Hoe giftig is jou huis?
’NONLANGSE studie wat op meer as 3000 mense in die Verenigde State en Kanada gedoen is, het volgens die tydskrif Scientific American getoon dat “die meeste inwoners heel waarskynlik die meeste blootgestel word aan potensieel giftige besoedelstowwe . . . in die plekke wat hulle gewoonlik as wesenlik onbesoedeld beskou, soos huise, kantore en motors”. Die vernaamste bronne van lugbesoedeling in huise was die dampe wat van doodgewone produkte gekom het soos skoonmaakmiddels, mottegif, boumateriaal, brandstowwe, deodorante en ontsmettingsmiddels sowel as chemikalieë van klere wat droogskoongemaak is en nuwe sintetiese bekleedsel.
“Ruimtegriep”, ’n siekte waaraan ruimtevaarders gely het totdat die oorsaak gevind is, was die gevolg van sulke dampe. ’n Mens neem hierdie dampe waar wanneer jy in ’n nuwe motor sit of in ’n supermark by rakke vol skoonmaakmiddels verbyloop, selfs al is dit in verseëlde houers. Wanneer ’n huis dus dig toegemaak is om byvoorbeeld winterkoue buite te hou, kan die dampe van verskillende chemikalieë bydra tot ’n vlak van binnenshuise besoedeling wat baie hoër is as die besoedeling buite die huis.
Kinders, veral kleuters, is die kwesbaarste vir binnenshuise besoedelstowwe, sê Kanada se Medical Post. Hulle is nader aan die vloer as ouer mense; hulle haal vinniger as volwassenes asem; hulle bring tot 90 persent van hulle tyd binnenshuis deur, en omdat hulle organe nog nie ten volle ontwikkel is nie, is hulle liggaam vatbaarder vir gifstowwe. Hulle absorbeer sowat 40 persent van die lood wat hulle inneem, terwyl volwassenes maar ongeveer 10 persent absorbeer.
Behou ’n gebalanseerde gesindheid
Omdat die huidige mensegeslag met ’n ongekende vlak van blootstelling aan chemiese stowwe te kampe het, is daar nog baie wat oor die gevolge uitgevind moet word en daarom bly wetenskaplikes versigtig. Blootstelling aan chemiese stowwe beteken nie outomaties dat jy kanker sal kry of sal sterf nie. Trouens, dit lyk of die meeste mense redelik goed regkom, danksy die Skepper van die wonderlike menslike liggaam (Psalm 139:14). Nogtans moet redelike voorsorgmaatreëls getref word, veral as ons gereeld met potensieel giftige chemiese stowwe in aanraking kom.
Die boek Chemical Alert! sê dat “sommige chemiese stowwe giftig is in die sin dat hulle inmeng met die balans van [die liggaam] se prosesse en daardeur vae simptome veroorsaak wat ’n mens die beste kan beskryf deur te sê dat jy net nie goed voel nie”. Om ons minder aan potensieel skadelike chemiese stowwe bloot te stel, vereis nie noodwendig groot veranderinge in ons lewenstyl nie, maar net klein veranderinge in ons daaglikse roetine. Let gerus op ’n paar van die wenke in die venster op bladsy 8. Jy sal party van hulle dalk nuttig vind.
Behalwe om redelike voorsorgmaatreëls met chemiese stowwe te tref, bevoordeel ons onsself wanneer ons ons nie onnodig kwel nie, veral nie oor dinge waaroor ons geen beheer het nie. “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees”, sê die Bybel in Spreuke 14:30.
Maar baie mense ly wel en word siek, soms selfs terminaal siek, weens chemiese gifstowwe.a Soos die miljoene mense wat deesdae weens soveel ander oorsake ly, het diegene wat aan chemiesverwante siektes ly goeie rede om na die toekoms uit te sien, want die aarde gaan binnekort vry wees van gifstowwe wat die bewoners daarvan skade aandoen. Selfs giftige gedagtes, sowel as diegene wat dit koester, sal nie meer bestaan nie, soos die laaste artikel in hierdie reeks sal toon.
[Voetnoot]
a In die laaste jare ly al hoe meer mense aan ’n toestand wat veelvuldige chemiese sensitiwiteit genoem word. Hierdie toestand sal in ’n toekomstige nommer van Ontwaak! bespreek word.
[Venster op bladsy 8]
Vir ’n gesonder, veiliger huis
Dit vereis dikwels net klein veranderinge in jou lewenstyl om jou blootstelling aan potensiële gifstowwe te verminder. Hier volg ’n paar wenke wat jou kan help. (Ons stel voor dat jy by jou plaaslike biblioteek gaan navraag doen as jy vedere inligting of meer besonderhede wil hê.)
1. Probeer om die meeste chemiese stowwe wat dampe afgee op ’n plek te bêre waar hulle nie die lug in jou huis sal besoedel nie. Hierdie chemikalieë sluit formaldehied in sowel as produkte wat vlugtige oplosmiddels bevat, soos verf, vernis, gom, plaagdoders en skoonmaakmiddels. Vlugtige petroleumprodukte gee giftige dampe af. Die groep sluit in benseen, waarvan dit bekend is dat dit in hoë konsentrasies oor lang periodes kanker, geboortedefekte en ander skade aan die voortplantingstelsel veroorsaak.
2. Sorg dat alle vertrekke goed geventileer is, ook die badkamer. Sekere bymiddels, soos chloor, wat in die water kan wees, sit in dampe om wanneer ’n mens stort. Dit kan veroorsaak dat chloor en selfs chloroform opbou.
3. Vee jou voete af voordat jy in die huis ingaan. Hierdie eenvoudige daad, sê Scientific American, kan die hoeveelheid lood in ’n tipiese tapyt met ’n faktor van ses verminder. Dit verminder ook die hoeveelheid plaagdoders, waarvan sommige vinnig in die sonlig buitekant die huis ontbind, maar wat jare lank in tapyte teenwoordig kan wees. ’n Ander opsie, wat in party dele van die wêreld ’n gewoonte is, is om jou skoene uit te trek. ’n Goeie stofsuier, verkieslik een met ’n draaiborsel, kan ook besoedeling in tapyte verminder.
4. As jy ’n plaagdoder in ’n vertrek gebruik, moet jy speelgoed ten minste twee weke lank uit die vertrek hou, selfs al sê die produk se etiket dat die vertrek ure ná gebruik daarvan weer veilig is. Wetenskaplikes het onlangs bevind dat sekere soorte plastiek en rubber wat in speelgoed gebruik word oorblyfsels van plaagdoders letterlik soos ’n spons opsuig. Kinders sal die gifstowwe deur hulle vel en mond absorbeer.
5. Gebruik plaagdoders so min as moontlik. Frank Graham jr. skryf in sy boek Since Silent Spring dat plaagdoders “’n nuttige funksie in die huis en die tuin verrig, maar dat reklameveldtogte die gemiddelde voorstedelike huiseienaar oortuig het dat hy ’n arsenaal chemiese stowwe byderhand moet hou wat genoeg is om ’n hele Afrika-sprinkaanplaag weg te hou”.
6. Verwyder afskilferende loodhoudende verf van alle oppervlakke en verf dit dan met loodvrye verf. Moenie toelaat dat kinders in grond speel wat met loodhoudende verf besoedel is nie. As jy vermoed dat daar lood in waterpype is, moet jy die kouewaterkraan ’n rukkie deurspoel totdat daar ’n merkbare verandering in die watertemperatuur is, en water uit die warmwaterkraan moet nie gedrink word nie.—Environmental Poisons in Our Food.
[Prent op bladsy 9]
Kleuters is die kwesbaarste vir binnenshuise besoedelstowwe