Waarom is diamante so duur?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
SOMS kan skoonheid ontdek word. Ander kere moet dit geskep word. ’n Diamant moet egter ontdek én geskep word.
Ruwe diamante is ongetwyfeld ’n pragtige skepping van die natuur. Geweldige druk en hoë temperature onder die aardkors vorm eenvoudige koolstof stadigaan tot harde, deurskynende kristalle. Maar dit is nie altyd so maklik om hierdie seldsame stene te vind nie. Van die grootste mensgemaakte gate op aarde—in Australië, Siberië en Suid-Afrika—is gegrawe in die soektog na hierdie kosbare edelstene. Om ’n paar diamante te vind wat maar ’n skamele ses gram weeg, sal eenhonderd ton grond dalk gemyn en gesif moet word!
Nadat ’n diamant ontdek is, moet ervare vakmanne sorgvuldig vorm gee aan die verborge skoonheid daarvan voor dit ’n ring of ’n halssnoer kan versier.
En natuurlik is al hierdie moeite en vernuf nie goedkoop nie. Maar die meeste vrouens—en mans—voel dat dit die onkoste werd is, veral as die diamant ’n geskenk aan ’n huweliksmaat of ’n verloofde is as ’n bewys van ewige liefde. Prag en romanse het die diamant die gesogste kristal op aarde gemaak.a
’n Besoek aan Antwerpen
Tydens ’n besoek aan Antwerpen, België, ’n stad wat hoofsaaklik van diamante afhanklik is vir sy welvaart, is my belangstelling in hierdie unieke stene gewek. ‘Wat’, het ek gewonder, ‘maak ’n diamant so aantreklik? Waarin lê die geheim om ’n diamant te maak?’
Om antwoorde op hierdie vrae te kry, het ek gesels met Dirk Loots, wie se familie al drie geslagte lank in die diamantbedryf is. “Ons noem Antwerpen ’n diamant se beste vriend”, het hy verduidelik, “aangesien hierdie stad een van die wêreld se vernaamste diamantsentrums is. Jy het dus na die regte plek toe gekom om die geheime van die diamantmaker te ontdek.”
Eerstens het hy vir my ’n hand vol ruwe diamante gewys wat hy pas gekoop het. Hoewel hulle op R1635 000 gewaardeer was, het hulle met die eerste oogopslag nie so indrukwekkend gelyk nie—meer soos ’n hand vol glasstukkies. Maar ’n kykie van naderby het ’n inwendige luister onthul wat ’n aanduiding was van die prag wat die diamantsnyer kan ontsluit. Ek het hulle aantrekkingskrag begin verstaan.
“Elke nou en dan, wanneer ek ’n groot ruwe diamant sien, ervaar ek ’n sekere bekoring, amper soos ’n emosionele gehegtheid”, het Dirk erken. “Ek wil daardie steen instinktief koop. Dit laat my dink aan Jesus se illustrasie van die man wat ’n pragtige pêrel gevind het, ’n pêrel so volmaak dat hy bereid was om alles wat hy gehad het te verkoop sodat hy dit kon koop. Ek het nog nooit so ver gegaan nie”, het hy met ’n glimlag gesê, “maar ek moet erken dat sommige mooi stene ’n spesiale aantrekkingskrag het, selfs vir dié van ons wat ons hele lewe lank al stene koop en verkoop. Maar om van ’n ruwe steen ’n juweel te maak, is natuurlik nie sonder slaggate nie, ongeag hoe indrukwekkend die steen is.”
’n Ruwe diamant word geslyp
Ek het gehoor dat ’n onverskillige diamantsnyer ’n steen van onskatbare waarde kan versplinter. Ek het gewonder of dit dikwels gebeur. “Dit is nie heeltemal ongewoon nie”, het Dirk erken. “En dis nie net wanneer die steen gesny word dat dit kan gebeur nie. Selfs die diamantslyper kan af en toe ’n gles, of bars, raak en die steen verwoes. Ons ondersoek altyd die ruwe steen versigtig deur gepolariseerde lig, wat wys waar daar ’n probleem is; maar ek’s bevrees daar is nie ’n onfeilbare stelsel nie.
“Hoewel ’n versplinterde steen ons grootste nagmerrie is, is dit nie die enigste probleem nie. Soms word die kleur van die steen donkerder nadat die fasette gesny en gepoleer is en neem die waarde daarvan af. En jy moet onthou dat ons dikwels 60 persent of meer van die ruwe steen moet wegsny om ’n eersteklas juweel daarvan te maak.”
Dit het vir my gelyk soos baie geld wat vermors word, totdat ek begryp het presies wat betrokke is om ’n diamant te maak. Dirk het vir my ’n groot hartvormige diamant gewys wat pas gesny en gepoleer was. “Sien jy hoe dit skitter?” het hy my gevra. “Daardie ‘vuur’ binne-in die steen is in werklikheid niks meer as lig wat weerkaats word nie.
“Die vakman moet al die fasette só sny dat die lig binne-in die steen vasgevang en dan teruggekaats word na die persoon wat daarna kyk. Van die tradisionele vorms, soos die ronde vorm, doen dit die heel beste. Maar selfs ongewone ontwerpe, soos hierdie hartvormige een, word gesny sodat dit soveel lig as moontlik kan weerkaats. Dít is waarom die kuns van die diamantmaker draai. Trouens, een bekende diamantvervaardiger se leuse is: ‘Die betowering is in die maak daarvan.’”
“Hoe besluit julle watter vorm om die diamant se sny?” het ek Dirk gevra. “Ons begin deur die oorspronklike steen wat ons koop baie versigtig te ondersoek”, het hy gesê. “En ek bedoel versigtig! Ek onthou een groot steen wat ons ’n maand lank ondersoek het voordat ons finaal besluit het hoe dit gesny moet word. Soms is dit makliker omdat die vorm van die ruwe steen dit maklik maak om dit in ’n sekere vorm te sny. In elke geval is die doel om op die beste vorm vir daardie spesifieke steen te besluit sodat ons so min moontlik van die steen verloor. Maar elke faset wat ons sny—en ’n tipiese diamant het meer as 50 fasette—laat die steen minder weeg.”
Dirk het toe vir my gevra om mooi na ’n sekere steen te kyk. “Sien jy die onsuiwerheid daar bo aan die regterkant van die steen?” het hy gevra, en vir my ’n loep, ’n juwelier se vergrootglas, gegee. Ek het ’n paar hoekige lyne, soos dié in ’n gekraakte spieël, in die een hoek van die steen gesien. “Hierdie soort onsuiwerheid verminder die waarde van die steen aansienlik. Ons kan dit natuurlik uitsny, maar dit kan beteken dat ons te veel van die steen verloor. As die fout nie met die blote oog gesien kan word nie, kan ons nog die steen vir minder verkoop.”
Ek wou graag weet waarom sulke klein steentjies so waardevol is. Dit is duidelik dat verskeie faktore daarby betrokke is.
“Die cliché ‘’n diamant is vir ewig’ is gewoonlik waar—al is dit ’n slagspreuk in advertensies”, het Dirk gesê. “Diamante verweer nie, en hulle glans verdof nie. Hulle is skaars, hoewel nie so skaars soos hulle eens op ’n tyd was nie, en hulle is pragtig—daar bestaan geen twyfel daaraan nie! Maar die wêreldwye aanvraag na diamante is dalk die belangrikste faktor wat hulle waarde bepaal. Dit hang grootliks van advertensie af.
“Waarom wil ’n vrou ’n diamantring hê?” het Dirk gevra. “Sy verbind diamante waarskynlik met liefde en romanse. ’n Diamant is iets spesiaals, iets om vir altyd te koester, om haar te herinner aan ’n liefde wat hopelik so lank soos die diamant sal hou. Hierdie gedagte, of mistiek, soos sommige dit noem, is op ’n bedrewe manier bevorder. In 1995 is ongeveer $180 000000 [R841 000 000] daaraan bestee om hierdie boodskap te bemark, ’n boodskap wat sorg dat mense regoor die wêreld steeds diamante koop.”
Die waarde van ’n diamant
“Ek veronderstel dat die waarde van die voltooide juweel afhang van die grootte daarvan”, het ek gesê. “Dis nie heeltemal só eenvoudig nie”, het Dirk geantwoord. “Diamanthandelaars sê gewoonlik dat die waarde van die diamant van vier faktore afhang: vorm, karaat, kleur en helderheid. Elkeen beïnvloed die prag—en gevolglik die prys—van die steen.
“Kom ons begin by die vorm. ’n Mooi vorm is ’n kunswerk; jy kan amper sê ’n miniatuurbeeldhouwerk. Bekyk daardie hartvormige diamant wat jy bewonder het van naderby. Dit is nie maklik om hierdie vorm te vervaardig nie, en dit is een wat vereis dat meer van die oorspronklike steen weggesny word as ander vorms. Let op hoe al die fasette simmetries gesny is om die prag van die steen te vergroot. Ons sal sê dat hierdie spesifieke diamant se vorm eersteklas is.
“Die eerste ding wat jou beïndruk het, was die grootte van die steen, en dis te begrype, aangesien dit ’n groot steen van agt karaat is. Terloops, een karaat is gelyk aan twee tiendes van ’n gram, en ons bereken dus die karaatwaarde deur eenvoudig die steen te weeg. Oor die algemeen beteken ’n groter karaatwaarde dat die diamant waardevoller is, maar die kleur en helderheid sal ook die waarde daarvan beïnvloed.
“Diamante kom in allerhande vorms en kleure, soos jy sou gesien het uit ons pakkie ruwe stene. Ons sorteer hulle heel eerste volgens kleur, en die witter stene is waardevoller. Daar is egter ’n paar stene wat uitsonderlike kleure het, soos pienk, blou of rooi; en hulle is duurder as die wit stene, aangesien hulle uiters skaars is.
“Laastens moet ons ’n steen gradeer volgens sy helderheid. As ’n steen as glesloos geklassifiseer word, beteken dit dat jy geen onsuiwerhede sal sien wanneer jy na die steen kyk nie—selfs nie met ’n loep nie. ’n Diamant se vorm, helderheid en kleur kan dus net so belangrik wees soos sy gewig in karaat. Om jou ’n voorbeeld te gee, in 1995 is moontlik die grootste diamant wat nog gepoleer is (546,67 karaat) ten toon gestel. Maar ten spyte van die grootte—dit is amper so groot soos ’n golfbal—is dit nie die wêreld se waardevolste diamant nie omdat dit nie baie helder is nie en ’n geelbruin kleur het.”
Voordat ek uit Antwerpen vertrek het, het ek met Hans Wins gesels, wat al 50 jaar by die diamantbedryf betrokke is. Ek wou nog een laaste vraag vra: Wat maak ’n diamant so spesiaal?
“Die klein steentjies fassineer my nie so baie nie—hulle kan selfs op ’n masjien vervaardig word”, het hy gesê. “Maar groot diamante fassineer my. Elke steen is anders—’n unieke skepping wat uit koolstof gevorm is deur miljoene jare se vulkaniese druk. Wanneer jy die steen bestudeer, kan jy selfs die groeilyne sien, soortgelyk aan dié in ’n boomstomp. ’n Ervare handelaar kan selfs sê uit watter myn dit gekom het.
“’n Diamantvervaardiger kyk na so ’n steen soos wat ’n beeldhouer na ’n marmerblok kyk. Hy sien reeds in sy geestesoog wat hy kan skep. In sy verbeelding sny en poleer hy en kom ’n skitterende juweel te voorskyn. Ek sou graag wou dink dat die diamant aan sy eienaar dieselfde genot sal verskaf wanneer dit uiteindelik in ’n ring of ’n halssnoer geset word.”
Alles in aanmerking geneem, is dít waarom dit die moeite werd is om ’n diamant te maak.
[Voetnoot]
a ’n Vername rede vir die hoë prys van diamante is dat dit beheer word deur ’n monopolie, die Sentrale Verkooporganisasie.
[Prente op bladsy 15]
Hartvormige diamant van agt karaat (stene nie volgens skaal nie)
Peervorm
“Kardinaal se hoed”-vorm
Die karaatgewig van ruwe stene word bepaal
Ruwe stene word volgens kleur gesorteer
Die fasette word bestudeer om te bepaal of dit nog gepoleer moet word