Lesse wat ons uit die heelal leer
“Ek gee nie voor dat ek die Heelal verstaan nie—dit is baie groter as ek.”—Thomas Carlyle, 1795-1881.
HONDERD jaar later het ons ’n beter idee van hoeveel groter as ons die heelal in werklikheid is. Hoewel wetenskaplikes baie meer verstaan as voorheen is hulle situasie steeds, soos een astronoom dit beskryf het, soos dié van “die 18de-eeuse plantkundiges in die woud waar hulle al daardie nuwe blomme ontdek het”.
Ten spyte van ons beperkte kennis kan sekere gevolgtrekkings gemaak word. En hierdie gevolgtrekkings het te doen met die allerbelangrikste vrae—hoe die heelal funksioneer en hoe dit in die eerste plek hier gekom het.
Orde pleks van chaos
Die studie van die aard van die heelal word kosmologie genoem. Daardie term is afgelei van twee Griekse woorde, kosmos en logos, wat op ‘die studie van orde of harmonie’ dui. Dit is ’n gepaste naam omdat astronome juis orde teëkom, hetsy hulle die beweging van hemelliggame of die materie waaruit die heelal saamgestel is, ondersoek.
Alles in ons heelal beweeg, en die beweging is nie wisselvallig of onvoorspelbaar nie. Planete, sterre en galaksies beweeg deur die ruimte volgens juiste natuurwette, wette wat wetenskaplikes in staat stel om sekere kosmiese verskynsels met onfeilbare akkuraatheid te voorspel. En dit is ongelooflik dat die vier fundamentele kragte wat die kleinste atoompie beheer ook die grootste galaksies beheer.
Orde blyk ook duidelik uit die materie waaruit die heelal saamgestel is. “Materie is . . . op alle skale, van baie klein tot baie groot, georganiseerd”, verduidelik The Cambridge Atlas of Astronomy. Materie is nie lukraak versprei nie, inteendeel, dit is ordelik gerangskik, hetsy dit die manier is waarop elektrone met die protone en neutrone van die atoomkern verbind is of die wedersydse aantrekking is wat ’n enorme galaksieswerm saambind.
Waarom openbaar die heelal sulke orde en harmonie? Waarom is daar voortreflike wette wat dit beheer? Aangesien hierdie wette voor die ontstaan van die heelal moes bestaan het—anders sou hulle dit nie kon beheer nie—is die logiese vraag: Waar het hulle vandaan gekom?
Beroemde wetenskaplike Isaac Newton het tot die gevolgtrekking gekom: “Hierdie uiters pragtige stelsel van die son, planete en komete kon slegs voortspruit uit die raadgewing en heerskappy van ’n intelligente en magtige Wese.”
Fisikus Fred Hoyle het gesê: “Die oorsprong van die Heelal, soos die oplossing van die Rubik-kubus, vereis intelligensie.” Die gevolgtrekking dat daar ’n bonatuurlike Wetgewer moet wees, word bevestig deur ons begrip van die ontstaan van die heelal.
Die belangrikste vraag: Hoe het die heelal hier gekom?
Teoriefisikus Hawking verduidelik: “Die vroeë heelal bied die antwoord op die belangrikste vraag oor die oorsprong van alles wat ons vandag sien, met inbegrip van die lewe.” Wat is die huidige wetenskaplike beskouing van die vroeë heelal presies?
In die sestigerjare het wetenskaplikes vae agtergrondstraling waargeneem wat oral uit die lug kom. Daar is beweer dat hierdie straling ’n natrilling is van die oerontploffing wat astronome die oerknal noem. Volgens hulle was die ontploffing so geweldig groot dat sy eggo steeds miljarde jare later waargeneem kan word.a
Maar as die heelal sowat 15 miljard of 20 miljard jaar gelede skielik deur ’n ontploffing ontstaan het, soos die meeste fisikusse nou glo (hoewel dit heftig deur ander betwis word), ontstaan ’n baie belangrike vraag. Waar het die oorspronklike energie vandaan gekom? Met ander woorde, wat het voor die oerknal gekom?
Dit is ’n vraag wat baie astronome eerder ontwyk. Een van hulle het erken: “Die wetenskap het bewys dat die wêreld ontstaan het as gevolg van kragte wat die wetenskaplike beskrywingsvermoë alewig te bowe gaan. Dit pla die wetenskap, want dit bots met die wetenskapsgodsdiens—die godsdiens van oorsaak en gevolg, die opvatting dat elke gevolg ’n oorsaak het. Nou vind ons dat die grootste gevolg van almal, die geboorte van die heelal, hierdie geloofsartikel skend.”
’n Professor aan die Oxford-universiteit het meer ronduit geskryf: “Die eerste oorsaak van die heelal word aan die leser oorgelaat om in te voeg. Maar ons beeld is onvolledig daarsonder.” Die Bybel stel sake egter reg en identifiseer “die eerste oorsaak” deur te sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.
Die mens se nietigheid
Die eenvoudigste les wat die heelal ons leer, is die les wat voor die hand liggend is, die een wat trotse middeleeuse mense probeer ignoreer het maar wat Bybelse digters millenniums gelede nederig erken het—die les van die mens se nietigheid.
Onlangse ontdekkings bevestig koning Dawid se realistiese betuiging van waardering: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:4, 5.
Die astronomie het die ontsaglike grootte en die grootsheid van die heelal onthul—die reusagtige sterre, die afstande en onmeetlike tydperke wat die verstand te bowe gaan, die kosmiese oonde wat temperature van miljoene grade opwek, die uitbarstings van energie wat ’n miljard kernbomme klein laat lyk. Tog word al hierdie dinge goed in die boek Job beskryf: “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26:14). Hoe meer ons oor die heelal leer, hoe geringer lyk ons kennis, en hoe kleiner word ons eie plek daarin. Vir die objektiewe waarnemer is dit ’n les wat tot nadenke stem.
Isaac Newton het erken: “Dit lyk of ek net soos ’n seuntjie was wat op die strand speel en myself vermaak deur nou en dan ’n gladder klippie of ’n mooier skulpie as gewoonlik te kry, terwyl die groot oseaan van waarheid voor my gelê en wag het om ontdek te word.”
Die nederigheid wat so ’n besef in ons behoort te wek, sal ons help om te erken dat daar Iemand is wat die heelal geskep het, Iemand wat die wette vasgestel het waardeur dit beheer word, Iemand wat baie groter en wyser as ons is. Soos die boek Job ons herinner: “By Hóm is wysheid en mag; Hý het raad en verstand” (Job 12:13). En dit is die allerbelangrikste les.
Namate meer geheime van die heelal ontrafel word, word selfs groter raaisels onthul. ’n Toekomstige artikel sal ’n paar van die nuutste ontdekkings bespreek wat astronome nou verstom en nuwe vrae laat ontstaan, wat aanleiding gee tot debatte onder kosmoloë.
[Voetnoot]
a Net soos ’n klip wat in ’n poel gegooi word golfies op die water vorm, het hierdie teoretiese eerste ontploffing “golfies” van mikrogolfstraling gevorm, en dit is wat wetenskaplikes glo hulle opvang met hulle sensitiewe radioantennes, golfies wat deur een skrywer as “die sissende eggo’s van die skepping” beskryf word.
[Prent op bladsy 10]
Apparaat om die agtergrondstraling van die teoretiese oerknal op te spoor
[Erkenning]
Courtesy of the Royal Greenwich Observatory and the Canary Islands Institute of Astrophysics