Dis nie meer ’n geheim nie
“Hou dit asseblief geheim en moet dit vir geen vreemdeling lees nie”
WILLIAM H. MOREY het in 1863 gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog hierdie inleidende waarskuwing uit Acquia Creek, Virginië, aan sy jong vrou, Elisa Ann, in Pennsilvanië geskryf. Hy was toe 24 jaar oud, nie lank getroud nie en ’n soldaat van die dorp Hanover, in Pennsilvanië. Hy het aan die kant van die Noorde, die Unie, geveg. Sy vyande? Ander Amerikaners wat die Konfederasie van suidelike state ondersteun het wat van die Unie afgestig en beweer het dat daar uit Washington, DC, Federale (noordelike) inmenging in hulle ekonomiese sake was. Wat wou Morey geheim gehou het? Ons sal binnekort sien, maar hier is eers ’n bietjie agtergrondinligting.
Die Amerikaanse Burgeroorlog het in 1861 uitgebreek nadat sewe suidelike state van die Unie af weggebreek het, en nog vier het kort daarna gevolg. Hierdie 11 het die Konfederasie gevorm. Die voortsetting van slawerny was een van die vernaamste geskille tussen die Noorde en die Suide. Die welgestelde suidelike plantasie-eienaars het aangevoer dat die Noorde kon bekostig om slawerny af te skaf, aangesien sy ekonomie deur duisende Europese immigrante onderhou is. Die suidelike ekonomie, wat van katoen afhanklik was, het egter sy bykans viermiljoen slawe nodig gehad om voorspoedig te wees. Dit is ten minste wat hulle gedink het.
Wat het president Abraham Lincoln gedink? Hy het in Augustus 1862 geskryf: “My belangrikste doelwit in hierdie stryd is om die Unie te red en nie om slawerny te red of te vernietig nie. As ek die Unie kon red sonder om enige slawe vry te laat, sou ek dit doen; en as ek dit kon red deur al die slawe vry te laat, sou ek dit doen.” Lincoln het kort hierna, op 1 Januarie 1863, vryheid aangekondig vir al die slawe wat onder rebellemagte was. Dit was ’n geweldige ekonomiese slag vir die suidelike slawe-eienaars wat, soos hulle dit gesien het, “etlike miljarde dollars se slawe-eiendom” verloor het sonder dat hulle daarvoor vergoed is.
Daardie verskriklike burgeroorlog het gedurende die jare 1861-65 die lewens van ten minste 618 000 jong Amerikaners geëis, bo en behalwe al dié wat gewond is—meer Amerikaanse slagoffers as in enige ander oorlog. William Morey was in hierdie konflik verwikkel toe hy op 25 Januarie 1863 sy dagboek en sy geheime brief geskryf het. Wat was sy geheime gevolgtrekkings oor die oorlog as ’n gewone soldaat?
’n Verbitterde brief
Hy begin sy brief deur sy vrou te bedank vir “daardie tabak en ander goed” wat sy vir hom gestuur het en skryf dan: “Ek glo en sien dat hierdie oorlog ’n hele bedrogspul en ’n geldmaakoorlog is. Almal probeer baie geld maak en dit is die enigste ding wat hierdie oorlog aan die gang hou, en nou sien ons hoe hierdie oorlog aangaan. As ek maar net weer by die huis was, sou ek die eerste man wat my gevra het om weer oorlog toe te gaan, platgeslaan het. Ons word hier soos honde behandel. Baie honde word beter as ons behandel, en ek sê vir jou as ek net my geld vir hierdie 4 maande gehad het, sou ek probeer wegloop. Ons word by die dag erger behandel.”
Hy het verduidelik waar hulle gestasioneer was: “Dit is ’n baie lekker plek en ’n baie mooi uitsig. Jy kan die bote op die Potomacrivier sien aankom . . . Hier werk ons party dae baie hard om die spoorwaens te laai, en ons het nie eers genoeg om te eet nie. Baie van die ouens praat van wegloop as hulle net hulle geld gehad het . . . Ons marsjeer net en doen die hele tyd harde werk.”
Hierdie ontberinge was nietemin niks in vergelyking met dit wat die manne tydens die gevegte verduur het nie. Die suidelike generaal D. H. Hill het in een veldslag 2 000 van sy 6 500 manne verloor. Hy het geskryf: “Dit was nie oorlog nie, dit was moord” (Gray Fox deur Burke Davis). Die voorwaardes van diensplig in die Noorde en die Suide was van so ’n aard dat diegene met geld vrystelling kon kry of hulle uit militêre diens kon uitkoop. Sommige van die armer mense in die Suide het gekla dat dit ’n “ryk man se oorlog en ’n arm man se geveg” was. Korporaal Morey is ’n toelaag betaal om in die oorlog te dien, en met die opbrengs daaruit het hy ’n bakkery begin.
Diegene wat in gevangenekampe, soos Andersonville, Georgië, beland het, is dikwels aan verskriklike toestande onderwerp. “’n Stadig vloeiende stroompie het daardeur geloop. Die siekte- en sterftesyfer was ontsettend hoog, met swak sanitasie, beknoptheid, blootstelling en ’n onvoldoende dieet wat tot die ongesonde toestande bygedra het” (Andersonville, ’n brosjure). Selfs erger was die moord en roof deur bendes, wat Raiders genoem is, en weens geringe misdade in die gevangenis was. Hulle het “op groot skaal roof en geweld” bevorder. Ten minste 12 920 soldate het in Andersonville weens die een of ander oorsaak gesterf.
Is die mensdom in 1995 enigsins meer gevorderd? Het hulle ’n les uit die geskiedenis geleer? Die vreeslike slagtings in Rwanda, Liberië, die Balkanstate en baie ander plekke waar konflikte plaasvind, is onlangse voorbeelde van die mens se onmenslikheid teenoor ander mense. Hoewel Katolieke en Ortodokse gelowiges beweer dat hulle Christene is, leef hulle nie ooreenkomstig die liefdevolle voorbeeld van Christus Jesus nie. Net Jehovah se Getuies handhaaf hulle neutraliteit en weier om oorlog te leer of te voer. En dit is nie ’n geheim nie.—Jesaja 2:4; Miga 4:3.