Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/8 bl. 26-27
  • Hoe moet Christene die mis beskou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe moet Christene die mis beskou?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is die mis skriftuurlik?
  • Christus geoffer—Hoe dikwels?
  • Mis
    Redenering uit die Skrif
  • ’n Veranderende kerk in Frankryk
    Ontwaak!—1993
  • Waarom verskil die manier waarop Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal herdenk, van hoe ander godsdienste dit doen?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Die Eucharistie—die feite agter die ritueel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Hoe moet Christene die mis beskou?

VROOM Katolieke stem saam met pous Johannes-Paulus II, wat volgens The New York Times onlangs “herbevestig het dat die kerk dit as ’n sonde beskou as ’n Katoliek nie die mis bywoon nie”. Wat is die mis? Kom die kerk en die Bybel ooreen oor die onderwerp?

In die boek Things Catholics Are Asked About definieer die Katolieke priester Martin J. Scott die mis soos volg: “Die mis is die bloedlose offerande van die Liggaam en Bloed van Christus. Kalvarie was die bloedofferande van Christus. Die mis is in wese dieselfde offerande as dié van die kruis. Dit is geen beeldspraak, geen metafoor of oordrywing nie.” Hy sê ook: “Die mis beweer dat dit die Seun van God na ons altare afbring, en dat dit Hom as ’n offerande bring vir die Godheid.”

Is die mis skriftuurlik?

Opregte Katolieke glo dat die mis op skriftuurlike leerstellings gegrond is. Hulle gee as bewys Jesus se woorde gedurende wat gewoonlik die Laaste Avondmaal genoem word. Terwyl Jesus brood en wyn vir sy apostels gegee het, het hy die volgende met verwysing na die brood gesê: “Dit is my liggaam.” Toe hy na die wyn verwys het, het hy gesê: “Dit is my bloed” (Matteus 26:26-28).a Katolieke glo dat Jesus die brood en wyn letterlik in sy liggaam en bloed verander het toe hy hierdie woorde gesê het. Maar die New Catholic Encyclopedia (1967) waarsku: “Ons moet nie te veel staatmaak op die letterlikheid van die woorde: ‘Dit is my liggaam’ of ‘Dit is my bloed’ nie . . . Want in frases soos ‘die oes is die voleinding van die wêreld’ (Mt 13.39) of ‘Ek is die ware wynstok’ (Jn 15.1) beteken die [werkwoord “om te wees”] bloot om aan te dui of voor te stel.” Selfs hierdie gesaghebbende ensiklopedie erken dus dat die bewoording van Matteus 26:26-28 nie bewys dat die brood en die wyn tydens die Laaste Avondmaal in Jesus se letterlike liggaam en bloed verander het nie.

Party onthou dalk dat Jesus eenkeer gesê het: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. . . . Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe” (Johannes 6:51, 54). Sommige van dié wat na Jesus geluister het, het sy woorde letterlik opgeneem en was geskok (Johannes 6:60). Maar ons kan vra: Het Jesus by daardie geleentheid sy vlees in brood verander? Beslis nie! Hy het beeldspraak gebruik. Hy het homself met brood vergelyk omdat hy deur middel van sy offerande die lewe aan die mensdom sou skenk. Johannes 6:35, 40 toon duidelik dat mense sou eet en drink deur geloof in Jesus Christus te beoefen.

Aangesien die mis ’n vername ritus van die Katolieke Kerk is, kan ’n mens verwag dat die Skrif dit moet ondersteun. Dit is nie die geval nie. The Catholic Encyclopedia (1913-uitgawe) het verduidelik waarom: “Die hoofbron van ons leerstelling is . . . oorlewering, wat van die vroegste tye af die afsmekende waarde van die Misoffer leer.” Ja, die Rooms-Katolieke mis is op oorlewering gegrond, nie op die Bybel nie.

’n Tradisie wat teenstrydig met die Bybel is, is onaanvaarbaar vir God, ongeag hoe opreg ’n mens is wanneer jy dit hou. Jesus het die godsdiensleiers van sy dag verwyt: ‘Julle het die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering’ (Matteus 15:6). Aangesien God se Woord vir Jesus kosbaar was, laat ons dan die lering oor die mis in die lig van die Heilige Skrif ondersoek.

Christus geoffer—Hoe dikwels?

Die Katolieke Kerk leer dat Jesus geoffer word elke keer wat die mis gevier word, alhoewel hulle volhou dat hy nie werklik sterf nie en dat die offerande bloedloos is. Stem die Bybel saam met hierdie beskouing? Kyk wat sê Hebreërs 10:12, 14: “[Jesus] het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”

Maar ’n opregte Katoliek opper dalk die volgende beswaar: ‘Sou Jesus homself nie dikwels moes offer nie? Ons sondig almal baie keer.’ Die Bybel se antwoord is in Hebreërs 9:25, 26 opgeteken: Christus hoef ‘Homself nie dikwels te offer nie. . . . Hy het een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.’ Let goed hierop: Christus hoef ‘Homself nie dikwels te offer nie’. In Romeine 5:19 verduidelik die apostel Paulus waarom: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één [Jesus] baie tot regverdiges gestel word.” Weens Adam se enkele daad van ongehoorsaamheid sterf ons almal; Jesus se enkele verlossingsdaad het die grondslag gelê sodat ons almal wat geloof in daardie offerande beoefen se sondes nou vergewe kan word en in die toekoms die ewige lewe kan geniet.

Watter verskil maak dit of Jesus een keer of dikwels geoffer is? Dit is ’n kwessie van waardering vir die waarde van Jesus se offerande. Dit is die grootste geskenk wat nog gegee is—’n geskenk so kosbaar, so volmaak, dat dit nooit nodig sal wees om herhaal te word nie.

Jesus se offerande verdien beslis om herdenk te word. Maar daar is ’n verskil tussen die herdenking en die herhaling van ’n gebeurtenis. ’n Egpaar wat byvoorbeeld hulle huweliksherdenking vier, onthou moontlik die dag waarop hulle getroud is, sonder om die plegtigheid te herhaal. Elke jaar vier Jehovah se Getuies die herdenking van Jesus se dood op die manier wat Jesus beveel het—‘tot sy gedagtenis’, nie deur hom te offer nie (Lukas 22:19). Daarbenewens probeer hierdie Christene regdeur die jaar deur middel van Jesus Christus ’n innige verhouding met Jehovah God opbou deur hulle lewe, hulle dade en hulle opvattings in ooreenstemming met die Heilige Skrif te bring.

Dit beteken dikwels dat hulle hulle denke moet verander. Maar die Getuies verheug hulle in die wete dat hulle geseën sal word as hulle God se Woord eerder as mensetradisies lojaal ondersteun. En as hulle geloof beoefen in Jesus se offerbloed, wat byna tweeduisend jaar gelede eens en vir altyd gestort is, sal dit hulle van alle sonde reinig.—1 Johannes 1:8, 9.

[Voetnoot]

a Al die Skrifgedeeltes in hierdie artikel is aangehaal uit die Afrikaanse Bybel, hersiene uitgawe van 1953.

[Prent op bladsy 26]

Die St. Gilles-mis (detail)

[Erkenning]

Erich Lessing/Art Resource, NY

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel