Vulkane—Is jy in gevaar?
VULKANIESE uitbarstings, wat warm as en gloeiende lawastrome uitskiet, veroorsaak van die skouspelagtigste vertonings van natuurlike energie op aarde. Miskien het jy nog nie self so ’n gebeurtenis aanskou nie, maar jy het dit dalk geniet om in vulkaniese warm bronne te swem of dalk gesmul aan kos wat gegroei het in vrugbare grond wat uit vulkaanas bestaan. Party ontvang selfs die voordele van geotermiese energie in hulle huise.
Maar baie mense wat naby aktiewe vulkane woon, het onlangs die dood en verwoesting gesien wat deur vulkaniese rampe veroorsaak word. Sedert die geweldige uitbarsting van St. Helens in die suidweste van die staat Washington, VSA, op 18 Mei 1980, is verskeie wêrelddele skynbaar onophoudelik deur dodelike vulkaniese uitbarstings geteister. Die verlies van lewens gedurende hierdie tydperk was meer as die totaal wat vir die vorige sewe dekades tesame opgeteken is, en skade aan eiendom het honderdmiljoene rande beloop. Rampe het al byna plaasgevind toe vulkaanas in die lug veroorsaak het dat vliegtuie krag verloor en noodlandings moes doen.
Die vernietigendste van die uitbarstings en daaropvolgende modderstrome was dié van die berg Pinatubo, in die Filippyne, wat tienduisende huise vernietig het en Nevado del Ruiz, in Colombia, waarin meer as 22 000 mense dood is. Meer rampe is moontlik. Vulkaandeskundiges Robert Tilling en Peter Lipman, van die Amerikaanse Geologiese Opname, sê dat “die bevolking wat deur vulkaniese gevare bedreig word teen die jaar 2000 waarskynlik tot ten minste 500 miljoen sal toeneem”.
Daarom sal dit dalk verstandig van jou wees om te vra: ‘Woon ek naby ’n aktiewe, of potensieel aktiewe, vulkaan? Watter soorte uitbarstings is die gevaarlikste, en kan hulle tot selfs dodeliker bedreigings van ’n ander aard lei? Wat kan ek doen om die gevaar te verminder as ek in ’n gevaarlike vulkaniese gebied woon?’
Aktiewe vulkane—Waar is hulle?
Jy sal miskien verbaas wees as jy uitvind dat jy naby ’n sluimerende vulkaan woon en dat dit beslis ’n uitwerking op jou sal hê as dit weer aktief moet raak. Wetenskaplikes wat vulkane bestudeer (bekend as vulkanoloë), was in onlangse jare nie net suksesvol daarin om aktiewe en sluimerende vulkane te identifiseer nie, maar ook om te verstaan waarom vulkane geneig is om op sekere plekke voor te kom.
Kyk na die kaart (bladsy 17) wat toon waar van die meer as 500 vulkane geleë is wat as aktief aangegee word. Woon jy naby een? Op ander plekke verraai geisers, fumaroles en warm bronne die teenwoordigheid van ander sluimerende vulkane; hulle kan ook in die toekoms aktief raak. Meer as die helfte van die aktiewe vulkane lê aan die kante van die Stille Oseaan en maak die so genoemde Vuurgordel uit. Van hierdie vulkane kom voor op die kontinente, soos in die Kaskade-gebergte van Noord-Amerika en die Andesgebergte van Suid-Amerika, terwyl ander weer eilandkettings in die oseaan vorm, soos die Aleoetiese Eilande, Japan, die Filippyne en Suid-Indonesië. Vulkane is ook iets algemeens in en naby die Middellandse See.
Wetenskaplikes het vasgestel dat hierdie vulkane voorkom op die kante van enorme, bewegende stukke kors, of plate, veral waar ’n seekors onder ’n kontinentale kors wegsink. Hierdie proses word subduksie genoem. Hitte wat deur hierdie proses veroorsaak word, lewer magma (gesmelte rots) wat na die oppervlak stroom. Daarbenewens veroorsaak skielike bewegings tussen die plate sterk aardbewings op baie van dieselfde plekke waar vulkaniese uitbarstings voorkom.
Vulkane kan ook vorm waar seekorse van mekaar wegbeweeg. Baie van hierdie uitbarstings vind op die seebodem plaas en word nie deur die mens gesien nie. Maar as jy in Ysland woon, sit jy bo-op die Reykjanoes-rif, wat by die Mid-Atlantiese-rif aansluit, waar die plate waarop Noord- en Suid-Amerika is, wegbeweeg van die plate waarop Europa en Afrika is. In ’n paar ander gevalle het geïsoleerde warm kolle onder korsplate groot vulkane in Hawaii en die kontinent van Afrika laat ontstaan.
Wat is die gevare?
Die gevaarvlak van ’n vulkaan word bepaal deur hoe aktief hy in sy onlangse geskiedenis was, onder meer die omvang van vulkaniese uitbarstings en die gepaardgaande gevare. Die gevaar word gemeet aan die grootte en voorbereidheid van die bevolking wat in die gevaarsone woon. Laat ons eerstens die gevare ondersoek.
Gewoonlik word gevaarliker uitbarstings deur silika-ryke magma veroorsaak. Hierdie soort magma is taaivloeibaar, en dit kan ’n vulkaan tydelik verstop totdat die gas genoeg druk opbou om die vulkaan oop te skiet. Silika-ryke magma stol tot liggekleurde rotse en is algemeen in vulkane teen die plaatkante. Ontploffings kan ook plaasvind wanneer stygende magma met water in aanraking kom en dit laat stoom. Warm as wat deur uitbarstings veroorsaak word, kan dodelik wees—drie vulkane in die Karibies-Sentraal-Amerikaanse gebied het in 1902 oor ’n tydperk van ses maande die dood van meer as 36 000 mense veroorsaak.
Aan die ander kant bestaan vulkane wat op warm kolle in die see en op bewegende plate voorkom, asook baie ander, grootliks uit donker basalt, wat arm is aan silika maar ryk aan yster en magnesium. Basaltmagma is vloeibaar en veroorsaak gewoonlik matige of nie-ontploffende uitbarstings en ook lawastrome wat stadig vloei en betreklik maklik vir mense is om te vermy. Maar hierdie uitbarstings kan langdurig wees—sedert Januarie 1983 kom daar voortdurend uitbarstings in die vulkaan Kilauea op die eiland Hawaii voor. Hoewel sulke uitbarstings al grootskaalse skade aan eiendom aangerig het, het hulle selde beserings of die dood tot gevolg.
Party uitbarstings stort groot hoeveelhede los as op ’n vulkaan se hange, wat grondverskuiwings kan veroorsaak of wat, wanneer dit met ’n groot hoeveelheid sneeu, ys of water meng, swaar slyk kan vorm wat vinnig in valleie kan afspoel. Sulke modderstrome (ook bekend as lahars, die Indonesiese woord vir lawa) kan baie kilometers van ’n vulkaan af vloei, miskien lank nadat die uitbarstings opgehou het.
Tsunami’s—reusegolwe wat deur ’n uitbarsting in die see of deur ’n ondersese grondverskuiwing op die hang van ’n bultende vulkaan veroorsaak word—kan veral verreikende gevolge hê, maar dit het nog selde in die verlede voorgekom. Hierdie energieke golwe kan teen ’n spoed van honderde kilometers per uur beweeg. Hoewel tsunami’s op die diepsee baie laag is, en eintlik geen gevaar vir verbygaande skepe inhou nie, word hulle vinnig hoër naby die land. Die kruin van hierdie golwe is hoër as die dakke van huise en baie geboue. Toe Krakatoa in 1883 ontplof het, het 36 000 hulle lewe verloor toe tsunami’s die kuslyne van Java en Sumatra getref het.
Ander vulkaniese gevare wat lewe kan benadeel en ontwrig, sluit vallende vulkaniese as en fragmente in, asook atmosferiese skokgolwe wat deur ontploffings veroorsaak word, giftige dampe, suurreën en aardbewings. Met talle hoë-risiko vulkane wat regoor die wêreld geïdentifiseer is en ’n menigte potensiële gevare, is ’n betekenisvolle berekening van vulkaniese gevare inderdaad ’n ingewikkelde, uitdagende taak.
Kan jy die gevaar verminder?
Namate die wêreldbevolking toeneem, is daar meer mense wat in die omgewing van potensieel gevaarlike vulkane woon. Om hierdie rede, sowel as die onlangse toename in vulkaanaktiwiteite regoor die wêreld, het vulkanoloë hulle pogings begin verskerp om vulkaniese gevare te verminder. In sommige gevalle was voorspellings van uitbarstings suksesvol en is lewens gered. Waarop word sulke voorspellings gebaseer?
Uitbarstings word gewoonlik deur aardbewings in die vulkaan of sy onderliggende pypstelsel voorafgegaan, wat die opwaartse beweging van magma aandui. Namate magma hoog in die vulkaan ophoop, bou daar druk op. Gasse word vrygestel en grondwater se temperatuur en suurgehalte kan toeneem. Kleiner uitbarstings kan ook ’n groot uitbarsting voorafgaan. Al hierdie bedrywighede kan gemonitor word.
Geoloë kan lank voor ’n uitbarsting ’n idee van die potensiële gevare kry deur na die rotsverslag te kyk. Die soorte vulkaniese strome en sekondêre gevare herhaal hulleself baie keer, of uitbarstings vind op presies dieselfde manier plaas as vulkane wat reeds bestudeer is. Op grond van sulke inligting is kaarte reeds geteken wat toon waar die gevaarlikste gebiede van baie vulkane is.
Deurslaggewende faktore om lewens te red, sluit dus in die bepaling van gevaar en die kontrolering van vulkane deur vulkanoloë sowel as die vroeë waarskuwing van dreigende gevaar deur die plaaslike owerheid. In teenstelling met aardbewings, wat nog steeds in ’n groot mate nie voorspel kan word nie, kan baie vulkaniese uitbarstings so noukeurig gemonitor word dat mense wat in gevaar is na veiligheid gebring kan word voor die verwoesting plaasvind. Dit is uiters belangrik om die gevaargebied te verlaat, aangesien mensgemaakte strukture min of geen beskerming bied teen die geweld en hitte van vulkaniese strome en ontploffings asook die verwoestende kragte van grondverskuiwings, modderstrome en tsunami’s.
Hoewel prysenswaardige pogings aangewend word om die sterftes te verminder wat deur vulkaniese uitbarstings en die gepaardgaande gevare veroorsaak word, kan die mens steeds nie uitbarstings en verwante katastrofiese bedrywighede met volkome akkuraatheid voorspel om algehele veiligheid van vulkaniese gevare te verseker nie. Selfs van diegene wat vulkane monitor, is al dood omdat hulle deur ’n onverwagte uitbarsting oorval is. As jy egter naby ’n potensieel aktiewe vulkaan woon, moet jy gehoor gee aan enige waarskuwings wat deur die plaaslike owerheid gegee word. Sodoende sal jy jou kanse om ’n vulkaniese ramp te oorleef grootliks vermeerder.—Bygedra deur ’n astrogeoloog.
[Venster op bladsy 18]
Voorspellings van vulkaniese uitbarstings vanuit die ruimte?
Stel jou voor dat die oppervlakbewegings van vulkane tot ’n akkuraatheid van een sentimeter gemeet word vanaf satelliete wat 20000 kilometer bo die aarde is—en boonop teen vyf kilometer per sekonde beweeg! Dit het moontlik geword as gevolg van die Globale-Radio-satelliet-netwerk (GRS), wat uit ’n stel satelliete en strategies geplaasde radio-opvangers op die aarde bestaan. Vir elke opmeting word die posisies van ten minste vier satelliete presies nagegaan. Tyd word met atoomhorlosies gemeet, wat uiters akkuraat is. Hierdie opmetings, wat onder die meeste weerstoestande moontlik is, het verskeie voordele bo opmetingsmetodes op land. GRS-opmetings kan voorspellings van vulkaniese uitbarstings, wat deur jarelange uitsetting van die vulkaan voorafgegaan kan word, noemenswaardig verbeter. Hierdie tegnologie word reeds gebruik vir vulkane in Ysland, Italië, Japan en die Verenigde State.
[Kaart op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aktiewe vulkane en korsplate van die wêreld
Aktiewe vulkane
Plaatgrense
Die bogenoemde verteenwoordig sommige van die meer as 500 aktiewe vulkane
[Erkenning]
Mountain High Maps™ copyright © 1993 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 16]
As uit die vulkaan Unzen, Japan, wat op ’n woongebied neersak
[Erkenning]
Orion Press-Sipa Press
[Prent op bladsy 16]
Uitbarsting van St. Helens
[Erkenning]
USGS, David A. Johnston, Cascades Volcano Observatory
[Prent op bladsy 16]
Berg Etna, Sicilië, het onlangs 15 maande lank lawa uitgestoot
[Erkenning]
Jacques Durieux/Sipa Press
[Prent op bladsy 17]
Berg Kilauea, Hawaii, het die eiland met ongeveer 200 hektaar vergroot
[Erkenning]
©Soames Summerhays/ Photo Researchers