Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 23-25
  • Is selfmoord die oplossing?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is selfmoord die oplossing?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom sommige so voel
  • Teëspoed in die familie
  • Ander oorsake van angs
  • Verkry hulp
  • Hoe om gevoelens te verwerk
  • Selfmoord—’n plaag onder jongmense
    Ontwaak!—1998
  • Waarom nie net ’n einde aan alles maak nie?
    Ontwaak!—2008
  • ’n Wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2001
  • Waarom mense nie meer kans sien vir die lewe nie
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 23-25

Jong mense vra . . .

Is selfmoord die oplossing?

“Ek is moeg daarvoor om elke oggend wakker te word. Ek is radeloos. Ek is kwaad. My hart is seer. . . . Ek dink dus daaraan om weg te gaan. . . . Ek wil nie weggaan nie, maar ek dink ek moet. . . . Ek kyk na die toekoms en sien net duisternis en pyn.”—’n Selfmoordbriefie van die 21-jarige Peter.a

DESKUNDIGES sê dat tot tweemiljoen jongmense in die Verenigde State al selfmoord probeer pleeg het. Dit is tragies dat ongeveer 5000 elke jaar daarin slaag. Maar selfmoord onder die jeug kom hoegenaamd nie net in die Verenigde State voor nie. In Indië het nagenoeg 30 000 jongmense gedurende 1990 selfmoord gepleeg. In lande soos Finland, Frankryk, Israel, Kanada, die Nederlande, Nieu-Seeland, Spanje, Switserland en Thailand het die selfmoordsyfer onder jongmense drasties gestyg.

Sê nou iemand voel dat die hartseer hom oorweldig—of voel dat pyn hom verstrik en hy geen uitkoms kan sien nie? Dit lyk dalk na ’n uitweg om selfmoord te pleeg, maar in werklikheid is dit niks meer as ’n tragiese vermorsing nie. Vir vriende en familie veroorsaak dit net ellende en pyn. Al lyk die toekoms ook hóé donker en al is jou probleme ook hóé groot, om jouself dood te maak, is nie die oplossing nie.

Waarom sommige so voel

Die regverdige man Job het geweet wat dit beteken om wanhopig te wees. Nadat hy sy gesin, sy besittings en sy gesondheid verloor het, het hy gesê: ‘Ek verkies die verwurging, die dood meer as hierdie geraamte van my’ (Job 7:15). Sommige hedendaagse jongmense het al dieselfde gevoel. Een skrywer het dit so gestel: “Spanning . . . lei tot pyn (gevoelens van smart en vrees) [wat] tot optrede (pogings om pyn te ontvlug) lei.” Selfmoord is gevolglik ’n dwase poging om skynbaar ondraaglike pyn te ontvlug.

Wat veroorsaak sulke pyn? Dit kan veroorsaak word deur iets wat gebeur, soos ’n hewige argument met jou ouers, kêrel of meisie. Nadat die 16-jarige Brad sy verhouding met sy meisie verbreek het, het hy wanhopig geword. Maar hy het nooit oor sy gevoelens gepraat nie. Hy het eenvoudig ’n einde aan alles gemaak deur homself op te hang.

Die negentienjarige Sunita het depressief geword toe haar ouers uitgevind het dat sy en haar kêrel ’n onsedelike verhouding aan die gang gehad het. “Ek het geweet dat ek nie so wou aangaan nie”, sê sy. “Ek het net een aand by die huis gekom en aspirienpille begin sluk. Die volgende oggend het ek bloed opgebring. Dit was nie my lewe nie, maar my lewenswyse wat ek wou beëindig.”

Die skool kan ook ’n bron van intense druk wees. Omdat jong Ashish se ouers (wat self dokters is) hom onder druk geplaas het om ’n dokter te word, het hy aan slaaploosheid begin ly en hom aan mense begin onttrek. Ashish kon nie aan sy ouers se akademiese verwagtinge voldoen nie en het ’n oordosis slaappille gedrink. Dit laat ’n mens aan Spreuke 15:13 in die Bybel dink: “By verdriet van die hart is die gees neerslagtig.”

Teëspoed in die familie

Krisisse in die familie—soos ’n egskeiding of wanneer ouers uitmekaar gaan, die dood van ’n familielid of ’n verhuising na ’n nuwe omgewing—is nog ’n rede waarom sommige jongmense selfmoord pleeg. Brad, wat hierbo genoem word, het byvoorbeeld twee hegte vriende en ’n familielid in ’n motorongeluk verloor. Toe het sy gesin finansiële probleme begin ondervind. Brad het eenvoudig oorweldig gevoel. Hy het dalk soos die psalmis gevoel wat uitgeroep het: “Die swaarkry het vir my te veel geword . . . Dit sak op my toe van alle kante af.”—Psalm 88:4, 18, NAV.

’n Onrusbarende aantal jongmense word aan ’n ander soort spanning onderwerp: fisiese, emosionele en seksuele mishandeling. Die staat Kerala, Indië, het een van die hoogste selfmoordsyfers onder jongmense in daardie land. Etlike tienermeisies daar het al probeer selfmoord pleeg omdat hulle vaders hulle gemolesteer het. Verskillende soorte kindermolestering het wêreldwyd epidemiese afmetings aangeneem, en vir die onskuldige slagoffers kan dit ernstige kommer tot gevolg hê.

Ander oorsake van angs

Maar nie alle selfmoordgevoelens word deur eksterne faktore veroorsaak nie. Een navorsingsverslag oor ongetroude tieners sê: “Seuns en meisies wat geslagsomgang gehad en alkohol kwistig gebruik het, het ’n groter gevaar gestaan [om selfmoord te pleeg] as diegene wat hulle hiervan weerhou het.” Sunita se promiskuïteit het tot ’n swangerskap gelei—wat sy deur ’n aborsie beëindig het. (Vergelyk 1 Korinthiërs 6:18.) Sy is deur skuldgevoelens geteister en wou sterf. Brad het eweneens al sedert hy 14 was met alkohol geëksperimenteer en het hom taamlik gereeld daaraan vergryp. Ja, wanneer alkohol misbruik word, kan dit ‘soos ’n slang byt’.—Spreuke 23:32.

Selfmoordgevoelens kan selfs vanweë ’n mens se eie “verontrustende gedagtes” ontstaan (Psalm 94:19, NW). Dokters sê dat depressiewe denke soms die gevolg van verskillende biologiese faktore is. Voordat Peter, wat aan die begin genoem is, selfmoord gepleeg het, is daar byvoorbeeld gediagnoseer dat hy ’n chemiese wanbalans in sy brein het. Gevoelens van depressie wat nie beheer word nie, kan vererger; selfmoord kan dan na ’n uitweg begin lyk.

Verkry hulp

Maar selfmoord moet nie as ’n uitweg beskou word nie. Of ons dit nou besef of nie, ons almal het ‘interne en eksterne hulpmiddels waarmee ons spanning en konflik met welslae die hoof kan bied’, soos Alan L. Berman en David A. Jobes, deskundiges op die gebied van geestesgesondheid, dit noem. Familie en vriende kan een hulpmiddel wees. Spreuke 12:25 sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Ja, ’n goeie woord van iemand wat begrip toon, kan werklik ’n groot verskil maak!

As enigiemand dus depressief of angstig voel, is dit raadsaam dat hy nie alleen ly nie (Spreuke 18:1). So ’n persoon kan sy hart uitstort teenoor iemand wat hy vertrou. As ’n mens met iemand praat, sal dit die intensiteit van jou emosies help verminder, en dit kan jou ’n nuwe perspektief op die probleme gee. As iemand se hart gebreek is omdat hy ’n vriend of ’n geliefde aan die dood afgegee het, moet hy dit met ’n vertroueling bespreek. Wanneer die persoon die pyn van sulke verliese erken en hy smart ervaar, word hy vertroos (Prediker 7:1-3). Dit kan die persoon help as hy beloof om met ’n vertroueling in aanraking te kom as die drang om selfmoord te pleeg, sou terugkeer.

Dit kan weliswaar moeilik wees om iemand te vertrou. Maar is dit nie die risiko werd aangesien die lewe self op die spel is nie? Die drang om jouself kwaad aan te doen, sal waarskynlik verbygaan as dinge uitgepraat word. ‘Met wie?’ vra sommige dalk. Probeer gerus om jou ouers ‘jou hart te gee’ as hulle godvresend is (Spreuke 23:26). Hulle verstaan moontlik beter as wat baie mense dink en kan moontlik help. As dit lyk of daar bykomende hulp nodig is—soos ’n doktersondersoek—kan hulle daarvoor reël.

Lede van die Christengemeente is ’n ander bron van hulp. Die geestelike ouer manne in die gemeente kan mense met angsgevoelens ondersteun en help (Jesaja 32:1, 2; Jakobus 5:14, 15). Ná Sunita se selfmoordpoging het sy hulp van ’n voltydse evangeliedienaar (’n pionier) ontvang. Sunita sê: “Sy het my deur dit alles bygestaan. As dit nie vir haar was nie, sou ek letterlik mal geword het.”

Hoe om gevoelens te verwerk

Daar is ook interne hulpmiddels wat gebruik kan word. Is die persoon se skuldgevoelens byvoorbeeld die gevolg van ’n oortreding? (Vergelyk Psalm 31:11.) Werk eerder daaraan om sake reg te stel as om toe te laat dat sulke gevoelens sterker word. (Jesaja 1:18; vergelyk 2 Korinthiërs 7:11, NW.) ’n Positiewe stap in hierdie rigting sal wees om jou skuld teenoor jou ouers te beken. Hulle kan weliswaar aanvanklik ontsteld wees. Maar hulle sal hulle waarskynlik daarop toelê om jou te help. Ons word ook daarvan verseker dat Jehovah diegene wat opreg berouvol is ‘menigvuldiglik vergewe’ (Jesaja 55:7). Jesus se losprysofferande bedek die sonde van berouvolle mense.—Romeine 3:23, 24.

Christene het ook geloof, kennis van die Skrif en hulle verhouding met Jehovah God wat hulle kan help. Die psalmis Dawid was by verskeie geleenthede so benoud dat hy gesê het: “Die vyand . . . vertrap my lewe teen die grond.” Hy het nie wanhopig geword nie. Hy het geskryf: “Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE.” “Ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.”—Psalm 142:2; 143:3-5.

As die begeerte om jouself kwaad aan te doen sterk word, moet jy Jehovah in gebed aanroep. Hy verstaan watter pyn jy verduur en wil hê dat jy moet lewe! (Psalm 56:9). Hy kan die “krag wat die normale te bowe gaan”, voorsien om jou te help om die pyn die hoof te bied (2 Korinthiërs 4:7, NW). ’n Mens moet ook aan die pyn dink wat dit vir familie, vriende en Jehovah self sal veroorsaak as iemand selfmoord pleeg. As ’n mens sulke dinge in gedagte hou, kan dit jou heel moontlik help om te bly lewe.

Want al lyk dit vir sommige of die pyn nooit sal weggaan nie, kan hulle daarvan seker wees dat daar ander is wat dieselfde soort pyn deurgemaak het. Hulle kan uit ondervinding vertel dat dinge kan verander en dat dit wel verander. Ander mense kan jou help om so ’n pynlike tyd te verwerk. Diegene wat depressief is, moet die nodige hulp soek wat hulle verdien—en bly leef!

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 24]

Dit is beter om pynlike gevoelens met iemand te bespreek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel