Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/22 bl. 19-24
  • Wanneer die lewe ’n stryd is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer die lewe ’n stryd is
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toe ek nege was
  • Beperk deur siekte
  • ’n Terugslag
  • Uiteindelik terug skool toe
  • Nuuskierig oor godsdiens
  • Nog ’n terugslag
  • Skool was nie maklik nie
  • My standpunt oor bloed was nie maklik nie
  • Diplomaplegtigheid, toe doop
  • Ek kom weer voor die bloedkwessie te staan
  • Nog ’n terugslag
  • Die lewe is steeds nie maklik nie
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
  • Wanneer ’n kind kanker het
    Ontwaak!—2011
  • Breinchirurgie—Hoe geloof my onderskraag het
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/22 bl. 19-24

Wanneer die lewe ’n stryd is

EK WAS taamlik jonk toe ek gedwing is om die harde werklikhede van die lewe te trotseer. Jy stem dalk met my saam dat die lewe in vandag se wêreld inderdaad onregverdig is. Dit behandel ons almal op die ou end onregverdig. Ons word almal siek. ’n Paar sal weliswaar dalk oud word sonder enige ernstige siektes, maar dan staar die dood ons almal in die gesig.

Ek dink waarskynlik meer aan die dood as wat ek behoort te dink. Maar laat ek verduidelik waarom, en ook waarom ek, in ’n sekere sin, voordeel getrek het uit wat met my gebeur het.

Toe ek nege was

Ek is in September 1968 in Brooklyn, New York, gebore en was die jongste van vyf kinders. Paps was gestrem en Mams het as kassiere gewerk om ons te onderhou. Ek was omtrent nege toe Mams opgemerk het dat my maag aan die een kant opgeswel was. Sy het my na die plaaslike mediese sentrum geneem. Die dokter het ’n groot knop gevoel en ek is ’n paar dae later in die Kings County-hospitaal opgeneem.

Nadat Mams weg is, het ek gehuil omdat ek bang was. Die volgende dag het twee mans met ligblou klere my in die operasiesaal ingestoot. Ek onthou dat die laaste ding wat ek gesien het voordat ek in die herstelkamer wakker geword het ’n verblindende lig bo my kop was en dat iets oor my mond geplaas is. Die dokters het met welslae ’n gewas verwyder wat ’n Wilms-gewas (’n soort kanker) genoem word, asook een van my niere en ’n deel van my lewer.

Ek het vyf weke in die intensiewesorgeenheid deurgebring. Die dokters het elke dag die verbande omgeruil. Ek het geskreeu wanneer hulle die pleisters afgetrek het. Om my pyn te verlig, het die dokters iemand laat inkom en my aandag probeer aflei. Ek onthou dat die persoon baie met my oor paddas gesels het.

Nadat ek uit intensiewe sorg ontslaan is, het ek nog vier weke in die hospitaal deurgebring. Gedurende daardie tyd is daar met bestraling begin. Dit was pynlik—nie weens die bestraling nie—maar omdat ek op my maag moes lê, wat nog seer was van die operasie. Ek het elke dag van Maandag tot Vrydag bestraling gekry.

Toe ek aan die einde van November 1977 uit die hospitaal ontslaan is, het ek steeds as buitepasiënt bestraling gekry. Toe hierdie behandeling gestaak is, het ek chemoterapie begin kry. Elke dag van Maandag tot Vrydag moes ek soggens vroeg opstaan en na die hospitaal toe gaan om met sterk verdowingsmiddels ingespuit te word. Die dokter het ’n naald in ’n aar gesteek en die medisyne direk daarin gespuit. Ek was bang vir naalde en het gehuil, maar Mams het vir my gesê dat ek dit moes deurmaak om beter te kan word.

Die chemoterapie het aaklige newe-effekte gehad. Dit het my naar gemaak en ek het dikwels opgegooi. My bloedtelling het gedaal en al my hare het uitgeval.

Beperk deur siekte

Die volgende lente, op Paassondag, het ons gereedgemaak om kerk toe te gaan toe my neus weens my lae bloedtelling begin bloei het. My ouers het alles probeer, maar my neus het aangehou bloei. Die dokters het die bloeding gestop deur my neus vol gaas te druk, maar toe het die bloed by my mond begin uitkom. Ek het baie swak geraak weens die bloedverlies en is in die hospitaal opgeneem. My besoekers moes handskoene, ’n gesigsmasker en ’n japon oor hulle klere dra sodat hulle my nie besmet nie. Binne ’n week het my bloedtelling voldoende gestyg sodat ek uit die hospitaal ontslaan kon word.

Chemoterapie is dadelik hervat. Ek kon nie skool toe gaan nie en ek het dit regtig gemis. Ek het na my vriende verlang en ook om buite saam met hulle te speel. Ek het tuisonderrig ontvang aangesien my dokters gemeen het dat ek nie skool toe moes gaan terwyl ek chemoterapie ontvang het nie, en ook nie te gou nadat dit gestaak is nie.

Daardie somer wou ek soos gewoonlik by my ouma en oupa in Georgia gaan kuier, maar ek is nie toegelaat om te gaan nie. Die hospitaal het egter gereël dat die kankerpasiënte na ’n pretpark in New Jersey gaan. Hoewel ek daarná uitgeput was, het ek dit geniet.

Ek het aan die einde van 1978 my laaste chemoterapie gekry, maar het steeds tuisonderrig ontvang—altesaam meer as drie jaar lank. Toe ek in Januarie 1981 terug skool toe is, was dit nie maklik om aan te pas nadat ek so lank by die huis geleer is nie. Soms het ek verdwaal terwyl ek na my klas gesoek het. Tog het ek dit regtig geniet om skool toe te gaan. Ek het veral van musiek, tik en liggaamsopvoeding gehou. Van die kinders was vriendelik, maar ander het met my die spot gedryf.

’n Terugslag

“Is jy swanger?” het die kinders my begin vra. Dit was omdat my maag geswel was. Die dokter het vir my gesê om nie bekommerd te wees nie en dat dit was omdat my lewer weer begin groei het. Toe ek egter in Maart deeglik ondersoek is, het die dokter my hospitaal toe gestuur. Ek het begin huil—ek het net twee en ’n half maande lank skool toe gegaan.

’n Biopsie is gedoen waartydens weefsel van ’n gewas in my lewer geneem is. Toe ek later wakker geword het, was Mams die eerste persoon wat ek gesien het. Sy het gehuil. Sy het my vertel dat ek weer kanker het, dat die gewas te groot was om te verwyder en dat ek chemoterapie moes kry om dit te laat krimp. Ek was maar net 12.

Die chemoterapie is in die hospitaal gedoen, wat beteken het dat ek elke paar weke twee of drie dae op ’n keer hospitaal toe moes gaan. Ek was soos gewoonlik naar en het opgegooi. Kos was smaakloos en al my hare het uitgeval. Daar is gedurende 1981 met die chemoterapie voortgegaan. Intussen het ek in April weer met my tuisonderrig begin.

Vroeg in 1982, toe ek in die hospitaal opgeneem is vir die operasie, was ek so swak dat die verpleegsters my moes help wanneer ek by die skaal moes op- en afklim. Die chemoterapie het die gewas laat krimp en chirurge kon dit dus saam met nog ’n deel van my lewer verwyder. Ek was weer twee maande lank in die hospitaal. Teen die middel van 1982 het ek weer chemoterapie gekry, wat tot vroeg in 1983 voortgeduur het.

Gedurende hierdie tyd was ek ongelukkig omdat ek nie skool toe kon gaan nie. Maar toe het my hare weer begin groei, en ek het weer beter begin voel. Ek was bly dat ek kon leef.

Uiteindelik terug skool toe

My private onderwyseres het gereël dat ek saam met die klas waarin ek ’n kort rukkie in 1981 was my junior hoërskool-diploma kon ontvang. Ek was baie opgewonde hieroor; dit was heerlik om my vriende te sien en om nuwe vriende te maak. Toe die diplomaplegtigheid in Junie 1984 aanbreek, het ek foto’s van my vriende en onderwysers geneem, en my gesin het foto’s van my geneem as herinnering aan hierdie spesiale gebeurtenis.

Daardie somer het ek by my ouma en oupa in Georgia gaan kuier, en ek het omtrent die hele somer daar gebly. Toe ek teen die einde van Augustus terugkom, was dit tyd om vir skool gereed te maak. Ja, ek sou uiteindelik teruggaan skool toe. Ek was so opgewonde!

Nuuskierig oor godsdiens

Dawn en Craig was anders as die ander leerlinge en ek het van hulle gehou. Toe ek egter vir hulle Kersgeskenke gegee het, het hulle gesê dat hulle nie Kersfees vier nie. “Is julle Joods?” het ek gevra. Craig het verduidelik dat hulle Jehovah se Getuies is en dat Kersfees nie eintlik Christelik is nie. Hy het vir my ’n paar Wagtoring- en Ontwaak!-tydskrifte gegee om meer oor die onderwerp te lees.

Ek het nuuskierig geraak oor hulle godsdiens wat so anders gelyk het. Wanneer ek kerk toe gegaan het, het ons dieselfde ding oor en oor gehoor: ‘Glo in Jesus Christus, word gedoop en julle sal hemel toe gaan.’ Maar dit het te maklik gelyk. Ek het geleer dat wanneer dinge te maklik is jy óf ’n genie is óf dat iets verkeerd is. Ek het geweet dat ek nie ’n genie was nie; daarom het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar iets verkeerd moet wees met wat die kerk geleer het.

Uiteindelik het Craig die Bybel tydens middagete met my begin studeer. Hy het my eendag na ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies uitgenooi en ek het gegaan. Ek het Craig gevind en by hom en sy gesin gesit. Ek was beïndruk deur wat ek gesien het—mense van verskillende rasse wat saam in eenheid aanbid—en ek was ook beïndruk deur wat ek gehoor het.

Toe ek en Craig in ander klasse ingedeel is, kon ons nie meer die Bybel saam studeer nie omdat ons nie meer middagete op dieselfde tyd gehad het nie. Craig se ma het my ma gebel om uit te vind of sy met my kon studeer, maar Mams het nee gesê. Later het sy my toestemming gegee om die Christelike vergaderinge by te woon. Ek het dus ’n Koninkryksaal gebel wat in die telefoongids was en het uitgevind dat die vergadering Sondag om 9:00 vm. begin. Die vorige dag het ek ongeveer 30 blokke ver na die Koninkryksaal toe geloop om seker te maak dat ek die pad ken.

Toe ek die volgende oggend daar aankom, het ’n man my gevra of ek ’n besoeker is. Ek het vir hom gesê dat dit my eerste besoek was, maar dat ek wel ’n kort rukkie gestudeer het. Hy het my vriendelik genooi om by hom en sy vrou te sit. Die vergadering was so anders as die kerk. Ek was verbaas om te sien hoe ywerig talle was om tydens die vraag-en-antwoord-bespreking kommentaar te lewer. Selfs kindertjies het geantwoord. Ek het ook my hand opgesteek en ’n vraag beantwoord. Van toe af het ek aangehou om die vergaderinge by te woon en het ek begin om vordering te maak in my begrip van Bybelwaarhede.

Nog ’n terugslag

In Desember 1986, gedurende my laaste jaar op hoërskool, het ek vir ’n roetine-ondersoek gegaan. Die dokter het nie gehou van wat hy in my regterlong gesien het nie en ek is dus gevra om vir verdere x-strale te gaan. Toe ek uitvind dat daar volgens die x-strale beslis iets verkeerd was, het ek begin huil.

’n Biopsie is gedoen; die dokter het ’n naald gebruik om ’n stukkie van die gewas in my long te verwyder. Die gewas was kankeragtig. Trouens, daar was drie gewasse, waaronder ’n groot gewas naby die slagare van my hart. Ná beraadslaging met die dokter het ons besluit dat ek twee eksperimentele chemoterapiemiddels sou neem om die gewasse voor die operasie te laat krimp. Ek sou die gewone newe-effekte ondervind—algehele haarverlies, naarheid, vomering en ’n lae bloedtelling.

Ek was eers neerslagtig, maar toe het ek baie tot Jehovah begin bid, en dit het my versterk. Ek sou oor minder as ses maande my skoolloopbaan voltooi. My onderwysers was simpatiek en vriendelik; hulle het net gevra dat ek ’n doktersbrief moes ingee en dat ek by my skoolwerk probeer byhou.

Skool was nie maklik nie

Buiten die uitdaging om my skoolwerk te doen terwyl ek so siek was, het my hare begin uitval. Toe ek ’n pruik gekoop het, het van my skoolmaats gesê dat my hare pragtig lyk—hulle het nie besef dat dit ’n pruik was nie. Maar een seun het wel. Elke keer as ek in die klaskamer ingestap het, het hy die woord “pruik” op die swartbord geskryf en het hy en sy vriende gelag en met my gespot. Hulle tergery het my neerslagtig gemaak.

Toe, een dag in die stampvol gang, het iemand van agter die pruik van my kop afgepluk. Ek het vinnig omgedraai en dit opgetel. Maar ’n klomp kinders het my kaal kop gesien en ek het so seergemaak gevoel. Ek het op ’n trap gaan sit en gehuil. Ek kon die volgende dag op die gesigte van party leerlinge sien dat hulle jammer was oor wat gebeur het. Van my klasmaats het my vertel dat ’n meisie ’n seun betaal het om my pruik af te pluk.

My standpunt oor bloed was nie maklik nie

Met die chemoterapie het my bloedtelling baie laag gedaal. Om sake te vererger, het my neus gebloei, soms twee of drie keer per dag. Ek was nie gedoop nie, maar ek het ’n ferm standpunt ingeneem en gesê dat ek as een van Jehovah se Getuies nie bloed sou aanvaar nie (Handelinge 15:28, 29). My oudste suster het vir haar jongste dogtertjie gesê om vir my te sê dat sy nie wou hê dat ek moes doodgaan nie. Paps was ontsteld en het daarop aangedring dat ek bloed neem, en Mams het aanhoudend vir my gesê dat God my sou vergewe as ek ’n bloedoortapping neem.

Die dokters het my terselfdertyd gewaarsku dat ek met so ’n lae bloedtelling ’n hartaanval of beroerte kon kry. Aangesien ek vasbeslote was om standvastig te bly, het hulle my ’n vrystellingsdokument laat teken wat gesê het dat hulle nie daarvoor verantwoordelik sou wees indien ek sou sterf nie. Ek was gou gesond genoeg om huis toe asook terug skool toe te gaan. Maar weens my lae bloedtelling het die dokters besluit dat ek nou bestraling pleks van chemoterapie moes kry. Van die einde van April af tot vroeg in Junie 1987 het ek elke dag ná skool bestraling gekry.

Diplomaplegtigheid, toe doop

My diplomaplegtigheid was ’n spesiale geleentheid. My suster het my na ’n rok help soek en ek het ’n nuwe pruik gekoop. Mams en my twee susters was daar en ons het daarna saam gaan uiteet en ’n onvergeetlike maaltyd geniet.

Ek het op daardie tydstip nie chemoterapie of bestraling gekry nie. Maar ’n paar weke later het die dokter gebel en gesê dat ek hospitaal toe moes kom vir nog ’n reeks chemoterapiebehandelings. Ek wou nie gaan nie omdat ek binne ’n week die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by die Yankee-stadion in New York-stad sou bywoon. Mams het egter gesê dat ek met die behandeling moes voortgaan sodat ek dit agter die rug kon kry. Ek het dit toe gedoen.

Tydens die byeenkoms was ek baie opgewonde aangesien ek op Saterdag, 25 Julie 1987, gedoop sou word. Ons is onder polisiegeleide na Orchard Beach, die doopplek, toe. Nadat ek gedoop is, het ek na die stadion teruggegaan vir die res van die dag se program. Teen die aand was ek baie moeg, maar ek het die Sondagoggend gereedgemaak en die laaste dag van die byeenkoms bygewoon.

Ek kom weer voor die bloedkwessie te staan

Die volgende middag is ek in die hospitaal opgeneem met ’n koors van 39 grade Celsius, ’n nierinfeksie en ’n uiters lae bloedtelling. Die dokter het gedreig dat as ek nie instem om die toestemmingsvorm vir ’n bloedoortapping te teken nie, hy ’n hofbevel sou kry om bloed op my af te dwing. Ek was baie bang. My gesin het druk op my uitgeoefen; my suster het selfs aangebied om my van haar bloed te gee, maar ek het geweier.

Ek het baie tot Jehovah gebid om my te help om standvastig te bly. Gelukkig het my bloedtelling begin styg en is daar nie meer druk op my uitgeoefen om bloed te neem nie. Hoewel ek moes voortgaan om chemoterapie te kry, het ek geen geskikte are oorgehad nie. ’n Chirurg het dus ’n openinkie onder my sleutelbeen gemaak sodat ’n toestel daarin gesteek kon word waardeur medikasie aan my toegedien kon word.

Toe die chirurg die verwydering van die gewasse in my long met my bespreek het, het hy gesê dat hy nie bloed sou gebruik nie, tensy daar ’n noodgeval was. Mams het vir my gesê om toestemming te gee en ek het dit toe gedoen. Maar ná die tyd het ek sleg gevoel, want ek het as ’t ware ingestem om bloed te ontvang. Ek het dadelik na ’n chirurg begin soek wat my die versekering kon gee dat hy nie bloed sou gebruik nie. Dit het gelyk of die soektog vrugteloos was, maar ek het uiteindelik ’n chirurg gekry en die operasie is vir Januarie 1988 gereël.

Die dokter het geen waarborg gegee dat ek sou leef nie. Trouens, die aand voor die operasie het hy na my kamer toe gekom en gesê: “Ek sal probeer om die operasie uit te voer.” Ek was bang; ek was net 19 jaar oud en ek wou nie sterf nie. Die drie gewasse is egter met welslae verwyder, sowel as twee derdes van my long. Dit is merkwaardig dat ek net ’n week lank in die hospitaal was. Nadat ek twee en ’n half maande lank tuis aangesterk het, het ek weer met chemoterapie begin, met die gewone newe-effekte.

Dit was om en by hierdie tyd dat my pa siek geword het weens kanker, en ’n paar maande later het Mams hom een nag dood in die slaapkamer aangetref. Ná sy dood het ek na ’n handelskool begin gaan waar ek ’n sekretariële kursus gevolg het. Ek het liggaamlik, akademies en geestelik goed gedoen en het selfs aan die hulppionierdiens (die tydelike voltydse bediening) deelgeneem.

Nog ’n terugslag

In April 1990 het ek die onthaal van my oudste broer se troue in Augusta, Georgia, bygewoon. Terwyl ek daar was, het my broer gesê: “Jou been is rêrig groot.”

“Wat dink jy is dit?” het ek gevra.

“Ek weet nie”, het hy geantwoord.

“Dis seker ’n gewas”, het ek gesê.

Nadat ek na New York-stad teruggekeer het, het ek dokter toe gegaan. ’n Biopsie wat onder plaaslike verdowing gedoen is, het gewys dat daar nog ’n Wilms-gewas in my linkerkuit was. Toetse het getoon dat die been nie aangetas was nie, maar die gewas was te groot om verwyder te word. Die gewone chemoterapie het dus gevolg.

Ná ’n ruk kon ek nie ophou opgooi nie; ek het ’n verstopping in my ingewande gehad. ’n Noodoperasie het dit verlig. My ingewande het egter verstrengeld geraak en nog ’n operasie was nodig. My hemoglobientelling het tot amper vier gedaal en die dokter het aanhoudend gesê: “Jy moet bloed neem. Jy gaan sterf. Jy sal dit waarskynlik nie deur die nag maak nie.” Ek het nagmerries gehad oor begraafplase en die dood.

Teen Oktober het ek genoeg herstel om die gewas te laat verwyder. Ongeveer 70 persent van my kuit is ook verwyder. Hulle het getwyfel of ek ooit weer sou loop. Maar ek moes loop om by party plekke in New York-stad te kom, en met terapie en vasberadenheid het ek dus begin loop—eers met ’n loopring, toe met krukke, volgende was ’n kierie en uiteindelik ’n beenstut, sodat ek my hande kon gebruik om my Bybel in die bediening van deur tot deur vas te hou. Tydens chemoterapie het my gewig tot 27 kilogram afgeneem; ek is 1,55 meter lank en weeg normaalweg 54 kilogram. Namate ek gewig aangesit het en my been gegroei het, het die dokters die stut vergroot. Toe ek uiteindelik my normale gewig was, het hulle vir my ’n nuwe stut gemaak.

Die lewe is steeds nie maklik nie

Teen die somer van 1992 het dit gelyk asof ek weer gesond was, en ek het daarna uitgesien om selfs hulppionierdiens te doen. In November het ek ’n brief ontvang wat my vreeslik bly gemaak het. Die brief het gesê dat my lewensondervindinge ander kan aanmoedig en dat ek genooi is om dit aan Ontwaak! te vertel. My uitgelatenheid het die volgende week na wanhoop oorgeslaan.

’n Roetine-x-straal van my bors het getoon dat daar gewasse in my een goeie long was. Ek het gehuil en nogmaals gehuil. Ek kon sonder ’n nier, ’n deel van my lewer, die meeste van my linkerlong en ’n deel van ’n been oor die weg kom, maar niemand kan sonder albei longe leef nie. Weer eens was my gesin en vriende daar om my te ondersteun, en ek was vasberade om die siekte weer ’n keer te beveg.

Daar is met chemoterapie begin om die gewasse te laat krimp. ’n Dokter het gemeen dat die gewasse verwyder kon word en dat die long behoue kon bly. In Maart 1993 is ek weer eens in die operasiesaal ingestoot. Ek het later gehoor dat hulle net gekyk het en my toe weer toegewerk het. Hulle kon nie die gewasse verwyder sonder om die long te verwyder nie. Sedertdien is ek op sterk chemoterapie in ’n poging om die gewasse dood te maak.

Kan jy sien waarom ek baie aan die dood dink? Sou ek so baie gedink het aan waarom ons sterf en watter hoop daar vir die toekoms is as my lewe maklik was? Ek weet nie. Maar ek is seker wat werklik belangrik is, is nie of ons nou leef of sterf nie, maar of ons die seën verkry van Jehovah God, die Een wat ons die ewige lewe kan gee. Ek word onderskraag deur aan die hoop van die lewe in sy nuwe wêreld te dink, my sorge op hom te werp en na aan my vriende te bly wat dieselfde hoop as ek het.—Psalm 55:23; Openbaring 21:3, 4.

Ek is bly dat ander jongmense gesond is. Ek hoop dat wat ek vertel het baie van hulle sal aanspoor, nie om leë doelwitte na te streef nie, maar om verstandig te wees en doelwitte in Jehovah se diens na te streef. Hoe wonderlik sal dit tog nie wees nie om vir ewig goeie gesondheid in God se nuwe wêreld te geniet! Daar sal geen dokters, hospitale, inspuitings of buise nodig wees nie—nee, niks om ons aan hierdie siek en sterwende ou wêreld te herinner nie.—Soos vertel deur Kathy Roberson.

[Prent op bladsy 21]

Toe ek my junior hoërskool-diploma ontvang het

[Prent op bladsy 23]

Ek help by die voedselverskaffingsafdeling by ’n kringbyeenkoms in New York

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel