Waarom spesies bedreig word
SPESIES sterf om verskillende redes uit. Drie hoofoorsake word hier bespreek. Mense is indirek vir twee daarvan verantwoordelik en direk vir die ander een.
Vernietiging van die habitat
Vernietiging van die habitat dra baie tot die afname in ’n spesie se getalle by. The Atlas of Endangered Species noem dit “die vernaamste bedreiging”, maar ook “die moeilikste om te voorkom”. Die wêreld se snelgroeiende bevolking dwing mense al hoe meer om grond te gebruik wat voorheen die tuiste van wild was. ’n Treffende voorbeeld hiervan is die reënwoude van die wêreld.
Die ontstellende raming dat ‘daar binne 40 jaar geen reënwoude oor sal wees nie’, vestig die aandag op wat deur baie as ’n betreurenswaardige verlies van waardevolle hulpbronne beskou word. Trouens, byna ’n kwart van al die geneesmiddels wat aan die Westerse wêreld bekend is, is van plante uit tropiese reënwoude afkomstig. Hoewel reënwoude slegs ’n geraamde 7 persent van die planeet se grondoppervlakte beslaan, is hulle die tuiste van vier vyfdes van die wêreld se grondplante.
Saagmeule en veranderde landboumetodes beroof die reënwoude van Wes-Afrika van hulle ryk boomerfenis. Ontbossing op die Indiese subkontinent het selfs die weer laat verander; dit het die reënval in sommige gebiede laat verminder, maar elders oorstromings veroorsaak.
Namate die mens bome afkap om die grond vir landbou skoon te maak, sterf die plante, diere, voëls, reptiele en insekte geleidelik uit. Professor Edward Wilson van die Harvard-universiteit raam dat 1 persent van die woude per jaar verlore gaan, en duisende spesies is sodoende tot uiteindelike uitsterwing gedoem. Daar word gevrees dat baie spesies sal verdwyn voordat hulle selfs ’n wetenskaplike naam gegee word.
Die situasie is soortgelyk in die wêreld se vleilande, ’n ander bedreigde habitat. Ontwikkelaars lê hierdie gebiede droog sodat hulle huise kan bou, of boere omskep dit in landbougrond wat hulle kan bewerk. In die afgelope 100 jaar is tot 90 persent van Europa se droë grasvelde vir landbou gebruik. Weiveld wat oor die afgelope 20 jaar in Brittanje verlore gegaan het, het tot ’n daling van 64 persent in die aantal sanglysters gelei.
Hoewel die tydskrif Time die eiland Madagaskar “’n geologiese Noag se ark” noem, is sy groot verskeidenheid plant- en diersoorte in gevaar. Wanneer die bevolking groei en internasionale skuldlaste toeneem, word al hoe meer druk op die eilandbewoners uitgeoefen om woude in ryslande te omskep. Aangesien driekwart van die halfmaki se habitat die afgelope 20 jaar verdwyn het, is daar net 400 van hierdie diertjies oor.
Die mens se drastiese verandering in grondgebruik benadeel beslis die inheemse natuurlewe. Dink ook byvoorbeeld aan die Polinesiërs, wat 1600 jaar gelede in Hawaii aangekom het. As gevolg van hulle bedrywighede het 35 voëlspesies uitgesterf.
Vroeë nedersetters wat na Australië en Nieu-Seeland gekom het, het huiskatte ingevoer, waarvan sommige wild geword het. Volgens die tydskrif New Scientist maak hierdie wilde katte nou jag op 64 inheemse Australiese soogdierspesies. Tesame met ingevoerde Europese vosse val hulle die oorblywende getalle van bedreigde spesies aan.
Direkte aanval
Jag is geensins iets nuuts nie. Die Bybelverslag in Genesis beskryf die opstandeling Nimrod, ’n jagter wat meer as 4000 jaar gelede geleef het. Hoewel geen melding daarvan gemaak word dat hy ’n hele spesie uitgewis het nie, was hy nogtans ’n vername voorstander van jag.—Genesis 10:9.
Deur die eeue heen is leeus in Griekeland en Mesopotamië, seekoeie in Nubië, olifante in Noord-Afrika, bere en bewers in Brittanje en oerosse in Oos-Europa deur jagters uitgeroei. “Gedurende die 1870’s en 1880’s het jagters ’n kwartmiljoen olifante in Oos-Afrika alleen doodgemaak”, berig die Radio Times, die BBC-tydskrif wat lyste aangee. “Die snelvuur van beroemde, welgestelde en vername mense kon ’n halfeeu lank in Afrika gehoor word, waar hulle geskiet het na olifante, renosters, kameelperde, die groot katte en wat hulle ook al onder skoot kon kry. . . . Optrede wat vandag uiters skokkend voorkom, was destyds heeltemal aanvaarbaar.”
Kom ons keer terug na die geval van die indrukwekkende tier. In die tagtigerjare het sensusse aangedui dat bewaringspogings sukses behaal het. “Nietemin was die werklike stand van sake heeltemal anders”, sê die 1995 Britannica Book of the Year. “Noukeuriger tellings het aan die lig gebring dat vorige sensusse vergroot is deur amptenare wat óf met wilddiewe saamgewerk het óf bloot gretig was om hulle meerderes te beïndruk. . . . Die geheime handel in die liggaamsdele van tiers het gefloreer omdat die afname in voorraad die pryse al hoe hoër opgestoot het.” In 1995 het ramings van ’n Siberiese tier se waarde dus van R36 300 tot R92 600 gewissel—nee, nie net vir sy gesogte pels nie, maar ook vir sy beendere, oë, snorbaard, tande, inwendige organe en geslagsdele, wat alles gesog is in tradisionele Oosterse geneesmiddels.
Handel in olifanttande, renosterhorings, tiervelle en ander dele van diere is nou ’n swartmarkbedryf met ’n omset van miljarde rande, die grootste naas dwelmsmokkelary, sê die Time. En dit is nie tot groot soogdiere beperk nie. In 1994 is ’n verstommende 20 miljoen seeperdjies vir tradisionele Chinese geneesmiddels gebruik, wat veroorsaak het dat vangste volgens berig in twee jaar met 60 persent in sommige dele van Suidoos-Asië gedaal het.
Dit is nie moeilik om vas te stel wie die skuld moet dra wanneer daar op ’n spesie jag gemaak word tot dit uitgeroei is nie. Wat dan van versamelaars? ’n Bedreigde makao, die goue konuur, lewer na wat berig word R1900 op vir ’n handelaar op die swartmark in Brasilië. Maar wanneer hy dit in die buiteland verkoop, kry hy meer as drie en ’n half keer soveel.
Oorloë en die nasleep daarvan, toenemende skares vlugtelinge, tesame met ’n skerp styging in die geboortesyfer, toenemende besoedeling en selfs toerisme stel bedreigde spesies in gevaar. Toeriste in motorbote beseer die dolfyne waarna hulle stroom om te kyk, en die geraas wat die bote onder die water maak, kan die dolfyne se delikate sonarstelsel versteur.
Ná hierdie droewige lys van die skade wat die mens aangerig het, wonder jy dalk tereg: ‘Wat doen bewaringsgesindes om bedreigde spesies te bewaar, en hoe suksesvol is hulle?’
[Prent op bladsy 6]
Plante, diere, voëls, reptiele en insekte sterf geleidelik uit namate die mens bome afkap