Die handelinge van die apostels
11 Die apostels en die broers wat in Judeʹa was, het gehoor dat mense van die nasies ook die woord van God aanvaar het. 2 En toe Petrus na Jerusalem gekom het, het dié wat wou hê dat mense besny moet word,+ hom begin kritiseer* 3 en gesê: “Jy het in die huis van mans ingegaan wat nie besny is nie en saam met hulle geëet.” 4 Toe het Petrus vir hulle vertel presies wat gebeur het. Hy het gesê:
5 “Ek het in die stad Joppe gebid, en ek het in ’n visioen iets* gesien neerdaal wat lyk soos ’n groot linnelaken wat aan sy vier punte uit die hemel laat sak word, en dit het tot reg by my gekom.+ 6 Toe ek mooi daarin kyk, het ek diere met vier pote, wilde diere, reptiele* en voëls gesien. 7 ’n Stem het ook vir my gesê: ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ 8 Maar ek het gesê: ‘Nee, nooit nie, Here, want ek het nog nooit iets wat onrein of onheilig is, in my mond gesit nie.’ 9 Die tweede keer het die stem uit die hemel geantwoord: ‘Hou op om die dinge wat God gereinig het, onrein te noem.’ 10 Dit het ’n derde keer gebeur, en alles is weer na die hemel opgetrek. 11 En op daardie oomblik het daar drie mans by die huis gestaan waar ons gebly het. Hulle is van Sesareʹa af na my toe gestuur.+ 12 Toe het die gees vir my gesê om saam met hulle te gaan en glad nie te twyfel nie. Maar hierdie ses broers het ook saam met my gegaan, en ons het in die man se huis ingegaan.
13 “Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat gesê het: ‘Stuur mans na Joppe en laat roep Simon, wat ook Petrus genoem word,+ 14 en hy sal vir jou sê hoe jy en almal in jou huis gered kan word.’ 15 Maar toe ek begin praat, het die heilige gees oor hulle gekom, net soos dit in die begin oor ons gekom het.+ 16 Toe het ek onthou dat die Here altyd gesê het: ‘Johannes het met water gedoop,+ maar julle sal met heilige gees gedoop word.’+ 17 God het dieselfde vrye gawe aan hulle gegee wat hy aan ons gegee het wat in die Here Jesus Christus geglo het. Wie is ek dan om in God se pad te staan?”*+
18 Toe hulle hierdie dinge hoor, het hulle nie meer beswaar gemaak nie,* en hulle het God verheerlik en gesê: “So het God dan ook mense van die nasies die kans gegee om berou te toon sodat hulle die lewe kan ontvang.”+
19 Toe het dié wat verstrooi is+ deur die vervolging wat as gevolg van Stefaʹnus ontstaan het, tot by Feniʹsië, Siprus en Antioʹgië gegaan, maar hulle het die woord net aan die Jode verkondig.+ 20 Party van die mans onder hulle wat van Siprus en Sireʹne was, het egter na Antioʹgië gekom en met die Griekssprekendes begin praat en die goeie nuus van die Here Jesus bekend gemaak. 21 En die hand van Jehovah* was met hulle, en baie van hulle het gelowiges geword en hulle tot die Here bekeer.+
22 Die gemeente in Jerusalem het die verslag oor hulle gehoor, en hulle het Barʹnabas+ tot by Antioʹgië uitgestuur. 23 Toe hy daar aankom en die onverdiende goedheid van God sien, was hy baie bly en het hy hulle almal begin aanmoedig om met hulle hele hart aan die Here getrou te bly,+ 24 want hy was ’n goeie man en vol heilige gees en geloof. En ’n groot groep mense het in die Here begin glo.+ 25 Toe het hy na Tarsus gegaan om deeglik na Saulus te soek.+ 26 Nadat hy hom gevind het, het hy hom na Antioʹgië gebring. Hulle het ’n hele jaar lank saam met die gemeente bymekaargekom en ’n groot groep geleer, en dit was in Antioʹgië dat die dissipels volgens God se wil vir die eerste keer Christene genoem is.+
27 In daardie dae het profete+ van Jerusalem na Antioʹgië gekom. 28 Een van hulle, met die naam Aʹgabus,+ het opgestaan en deur middel van die gees voorspel dat ’n groot hongersnood binnekort oor die hele aarde sou kom,+ wat toe in die tyd van Claudius plaasgevind het. 29 Toe het die dissipels besluit om iets* te stuur om die broers in Judeʹa te help.+ Elkeen het bygedra volgens wat hy kon bekostig,+ 30 en hulle het dit gedoen en dit saam met Barʹnabas en Saulus na die ouermanne gestuur.+