Rut
1 In die tyd van die rigters*+ het ’n hongersnood in die land ontstaan. ’n Man van Betlehem+ in Juda het saam met sy vrou en sy twee seuns weggetrek en as ’n uitlander in die gebied van Moab+ gaan woon. 2 Die man se naam was Elimeʹleg,* sy vrou se naam was Naoʹmi* en die name van sy twee seuns was Maglon* en Giljon.* Hulle was Efratiete van Betlehem in Juda, en hulle het in die gebied van Moab gekom en daar gewoon.
3 Ná verloop van tyd het Elimeʹleg, Naoʹmi se man, gesterf en haar met haar twee seuns agtergelaat. 4 Later het die manne met Moabitiese vrouens getrou. Die naam van die een was Orpa en die naam van die ander was Rut.+ Hulle het sowat tien jaar daar gebly. 5 Toe het die twee seuns, Maglon en Giljon, ook gesterf, en Naoʹmi het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en haar man. 6 Sy het toe saam met haar skoondogters uit die gebied van Moab vertrek om terug te gaan na Juda, want sy het in Moab gehoor dat Jehovah weer aan sy volk aandag geskenk het deur vir hulle kos* te gee.
7 Sy het weggetrek van die plek waar sy saam met haar twee skoondogters gewoon het. Op pad terug na die land van Juda 8 het Naoʹmi vir haar twee skoondogters gesê: “Gaan, keer terug, elkeen na die huis van haar ma. Mag Jehovah lojale liefde aan julle betoon,+ net soos julle dit betoon het aan die manne wat gesterf het en aan my. 9 Mag Jehovah elkeen van julle veiligheid* laat vind* in die huis van haar man.”+ Toe het sy hulle gesoen, en hulle het in trane uitgebars. 10 Hulle het vir haar bly sê: “Nee, ons sal saam met Ma na Ma se volk gaan.” 11 Maar Naoʹmi het gesê: “Gaan terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my kom? Kan ek nog geboorte gee aan seuns met wie julle kan trou?+ 12 Gaan terug, my dogters. Gaan, want ek is te oud om te trou. Selfs al kon ek vanaand met ’n man trou en seuns hê, 13 sou julle vir hulle bly wag totdat hulle groot is? Sou julle ongetroud bly vir hulle? Nee, my dogters, ek voel bitter jammer vir julle omdat die hand van Jehovah teen my gedraai het.”+
14 Hulle het weer in trane uitgebars, en daarna het Orpa haar skoonma gesoen en vertrek. Maar Rut het by haar gebly. 15 Toe het Naoʹmi gesê: “Kyk! Jou skoonsuster het na haar volk en na haar gode teruggegaan. Gaan saam met jou skoonsuster terug.”
16 Maar Rut het gesê: “Moet my nie smeek om Ma te verlaat en sonder Ma terug te gaan nie, want waar Ma gaan, sal ek gaan, en waar Ma oornag, sal ek oornag. Ma se volk sal my volk wees, en Ma se God sal my God wees.+ 17 Waar Ma sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. Mag Jehovah my swaar straf* as enigiets anders as die dood my van Ma sou skei.”
18 Toe Naoʹmi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. 19 En hulle twee het verder gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het.+ Toe hulle in Betlehem kom, was die hele stad in rep en roer as gevolg van hulle, en van die vrouens het gevra: “Is dit Naoʹmi?” 20 Sy het elke keer vir die vrouens gesê: “Moenie my Naoʹmi* noem nie. Noem my Mara,* want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.+ 21 Ek het baie gehad toe ek gegaan het, maar Jehovah het my met leë hande laat terugkeer. Hoekom noem julle my Naoʹmi as Jehovah teen my gedraai het en die Almagtige rampspoed oor my gebring het?”+
22 So het Naoʹmi saam met haar Moabitiese skoondogter Rut uit die gebied van Moab+ teruggekeer. Hulle het aan die begin van die gars-oes+ in Betlehem aangekom.