Donderdag 19 Desember
Moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie, maar verander julle denkwyse. – Rom. 12:2.
Is jy lief vir regverdigheid? Natuurlik is jy. Maar ons almal is onvolmaak, en as ons nie versigtig is nie kan die wêreld se beskouing van regverdigheid ons maklik beïnvloed (Jes. 5:20). Wanneer mense aan ’n regverdige mens dink, dink baie dalk aan iemand wat trots is, wat krities is of wat dink dat hy beter as hulle is. Maar God hou glad nie van sulke eienskappe nie. Toe Jesus op aarde was, het hy die godsdiensleiers van sy dag sterk gekritiseer omdat hulle hulle eie standaarde van regverdigheid geskep het (Pred. 7:16; Luk. 16:15). ’n Persoon wat werklik regverdig is, dink nooit dat hy beter as ander is nie. Regverdigheid is ’n pragtige eienskap. Eenvoudig gestel, dit beteken om te doen wat reg is in Jehovah God se oë. In die Bybel dra die woorde vir “regverdigheid” die gedagte oor om volgens die hoogste standaarde te lewe – Jehovah se standaarde. w22.08 27 ¶3-5
Vrydag 20 Desember
Ek noem julle vriende. – Joh. 15:15.
Jesus het sy dissipels vertrou, al het hulle foute gemaak (Joh. 15:16). Toe Jakobus en Johannes Jesus vir ’n spesiale posisie in die Koninkryk gevra het, het Jesus nie die rede hoekom hulle Jehovah dien, bevraagteken nie of vir hulle gesê dat hulle nie meer apostels mag wees nie (Mark. 10:35-40). Later het al Jesus se dissipels hom verlaat op die aand toe hy in hegtenis geneem is (Matt. 26:56). Maar Jesus het nooit geloof in hulle verloor nie. Hy was heeltemal bewus van hulle onvolmaakthede, maar hy “het hulle tot die einde toe liefgehad” (Joh. 13:1). Ná Jesus se opstanding het hy selfs sy 11 getroue apostels die belangrike verantwoordelikheid gegee om die leiding in die dissipelmaakwerk te neem en om vir sy kosbare skape te sorg (Matt. 28:19, 20; Joh. 21:15-17). Hy het goeie redes gehad om hierdie onvolmaakte manne te vertrou. Hulle almal het tot die einde van hulle lewe op aarde getrou gedien. Jesus het beslis ’n goeie voorbeeld daarin gestel om onvolmaakte mense te vertrou. w22.09 6 ¶12
Saterdag 21 Desember
Jehovah is aan my kant. Ek sal nie bang wees nie. – Ps. 118:6.
Wanneer ons oortuig is dat Jehovah ons liefhet – dat hy aan ons kant is – sal Satan ons nie bangmaak nie. Byvoorbeeld, die skrywer van Psalm 118 het deur baie moeilike dinge gegaan. Hy het baie vyande gehad, insluitende party baie belangrike mense (vers 9, 10). Soms was hy onder baie druk (vers 13). En hy het streng dissipline van Jehovah ontvang (vers 18). Maar daardie psalmis het nog steeds gesing: “Ek sal nie bang wees nie.” Hy het geweet dat sy hemelse Vader lief is vir hom, al het Jehovah hom gedissiplineer. Die psalmis was oortuig dat sy liefdevolle God altyd gereed sou wees om hom te help, maak nie saak in watter situasie hy was nie (Ps. 118:29). Ons moet oortuig wees dat Jehovah ons persoonlik liefhet. Dit sal ons help om drie algemene vrese te oorkom, naamlik: (1) die vrees dat ons nie vir ons gesin sal kan sorg nie, (2) die vrees vir mense en (3) die vrees vir die dood. w22.06 15 ¶3-4