Ester
7 Toe het die koning en Haman+ ingekom om saam met koningin Ester te eet. 2 Op die tweede dag, terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Wat is dit wat jy wil hê, koningin Ester? Dit sal aan jou gegee word. En wat wil jy vra? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!”+ 3 Koningin Ester het geantwoord: “As ek u goedkeuring het, o koning, en as die koning dit goedvind, wil ek vra dat u my lewe spaar en my volk+ red. 4 Want ek en my volk is verkoop+ om uitgeroei en doodgemaak, ja vernietig, te word.+ As ons maar net as slawe en slavinne verkoop is, sou ek stilgebly het. Maar dit sal nie reg wees as hierdie ramp plaasvind nie, want dit sal veroorsaak dat die koning skade ly.”
5 Koning Ahasʹveros het toe vir koningin Ester gevra: “Wie is dit, en waar is die man wat gewaag het om so iets te doen?” 6 Ester het gesê: “Die teenstander en vyand is hierdie slegte Haman.”
Haman het baie bang geword weens die koning en die koningin. 7 Die koning het die feesmaal woedend verlaat en na die tuin van die paleis gegaan, maar omdat Haman besef het dat die koning vasbeslote is om hom te straf, het hy opgestaan om koningin Ester te smeek om sy lewe te red. 8 Die koning het van die tuin van die paleis af teruggekeer na die huis waar hulle wyn gedrink het en gesien dat Haman op die slaapbank neergeval het waarop Ester was. Die koning het uitgeroep: “Gaan hy die koningin ook nog in my eie huis verkrag?” Toe die koning dit gesê het, het hulle Haman se gesig toegemaak. 9 Harboʹna,+ een van die koning se hofbeamptes, het toe gesê: “Haman het ook ’n paal gereedgemaak vir Morʹdegai,+ die man wat die koning se lewe gered het deur wat hy gesê het.+ Dit staan by Haman se huis, 50 el* hoog.” Toe het die koning gesê: “Hang hom daaraan.” 10 Toe het hulle Haman aan die paal gehang wat hy vir Morʹdegai gereedgemaak het, en die koning se woede het bedaar.