Die Bybel se beskouing
Moet die huwelik ’n lewenslange verbintenis wees?
WAAROM nog hierdie vraag vra? Is die huwelik nie, om Westerse huweliksgeloftes aan te haal, “in voorspoed en teëspoed” en “totdat die dood ons skei” nie? Ja, huweliksgeloftes dui gewoonlik aan dat die bruid en die bruidegom ’n lewenslange verbintenis aangaan. Maar baie voel hulle is nie meer verplig om hierdie plegtige beloftes na te kom nie. ’n Onrusbarende aantal egpare skei—party ná ’n paar maande, en ander ná dekades. Waarom is respek vir die huwelik aan die afneem? Die Bybel gee die antwoord.
Lees asseblief 2 Timoteus 3:1-3, en vergelyk dit met wat jy vandag in die wêreld sien. Hierdie verse sê gedeeltelik: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, . . . sonder selfbeheersing.” Hierdie profesie is besonders akkuraat. Hierdie gesindhede het wêreldwyd huweliksverhoudinge skade berokken en verswak, en die hoë egskeidingsyfers is ’n bewys hiervan.
Baie mense het ongetwyfeld respek vir die huwelik verloor. In die lig hiervan kan ons vra: Moet die huwelik só ernstig opgeneem word? Bestaan daar iets soos die heiligheid van die huwelik? Hoe moet Christene die huwelik beskou? Hoe kan die Bybel egpare vandag help?
Het God se beskouing verander?
God het nie in die begin gesê dat die huweliksband net tydelik sou wees nie. Genesis 2:21-24 vertel hoe God die eerste man en vrou saamgevoeg het, en daar word geen melding gemaak van die moontlikheid om te skei of mekaar te verlaat nie. Vers 24 sê eerder: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Wat beteken hierdie teks?
Kyk byvoorbeeld na die menslike liggaam, hoe die verskillende weefsels sonder enige nate saamgeweef is en hoe bene in sterk, wrywinglose gewrigte bymekaarkom. Watter eenheid tog! Hoe duursaam tog! Maar hoeveel pyn is daar tog wanneer hierdie ongeëwenaarde stelsel erg beskadig word! In Genesis 2:24 beklemtoon die term “een vlees” derhalwe die intimiteit en bestendigheid van die huweliksband. Dit waarsku ook uitdruklik teen die geweldige pyn wat iemand sal ervaar as hierdie band verbreek sou word.
Hoewel veranderende gesindhede die menslike beskouing oor die afgelope millenniums gevorm en verander het, beskou God die huwelik nog steeds as ’n lewenslange verbintenis. Ongeveer 2 400 jaar gelede het sommige Joodse manne begin om hulle eerste vrou te verlaat en met jonger vrouens getrou. God het hierdie gedrag veroordeel en deur sy profeet Maleagi gesê: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel.”—Maleagi 2:15, 16.
Meer as vier eeue later het Jesus weer God se oorspronklike beskouing van die huwelik bevestig toe hy Genesis 2:24 aangehaal en gesê het: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:5, 6). Jare later het die apostel Paulus die opdrag gegee dat “’n vrou nie van haar man moet weggaan nie” en dat “n man . . . sy vrou nie [moet] verlaat nie” (1 Korintiërs 7:10, 11). Hierdie tekste sê presies hoe God oor die huwelik voel.
Laat die Bybel ooit die beëindiging van ’n huwelik toe? Ja, ’n huwelik eindig wanneer een van die huweliksmaats sterf (1 Korintiërs 7:39). Egbreuk kan ook ’n huwelik beëindig as die onskuldige huweliksmaat so besluit (Matteus 19:9). Die Bybel spoor egpare andersins aan om bymekaar te bly.
Hoe om die huwelik blywend te maak
God wil hê dat die huwelik moet voortduur, nie as ’n stryd om oorlewing nie, maar as ’n gelukkige lewe saam. Hy wil graag hê dat ’n man en vrou hulle probleme moet oplos en dat hulle werklik mekaar se geselskap moet geniet. Sy Woord voorsien riglyne vir ’n gelukkige, blywende huwelik. Let asseblief op na die volgende tekste.
Efesiërs 4:26: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie.”a Een man wat gelukkig getroud is, glo dat hierdie teks hom en sy vrou help om meningsverskille vinnig op te los. “As jy nie ná ’n meningsverskil aan die slaap kan raak nie, is iets verkeerd. Jy kan nie net die probleem ignoreer nie”, sê hy. Hy en sy vrou het soms tot laat in die nag oor probleme gesels. Dit werk regtig. Hy voeg by: “Die toepassing van Bybelbeginsels het wonderlike resultate tot gevolg.” Deur dit te doen, geniet hierdie man en sy vrou al 42 jaar lank ’n gelukkige huwelik saam.
Kolossense 3:13: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.” ’n Man verduidelik hoe hy en sy vrou die raad toegepas het: “Omdat ons almal foute en gewoontes het wat ander mense pla, kan huweliksmaats mekaar soms irriteer sonder om noodwendig iets verkeerd te doen. Ons verdra mekaar deur nie toe te laat dat hierdie dingetjies tussen ons kom nie.” Dié siening het hierdie egpaar ongetwyfeld gehelp gedurende die 54 jaar wat hulle al getroud is!
Die toepassing van sulke skriftuurlike beginsels versterk die band wat mans en vrouens saambind. Hulle kan derhalwe ’n vreugdevolle, bevredigende en blywende huwelik geniet.
[Voetnoot]
a Volgens die eerste-eeuse tydsbepaling in die Midde-Ooste eindig die dag met sonsondergang. Paulus het derhalwe sy lesers aangespoor om vrede met ander te maak voordat elke dag verby is.