Woensdag 7 Oktober
Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat oor die woord van God met julle gepraat het. – Heb. 13:7.
Wanneer Jehovah sy volk ’n toewysing gee, verwag hy dat hulle dit op ’n georganiseerde manier moet uitvoer (1 Kor. 14:33). Byvoorbeeld, dit is God se wil dat die goeie nuus oor die hele bewoonde aarde verkondig moet word (Matt. 24:14). Jehovah het Jesus oor hierdie werk aangestel. Jesus het seker gemaak dat dit op ’n georganiseerde manier gedoen word. In die eerste eeu, toe gemeentes op verskillende plekke gevorm is, is ouermanne aangestel om riglyne te gee en die leiding te neem (Hand. 14:23). In Jerusalem het ’n sentrale liggaam van ouermanne, wat bestaan het uit die apostels en ouermanne, sekere besluite geneem waaraan alle gemeentes gehoorsaam moes wees (Hand. 15:2; 16:4). As gevolg van hulle gehoorsaamheid aan die instruksies wat hulle ontvang het, “het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle . . . bly vermeerder”. – Hand. 16:5. w24.04 8 ¶1
Donderdag 8 Oktober
Maria Magdalena het gekom en die nuus vir die dissipels gebring: “Ek het die Here gesien!” – Joh. 20:18.
Vroeg op die oggend van 16 Nisan het ’n paar lojale vrouens na die plek gegaan waar Jesus se lewelose liggaam gelê het (Luk. 24:1, 10). Kom ons fokus op die ondervinding van een van die vrouens, Maria Magdalena. Toe Maria by die graf aankom, was dit leeg. Sy het Petrus en Johannes daarvan gaan vertel en het hulle toe gevolg terwyl hulle na die graf gehardloop het. Nadat hulle bevestig het dat die graf leeg is, het die mans teruggegaan huis toe. Maar nie Maria nie. Sy het daar gebly en gehuil. Min het sy geweet dat Jesus alles dophou. Hy het hierdie getroue vrou se trane gesien, en dit het hom diep geraak. Daarom het hy aan Maria verskyn en toe iets eenvoudigs gedoen wat haar baie aangemoedig het. Hy het met haar gepraat en vir haar ’n belangrike toewysing gegee – om die nuus van sy opstanding met sy broers te deel. – Joh. 20:17, 18. w24.10 13 ¶7
Vrydag 9 Oktober
Ek sal baie tekens en wonderwerke in Egipte doen. – Eks. 7:3.
Moses het as ’n profeet, ’n regter, ’n bevelvoerder en ’n geskiedskrywer gedien. Hy het die nasie Israel uit slawerny in Egipte gelei, en hy het baie van Jehovah se wonderwerke persoonlik gesien. Jehovah het hom gebruik om die eerste vyf boeke van die Bybel, Psalm 90 en moontlik Psalm 91 te skryf. Hy het heel moontlik ook die boek Job geskryf. Kort voordat Moses op die ouderdom van 120 gesterf het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep om hulle te herinner aan die dinge wat hulle gesien en ervaar het. Hulle het die baie tekens en wonderwerke van Jehovah gesien, sowel as sy oordele teen Egipte (Eks. 7:4). Hulle het op droë grond deur die Rooisee geloop, en hulle het gesien hoe Farao se leërmag vernietig word (Eks. 14:29-31). In die wildernis het hulle Jehovah se beskerming en sorg ervaar (Deut. 8:3, 4). Nou terwyl die nasie gereed gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses hierdie laaste geleentheid aangegryp om die volk aan te moedig. w24.11 8-9 ¶3-4