Die uitsonderlike kenmerke van ons son
TERWYL jy hierdie artikel lees, is die son reeds op of weet jy dat dit binnekort sal opkom. Is dit belangrik? Ja, want sonder sonlig sou die aarde se biljoene lewende dinge—insluitende jy—nie hier gewees het nie. Die verskeidenheid van lewe wat onder die miljoene spesies voorkom, van enkelselbakterieë tot enorme walvisse, sou eenvoudig verdwyn het.
Dit is waar dat net ongeveer ’n vyfhonderdmiljoenste deel van die son se energie ons planeet bereik. Tog is selfs daardie paar “krummeltjies” van die “sontafel” genoeg om lewe op aarde te onderhou. Maar dit is nie al nie, want as hierdie fraksie energie wat ons bereik doeltreffend aangewend kon word, sou dit maklik in die energiebehoeftes van ons moderne gemeenskap kon voorsien, terwyl daar boonop surplus krag sou wees.
Die meeste sterrekundeboeke sê dat ons son ’n gewone ster, “’n taamlik algemene hemelse voorwerp”, is. Maar is die son in elke opsig ’n “algemene hemelse voorwerp”? Guillermo Gonzalez, ’n sterrekundige aan die Universiteit van Washington in Seattle, sê dat ons son uitsonderlik is. Behoort dit die soeke na lewe op ander planete te beïnvloed? Gonzalez antwoord: “Daar is minder sterre wat vir intelligente lewe geskik is as wat mense besef.” Hy voeg by: “Tensy sterrekundiges hulle soeke beperk tot sterre wat so uitsonderlik soos die Son is, verspil hulle baie van hulle tyd.”
Wat is party kenmerke wat ons son geskik maak om lewe te onderhou? Terwyl ons hierdie faktore ondersoek, moet ons in gedagte hou dat baie stellings oor die fisika in die heelal teoreties van aard is.
Fassinerende kenmerke
● ’n Enkelster: Sterrekundiges reken dat 85 persent van die sterre in die omgewing van die son in groepe van twee of meer sterre is wat om mekaar wentel. Hierdie sterre word deur gravitasiekrag bymekaargehou.
Die son is egter ’n enkelster. “Die feit dat die son ’n enkelster is, is blykbaar heel ongewoon”, skryf die sterrekundige Kenneth J. H. Phillips in sy boek Guide to the Sun. Daardie enkelstatus van die son gee die aarde ’n stabieler wentelbaan, wat weer toestande tot gevolg het wat lewe op hierdie aarde bevorder, sê Gonzalez.
● ’n Enorme ster: Nog ’n ongewone eienskap van die son, volgens Gonzalez, is dat “dit onder die 10 persent van die mees enorme sterre in sy omgewing tel”, sê die tydskrif New Scientist. Phillips sê: “Die son bevat 99,87% van die massa van die sonnestelsel, en gevolglik word alle liggame in die sonnestelsel deur sy gravitasiekrag beheer.”
Weens hierdie kenmerk kan die aarde betreklik ver—150 miljoen kilometer—van die son af wees, en nogtans sal dit nie daarvan kan wegbeweeg nie. Hierdie betreklike lang afstand beskerm weer lewe op aarde sodat dit nie deur die son verskroei word nie.
● Swaar elemente: Gonzalez sê die son het 50 persent meer swaar elemente—koolstof, stikstof, suurstof, magnesium, silikon en yster—as ander sterre van sy ouderdom en soort. In hierdie opsig staan ons son uit onder sy gelykes. “Die konsentrasie van swaar elemente in die son is baie laag”, sê Phillips, “maar party sterre . . . het selfs laer konsentrasies van swaar elemente.” Trouens, sterre wat soortgelyke konsentrasies van swaar elemente as die son bevat, val onder die spesifieke kategorie wat Populasie-I-sterre genoem word.
Hoe hou dit verband met die bestaan van lewe op aarde? Wel, die swaar elemente is noodsaaklik om lewe te onderhou. Dit is egter skaars, aangesien die heelal uit minder as 1 persent van hierdie elemente bestaan. Maar ons aarde bestaan feitlik geheel en al uit die swaarder elemente. Waarom? Sterrekundiges sê dit is omdat die aarde om so ’n ongewone ster—ons son—wentel.
● ’n Effens elliptiese wentelbaan: Die feit dat die son ’n Populasie-I-ster is, hou nog ’n voordeel in. “Populasie-I-sterre beweeg gewoonlik in ’n byna sirkelvormige wentelbaan om die middelpunt van die sterrestelsel”, sê die boek Guide to the Sun. Die son se wentelbaan is minder ellipties as ander sterre van sy ouderdom en soort. Waarom sou dit ’n uitwerking hê op die bestaan van lewe op aarde? Omdat die sirkelvormigheid van die son se wentelbaan keer dat die son in die binne-galaksie ineenstort, waar supernovas (ontploffende sterre) dikwels ontstaan.
● Wisseling van helderheid: Dit is nog ’n interessante feit omtrent die ster van ons sonnestelsel. In vergelyking met soortgelyke sterre wissel die son se helderheid besonder min. Met ander woorde, sy ligsterkte is stabieler en konstanter.
Hierdie relatief stabiele liglewering is onontbeerlik vir lewe op aarde. “Die blote feit dat ons op die planeet is”, sê die wetenskaplike geskiedskrywer Karl Hufbauer, “is bewys dat die son se helderheid een van die stabieler omgewingsfaktore is.”
● Die helling van die wentelbaan: Die son se wentelbaan vorm net ’n effense helling met die galaktiese vlak van die Melkweg. Dit beteken dat die hoek tussen die vlak van die son se wentelbaan en die vlak van ons sterrestelsel baie klein is. Watter voordeel hou dit vir lewe op aarde in?
Ver buite ons sonnestelsel word ons omring deur ’n groot sferiese baan vol komete, wat die Oort-wolk genoem word.a Gestel die son se wentelbaan het ’n groter hoek met die galaktiese vlak gevorm. Dan sou die son onverwags deur die vlak van ons sterrestelsel beweeg het, wat ’n opskudding in die Oort-wolk kon veroorsaak het. Wat sou die gevolg gewees het? Die aarde sou op rampspoedige wyse deur ’n stortvloed van komete gebombardeer word, sê sterrekundiges.
Wat kan ons uit sonsverduisterings leer?
Daar is ten minste 60 mane in ons sonnestelsel. Hulle wentel om sewe van die sonnestelsel se nege planete. Maar die aarde is blykbaar die enigste planeet in die sonnestelsel waar die skouspel van algehele verduisterings plaasvind. Waarom gebeur dit?
’n Sonsverduistering vind plaas wanneer die maan tussen die son en die aarde kom. Om ’n volmaakte oorvleueling te kry, moet die skynbare grootte van die son en die maan naastenby dieselfde wees, sodat die maan die son feitlik heeltemal bedek. En dit is presies die geval! Hoewel die son se deursnee 400 keer groter is as dié van die maan, is dit ook byna 400 keer verder van die aarde af as die maan.
Maar die aarde se afstand van die son af—en gevolglik die skynbare grootte van die son—is nie bloot ’n faktor wat by ’n algehele verduistering betrokke is nie. Dit is ook ’n noodsaaklike faktor vir die bestaan van lewe op aarde. “As ons ’n bietjie nader of verder van die Son af was”, sê Gonzalez, “sou die Aarde te warm of te koud en gevolglik onbewoonbaar gewees het.”
Dit is nie al nie. Die aarde se buitengewone groot maan bevorder lewe op hierdie planeet, want sy aantrekkingskrag keer dat die aarde te veel waggel wanneer hy om sy eie as draai. Dit sou verskriklike en rampspoedige klimaatsveranderinge tot gevolg gehad het. Om dus lewe op aarde te hê, moet hierdie presiese kombinasie bestaan: die son moet die regte afstand van die aarde af wees en die maan moet die regte grootte wees—en dit buiten al die ander faktore wat met die samestelling van die son verband hou. Wat is die moontlikheid dat alles toevallig gebeur het?
Per toeval?
Gestel jy neem jou motor na ’n opgeleide en ervare werktuigkundige om ingestel te word. Hy doen ’n goeie werk, en jy vind dat alles in orde is. Wat dink jy sal sy reaksie wees as jy later sê dat die presiese instelling van jou motor per toeval gebeur het of dat dit blote geluk was?
Dieselfde vraag kan net sowel oor die buitengewone kenmerke van ons son gevra word. Party wetenskaplikes sal graag wil hê jy moet glo dat die samestelling van ons son, sy wentelbaan, sy afstand van die aarde af en sy ander kenmerke alles bloot net ’n gelukkige toeval is. Maak dit sin? Dink jy dat dit ’n logiese gevolgtrekking is?
Net soos ’n motor wat presies ingestel is, ons iets aangaande die opleiding en vaardigheid van die werktuigkundige vertel, vertel ons son—soos ander hemelliggame—ons ook iets. Die uitsonderlike eienskappe van ons son wat lewe op aarde moontlik maak, dra ’n duidelike boodskap oor dat hierdie ster die handewerk van ’n intelligente en kragtige Ontwerper en Skepper is. Die apostel Paulus het dit so gestel: “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.”—Romeine 1:20.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1999, bladsy 26, vir meer inligting oor die Oort-wolk.
[Lokteks op bladsy 17]
Net ongeveer ’n vyfhonderd-miljoenste deel van die son se energie bereik ons planeet
[Prent op bladsy 16]
Sonuitbarstings soos hierdie een stel lewe op aarde nie in gevaar nie
[Erkenning]
Bladsye 2, 15 en 16: NASA photo
[Prent op bladsy 17]
Per toeval? Omdat die son en die maan skynbaar ewe groot is, sien ons skouspelagtige verduisterings
[Prent op bladsy 18]
As die son se wentelbaan anders was, sou die aarde op rampspoedige wyse deur ’n stortvloed van komete gebombardeer word