Versterk deur sy geloof
’N SEWENTIENJARIGE meisie het aan die kantoor van die Wagtoringgenootskap in Moldowa, ’n voormalige republiek van die Sowjetunie, geskryf om haar waardering uit te spreek vir ’n artikel wat in die Ontwaak! van 8 Junie 1998 verskyn het. Die titel van die artikel was “My keuse tussen twee vaders”, wat die verhaal van ’n Armeense jeugdige vertel het.
“Terwyl ek die artikel gelees het”, het die meisie verduidelik, “het ek trane in my oë gekry omdat sy verhaal soortgelyk aan myne is.” Sy het voortgegaan: “Toe ek 15 was, het ek die Bybel begin studeer, en aan die begin het my ouers nie daarteen beswaar gemaak nie. Maar toe ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het, het hulle dit ten sterkste afgekeur. Daarna, in 1997, toe ek met ander begin praat oor wat ek geleer het, het hulle vir my gesê: ‘Gaan na jou Getuievriende en laat hulle vir jou kos, klere en werk gee. Jy is ’n baie slegte dogter!’ My ouers het my selfs fisies mishandel en my kop teen die muur gestamp.
“Dit was ’n moeilike toets vir my. Ek het dikwels soos daardie Armeense jeugdige gevoel wat gesê het dat hy soms gewonder het of Jehovah gelukkig was met hom. Ek het by myself gedink: ‘Is ek vir niks goed nie? Sal Jehovah my vir my vorige sondes vergewe? Het Jehovah my nog lief?’
“Dit was baie moeilik, veral wanneer ek gedink het dat Jehovah nie meer lief is vir my nie. Ek het Jehovah dikwels, met trane in my oë, in my gebede gesmeek om my te help, om my die krag te gee sodat ek hom nooit sou verlaat nie. En ek het inderdaad gesien dat Jehovah my gebede verhoor en my smekinge beantwoord. Hy het my gehelp om standvastig, onwrikbaar en moedig te wees. Hy het dit veral deur sy Woord gedoen, waar die psalmis vol vertroue gesê het: “My vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.”—Psalm 27:10.
“Op 27 September 1997 het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Kagul gedoop te word. Ek kan duidelik sien dat Jehovah, ons liefdevolle hemelse Vader, sy belofte in Psalm 84:12 vervul: ‘Die HERE God is ’n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.’
“Ek is baie dankbaar teenoor hierdie Armeense jeugdige wat sy geloofversterkende verhaal in die Ontwaak! vertel het. Ek hoop dat sy ouers en myne uiteindelik belangstelling in die leringe van die Bybel sal toon.”