Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/22 bl. 15-19
  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hebsugtige wilddiewe
  • ’n Wêreldwye verbod
  • Die olifante van suidelike Afrika
  • Voorraadstapels van ivoor
  • Blywende bekommernisse
  • Watter soort toekoms wag op die olifant?
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Die bewaring van die vredeliewende pagiderm
    Ontwaak!—1992
  • Woestynoorlewendes van die Namib
    Ontwaak!—1992
  • Wat dit verg om ’n olifantdrywer te wees
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/22 bl. 15-19

Ivoor—Hoeveel is dit werd?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

Gedurende Junie 1997 het afgevaardigdes uit 138 lande by ’n internasionale konferensie in Harare, Zimbabwe, vir die opheffing van ’n sewe jaar lange wêreldwye verbod op ivoorhandel gestem. Die besluit, wat ná hewige debatvoering gevolg het, laat drie lande in suidelike Afrika—Botswana, Namibië en Zimbabwe—toe om ivoor voorwaardelik aan een land, Japan, te verkoop. Verteenwoordigers van suidelike Afrika was verheug oor die besluit en het spontaan begin sing. Ander afgevaardigdes het met besorgdheid gewonder hoe dit die Afrika-olifant sal raak.

TOE Hannibal in die derde eeu v.G.J. die Romeinse leër uitgedaag het, het hy met ’n karavaan mak Afrika-olifante gereis. In daardie dae was daar moontlik tienmiljoene Afrika-olifante wat van die Kaap tot Kaïro gefloreer het.

Maar dinge het verander. ’n Waarnemer het gesê: “Mense-eilande in ’n see van olifante het verander na al hoe kleiner eilande van olifante in ’n see van mense.” Namate mense vermeerder het, het mededinging om grond die olifante die slegste daarvan laat afkom. Nog ’n faktor in die vermindering in olifante is die feit dat die Saharawoestyn hom suidwaarts uitgebrei het.

Die vraag na ivoor het egter hierdie redes oorskadu. Anders as in die geval van tierbeendere en renosterhoring, word daar geen valse geneeskundige waarde aan ivoor geheg nie. Nietemin is dit weelderig, pragtig, duursaam en maklik om beeldhouwerk mee te doen. Sedert die vroegste tye al word ivoor van olifanttande onder die kosbare en begeerlike dinge geklassifiseer.

Vierhonderd jaar ná Hannibal het die Romeinse Ryk olifantbevolkings in noordelike Afrika afgemaai om hulle begeerte na ivoor te bevredig. Daardie vurige begeerte is van toe af nog altyd lewendig gehou, veral in die Westerse wêreld. Vroeg in hierdie eeu het die vraag na ivoor baie groot geword—nie soveel vir kunswerke en godsdienstige voorwerpe as voorheen nie, maar vir die vervaardiging van klavierklawers. Volgens die boek Battle for the Elephants is daar in die jaar 1910 alleen omtrent 700 ton ivoor (wat 13 000 geslagte olifante verteenwoordig) gebruik om 350 000 klawerborde in die Verenigde State te maak.

Hebsugtige wilddiewe

Ná die Eerste Wêreldoorlog het die vraag na ivoor afgeneem, nuwe wildbewaringswette is aangeneem en olifantgetalle het begin toeneem. Maar teen die vroeë sewentigerjare het grootskaalse slagting van voor af begin. Die vraag na ivoor het toe gekom van Asiatiese lande wat kort tevore welvarend geword het.

Dié keer het twee faktore ’n ramp vir olifante in Afrika voorspel. Eerstens was daar die groter beskikbaarheid van ligte, gesofistikeerde wapens. Dit was skielik maklik om nie net individuele olifante te skiet nie, maar ook hele troppe. Tweedens het elektriese beeldhougereedskap daartoe gelei dat onbewerkte ivoor baie gou omskep kon word in artikels wat gereed was vir die mark. In die verlede kon dit ’n Japannese beeldsnyer ’n jaar neem om ’n enkele olifanttand te verwerk. Maar met elektriese gereedskap kan ’n fabriek met agt mense wat juweliersware en hanko maak (naamstempels wat gewild is in Japan) die tande van 300 olifante in net een week verwerk. Die toenemende vraag na ivoor het pryse die hoogte laat inskiet. Die groot winste het natuurlik nie na die wilddiewe gegaan nie, maar na die middelman en die handelaar, waarvan talle fantasties ryk geword het.

Die verlies in olifante was verskriklik. Binne ongeveer twee dekades het Tanzanië 80 persent van sy olifante verloor, meestal deur wilddiewe. Kenia het 85 persent van sy olifante verloor. Uganda het 95 persent verloor. Wilddiewe het eers meestal olifantbulle geskiet omdat hulle die grootste tande gehad het. Maar namate die ouer olifante al hoe minder geword het, het wilddiewe selfs kalfies begin skiet vir hulle tandjies. Gedurende daardie tydperk is daar moontlik meer as ’n miljoen olifante vir hulle ivoor geslag, wat Afrika se olifantbevolking tot 625 000 laat daal het.

’n Wêreldwye verbod

Pogings om die ivoorhandel te beheer en om die slagting stop te sit, het jammerlik misluk. Uiteindelik het die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Flora- en Faunaspesies (CITES) in Oktober 1989 by ’n konferensie in Switserland alle handel in ivoor onder sy lidlande verbied. Die verbod is versterk deur grootskaalse finansiële steun om olifante in die veld te beskerm.

Sommige het voorspel dat ’n verbod op ivoor net tot hoër swartmarkpryse sou lei en dat wilddiefstal sou toeneem. Die teenoorgestelde het gebeur. Pryse het geval, en eens winsgewende markte het doodgeloop. Kleinhandelverkope van ivoor het byvoorbeeld in Indië met 85 persent gedaal, en die meeste van die land se ivoorvakmanne moes ander werk soek. Wilddiefstal het geweldig afgeneem. Voor die verbod het wilddiewe in Kenia ten minste 2000 olifante per jaar geslag. Teen 1995 het die syfer tot 35 gedaal. Daarbenewens het Kenia se olifantbevolking toegeneem van 19000 in 1989 tot ongeveer 26000 vandag.

Om hierdie redes het die Agentskap vir Omgewingsnavorsing, wat in Londen gesetel is, die handelsverbod op ivoor as “een van die groot suksesse van die onlangse bewaringsgeskiedenis” geloof. Maar nie almal deel in hierdie geesdrif nie, veral nie in suidelike Afrika nie.

Die olifante van suidelike Afrika

Lande van suidelike Afrika het meer as 200-000 olifante, wat ongeveer ’n derde van die totale olifantbevolking in Afrika is. Dit is deels weens doeltreffende bewaringsbeleide en deels weens die feit dat hierdie lande ontkom het aan die swaar gewapende burgermagte wat die troppe van Oos- en Sentraal-Afrika afgemaai het.

Maar namate olifantbevolkings groei, is daar dikwels konflik tussen olifante en mense wat in plattelandse gebiede woon. ’n Volwasse olifant het immers ’n ontsaglike eetlus en kan tot 300 kilogram plantegroei per dag verorber. As ’n olifant in jou omgewing woon, weet jy beslis daarvan.

Die Afrika-hulpbronnetrust, wat in Zimbabwe gesetel is, sê: “Die meeste plattelandse Afrikane bejeën olifante met vrees, agterdog en vyandigheid. Binne ’n paar uur kan olifante mense se lewensonderhoud vernietig deur hulle oeste op te vreet of hulle vee dood te trap. Hulle beskadig ook huise en skole, beeskrale, vrugtebome, damwalle en kontoerwalle. Plaaslike koerante publiseer elke dag berigte van olifantskade.”

Die lande van suidelike Afrika is trots daarop dat hulle daarin geslaag het om groot olifantbevolkings te handhaaf. Maar bewaring is duur, en hulle dink nie dit is reg dat hulle vir die probleme van ander Afrikalande gestraf moet word nie. Hulle redeneer dat beheerde ivoorhandel daartoe sal bydra dat geld weer belê kan word in bewaringspogings en sal help om plattelandse boere vir hulle verliese te vergoed.

Voorraadstapels van ivoor

In lande waar olifante rondloop, hoop ivoor op. Dit kom van olifante wat uitgedun is, van olifante wat ’n natuurlike dood sterf en van onwettige voorraad wat in beslag geneem is. Wat word met hierdie ivoor gedoen?

Kenia verbrand sy ivoor. Sedert Julie 1989 het Kenia onbewerkte ivoor wat miljoene rande werd is in die openbaar verbrand, met geen direkte vergoeding deur buitelandse bronne nie. In 1992 het Zambië ook sy voorraadstapel van ivoor verbrand. Die boodskap was duidelik: Kenia en Zambië wou niks met die ivoorhandel te doen hê nie.

Ander lande het hulle voorraadstapels as ’n toekomstige belegging gehou. TRAFFIC, die grootste organisasie ter wêreld wat natuurlewe monitor, raam die totale hoeveelheid ivoor wat tans in Afrikalande opgegaar is op ten minste 462 ton, wat 214 miljoen rand werd is. Botswana, Namibië en Zimbabwe, die drie lande wat nou toegelaat word om met Japan handel te dryf, het 120 ton ivoor. Baie vra dus: ‘Waarom moet ivoor stof vergaar in store in ’n streek waar mense finansieel sukkel? Waarom kan dit nie verkoop word en die fondse dan in bewaring belê word nie?’

Blywende bekommernisse

Hoewel sommige Afrikavolke aanvoer dat ’n verslapping van die ivoorverbod die bewaring van olifante sal bevorder, glo ander vas dat ’n totale verbod die enigste manier is om ’n hernieude vlaag van wilddiefstal te verhoed. Hulle grootste bekommernis is hoe streng die handel beheer word. Sal bemarkingstelsels dalk skuiwergate voorsien sodat onwettige ivoor die wettige handelsmark kan binnedring? En wat van spekulatiewe wilddiefstal? Kan die verslapping van die verbod beteken dat olifante doodgemaak en ivoor opgegaar sal word deur diegene wat hoop dat die verbod in die toekoms selfs verder sal verslap?

Voeg by hierdie bekommernisse die feit dat vuurwapens volopper as ooit tevore in Afrika is. Burgeroorloë het outomatiese gewere in die hande van mense hier geplaas wat, weens hulle moeilike ekonomiese toestande, gewillig is om dit te gebruik om geld te maak. Nehemiah Rotich, direkteur van die Oos-Afrikaanse Natuurlewevereniging, het geskryf: “Aangesien ivoor geld verteenwoordig [as gevolg van hernieude handel], sal hierdie vuurwapens ongetwyfeld gebruik word om olifante te skiet—dit is per slot van rekening baie makliker om ’n olifant in ’n wyd uitgestrekte wildtuin te skiet as om ’n bank in die stad te beroof.”

’n Bykomende probleem is dat maatreëls om wilddiefstal teë te werk nie net duur is nie, maar ook moeilik is om toe te pas. Om die wyd uitgestrekte gebiede te patrolleer waar olifante rondloop, vereis ontsaglike finansiële hulpbronne. In Oos-Afrika is dít baie skaars.

Watter soort toekoms wag op die olifant?

Die gevolge van die besluit om die verbod op die ivoorhandel te verslap, moet ons nog sien. Maar al verloop dinge goed, sal die olifant nog steeds bedreig bly. Die olifant word ook bedreig deur toenemende getalle mense wat grond vir boerderydoeleindes, en om ander redes, nodig het. In suidelike Afrika alleen ontbos mense jaarliks meer as 850 000 hektaar grond, meestal vir landboudoeleindes—’n gebied wat die helfte van Israel se oppervlakte beslaan. Namate die see van mense al hoe groter word, sal die eilande van olifante beslis al hoe kleiner word.

Die tydskrif World Watch sê: “Daar is een punt waarmee almal wat die probleem bestudeer het, saamstem: ’n moeilike toekoms wag op die Afrika-olifant. Die habitatkrisis [as gevolg van toenemende getalle mense] sal stellig beteken dat baie olifante op die een of ander manier voortydig sal doodgaan. As hulle nie deur gelisensieerde jagtogte of uitdunoperasies doodgemaak word nie—of deur wilddiewe geslag word nie—sal baie meer weens verhongering doodgaan en skerp bevolkingsafnames tot gevolg hê.”

Hierdie somber vooruitsig neem nie die sienswyses of die voorneme van die olifant se Skepper, Jehovah God, in ag nie. God se besorgdheid oor die diere wat hy geskep het, blyk duidelik uit die woorde van Jesus Christus, wat gesê het: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie” (Lukas 12:6). As God nie ’n piepklein mossie vergeet nie, kan ons daarvan seker wees dat hy nie die benarde situasie van die grote olifant ignoreer nie.

[Venster op bladsy 16]

Oor ivoor

“Ivoor is ongetwyfeld baie mooi. Dit het ’n gloed en warmte wat heeltemal verskil van enige ander materiaal wat vir ornamente en beeldhouwerk gebruik word. Maar ek dink altyd dat mense vergeet dat ivoor ’n olifant se tand is. Die woord ivoor laat ons glad nie aan ’n olifant dink nie. ’n Mens is geneig om dit saam met jade, kiaathout, ebbehout, amber, selfs goud en silwer te groepeer, maar daar is ’n groot verskil: Die ander materiale het nie van ’n dier af gekom nie; ’n ivoortand is in werklikheid ’n snytand. Wanneer ’n mens ’n pragtige ivoorarmband of delikate snywerk in jou hand vashou, vereis dit ’n sekere mate van begrip om te besef dat daardie stuk ivoor van ’n olifant af kom wat vroeër rondgeloop het en sy tand gebruik het om te eet, te grawe, te steek, te speel en te baklei, en bowenal moes die olifant sterf sodat jy daardie stuk ivoor in jou hand kan hou.”—Elephant Memories, deur Cynthia Moss.

[Venster op bladsy 19]

Oor olifante

Olifante is ongelooflik sterk, en wanneer hulle kwaad is, bewe die aarde. ’n Olifant kan jou met sy slurp gryp en jou soos ’n klip deur die lug gooi. En tog kan ’n olifant jou ook met sy slurp streel of sagkens kos uit jou hand neem. Olifante is intelligente diere, moeilik om te verstaan en snaaks. Hulle vertoon sterk lojaliteit teenoor gesinslede en sal mekaar se wonde versorg, na siekes onder hulle omsien en reaksie toon op die dood van ’n gesinslid. Hoewel hulle die oorblyfsels van ander diere ignoreer, herken hulle die gebeentes van ander olifante en reageer hulle deur dit rond te strooi of te begrawe.

[Prente op bladsy 18]

Twee lande het hulle ivoor verbrand; ander het hulle voorraadstapels as ’n belegging gehou

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel