Wat kan gedoen word om koraalriwwe te red?
BAIE wetenskaplikes in alle wêrelddele glo dat aardverwarming wel plaasvind en dat dit nog erger sal raak namate ontwikkelende lande verder op industriële gebied ontwikkel. Ongeveer driemiljard ton koolstofdioksied (CO2) word jaarliks in die aarde se atmosfeer vrygestel deur die verbranding van brandstowwe, soos steenkool, olie en hout, vir energie, en deur vure om woude uit te roei. Volgens sommige wetenskaplikes dreig die so genoemde kweekhuiseffek, wat deur die gasse van brandstofverbranding veroorsaak word, om die atmosfeer teen die middel van die volgende eeu 1,5 tot 4 grade Celsius warmer te maak. Hierdie styging kan dodelik wees vir korale en die rifkolonies.
Maar as die koraalriwwe uitsterf, sal dit ook lewe op land nadelig beïnvloed. Die tydskrif Natural History het gesê: “Die koraalriwwe is egter self belangrike faktore in die kweekhuisscenario en is dalk net so belangrik soos tropiese reënwoude om kweekhuisgasse te verminder. Aangesien korale hulle skelette van kalsiumkarbonaat voorsien, verwyder hulle baie CO2 uit die oseane. Sonder zooxanthellae [alge wat in simbiose met korale saamleef] verwerk korale aansienlik minder koolstofdioksied. Dit is ironies dat skade aan hierdie ondersese ekosisteem juis die proses wat dit vinniger laat uitsterf, kan laat toeneem.”
Sommige wetenskaplikes glo dat ander gasse wat deur verbranding vrygestel word tot die kweekhuiseffek bydra. Distikstofmonoksied is een daarvan, en chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) ’n ander. Trouens, elke CFK-molekule is 20 000 keer doeltreffender om hitte vas te vang as een molekule CO2. CFK’s is ook al geïdentifiseer as die hoofoorsaak van die verdunning van die osoonlaag, wat lewe op die aarde teen skadelike ultraviolet strale beskerm. Die osoon by die Noordpool en die Suidpool het al so verdun dat dit gate vorm. Dit is verdere slegte nuus vir korale. Eksperimente waarin miniatuurkoraalriwwe wat reeds deur warm water beskadig is aan ’n klein bietjie meer ultraviolet lig blootgestel is, het verbleiking vererger. Die tydskrif Scientific American het sy kommer uitgespreek en gesê: “Selfs al word die uitlating van chloorfluoorkoolstowwe vandag gestaak, sal chemiese reaksies wat die vernietiging van osoon in die stratosfeer veroorsaak ten minste nog ’n eeu lank voortduur. Die rede is eenvoudig: die verbindings bly so lank in die atmosfeer en sal voortduur om uit die troposfeer in die stratosfeer te versprei lank nadat die uitlating daarvan opgehou het.”
Elke individu kan verantwoordelik optree deur nie die oseane of kusgebiede met rommel of besoedelstowwe te besoedel nie. As jy ’n rif besoek, moet jy die instruksies volg om nie aan koraal te vat of daarop te staan nie. Moenie koraalaandenkings neem of koop nie. As jy naby tropiese riwwe vaar, laat die anker op sanderige bodems val of anker aan drywende meerboeie wat deur seeowerhede voorsien word. Moenie die bodem met jou boot se skroef of deur spoed omwoel nie. Moenie riool uit die boot in die oseaan uitlaat nie; soek dokke en wateraanlegte wat dit sal aanvaar. Bill Causey, bestuurder van die Looe Key Nasionale Marienereservaat (Florida, VSA), het gesê: “Die mens skep waarskynlik die probleem wat die wanbalans veroorsaak. In alle wêrelddele moet ons daarvan bewus raak. As ons aanhou om die publiek meer bewus te maak dat ons gevaar loop om ’n belangrike ekosisteem te verloor, kan ons dinge dalk verander.”
Op streekvlak word wette aangeneem en streng toegepas om koraalriwwe te bewaar. Die staat Florida dagvaar skeepseienaars wat riwwe beskadig. Die eienaars van ’n vragskip wat etlike hektaar koraal omgeploeg het toe dit gestrand het, het ’n boete van R26 miljoen betaal. ’n Deel van die geld is gebruik om die marienehabitat te herstel. Op die oomblik probeer bioloë om koraal wat in 1994 deur ’n skip beskadig is met spesiale kleefmiddels vas te heg. ’n Ander firma is ’n boete van R13,9 miljoen opgelê vir skade wat een van sy vragskepe aan ’n rif in Florida aangerig het. Ander lande stel nou soortgelyke strafmaatreëls in. Gewilde duikplekke, soos die Kaaimanseilande in die Karibiese See, het net sekere gebiede waar duik toegelaat word. Australië het die Groot Barrière-rif Marienepark gestig om bedrywighede daar te beheer. Maar soos almal gesien het: hoe meer duikers, hoe meer skade aan die riwwe.
Sal alle nasies aan die stryd deelneem?
Regoor die wêreld besef bekommerde wetenskaplikes en leiers dat die probleem nie deur een nasie of selfs ’n groep nasies opgelos kan word nie. Besoedeling word oor die aardbol versprei deur lug- en waterstrome, en dit beïnvloed die riwwe. Individuele nasies het geen jurisdiksie buite hulle gebiedswaters nie. Besoedelstowwe wat in die oop see gestort word, beland uiteindelik op die strande. ’n Verenigde wêreldwye poging en oplossing is nodig.
Talle opregte en bekwame mense in die wêreld sal ongetwyfeld voortgaan met die stryd om die aarde se ontsagwekkende koraalskatte te red. ’n Wêreldregering wat bewus is van en omsien na die omgewing is beslis en dringend nodig. Gelukkig sal die Skepper self die aarde red. Toe God die eerste mense gemaak het, het hy gesê: “Laat hulle heers oor die visse [en al die lewensvorme] van die see” (Genesis 1:26). Aangesien God nie die seelewe misbruik of uitgebuit het nie, moes sy opdrag aan die mens beteken het dat hulle na die hele aarde moes omsien. Die Bybel voorspel: “Daar is nuwe hemele [God se hemelse Koninkryk] en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). In die nabye toekoms sal daardie hemelse regering hierdie besoedelde aarde, met inbegrip van die oseane, heeltemal reinig. Dan sal burgers van God se Koninkryk omsien na en die grootste genot put uit die pragtige oseane en die seelewe daarin.
[Prente op bladsy 18]
Agtergrond: ’n Pragtige koraalrif in die Stille Oseaan, naby Fidji
Inlasse: 1. ’n Naby foto van ’n narvis onderwater, 2. koraal wat soos ’n tafel lyk, 3. ’n garnaal wat koraal skoonmaak
[Erkenning]
Agtergrond op bladsy 18: Fiji Visitors Bureau