Die baarmoeder—ons wonderlike eerste tuiste
WAT ’n wonderlike plek was jou eerste tuiste tog! Warm en beskermend. Met ’n oorvloed van ryk voeding. Veilig en beskut.
Jy het maande daar deurgebring en in die gunstige omgewing gedy en gegroei. Maar spoedig het dit gelyk of jou tuiste al hoe meer beknop raak, totdat jy op ’n dag skaars kon beweeg. Jy het teen daardie tyd waarskynlik selfs op jou kop gestaan! Toe, skielik, het jy gevoel hoe jy deur sterk kragte gedruk word en het jy deur die deur van jou tuiste gebreek na die koue, lawaaierige helderheid van die wêreld daarbuite.
Onthou jy nie so ’n ondervinding nie? Heel waarskynlik nie. Maar jy is jou lewe verskuldig aan daardie wonderlike plek waarin jy gewoon het—jou ma se baarmoeder. Dit is volmaak ontwerp met jou in gedagte en het al die versorging en beskerming voorsien wat ’n ontwikkelende baba nodig het. Laat ons dus teruggaan en ’n reis deur jou wonderlike eerste tuiste—die baarmoeder—onderneem.
’n Hartlike verwelkoming wag op jou
Jou lewe het waarskynlik op pad na hierdie voortreflike tuiste begin. ’n Ryp ovum van jou ma het in ’n tonnel afbeweeg wat die Fallopius-buis genoem word. Miljoene spermselle van jou pa het intussen in dieselfde tonnel opbeweeg om by hierdie eier uit te kom. Een spermsel het daarin geslaag om die eier te bevrug, en op dié manier het jy jy geword.
Teen hierdie tyd was daar reeds voorbereidsels vir jou aankoms aan die gang. Die wande van die baarmoeder, of uterus (uter in Latyn, wat “sak” beteken), het hulleself al voorberei, en die plek was vol voedingstowwe. Die uterus se slymvlies het tot twee keer sy normale dikte uitgeswel, en is met ’n sagte sponsagtige laag bedek.
Ná drie of vier dae het jy oor die drumpel van jou nuwe tuiste beweeg. Dit het moontlik vir jou—’n klompie selle so groot soos ’n speldekop wat ’n blastosist genoem word—soos ’n uitgestrekte grot gelyk. Maar binne-in is dit eintlik klein. Die uterus is in werklikheid ’n hol orgaan, glad en pienkerig, omtrent die grootte en vorm van ’n peer wat onderstebo is.
Dit sou die volgende 270 dae of wat jou tuiste wees, en jou ma sou jou, selfs ten koste van haar eie liggaam, van die voedingstowwe voorsien wat jy nodig het om te groei en te ontwikkel totdat dit tyd vir die geboorte was. ’n Aantal weke sou verbygaan voordat jou ma van jou bestaan bewus geword het, en dit sou nog drie tot vier maande duur voordat haar maag genoeg sou uitstaan sodat ander dit kon agterkom.
Nadat jy tot in die uterusholte getuimel het, het jy nog drie dae lank rondgedryf. Uiteindelik het jy jou aan die wand van die uterus vasgeheg. Ensieme van die blastosist het die selle op die oppervlak van hierdie sagte slymvlies, wat die endometrium genoem word, verteer, en jy het afgesak en jou veilig in die fluweelagtige dieptes daarvan tuisgemaak. As ’n eier nie bevrug was en hom aan hierdie slymvlies vasgeheg het nie, sou die uterus dit mettertyd verwerp het en dit as deel van die menstruele bloeding uit jou ma se liggaam verwyder het.
Waarom jy nie verwerp is nie
Wonderlike prosesse het nou in werking getree om te verseker dat jy ’n aangename verblyf sal hê. Om maar een ding te noem, jy moes teen jou ma se immuunstelsel beskerm word. Wetenskaplikes kan nog steeds nie verklaar waarom jou ma se liggaam jou nie as ’n indringer beskou het en jou aangeval het nie. Gewoonlik gaan die komplekse verwerpingstelsel met die eerste teken van ’n indringer tot die aanval oor. Nogtans sou jy uiteindelik tot ’n reusagtige vreemde organisme groei wat etlike kilogram weeg. Waarom is jy nie aangeval nie?
Navorser David Billington van die Universiteit van Bristol het verduidelik: ‘Daar is in werklikheid ’n muur tussen die ma en die fetus. Die muur verhinder heel doeltreffend dat daar enige uitruiling tussen die ma en die fetus is.’ Hy het van ’n weefsellaag om die fetus gepraat wat die trofoblast genoem word. Hierdie versperring het voorkom dat daar enige regstreekse kontak tussen jou en jou ma was. Maar presies waarom haar immuunstelsel nie die trofoblast as vreemde weefsel aangeval het nie, is ’n raaisel. Die antwoord op hierdie vraag sal dalk ook verduidelik waarom sommige swangerskappe op ’n miskraam uitloop.—Sien venster op bladsy 16.
Voeding en versorging duur voort
Beskou jou onversadigbare behoefte aan voeding, veral gedurende hierdie vroeë stadiums. Gedurende die eerste agt weke van jou lewe het jy 240 keer langer en ’n miljoen keer swaarder geword as wat jy by bevrugting was. Jou gewig by geboorte sou uiteindelik sowat 2,4 miljard keer jou gewig by bevrugting wees, terwyl jou verbasende tuiste soos ’n ballon uitsit om vir jou plek te maak. Die baarmoeder is dan 16 keer swaarder as die baarmoeder wat nie swanger is nie, maar binne ’n paar weke ná die geboorte krimp dit weer na byna die oorspronklike grootte terug. Tydens die eerste trimester van jou lewe is die basiese struktuur van jou liggaam gevorm en is die organe en die senuweestelsel gereed vir die ontwikkelingsstadiums wat daarop sou volg.
Die vrugwatersak (amniotiese sak) is reeds vroeg gevorm. Dit het jou in jou tweede trimester voorsien van ’n skokbestande speelkamer met beheerde temperatuur waarin jy kon rondrol en baljaar. Jy was besig om spiere te versterk wat jy buite die gewigloosheid van die vrugwatersak sou nodig hê. Jy het mondevol vrugwater gesluk, waarskynlik om jou te voed. Die vloeistof is elke twee tot drie uur vir jou vervang.
’n Ingewikkelde weefselstruktuur wat die plasenta (Latyns vir “plat koek”) genoem word, het aan die buitewand van die blastosist gegroei. Beskou sommige van die dienste wat dit vir jou verrig het.
Dit het as ’n long gedien en suurstof en koolsuurgas tussen jou en jou ma uitgeruil. Terwyl dit as ’n lewer gedien het, het dit sommige van jou ma se bloedselle verwerk om noodsaaklike komponente, soos yster, vir jou gebruik daaruit te haal. As ’n nier het dit ureum uit jou bloed gefiltreer en dit na jou ma se bloedstroom vervoer sodat dit deur haar niere uitgeskei kon word. Die plasenta het, soos die derms, voedselmolekules verteer. Al hierdie prosesse het deur die 55 sentimeter lange naelstring plaasgevind.
Daar is vroeër gemeen dat die plasenta ’n ondeurdringbare veiligheidstelsel was, wat niks skadeliks van die ma na die kind sou deurlaat nie. Ongelukkig weet ons nou dat baie infeksies, asook stowwe soos die berugte verdowingsmiddel talidomied, die veiligheidstelsel kan binnedring. Siektes soos Duitse masels hou ook tydens sekere stadiums van swangerskap ’n bedreiging in.
Die bloed-brein-versperring wat in volwassenes voorkom, is nog nie goed in die ontwikkelende fetus se brein gevestig nie, en die brein word dus nie teen indringers soos sigaretrook, alkohol, dwelms en ander chemiese gifstowwe beskerm nie. Navorsing toon dat alkohol wel ’n nadelige uitwerking op ’n ongebore baba het. Het kafeïen, wat deur die plasenta opgeneem word, ’n uitwerking op die baba se ontwikkeling? Strek vitamienaanvullers die ontwikkelende baba enigsins tot voordeel? Daar moet nog baie oor sulke vrae uitgevind word.
Die beskerming van enige baba moet dus begin by sy ma wat moet sorg dat sy geen stowwe inneem wat daarvoor bekend is dat hulle skadelik vir babas is nie. ’n Positiewe aspek is dat ’n gebalanseerde dieet en oefening, met doktersgoedkeuring, baie kan bydra om die algemene gesondheid en welsyn van die ma en die kind te bevorder.
Jy neem afskeid van jou tuiste
Voorbereidsels vir jou afskeid het teen die einde van die derde trimester begin. Die sterk spiere van die uteruswand het ’n onreëlmatige beweging begin waartydens die spiere saamgetrek en ontspan het. Dit word soms skynkraam genoem. Die uterus het sagter en rekbaarder geword.
Pleks van te sê: “Die baba het gesak”, is dit akkurater om te sê dat die hele uterus, met die baba binne-in, gesak het. Dit is omdat die uterus silindervormig word en effens afsak sodat die baba se kop nou in die bekkenholte is.
Niemand weet wat besluit het dat dit nou tyd vir jou was om uit die baarmoeder te beweeg nie. Dit kon moontlik hormone van jou ma of van jou, die baba, gewees het wat die baarmoeder die teken gegee het. Die boodskap: “Begin die geboorteproses!”
Die “geboorteproses” is ’n gepaste beskrywing vir die proses van drie fases wat deur die uterus aan die gang gesit word. Eerstens het die uterus se spierwande saamgetrek terwyl die serviks en vagina gerek het ter voorbereiding vir jou geboorte. Die vrugwatersak het waarskynlik op hierdie stadium gebreek.
Tweedens het jou ma se werk werklik begin toe sy haar baba se kop afwaarts deur die serviks en vagina gestoot het. Die sametrekkings het aangehou, al hoe sterker geword en al hoe vinniger opmekaar gevolg totdat jou kop uiteindelik deur die geboortekanaal beweeg het. Die res van jou liggaam het maklik uitgekom. Tydens die finale fase van die geboorteproses het jou ma die plasenta en die oorblyfsels van die naelstring, die nageboorte, uitgestoot.
Daar was jy dus—ontsteld, koud en huilend—ongetwyfeld omdat jy hartseer was dat jy die herbergsame tuiste waarin jy die laaste nege maande of wat deurgebring het skielik moes verlaat. Maar hoe bly kan jy tog wees dat jy die gawe van die lewe het en kan besef hoe goed ons liefdevolle Skepper vir ons sorg, wat seker gemaak het dat jy reg van die begin af ’n voortreflike tuiste gehad het!
[Venster op bladsy 16]
Miskraam—die tragiese verwerping
SELFS die sorgsaamste ma kan deur ’n tragedie getref word. Dit is moeilik om die oorsake van ’n miskraam te bepaal en daar word driftig daaroor gedebatteer. Navorsers stem nie eers saam oor die persentasie bevrugte eiers wat op spontane aborsie uitloop nie. Daar word geskat dat 10 persent tot 20 persent of selfs meer swangerskappe onder die algemene vrouebevolking in die Verenigde State op spontane aborsie uitloop.
Waarom forseer die baarmoeder soms sy nuwe lewe uit pleks van dit beskermend te vertroetel? Dit is moontlik dat die ma se immuunstelsel verdedigend op die trofoblast om die fetus reageer, sy beskermende muur aanval en ’n miskraam veroorsaak. Baie miskrame word moontlik veroorsaak deur sogenaamde genetiese ongelukke, waarin die embrio of die fetus so beskadig is dat dit nie kan voortlewe nie. Of dit kan veroorsaak word deur abnormaliteite in die voortplantingsproses—’n eier wat die uterus te vroeg binnegaan voordat die slymvlies gereed is om dit te ontvang of die uterus so laat binnegaan dat die endometrium reeds begin afsterf het. Moontlik maak die een of ander misvorming in die ma se uterus self dit vir haar onmoontlik om ’n kind te behou.
’n Studie wat onder byna 200 vroue in Brittanje (1990) gedoen is, dui daarop dat onvrugbaarheid en miskrame moontlik met hormoonwanbalanse verband hou. Die afskeiding van LH (luteïniserende hormoon), wat van die pituïtêre klier af kom, neem gewoonlik op ongeveer die 14de dag van die menstruele siklus toe, en dit veroorsaak dat ’n ryp ovum uit die ovarium vrygelaat word en sy afwaartse tog in die Fallopius-buis begin waar dit moontlik bevrug sal word. The New York Times sê: “Die Britse span het groot hoeveelhede LH op die verkeerde tyd, op die agtste dag van die menstruele siklus, voor ovulasie, aangetref.” Meer toetse moet gedoen word om hierdie bevindings te bevestig en te verklaar.
[Prente op bladsy 15]
Fetus op drie maande
Fetus op ses maande
Fetus op nege maande