HOOFSTUK 4
Jehovah verheerlik sy naam
1, 2. Hoe verheerlik die Nuwe Wêreld-vertaling God se naam?
OP ’N koel maar sonnige Dinsdagoggend, 2 Desember 1947, het ’n klein groepie gesalfde broers van die Bethel in Brooklyn, New York, ’n ontsaglike taak aangepak. Die werk was veeleisend, maar hulle het die volgende 12 jaar daarmee volgehou. Uiteindelik, op Sondag 13 Maart 1960, het hulle die finale teks vir ’n nuwe Bybelvertaling voltooi. Drie maande later, op 18 Junie 1960, het broer Nathan Knorr die laaste deel van die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Engels vrygestel aan ’n verheugde byeenkomsgehoor in Manchester, Engeland. Die spreker het die gevoelens van almal in die gehoor goed opgesom toe hy gesê het: ‘Vandag is ’n vreugdevolle dag vir Jehovah se Getuies regoor die wêreld!’ ’n Uitsonderlike kenmerk van hierdie nuwe vertaling was ’n besondere rede tot vreugde—die veelvuldige gebruik van God se persoonlike naam.
2 Baie Bybelvertalings gebruik nie God se naam nie. Maar Jehovah se gesalfde knegte het Satan se slinkse plan om die naam van God uit die geheue van die mens uit te wis, teëgewerk. Die inleiding van die Nuwe Wêreld-vertaling wat daardie dag vrygestel is, het gesê: “Die vernaamste kenmerk van hierdie vertaling [is] die herstelling van God se naam in sy regmatige plek.” Ja, die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik God se persoonlike naam, Jehovah, meer as 7 000 keer. Op watter wonderlike wyse het hierdie vertaling tog die naam van ons hemelse Vader—Jehovah—verheerlik!
3. (a) Wat het ons broers besef omtrent die betekenis van God se naam? (b) Hoe moet ons Eksodus 3:13, 14 verstaan? (Sien die venster “Die betekenis van God se naam”.)
3 In vroeëre jare het die Bybelstudente gemeen dat God se naam “Ek is wat ek is” beteken (Eks. 3:14, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). The Watch Tower van 1 Januarie 1926 het dus gesê: “Die naam Jehovah verwys na die Een wat selfstandig bestaan, . . . die Een wat geen begin gehad het nie, en ook geen einde nie.” Maar teen die tyd dat die vertalers van die Nuwe Wêreld-vertaling met hulle werk begin het, het Jehovah sy volk help besef dat sy naam nie bloot aandui dat hy selfstandig bestaan nie, maar bowenal dat hy ’n God van voorneme en aktiwiteit is. Hulle het geleer dat die naam Jehovah letterlik “Hy laat word” beteken. Ja, hy het die heelal en intelligente wesens in aansyn laat kom, en hy gaan voort om sy wil en voorneme ’n werklikheid te laat word. Maar waarom is dit so belangrik dat God se naam verheerlik word, en hoe kan ons dit help verheerlik?
Die heiliging van God se naam
4, 5. (a) Waarvoor vra ons wanneer ons bid: “Laat u naam geheilig word”? (b) Hoe en wanneer sal God sy naam heilig?
4 Jehovah wil hê dat sy naam verheerlik moet word. Trouens, sy vernaamste voorneme is om sy naam te heilig, soos gesien kan word uit Jesus se eerste versoek in sy modelgebed: “Laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Waarvoor bid ons wanneer ons hierdie versoek doen?
5 Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie publikasie geleer het, is die versoek “Laat u naam geheilig word” een van drie versoeke in Jesus se modelgebed wat met Jehovah se voorneme verband hou. Die ander twee is: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied” (Matt. 6:10). Net soos ons Jehovah vra om op te tree om sy Koninkryk te laat kom en sy wil te laat geskied, vra ons Jehovah dus ook om op te tree om sy naam te heilig. Met ander woorde, ons versoek Jehovah om op te tree om sy naam te suiwer van al die oneer wat dit sedert die opstand in Eden aangedoen is. Hoe sal Jehovah op so ’n gebed reageer? Hy sê: “Ek sal beslis my groot naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is” (Eseg. 36:23; 38:23). Wanneer Jehovah goddeloosheid by Armageddon uit die weg ruim, sal hy sy naam voor die oë van die hele skepping heilig.
6. Hoe kan ons help om God se naam te heilig?
6 Deur die geskiedenis heen het Jehovah sy knegte toegelaat om sy naam te help heilig. Ons kan God se naam natuurlik nie heiliger maak nie. Dit is reeds heilig in absolute sin. Hoe kan ons dit dan heilig? Jesaja sê: “Jehovah van die leërs—Hom moet julle as heilig beskou.” En Jehovah self het oor sy volk gesê: “Hulle [sal] my naam heilig . . . , en vir die God van Israel sal hulle ontsag hê” (Jes. 8:13; 29:23). Ons heilig dus God se naam deur dit as afgeskeie van en hoër as alle ander name te beskou, deur te respekteer wat dit verteenwoordig en deur ander te help om dit as heilig te beskou. Ons toon veral ons ontsag en eerbied vir God se naam wanneer ons Jehovah as ons Heerser erken en hom met ons hele hart gehoorsaam.—Spr. 3:1; Op. 4:11.
Hulle word voorberei om God se naam te dra en te verheerlik
7, 8. (a) Waarom het dit tyd geneem voordat God se volk sy naam kon dra? (b) Waarna sal ons nou kyk?
7 God se knegte in hedendaagse tye gebruik al sedert die 1870’s God se naam in hulle publikasies. Byvoorbeeld, Zion’s Watch Tower van Augustus 1879 en Songs of the Bride, ’n liedereboek wat daardie selfde jaar uitgegee is, meld die naam Jehovah. Maar voordat Jehovah toegelaat het dat sy volk hulle in die openbaar by sy heilige naam noem, het hy blykbaar toegesien dat hulle aan die vereistes vir hierdie grootse voorreg voldoen. Hoe het Jehovah hierdie vroeë Bybelstudente voorberei om draers van sy naam te word?
8 Wanneer ons op die laat 1800’s en vroeë 1900’s terugkyk, sien ons hoe Jehovah sy volk ’n duideliker begrip van belangrike waarhede met betrekking tot sy naam gegee het. Kom ons kyk na drie van hierdie waarhede.
9, 10. (a) Waarom het vroeë artikels van die Watch Tower die aandag op Jesus gevestig? (b) Watter verandering het van 1919 af plaasgevind, en met watter resultate? (Sien ook die venster “Hoe Die Wagtoring God se naam verheerlik het”.)
9 Eerstens, Jehovah se knegte het die regte beskouing van die belangrikheid van God se naam verkry. Getroue vroeë Bybelstudente het die losprysreëling as die Bybel se vernaamste lering beskou. Dit verklaar waarom die Watch Tower dikwels die aandag op Jesus gevestig het. Byvoorbeeld, in die eerste jaar dat die tydskrif gepubliseer is, het dit die naam Jesus tien keer meer gebruik as die naam Jehovah. Aangaande die Bybelstudente se vroeë jare het Die Wagtoring van 15 Maart 1976 gesê dat hulle “onewewigtige belang” aan Jesus geheg het. Mettertyd het Jehovah hulle egter help besef watter vername plek God se persoonlike naam in die Bybel beklee. Watter uitwerking het dít op die Bybelstudente gehad? Volgens dieselfde Wagtoring-artikel het hulle veral van 1919 af “meer waardering vir die Messias se hemelse Vader, Jehovah, begin toon”. Trouens, gedurende die dekade ná 1919 het The Watch Tower God se naam meer as 6 500 keer gemeld!
10 Deur gepaste erkenning aan die naam Jehovah te verleen, het ons broers hulle liefde vir God se naam getoon. Soos Moses van ouds, het hulle hulle ten doel gestel om “die naam van Jehovah bekend [te] maak” (Deut. 32:3; Ps. 34:3). En soos in die Skrif belowe word, het Jehovah gelet op hulle liefde vir sy naam en het hy aan hulle guns betoon.—Ps. 119:132; Heb. 6:10.
11, 12. (a) Hoe het ons publikasies kort ná 1919 verander? (b) Waarop het Jehovah sy knegte se aandag gevestig, en waarom?
11 Tweedens, ware Christene het die regte begrip van die werk wat God hulle gegee het, verkry. Kort ná 1919 is die gesalfde broers wat die leiding geneem het, beweeg om die profesie van Jesaja te ondersoek. Daarna was daar ’n klemverskuiwing in die inhoud van ons publikasies. Waarom was hierdie aanpassing “voedsel op die regte tyd”?—Matt. 24:45.
12 Voor 1919 was daar nooit ’n breedvoerige bespreking in The Watch Tower van Jesaja se woorde nie: “‘Julle is my getuies’, sê Jehovah, ‘ja, my kneg wat ek uitverkies het.’” (Lees Jesaja 43:10-12.) Maar kort ná 1919 het ons publikasies aandag aan hierdie Bybelgedeelte begin skenk en alle gesalfdes aangespoor om deel te neem aan die werk wat Jehovah hulle gegee het—om van hom te getuig. Trouens, van 1925 tot 1931 alleen is Jesaja hoofstuk 43 in 57 verskillende nommers van The Watch Tower bespreek, en elke nommer het Jesaja se woorde op ware Christene toegepas. Dit is duidelik dat Jehovah gedurende daardie jare sy knegte se aandag gevestig het op die werk wat hulle moes doen. Waarom? In sekere sin sodat hulle “eers op die proef gestel [kon] word wat hulle geskiktheid betref” (1 Tim. 3:10). Voordat hulle tereg God se naam kon dra, moes die Bybelstudente deur hulle werke aan Jehovah bewys dat hulle waarlik sy getuies is.—Luk. 24:47, 48.
13. Hoe openbaar God se Woord wat die allerbelangrikste geskil is wat besleg moet word?
13 Derdens, Jehovah se volk het die belangrikheid van die heiliging van God se naam begin verstaan. Gedurende die 1920’s het hulle besef dat die heiliging van God se naam die allerbelangrikste geskil is wat besleg moet word. Hoe openbaar God se Woord hierdie belangrike waarheid? Kyk na twee voorbeelde. Wat was die vernaamste rede waarom God Israel uit Egipte gered het? Jehovah het gesê: “Om my naam oor die hele aarde bekend te laat maak” (Eks. 9:16). En waarom het Jehovah barmhartigheid aan Israel bewys toe hulle teen hom in opstand gekom het? Weer eens het Jehovah gesê: “Ek het ter wille van my naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies [nie]” (Eseg. 20:8-10). Wat het die Bybelstudente uit hierdie en ander Bybelverslae geleer?
14. (a) Wat het God se volk teen die laat 1920’s besef? (b) Watter uitwerking het die duideliker begrip wat die Bybelstudente verkry het, op die predikingswerk gehad? (Sien ook die venster “’n Kragtige rede om te preek”.)
14 Teen die laat 1920’s het God se volk die belangrikheid besef van wat Jesaja sowat 2 700 jaar vroeër gesê het. Hy het oor Jehovah gesê: “So het u u volk gelei om vir u ’n pragtige naam te maak” (Jes. 63:14). Die Bybelstudente het verstaan dat persoonlike redding nie die vernaamste geskil is nie, maar eerder die heiliging van God se naam (Jes. 37:20; Eseg. 38:23). In 1929 het die boek Prophecy hierdie waarheid opgesom deur te sê: “Jehovah se naam is die allerbelangrikste geskil voor die hele skepping.” Hierdie aangepaste begrip het God se knegte verder aangespoor om van Jehovah te getuig en om sy naam van laster te suiwer.
15. (a) Wat het ons broers teen die 1930’s verkry? (b) Watter tyd het aangebreek?
15 Teen die begin van die 1930’s het ons broers die regte beskouing van die belangrikheid van God se naam verkry, asook ’n duideliker begrip van die werk wat God hulle gegee het om te doen en ’n dieper insig in die vernaamste geskil wat besleg moet word. Toe het Jehovah se tyd aangebreek om sy knegte die eer te gee om sy naam in die openbaar te dra. Om te sien hoe dit gebeur het, gaan ons kyk na ’n paar verwikkelinge in die verlede.
Jehovah neem “’n volk vir sy naam”
16. (a) Op watter uitsonderlike manier verheerlik Jehovah sy naam? (b) Wie in die verlede het eers as ’n volk vir God se naam gedien?
16 ’n Uitsonderlike manier waarop Jehovah sy naam verheerlik, is deur ’n volk op die aarde te hê wat sy naam dra. Van 1513 VHJ af het die nasie Israel Jehovah as sy volk verteenwoordig (Jes. 43:12). Maar hulle het versuim om hulle deel van die verbond met God na te kom, en in 33 HJ het hulle hulle spesiale verhouding met hom verloor. Kort daarna het Jehovah “sy aandag op die nasies gerig . . . om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Hand. 15:14). Daardie pas gekose volk is “die Israel van God” genoem, en dit bestaan uit gesalfde volgelinge van Christus uit verskillende nasies.—Gal. 6:16.
17. Watter slinkse plan van Satan het geslaag?
17 In ongeveer 44 HJ is Christus se dissipels “deur goddelike voorsienigheid Christene genoem” (Hand. 11:26). Dit was aanvanklik ’n onderskeidende naam, want dit het net na ware Christene verwys (1 Pet. 4:16). Maar soos getoon word deur Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid, het Satan geslaag in sy slinkse plan om die unieke naam Christen op allerhande naamchristene toe te pas. Gevolglik was daar eeue lank nie ’n duidelike onderskeid tussen ware Christene en naamchristene nie. Maar dít het begin verander gedurende “die oestyd”, wat in 1914 begin het. Waarom? Omdat engele naamchristene van ware Christene begin skei het.—Matt. 13:30, 39-41.
18. Wat het ons broers gehelp om te sien dat ’n nuwe naam nodig is?
18 Ná die aanstelling van die getroue slaaf in 1919 het Jehovah sy volk help besef watter werk hy hulle gegee het om te doen. Hulle het gou gesien dat die predikingswerk van huis tot huis hulle van alle naamchristene onderskei. Nadat hulle dít besef het, was dit nie lank voordat hulle verstaan het dat die benaming “Bybelstudente” nie onderskeidend genoeg is nie. Hulle vernaamste doel in die lewe was nie bloot om die Bybel te bestudeer nie, maar om van God te getuig en om sy naam te eer en te verheerlik. Watter naam sou dan gepas wees vir die werk wat hulle gedoen het? Hierdie vraag is in 1931 beantwoord.
19, 20. (a) Watter opwindende resolusie is by ’n streekbyeenkoms in 1931 voorgelê? (b) Hoe het ons broers op die aanneming van die nuwe naam gereageer?
19 In Julie 1931 het nagenoeg 15 000 Bybelstudente vir ’n streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, VSA, bymekaargekom. Toe hulle die byeenkomsprogram sien, is hulle nuuskierigheid geprikkel deur die twee groot letters J en W op die voorblad. ‘Wat beteken hierdie letters?’, het hulle gewonder. Party het gedink dit beteken: ‘Just Watch’; ander: ‘Just Wait’. Toe, op Sondag 26 Julie, het broer Joseph Rutherford ’n resolusie voorgelê wat hierdie kragtige verklaring bevat het: “Ons wil graag bekend staan as en genoem word by die naam Jehovah se getuies.” Op daardie oomblik het almal in die gehoor begryp wat daardie raaiselagtige letters beteken—dit het gestaan vir Jehovah’s Witnesses, oftewel Jehovah se Getuies, ’n skriftuurlike naam gebaseer op Jesaja 43:10.
20 Die gehoor het met dawerende gejuig en langdurige applous op hierdie resolusie gereageer. Hierdie geesdriftige reaksie in Columbus is op die radio halfpad om die wêreld gehoor! Ernest en Naomi Barber in Australië het gesê: “Toe die applous in Amerika uitbreek, het die broers in Melbourne opgespring en aanhoudend hande geklap. Ons sal dit nooit vergeet nie!”a
God se naam word wêreldwyd verheerlik
21. Hoe het die nuwe naam die predikingswerk bevorder?
21 Die skriftuurlike naam Jehovah se Getuies het God se knegte meer krag gegee om aan die predikingswerk deel te neem. Edward en Jessie Grimes, ’n pionieregpaar in die Verenigde State wat die streekbyeenkoms in Columbus in 1931 bygewoon het, het gesê: “Ons het die huis as Bybelstudente verlaat, maar ons het as Jehovah se Getuies teruggekeer. Ons was bly dat ons nou ’n naam gehad het wat ons gehelp het om die naam van ons God te verheerlik.” Ná hierdie byeenkoms het party Getuies ’n nuwe metode gebruik om presies dit te doen. Hulle het hulle aan huisbewoners voorgestel deur vir hulle ’n kaart te gee met die boodskap daarop: “Een van JEHOVAH se getuies wat die Koninkryk van JEHOVAH ons God verkondig.” Ja, God se volk was trots om die naam Jehovah te dra, en hulle was gereed om die betekenis daarvan wyd en syd bekend te maak.—Jes. 12:4.
“Ons het die huis as Bybelstudente verlaat, maar ons het as Jehovah se Getuies teruggekeer”
22. Wat bewys dat Jehovah se volk ’n unieke identiteit het?
22 Baie jare het verloop sedert Jehovah ons gesalfde broers beweeg het om hulle onderskeidende naam aan te neem. Het Satan dit sedertdien reggekry om die identiteit van God se volk te verberg? Het hy daarin geslaag om ons deel te maak van die wêreld se godsdienste? Beslis nie! Inteendeel, ons unieke identiteit as getuies van God is duideliker as ooit tevore. (Lees Miga 4:5; Maleagi 3:18.) Trouens, ons het so nou verbonde geraak met die naam van God dat enigiemand wat dit vandag vryelik gebruik, gou as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer word. Jehovah se ware aanbidding word nie deur bergagtige valse godsdienste verberg nie, maar is eerder “stewig gevestig . . . bo die top van die berge” (Jes. 2:2). Vandag is Jehovah se aanbidding en sy heilige naam inderdaad hoog verhewe.
23. Watter belangrike waarheid oor Jehovah versterk ons grootliks volgens Psalm 121:5?
23 Hoe versterkend is dit tog om te weet dat Jehovah ons teen Satan se huidige en toekomstige aanvalle sal beskerm! (Ps. 121:5). Ons het goeie rede om saam te stem met die psalmis wat geskryf het: “Gelukkig is die nasie wie se God Jehovah is, die volk wat hy as sy erfdeel uitgekies het.”—Ps. 33:12.
a Sien Hoofstuk 7, bladsye 72-74, vir besonderhede oor hierdie gebruik van die radio.