Bybelboek nommer 31—Obadja
Skrywer: Obadja
Geskrif voltooi: ca. 607 v.G.J.
1. Wat toon dat die boodskap, eerder as die boodskapper, belangrik is?
IN NET 21 verse maak Obadja, die kortste boek van die Hebreeuse Geskrifte, ’n oordeel van God bekend wat die einde van ’n nasie beteken het en voorspel dit terselfdertyd die uiteindelike triomf van die Koninkryk van God. Die inleidende woorde lui eenvoudig: “Die gesig van Obadja.” Wanneer en waar hy gebore is, uit watter stam hy was, die besonderhede van sy lewe—niks hiervan word bekend gemaak nie. Dit is duidelik dat die identiteit van die profeet nie die belangrike saak is nie; die boodskap is wel, en heel tereg, want soos Obadja self sê, dit is ‘’n tyding van Jehovah’.
2. Oor watter land handel die profesie van Obadja, en wat het die inwoners daarvan veilig laat voel?
2 Die tyding handel hoofsaaklik oor Edom. Die land Edom, ook bekend as die gebergte Seïr, wat van die Dooie See suidwaarts al langs die Araba strek, is ’n woeste land met hoë berge en diep klowe. Op party plekke is die bergreeks oos van die Araba tot 1 700 meter hoog. Die Teman-gebied was bekend vir die wysheid en moed van sy bewoners. Die ligging van die land Edom, met sy natuurlike verdedigingsmiddele, het die inwoners daarvan veilig en trots laat voel.a
3. Het die Edomiete soos broers teenoor Israel opgetree?
3 Die Edomiete was nakomelinge van Esau, die broer van Jakob. Jakob se naam is na Israel verander; dus was die Edomiete so na verwant aan die Israeliete dat hulle as ‘broers’ beskou is (Deut. 23:7). Maar Edom se gedrag was allesbehalwe broederlik. Kort voor die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses die koning van Edom toestemming gevra om vreedsaam deur sy land te trek, maar uit vyandigheid het die Edomiete kil geweier en hulle weiering met geweld gehandhaaf (Num. 20:14-21). Hoewel hulle deur Dawid onderwerp is, het hulle later, in die dae van Josafat, saam met Ammon en Moab teen Juda saamgesweer, teen Josafat se seun, koning Joram, in opstand gekom, Israelitiese gevangenes uit Gasa en Tirus oorgeneem en Juda in die dae van koning Agas binnegeval om nog meer gevangenes te neem.—2 Kron. 20:1, 2, 22, 23; 2 Kon. 8:20-22; Amos 1:6, 9; 2 Kron. 28:17.
4. (a) Watter gemene optrede was blykbaar die grondslag vir Obadja se veroordeling van Edom? (b) Watter getuienis dui op 607 v.G.J. as die waarskynlikste skryftyd?
4 Hierdie vyandigheid het in 607 v.G.J. ’n hoogtepunt bereik toe Jerusalem deur die Babiloniese hordes verwoes is. Die Edomiete het nie net goedkeurend toegekyk nie, maar die veroweraars ook aangemoedig om alles volkome te verwoes. “Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” het hulle uitgeroep (Ps. 137:7). Toe die lot oor die buit gewerp is, was hulle onder diegene wat in die buit gedeel het; en toe Joodse vlugtelinge uit die land probeer vlug het, het hulle die paaie versper en hulle aan die vyand uitgelewer. Dit is hierdie geweld ten tyde van Jerusalem se vernietiging wat blykbaar die grondslag is vir die veroordeling wat deur Obadja opgeteken is, en dit is ongetwyfeld geskryf terwyl Edom se gemene daad nog vars in die geheue was (Obad. 11, 14). Aangesien Edom self blykbaar binne vyf jaar ná Jerusalem se vernietiging deur Nebukadnesar verower en geplunder is, moes die boek voor dié tyd geskryf gewees het; 607 v.G.J. word as die waarskynlikste jaar aan die hand gedoen.
5. (a) Wat bewys dat die verslag van Obadja eg en waar is? (b) Hoe het Obadja aan die vereistes vir ’n ware profeet voldoen, en waarom is sy naam gepas?
5 Obadja se profesie teen Edom is vervul—geheel en al! Die profesie bereik ’n hoogtepunt met die woorde: “Die huis van Esau [sal] ’n stoppel [wees]; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek” (v. 18). Edom het van die swaard gelewe en deur die swaard gesterf, en daar bly nie ’n spoor van sy nakomelinge oor nie. Dít bewys dat die verslag eg en waar is. Obadja het al die kwalifikasies van ’n ware profeet gehad: Hy het in die naam van Jehovah gespreek, sy profesie het Jehovah geëer en dit het waar gekom, soos latere geskiedenis bewys het. Sy naam beteken gepas “Kneg van Jehovah”.
INHOUD VAN OBADJA
6. Hoe praat Jehovah van Edom, en waarvandaan sal Hy Edom neerwerp?
6 Oordeel oor Edom (v. 1-16). Op Jehovah se bevel maak Obadja sy visioen bekend. Die nasies word byeengeroep om saam teen Edom te veg. “Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg”, beveel God. Dan rig Hy sy woorde tot Edom en beoordeel sy posisie. Edom is maar klein onder die nasies en word verag, ja, hy is vermetel. Hy voel veilig waar hy tussen die hoë rotsklowe woon, seker dat niemand hom kan neerwerp nie. Nietemin verklaar Jehovah dat hy Edom sal neerwerp, al was sy woonplek so hoog soos dié van die arend of al was sy nes tussen die sterre self. Edom moet gestraf word—V. 1.
7. In watter mate sal Edom verwoes word?
7 Wat sal met hom gebeur? As diewe Edom sou plunder, sou hulle net neem wat hulle wou hê. Selfs druiwesnyers sou oesoorblyfsels agterlaat. Maar wat vir die kinders van Esau voorlê, is erger as dit. Hulle skatte sal heeltemal geplunder word. Juis die bondgenote van Edom sal teen hom draai. Diegene wat sy boesemvriende was, sal hom in ’n net vang soos een sonder verstand. Sy manne wat vir wysheid bekend is en sy stryders wat vir dapperheid bekend is, sal in die tyd van sy onheil magteloos staan.
8. Waarom is Edom se straf so swaar?
8 Maar waarom hierdie swaar straf? Dit is as gevolg van die geweld wat die kinders van Edom die kinders van Jakob, hulle broers, aangedoen het! Hulle het hulle oor die val van Jerusalem verheug en selfs saam met die invallers die buit verdeel. Asof Obadja die gemene dade self aanskou, word Edom in sterk veroordelende woorde vertel: Jy behoort jou nie oor jou broer se benoudheid te verheug nie. Jy behoort nie die vlug van sy vlugtelinge te verhinder en hulle aan die vyand uit te lewer nie. Die dag van Jehovah se afrekening is naby en jy sal tot verantwoording geroep word. Soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word.
9. Watter herstel word voorspel?
9 Herstel vir die huis van Jakob (v. 17-21). In teenstelling hiermee sal die huis van Jakob herstel word. Manne sal na die berg Sion terugkeer. Hulle sal die huis van Esau verteer soos vuur stoppels verteer. Hulle sal die land in die suide, die Negeb, asook die gebergte van Esau en die Sjefela, of die Laeveld, in besit neem; in die noorde sal hulle die land Efraim en Samaria en die gebied tot by Sarfat besit; in die ooste sal hulle die gebied Gilead kry. Trotse Edom sal verdwyn, Jakob moet herstel word en “die koninkryk sal aan die HERE toebehoort”.—V. 21.
WAAROM NUTTIG
10. Watter ander profesieë het Edom se ondergang voorspel, en waarom sal dit nuttig wees om hulle saam met Obadja te ondersoek?
10 Om die sekerheid van die vervulling van hierdie oordeelsboodskap teen Edom te bevestig, het Jehovah van sy ander profete soortgelyke uitsprake laat doen. Dié wat in Joël 3:19; Amos 1:11, 12; Jesaja 34:5-7; Jeremia 49:7-22; Esegiël 25:12-14 en 35:2-15 opgeteken is, is uitsonderlik. Die vroeër uitsprake slaan klaarblyklik op vyandighede van die verlede, terwyl dié van later jare blykbaar aanklagte teen Edom is vir sy onvergeeflike gedrag, waarna Obadja verwys het, toe die Babiloniërs Jerusalem ingeneem het. As ons kyk hoe die voorspelde onheile Edom getref het, sal dit ons geloof versterk in Jehovah se vermoë om te profeteer. Boonop sal dit vertroue opbou in Jehovah as die God wat altyd sy verklaarde voorneme ten uitvoer bring.—Jes. 46:9-11.
11, 12. (a) Hoe het Edom se ‘vriende’ hom oorweldig? (b) In watter fases is Edom ‘vir ewig uitgeroei’?
11 Obadja het voorspel dat dit juis Edom se “bondgenote”, sy ‘vriende’, sou wees wat hom oorweldig (Obad. 7). Babel se vrede met Edom was van korte duur. Gedurende die sesde eeu v.G.J. het Babiloniese magte onder koning Nabonidus Edom verower.b Nietemin het oormoedige Edom ’n eeu na Nabonidus se inval in die land nog op herstel gehoop, en Maleagi 1:4 berig daaromtrent: “As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af.” Ondanks Edom se pogings tot herstel, was die Nabateërs teen die vierde eeu v.G.J. goed in die land gevestig. Omdat die Edomiete uit hulle land verdryf is, het hulle in die suidelike deel van Judea gewoon, wat mettertyd Edumea genoem is. Hulle het nooit daarin geslaag om die land Seïr te herower nie.
12 Volgens Josephus is die oorblywende Edomiete in die tweede eeu v.G.J. deur Joodse koning Johannes Hyrkanus I onderwerp, gedwing om besny te word en is hulle geleidelik deur die Joodse ryk onder ’n Joodse goewerneur geabsorbeer. Ná die Romeine se vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. het hulle naam heeltemal uit die geskiedenis verdwyn.c Dit was soos Obadja voorspel het: “Jy sal uitgeroei word vir ewig. . . . Daar [sal] geen oorblyfsel vir die huis van Esau . . . wees nie.”—Obad. 10, 18.
13. Wat het, in teenstelling met die Edomiete, met die Jode gebeur?
13 In teenstelling met Edom se verwoesting is die Jode in 537 v.G.J. onder die goewerneurskap van Serubbabel tot hulle vaderland herstel, waar hulle die tempel in Jerusalem herbou en goed in die land gevestig geraak het.
14. (a) Watter waarskuwing hou Edom se lot in? (b) Wat moet almal erken, net soos Obadja, en waarom?
14 Hoe duidelik is dit tog dat trots en vermetelheid tot onheil lei! Laat die lot van Edom as waarskuwing dien vir almal wat hulleself uit trots verheerlik en hulle wreedaardig verkneukel in die ontberinge wat oor die knegte van God kom. Laat hulle, soos Obadja, erken dat ‘die koninkryk aan Jehovah sal toebehoort’. Diegene wat teen Jehovah en sy volk stry, sal vir ewig heeltemal afgesny word, maar Jehovah se majestueuse Koninkryk en ewige koningskap sal vir ewig geregverdig wees!—V. 21.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 679.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 682.
c Jewish Antiquities, XIII, 257, 258 (ix, 1); XV, 253, 254 (vii, 9).