n tree vorentoe—maar baie stilletjies.
Terwyl die leerskilpad al hinkepink teen die strand opkom, weet sy instinktief wat haar bestemming is. Haar geprogrammeerde kennis stel haar in staat om ’n plek te vind waar al haar eiers die beste kans staan om uit te broei. Daar begin sy ’n gat grawe. Haar agterste swempote word grawe wat die sand opskep.
Ná wat soos ’n ewigheid voel, kom een van die gidse, wat ook ’n gelisensieerde eierversamelaar is, vorentoe en steek sy hand in die gat, wat so diep is dat sy elmboog daarin verdwyn. Toe hy sy arm uit die gat bring, snak almal van verbasing en opgewondenheid na hulle asem. Hy bring ’n eier te voorskyn!
Die leerskilpad se eier is ’n dowwe wit kleur. Dit wissel in grootte van ’n tafeltennisballetjie tot ’n tennisbal. Die laaste paar in ’n broeisel is gewoonlik net so groot soos ’n albaster. Die dop is, anders as pluimvee-eiers, eintlik ’n taai vlies wat maklik ingeduik kan word wanneer druk daarop uitgeoefen word. Snaaks genoeg, die wit van die eier (albumen) bly vloeibaar selfs wanneer dit gekook is. Dit smaak blykbaar ietwat vrankerig en effens visserig. ’n Skilpad lê gemiddeld ongeveer 85 eiers op ’n slag. Maar na bewering het ’n nes in 1967 ’n rekordgetal van 140 eiers bevat.
Nou kan die toeskouers vryeliker rondbeweeg. Party raak die skilpad bangerig aan en ondersoek haar. Ander klim op haar of leun teen haar om vir foto’s vir hulle foto-albums te poseer. As die skilpad van naderby bekyk word, kan ’n mens sien hoe dik, deurskynende slym, wat vol sandkorreltjies is, uit haar oë drup. Daar word gesê dat die verandering van water na lug dit veroorsaak. Nou en dan maak die skilpad haar mond oop om met ’n bulkende geluid asem te skep.
Die eiers word begrawe
Ná ’n hele ruk begin die skilpad haar agterste swempote beweeg om die sand in die gat terug te stoot. Sodra die gat gevul is, beweeg die leerskilpad haar agterste swempote in ’n kragtige ruitveërbeweging. Sand vlieg in alle rigtings! Die toeskouers staan vinnig terug om hulle gesig en lyf te beskerm. Die swaaiende swempote hou aan om ’n ruk lank rond te swaai. Watter uithouvermoë en krag word tog uitgeoefen! Wanneer die swempote uiteindelik ophou beweeg, kan die toeskouers nie ’n teken van die gat sien wat die leerskilpad gegrawe het nie. Instinktiewe wysheid inderdaad! Maar hoe oneindig groter is die wysheid van die Skepper van hierdie skilpad tog!
Voor die leerskilpad terugbeweeg see toe merk ’n gelisensieerde eierversamelaar een van haar voorste swempote. Dit word gedoen sodat haar volgende besoeke aan land en haar bewegings in die oop see gekontroleer kan word. Elke seisoen maak sy tussen ses en nege keer nes, met ’n rustyd van 9 tot 14 dae tussenin.
Skielik lig die leerskilpad haarself op en werp haarself vorentoe. Sy draai om, kies koers see toe en hinkepink vinniger terug as toe sy gekom het. Wanneer sy by die water kom, verdwyn eers haar kop en dan haar dop. Uiteindelik kan sy nie meer gesien word nie. Wanneer haar kop uiteindelik opkom, is die skilpad redelik ver weg. Sy swem vinnig uit na die oop see terwyl die maanlig die punt van haar neus vang. Hoe rats en vinnig is sy tog in water! Heeltemal anders as haar lompheid en stadige bewegings op land.
Bewaringspogings
Soos dit met al hoe meer ander diersoorte die geval is, word leerskilpaaie deur die skade van ’n besoedelde omgewing en mensehebsug bedreig. In die middel-sewentigerjare is honderde skilpaaie wat nie heeltemal volgroeid was nie, gevind waar hulle op die strande in die naburige staat Pahang uitgespoel het—dood! En die skilpaaie se eiers word gewetenloos bymekaargemaak om mense se eksotiese smaak te bevredig.
Diepe besorgdheid in Maleisië oor hierdie afname in skilpaaie het gelukkig in 1951 tot die aanneming van die Wet op Skilpaaie gelei. Die private insameling van eiers is verbied. Maar geldgierige mense verontagsaam hierdie wet aangesien die versoeking te groot is om ’n wins te maak. Bewaringspogings was nogtans nie tevergeefs nie.
Op die strand by Rantau Abang is dit ’n genot om rye klein plakkaatjies te sien wat in die sand gesteek is. Elkeen dui die plek aan waar ’n hopie leerskilpadeiers begrawe is. Die plakkaat dui die aantal eiers aan, die datum waarop dit gelê is en ’n kodenommer wat die oorspronklike broeisel eiers identifiseer. Ongeveer 45 dae ná die eiers gelê is, word sifdraad om elke plakkaat geplaas om te voorkom dat die skilpadjies ontsnap. Die inkubasieperiode wissel van 52 tot 61 dae. Namate die skilpadjies uitbroei, gewoonlik in die aand ná sononder, word die hoeveelheid per gat aangeteken. Hulle word dan in houers gesit en later langs die see vrygelaat.
Die bewaringsprogram het etlike duisende skilpadjies met welslae grootgemaak en hulle in hulle watertuiste vrygelaat. Maar hulle lae oorlewingsyfer, asook die afname in leerskilpaaie wat na Rantau Abang terugkom, is steeds ’n bron van kommer.
[Prente op bladsy 18]
Die leerskilpad, 1,8 meter van haar kop tot haar stert, lê tientalle eiers. Ongeveer agt weke later broei die skilpadjies uit
[Erkennings]
Leathery turtle. Lydekker
C. Allen Morgan/Peter Arnold
David Harvey/SUPERSTOCK
[Foto-erkenning op bladsy 17]
C. Allen Morgan/Peter Arnold