Sleutel 2—Sien om na jou liggaam
“Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit” (Efesiërs 5:29, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). As jy basiese stappe volg om na jouself om te sien, kan dit jou gesondheid aansienlik verbeter.
Kry genoeg rus. “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Die eise en afleidings van die hedendaagse lewe het mense se slaaptyd baie ingekort. Maar slaap is noodsaaklik vir goeie gesondheid. Studies toon dat ons liggaam en brein hulleself herstel wanneer ons slaap, wat goed is vir ons geheue en gemoedstoestand.
Slaap versterk die immuunstelsel en verminder die risiko van infeksie, suikersiekte, beroerte, hartsiekte, kanker, vetsug, depressie en dalk selfs Alzheimer se siekte. Pleks van slaperigheid—ons natuurlike “veiligheidsmeganisme”—met lekkers, kafeïen of ander stimulante te probeer oorkom, moet ons daarop ag gee en eenvoudig gaan slaap. Die meeste volwassenes het elke aand sewe tot agt uur slaap nodig om goed te lyk en te voel en hulle beste te lewer. Jongmense het meer slaap nodig. Dit is waarskynliker dat tieners wat te min slaap kry, sielkundige probleme sal ondervind en agter die stuurwiel aan die slaap sal raak.
Slaap is veral belangrik wanneer ons siek is. Ons liggaam kan party siektes, soos ’n verkoue, beveg as ons eenvoudig meer slaap kry en genoeg vloeistowwe drink.
Sien om na jou tande. As jy jou tande ná etes borsel en vlos, en veral voordat jy bed toe gaan, sal dit help om tandbederf, tandvleissiektes en tandverlies teë te werk. Sonder ons eie tande sal ons moontlik nie ten volle baat vind by die kos wat ons eet nie. Daar word berig dat olifante nie van ouderdom doodgaan nie, maar dat hulle stadig van die honger doodgaan nadat hulle tande verslyt het en hulle nie meer behoorlik kan kou nie. Kinders wat geleer word om hulle tande ná etes te borsel en te vlos, sal terwyl hulle jonk is en dwarsdeur hulle lewe beter gesondheid geniet.
Gaan dokter toe. Party siektes verg professionele mediese behandeling. As ’n siekte vroeg gediagnoseer word, het dit gewoonlik beter resultate en minder uitgawes tot gevolg. As jy nie gesond voel nie, moet jy dus nie bloot die simptome probeer verlig nie, maar eerder hulp kry om die oorsaak te identifiseer en dit uit die weg te ruim.
Gereelde ondersoeke deur amptelik erkende gesondheidsorgwerkers kan talle ernstige probleme voorkom, en so ook professionele mediese sorg tydens swangerskap.a Hou egter in gedagte dat dokters nie wonderwerke kan verrig nie. Algehele genesing van al ons kwale sal slegs plaasvind wanneer God “alles nuut” maak.—Openbaring 21:4, 5.
a Sien die artikel “Gesonde moeders, gesonde babas” in die Ontwaak! van November 2009.