Wanneer rommel hand-uit ruk
KYK in jou huis rond. Word jy deur rommel verdring? Sal jy verleë wees as ’n vriend in jou kas loer? Is dit vir jou moeilik om ’n spesifieke voorwerp te vind omdat dit onder ’n hoop opgegaarde besittings begrawe is? Indien wel, dan is jy nie alleen nie.
“Ek is te gevestig as ’n ‘spaarder’”, erken Ralph. Leon voeg by: “Ek het verdrink in klere, koerante en boeke wat ek oor 15 jaar opgegaar het.” “Net die gedagte om dit op te ruim maak my moeg nog voordat ek begin”, kla nog ’n rommelslagoffer.
Party kinders word groot in ’n omgewing waarin rommel opgegaar word. Een van hierdie soort mense sê: “So ver terug as wat ek kan onthou, het ek mense altyd gewaarsku wat om te verwag as hulle die eerste keer na ons huis toe kom. Ek het vir hulle gesê dat hulle gerus iets kan wegskuif om ’n sitplek te kry.” Selfs volwassenes huiwer dalk om enigeen, buiten die familie, te nooi om te kom kuier omdat die huis nie netjies is nie.
Dikwels besef mense nie hoeveel hulle opgehoop het totdat hulle moet verhuis nie. As ’n mens nie ’n gereelde program het om rommel te beheer nie, is verhuising baie tydrowender—en duurder.
Maar vir baie wat rommel moet opruim, is dit meer as om net eenvoudig dinge uit te gooi. ’n Aantal struikelblokke moet eers uit die weg geruim word.
Waarom kan hulle dit nie net uitgooi nie?
Sielkundige Lynda W. Warren en kliniese maatskaplike werkster Jonnae C. Ostrom het ’n tyd lank aangeneem dat alle opgaarders ouer mense was wat die Depressie van die dertigerjare oorleef het. Hulle het gedink dat opgaring “’n seldsame en onskadelike eienaardigheid” was. Maar nadat hulle die saak bestudeer het, het hulle gesê, “Ons was verras om ’n jonger geslag opgaarders te ontdek wat lank ná die dertigerjare gebore is. . . . Ons glo nou dat sulke gedrag algemeen is en dat, veral wanneer dit erg is, dit probleme kan skep vir die opgaarders of diegene wat na aan hulle is.”
Hoe erg kan dit word? Die tydskrif Health berig: “Ostrom het gesien hoe huwelike verbrokkel as gevolg van rommel.” Party mense wend hulle tot professionele raadgewers vir hulp. Trouens, die tydskrif Health noem voorligting in verband met persoonlike organisasie “’n florerende veld waarin praktisyns tot [R2 750] per dag kan vra om te doen wat ons ma’s by ons geneul het om te doen: om ons kamers aan die kant te maak”.
Dit is onwaarskynlik dat jou probleem om dinge op te gaar so erg is. Jy sukkel dalk om die volgende vier hindernisse tussen die betrokke artikels en die vuilgoedblik te oorkom:
◻ Dit kan moontlik in die toekoms gebruik word. (“Dit is beter om dit te bêre as om later spyt te wees.”)
◻ Sentimentele gehegtheid. (“Tannie Marie het dit vir my gegee.”)
◻ Potensiële waarde. (“Dit sal dalk eendag iets werd wees.”)
◻ Dit is nie gebruik of beskadig nie. (“Dit is te goed om weg te gooi.”)
Die resultaat? Psychology Today sê: “Die goed hoop op, sowel as die probleme wat dit meebring.”
Hoe kan jy dus keer dat rommel ophoop?
Waar om te begin
Een vrou wat gevra is om haar voor te stel hoe sy sou voel as ’n orkaan die meeste van haar besittings vernietig, het gesê: “Die gedagte daaraan om alles te verloor het my baie verlig laat voel—om van my rommel bevry te word sonder die bekommernis om uit te sorteer en daarvan af te sien.” Dit lig baie duidelik toe dat dit ’n uitdaging kan wees om dinge te sorteer en weg te gooi.
“Opgaarders het twee probleme”, sê raadgewer Daralee Schulman. “Die goed wat reeds in die huis is en die goed wat inkom.” Pleks van skoonmaaksessies te hê, stel sy voor dat ’n mens maar net 15 minute per dag gebruik om een deel op ’n slag in orde te bring. Dit is ’n baie doeltreffender manier om die rommelprobleem in jou huis aan te pak. Maar wat van “die goed wat inkom”?
Voordat jy enige artikel vir jou huis koop, moet jy jou afvra: ‘Het ek dit werklik nodig? Waar gaan ek dit sit? Gaan ek dit gebruik?’ Daralee Schulman beweer dat as jy jou sulke vrae afvra jy “75 persent van die goed wat jy die huis wou inbring, nie sal inbring nie”.
By die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier en takkantore word daar van inwoners verwag om hulle kamers rommelvry te hou en die aantal ornamente op elke meubelstuk of elke rak tot twee of drie te beperk. Dit vergemaklik die skoonmaakproses, en die kamer is baie aantrekliker. Papiere, tydskrifte, boeke, boeksakke, musiekinstrumente, sporttoerusting, klerasie, skottelgoed en ander artikels mag nie rondlê nie. Trouens, niks, behalwe meubels, mag op die kamervloer gelaat word nie. Dit is beslis navolgenswaardig vir enigeen wat graag ’n rommelvrye omgewing wil skep.
Uit die oog—en in die kas
“Ek kon my woonstel binne ’n dag netjies maak”, sê Joan, “maar die kaste was altyd ’n ramp.” Party gebruik die kas as ’n bêreplek deur die rommel net na ’n plek te verskuif wat nie gesien kan word nie. Die probleem raak net erger aangesien al hoe meer in ’n ruimte geplaas word wat dieselfde grootte bly.
Kan jy van opgegaarde rommel in jou kas ontslae raak? Die tydskrif Good Housekeeping stel voor: “Stelsels om jou kas in te rig is in ’n verskeidenheid materiale en vorme beskikbaar wat aangepas kan word om in enige ruimte te pas. Gebruik een om die bêreplekkrisis in jou huis te bowe te kom.” Moet dus nie die kas as jou wegsteekplek vir rommel gebruik nie. Hou dit netjies en ordelik.
’n Gebalanseerde beskouing van besittings
“My besittings is ’n weerspieëling van my, hulle is ’n deel van my”, het een vrou gesê. “My juwele is so ’n vertroosting vir my”, voeg ’n ander by. “Ek het my ringe en kettings so lief.” Nog ’n ander vrou sê uitdagend: “Dit is ek—dit is my persoonlikheid en jy gaan dit nie uitgooi nie!”
Daarenteen het Jesus Christus gesê: “’n Man se lewe word nie beveilig deur wat hy besit nie, al besit hy meer as wat hy nodig het.”—Lukas 12:15, The Jerusalem Bible.
Die Bybel moedig ’n mens dus aan om ’n gebalanseerde beskouing van jou besittings te hê. Dit bevorder ook ordelikheid, wat ’n vereiste is vir diegene wat as ouere manne in die gemeente dien.—1 Timotheüs 3:2, NW.
Begin gerus om party van die voorgenoemde wenke toe te pas in ’n deel in jou huis wat propvol is. Deur ’n daaglikse poging aan te wend en ’n gebalanseerde beskouing van jou besittings te hê, kan jy keer dat rommel ophoop.
[Venster/Prent op bladsy 22, 23]
Sorteer en gooi weg
Hier volg ’n paar nuttige wenke aangaande spesifieke artikels wat jou huis maklik deurmekaar kan maak as jy nie versigtig is nie.
Leesstof: Vind jy dit moeilik om ou tydskrifte of koerante weg te gooi? Tref ’n titel jou oog maklik sodat jy vir jouself sê: ‘Ek sal eendag daarby uitkom om dit te lees’? Pleks van die hele tydskrif of koerant te bêre, kan jy die artikel wat interessant lyk, uitknip en dit in ’n omslag sit met die woorde “Moet nog lees” daarop. As dit nie binne ’n redelike tydperk—miskien ’n paar weke—gelees word nie, gooi dit weg.
Klerasie: Raak jou klere elke jaar al hoe meer, maar jy dra nie die helfte van jou uitrustings nie? Party sê vir hulself: “Dit sal mooi lyk aan my—as ek vyf kilogram verloor.” Dit is vir party genoegsame rede om aan alles in die kas vas te klou. Om te keer dat klere opgegaar word, kan dit in ’n houer gesit word wat “Besluiteloos” gemerk is as iets ’n hele jaar lank nie gedra word nie. As dit dan ná ’n kort tydperk nog nie gedra word nie, kan jy dit weggee of weggooi.
Pos: Gaan haal jou pos elke dag. Persoonlike briewe en ander korrespondensie wat jy wil hou, moet in ’n spesifieke plek geliasseer word. Jy kan ’n omslag vir elke maand se liassering hou en die inhoud ná een jaar weggooi om vir die nuwe maand se pos plek te maak. Die reël is, liasseer en daar is geen hope meer. As jy baie reklamepos ontvang, moet jy dadelik besluit of jy dit gaan nodig kry. Indien nie, gooi dit weg. As jy onseker is, sit dit ’n week lank in ’n houer wat “Besluiteloos” gemerk is. As jy dan nog niks daarmee gedoen het nie, gooi dit weg.