Ons maak gedurende moeilike tye kinders groot in Afrika
SOOS VERTEL DEUR CARMEN MCLUCKIE
Dit was die jaar 1941. Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed. Ek was ’n 23-jarige ma van Australië, maar hier was ek en my baba van vyf maande in die tronk in Gwelo, Suid-Rhodesië (nou Gweru, Zimbabwe). My man was in Salisbury (nou Harare) in die tronk. Ons ander kinders—wat twee en drie jaar oud was—is deur my twee tienderjarige stiefkinders versorg. Laat ek verduidelik hoe ek in hierdie situasie beland het.
EK HET saam met my ma en pa in Port Kembla, ongeveer 50 kilometer suid van Sydney, Australië, gewoon. In 1924 het Clare Honisett my ma besoek en haar belangstelling in Bybelleerstellings geprikkel deur haar te vra of sy weet wat die Onse Vader beteken. Clare het verduidelik wat dit beteken om God se naam te heilig, en toe het sy vertel hoe die Koninkryk God se wil op aarde gaan verwesenlik (Matteus 6:9, 10). My ma was verstom. Ten spyte van my pa se teenstand het my ma dieper in sulke Bybelwaarhede begin delf.
Kort daarna het ons na ’n voorstad van Sydney getrek. Van daar af het ek en my ma ongeveer vyf kilometer geloop om die vergaderinge van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, by te woon. Alhoewel my pa nooit ’n Getuie geword het nie, het hy toegelaat dat Bybelstudies in ons huis gehou word. Twee van sy broers—Max en Oscar Seidel—het Getuies geword, asook party van Max se familielede sowel as my jonger broer, Terry, en my jonger suster, Mylda.
In 1930 het die Wagtoringgenootskap ’n 16 meter lange seilboot gekoop, wat later herdoop is tot die Lightbearer. Hierdie boot het twee jaar lank aan die onderpunt van ons erf in die Georges-rivier voor anker gelê. Dit is hier reggemaak sodat Jehovah se Getuies dit in die predikingswerk op die eilande van Indonesië kon gebruik. Ek en my suster Coral het soms die kajuit en dek skoongemaak, en ons het die lamp aan die mastop geleen wanneer ons garnale gaan vang het.
Na Afrika, en die huwelik
In die middel-dertigerjare het Australië onder ’n resessie gebuk gegaan, en ek en my ma het na Suid-Afrika gereis om te sien of ons gesin ons daar sou kon vestig. Ons het ’n bekendstellingsbrief van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië gehad aan George Phillips, wat destyds oor die predikingswerk in suidelike Afrika toesig gehou het. George was by die hawe in Kaapstad om ons te ontmoet. Hy het die Wagtoringgenootskap se boek Rykdom onder sy arm vasgehou sodat ons hom sou herken. Daardie selfde dag, op 6 Junie 1936, het hy ons aan die vyf lede van die takpersoneel voorgestel, insluitende ene Robert A. McLuckie.a Binne ’n jaar is ek en Bertie—soos ons hom almal genoem het—getroud.
Bertie se oupagrootjie William McLuckie het in 1817 van Paisley, Skotland, af na Afrika gekom. In sy vroeëre reise het William vir Robert Moffat leer ken, die man wat die geskrewe vorm van Tswana ontwikkel het en die Bybel in daardie taal vertaal het.b In daardie vroeë dae was William en sy maat Robert Schoon die enigste blanke mans wat deur Silkaats, ’n vername kryger in die leër van die beroemde Zulu-hoofman Shaka, vertrou is. Gevolglik was William en Robert die enigste blankes wat toegelaat is in Silkaats se kraal, waar die stad Pretoria nou is. Later het Silkaats ’n staatsman geword en in die middel van die 19de eeu baie stamme in ’n gesentraliseerde Afrikakoninkryk verenig.
Toe ek Bertie ontmoet het, was hy ’n wewenaar met ’n dogter, die 12-jarige Lyall, en ’n seun, die 11-jarige Donovan. Bertie het in 1927 vir die eerste keer Bybelwaarhede geleer, ’n paar maande nadat sy vrou Edna oorlede is. Gedurende die volgende nege jaar het hy die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig op die eilande Mauritius en Madagaskar sowel as in die hele Njassaland (nou Malawi), Portugees-Oos-Afrika (nou Mosambiek) en Suid-Afrika.
’n Paar maande ná my en Bertie se troue het ons met Lyall en Donovan Johannesburg toe getrek, waar Bertie makliker kon werk kry. Ek het ’n ruk lank as ’n pionier gedien, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Toe het ek swanger geraak met Peter.
Ons trek na Suid-Rhodesië
Bertie se broer Jack het ons uiteindelik genooi om by hom aan te sluit in ’n goudmynonderneming naby Filabusi, in Suid-Rhodesië. Ek en Bertie het met Peter, wat toe ’n jaar oud was, daarheen gereis terwyl my ma tydelik na Lyall en Donovan gekyk het. Toe ons by die Mzingwani-rivier aankom, was dit in vloed, en ons moes dit oorsteek in ’n kis wat aan ’n kabel van die rivier se een oewer na die ander getrek is. Ek was ses maande swanger met Pauline en ek moes Peter styf teen my bors vasdruk! Dit was angswekkend, veral toe die kabel in die middel van die rivier byna aan die water geraak het. Dit was boonop in die middel van die nag, en dit het gestortreën! Nadat ons die rivier oorgesteek het, moes ons sowat twee kilometer tot by ’n familielid se huis loop.
Later het ons ’n ou plaashuis gehuur wat vervuil was van die termiete. Ons het maar min meubels gehad—party stukke het ons van dinamiet- en lontbokse gemaak. Pauline het dikwels kroep gehad, en ons kon nie medisyne bekostig nie. Dit het my hart gebreek, maar ons was dankbaar dat Pauline dit elke keer oorleef het.
Ek en Bertie albei in die tronk
Een keer per maand het ons na die stad Bulawayo toe gegaan, ongeveer 80 kilometer daarvandaan, om ons goud by die bank te verkoop. Ons het ook na Gwanda, ’n klein dorpie nader aan Filabusi, gegaan om kos te koop en aan die bediening deel te neem. In 1940, die jaar ná die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, is ons predikingswerk in Suid-Rhodesië verbied.
Kort daarna is ek in hegtenis geneem terwyl ek in Gwanda aan die predikingswerk deelgeneem het. Ek was toe swanger met my derde kind, Estrella. Terwyl my appèl oorweeg is, is Bertie weens die predikingswerk in hegtenis geneem en in Salisbury aangehou, meer as 300 kilometer van waar ons gewoon het.
Ons omstandighede op daardie tydstip was as volg: Peter was met witseerkeel in die hospitaal in Bulawayo, en ons het getwyfel of hy dit sou oorleef. Ek het kort tevore geboorte gegee aan Estrella, en ’n vriendin het my van die hospitaal na die tronk geneem om vir Bertie sy nuwe dogtertjie te wys. Later, toe my appèl verwerp is, was ’n gegoede Indiese winkelier so vriendelik om my borg te betaal. Drie polisiemanne het later na die myn toe gekom om my in hegtenis te neem. Hulle het my voor ’n keuse gestel. Ek kon my baba van vyf maande saamneem tronk toe of ek kon haar in die sorg van ons tieners, Lyall en Donovan, laat. Ek het besluit om haar saam te neem.
Dit was my werk om klere reg te maak en om skoon te maak. ’n Kinderoppasster is ook voorsien om my te help om Estrella te versorg. Sy was ’n jong gevangene met die naam Matossi, wat ’n lewenslange vonnis uitgedien het omdat sy haar man vermoor het. Matossi het gehuil toe ek vrygelaat is, want sy kon toe nie meer na Estrella kyk nie. Die tronkbewaarder het my na haar huis toe geneem vir middagete en het my toe op die trein gesit om Bertie in die tronk in Salisbury te besoek.
Terwyl ek en Bertie in die tronk was, het Lyall en Donovan na klein Peter en Pauline omgesien. Alhoewel Donovan net 16 was, het hy ons mynonderneming aan die gang gehou. Toe Bertie uit die tronk vrygelaat is, het ons besluit om na Bulawayo te trek, aangesien die myn nie so lonend was nie. Bertie het by die spoorweë werk gekry, en ek het ons inkomste met my nuwe vaardighede as ’n naaldwerkster aangevul.
Bertie se werk as ’n klinkwerker op die spoorweë is as noodsaaklik beskou; daarom is hy van militêre diens vrygestel. Gedurende daardie oorlogsjare het die stuk of twaalf blanke Getuies in Bulawayo in ons klein eenslaapkamerhuisie vergaderinge gehou, en ’n paar van ons swart broers en susters het elders in die stad vergader. Maar nou is daar in Bulawayo meer as 46 gemeentes van Jehovah se Getuies, met swart sowel as blanke Getuies!
Ons bediening ná die oorlog
Ná die oorlog het Bertie die spoorweë gevra vir ’n oorplasing na Umtali (nou Mutare), ’n pragtige dorp op die grens van Mosambiek. Ons wou dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was, en Umtali het na net die regte plek gelyk, aangesien daar geen Getuies in die stad was nie. Gedurende ons kort verblyf het die Holtshauzen-gesin, met vyf seuns, Getuies geword. Tans is daar 13 gemeentes in die stad!
In 1947 het ons gesin oor die moontlikheid gepraat dat Bertie weer aan die pionierdiens kan begin deelneem. Lyall, wat van die pionierdiens in Suid-Afrika teruggekeer het, was ten gunste van hierdie idee. Donovan was op daardie tydstip ’n pionier in Suid-Afrika. Wel, toe die takkantoor in Kaapstad hoor van Bertie se begeerte om weer aan die pionierdiens deel te neem, het hulle hom gevra om eerder ’n lektuurdepot in Bulawayo oop te maak. Hy het dus by die spoorweë bedank, en ons het teruggetrek soontoe. Kort daarna het die eerste sendelinge na Suid-Rhodesië in Bulawayo aangekom, onder andere Eric Cooke, George en Ruby Bradley, Phyllis Kite en Myrtle Taylor.
In 1948 het Nathan H. Knorr, die Wagtoringgenootskap se derde president, Bulawayo saam met sy sekretaris, Milton G. Henschel, besoek en gereël dat die depot ’n takkantoor moet word, met broer Cooke as die opsiener. Die volgende jaar is ons dogter Lindsay gebore. Toe, in 1950, is die takkantoor verskuif na Salisbury, die hoofstad van Suid-Rhodesië, en ons het ook soontoe getrek. Ons het ’n groot huis gekoop waarin ons baie jare gewoon het. Daar het altyd pioniers en besoekers by ons oorgebly en gevolglik het ons huis as die McLuckie-hotel bekend geword!
In 1953 het ek en Bertie die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad New York se Yankee-stadion bygewoon. Wat ’n onvergeetlike gebeurtenis was dit tog! Vyf jaar later, in 1958, het Lyall, Estrella, Lindsay en die 16 maand oue Jeremy al agt dae van die groot internasionale byeenkoms in die Yankee-stadion en die nabygeleë Pologronde saam met ons bygewoon. ’n Rekordgetal van meer as ’n kwartmiljoen was op die laaste dag vir die openbare toespraak teenwoordig!
’n Nuwe predikingstoewysing
Bertie was ongeveer 14 jaar lank ’n dagwerker by die takkantoor in Salisbury, maar toe het ons besluit om in die Seychelle te gaan dien waar daar meer hulp nodig was. Ons het ons huis en meubels verkoop en die res van ons besittings in ons Opelstasiewa gelaai. Met Lindsay, 12, en Jeremy, 5, het ons ongeveer 3 000 kilometer op uiters slegte grondpaaie deur Noord-Rhodesië (nou Zambië), Tanganjika (nou deel van Tanzanië) en Kenia gereis en uiteindelik in die hawestad Mombassa aangekom.
Mombassa was ondraaglik warm, maar het darem pragtige strande gehad. Ons het ons motor by ’n plaaslike Getuie gelos en die bootreis van drie dae na die Seychelle aangepak. Met ons aankoms het Norman Gardner, ’n man wat ’n basiese kennis van Bybelwaarheid by ’n Getuie in Dar es Salaam, Tanganjika, geleer het, ons ingewag. Hy het gereël dat ons die huis huur op Sans Souci-pas wat gebou is vir die polisie wat die Grieks Ortodokse aartsbiskop Makarios bewaak het en in 1956 van Siprus af verban is.
Aangesien ons huis so afgesonderd was, het ons ná ’n maand na ’n huis aan die waterfront by Beau Vallon getrek. Daar het ons mense genooi om na toesprake te kom luister wat Bertie op ons stoep gehou het. Ons het ’n Bybelstudie met die Bindschedlers begin, en ’n paar maande later het Bertie hulle en hulle aangenome dogter sowel as vir Norman Gardner en sy vrou gedoop. Ons het ook saam met Norman op sy boot na Cerf-eiland gereis, waar Bertie in ’n boothuis Bybeltoesprake gehou het.
Toe ons ongeveer vier maande in die Seychelle was, het die hoof van die polisie vir ons gesê dat ons met die predikingswerk moet ophou of ons sou gedeporteer word. Ons het min geld oorgehad, en ek was weer swanger. Ons het besluit om ons openbare bediening voort te sit. Ons het per slot van rekening geweet dat ons in elk geval binnekort sou weggaan. Wel, toe die volgende boot van Indië af ongeveer ’n maand later daar aangedoen het, is ons gedeporteer.
’n Gevaarlike terugreis
Met ons terugkoms in Mombassa het ons ons motor gaan haal en suidwaarts al met die sanderige kuspad langs gery. Toe ons in Tanga aangekom het, het ons motorenjin vasgebrand. Ons het byna niks meer geld gehad nie, maar ’n familielid en ’n ander Getuie het ons gehelp. Terwyl ons in Mombassa was, het ’n broer ons geldelike hulp aangebied as ons noordwaarts na Somalië sou gaan om die predikingswerk te doen. Ek het egter nie goed gevoel nie en ons wou dus net teruggaan huis toe, na Suid-Rhodesië toe.
Ons het van Tanganjika af in Njassaland aangekom en al langs die westekant van die Njassameer, wat nou die Malawimeer genoem word, gery. Ek het so siek geword dat ek Bertie gevra het om my langs die pad af te laai sodat ek kon sterf! Ons was naby die stad Lilongwe, en hy het my dus daar na die hospitaal toe geneem. Morfieninspuitings het ’n bietjie verligting gebied. Aangesien ek nie verder per motor kon reis nie, het Bertie en die kinders ongeveer 400 kilometer verder na Blantyre gery. ’n Familielid het gereël dat ek ’n paar dae later daarheen kon vlieg om weer by hulle aan te sluit. Van Blantyre af het ek na Salisbury gevlieg, en Bertie en die kinders het die res van die reis per motor afgelê.
Ons was almal so verlig om in Salisbury by die huis van ons dogter Pauline en haar man aan te kom! In 1963 is ons laaste kind, Andrew, gebore. Sy een long het platgeval en ons het nie gedink dat hy sal leef nie, maar gelukkig het hy. Ons het uiteindelik na Suid-Afrika getrek en ons eindelik in Pietermaritzburg gevestig.
Geseën met ’n liefdevolle familie
Bertie het in 1995 vreedsaam gesterf toe hy 94 jaar oud was, en sedertdien woon ek alleen hier in ons huis. Maar ek is geensins eensaam nie! Lyall en Pauline dien Jehovah saam met hulle gesinne hier in Suid-Afrika, en party van hulle woon reg hier in Pietermaritzburg. Lindsay en haar gesin is in Kalifornië, VSA, waar hulle almal bedrywige Getuies is. Ons twee jongste kinders, Jeremy en Andrew, het na Australië getrek, waar albei gelukkig getroud is en as ouer manne in hulle onderskeie gemeentes dien.
Al agt ons kinders het op die een of ander tyd aan die pionierdiens deelgeneem, en ses van hulle het by takkantore van die Wagtoringgenootskap gedien. Donovan het in Februarie 1951 in die 16de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer en het as ’n reisende opsiener in die Verenigde State gedien voordat hy teruggekeer het om by die takkantoor in Suid-Afrika te werk. Hy is nou ’n Christen- ouer man in Klerksdorp, ongeveer 700 kilometer van Pietermaritzburg af. Estrella woon saam met haar man, Jack Jones, by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York.
Peter, my eersgeborene, het ’n paar jaar in die voltydse bediening deurgebring, in die pionierdiens sowel as by die Wagtoringtakkantoor in Rhodesië. Maar ’n klompie jare gelede was ek baie ongelukkig toe hy die Christengemeente verlaat het.
Wanneer ek oor my lewe terugkyk, kan ek sê dat ek waarlik bly is dat ek as ’n tiener saam met my ma na Afrika gekom het. Die lewe was weliswaar nie altyd maklik nie, maar dit was my voorreg om my man te ondersteun en om ’n gesin groot te maak wat gehelp het om in suidelike Afrika die voortou te neem met die prediking van die goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:14.
[Voetnote]
a Robert McLuckie het sy verhaal vertel in Die Wagtoring van 1 Februarie 1990, bladsye 26-31.
b Sien bladsy 11 van die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Kaart op bladsy 22, 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SUID- AFRIKA
Kaapstad
Pietermaritzburg
Klerksdorp
Johannesburg
Pretoria
ZIMBABWE
Gwanda
Bulawayo
Filabusi
Gweru
Mutare
Harare
ZAMBIË
MOSAMBIEK
MALAWI
Blantyre
Lilongwe
TANZANIË
Dar es Salaam
Tanga
KENIA
Mombassa
SEYCHELLE
Cerf-eiland
SOMALIË
[Prent op bladsy 20]
Saam met Peter, Pauline en Estrella, voordat ek Estrella saam met my tronk toe geneem het
[Prent op bladsy 21]
Lyall en Donovan voor ons plaashuis naby Filabusi
[Prent op bladsy 23]
Bertie, Lyall, Pauline, Peter, Donovan en ek in 1940
[Prente op bladsy 24]
Carmen en vyf van haar kinders (kloksgewys van links): Donovan, toe hy in 1951 in Gilead was, en Jeremy, Lindsay, Estrella en Andrew vandag