Jongmense vra . . .
Hoe kan gebed my help?
“Dit was gebed wat my gehelp het om my lewe weer op die regte spoor te bring.”—Johan.a
BAIE jongmense bid—miskien selfs meer as wat jy dink. ’n Gallup-opname van 13- tot 17-jariges in die Verenigde State het getoon dat 56 persent van hulle voor aandete bid. ’n Opname onder jong volwassenes het getoon dat 62 persent van hulle elke dag bid.
Nogtans is gebed vir baie jongmense net ’n betekenislose ritueel of ’n blote roetine. Min jongmense het wat die Bybel “juiste kennis van God” noem (Kolossense 1:9, 10). Gevolglik speel God nie ’n groot rol in hulle lewe nie. In een opname is tieners gevra of hulle al ooit God se hulp gevra het om ’n belangrike besluit te neem. ’n Meisie het geantwoord: “Ek vra God altyd in gebed om my te lei om die regte keuses in die lewe te maak.” Maar sy het erken: “Ek kan nie nou aan enige spesifieke besluit dink nie.” Dit is dus geen wonder dat baie jongmense nie vertroue in die krag van gebed stel of glo dat dit vir hulle sal werk nie!
Maar, soos Johan, wat aan die begin aangehaal is, het duisende jongmense persoonlik die krag van gebed ondervind. Jy kan ook! ’n Vorige artikel het getoon waarom ons vol vertroue kan wees dat God na ons gebede sal luister.b Nou is die vraag: Hoe kan gebed jou help? Kom ons ondersoek eerstens hoe God ons gebede verhoor.
Hoe God gebede verhoor
In Bybeltye is party manne van geloof se gebede wel regstreeks—selfs wonderdadig—verhoor. Toe koning Hiskia byvoorbeeld uitgevind het dat hy ’n terminale siekte het, het hy God gesmeek om hom daarvan te verlos. God het geantwoord: “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak” (2 Konings 20:1-6). Ander godvresende mans en vroue het eweneens God se hulp ervaar.—1 Samuel 1:1-20; Daniël 10:2-12; Handelinge 4:24-31; 10:1-7.
Goddelike ingryping was egter hoegenaamd nie die reël nie, selfs nie in Bybeltye nie. In die meeste gevalle het God die gebede van sy knegte verhoor, nie deur wonderdadige ingryping nie, maar deur hulle te help om “in alle wysheid en geestelike insig vervul [te] word met die juiste kennis van sy wil” (Kolossense 1:9, 10). Ja, God het gehelp deur sy mense geestelik en sedelik te versterk—deur hulle die wysheid en kennis te gee om verstandige besluite te neem. Wanneer Christene in ’n moeilike situasie was, het God nie noodwendig die beproewing weggeneem nie. Hy het hulle eerder “die krag wat bo die normale is”, gegee sodat hulle dit kon verduur!—2 Korintiërs 4:7; 2 Timoteus 4:17.
Vandag sal ’n antwoord op jou gebed waarskynlik ook nie iets dramaties behels nie. Maar soos God in die verlede gedoen het, kan hy vir jou sy heilige gees gee en jou versterk om enige situasie die hoof te bied (Galasiërs 5:22, 23). Kom ons kyk ter toeligting na vier spesifieke maniere waarop gebed jou kan help.
Hulp om besluite te neem
Karen het met ’n jong man uitgegaan wat skynbaar hoë geestelike doelwitte gehad het. “Hy het altyd vir my gesê dat hy ’n ouer man in die gemeente wil word”, sê sy. Dit het alles goed geklink. Maar “hy het ook baie gepraat oor die besigheid wat hy begin het en al die goed wat hy vir my sou kon koop. Ek het oor sy opregtheid begin twyfel.” Karen het daaroor gebid. “Ek het Jehovah gesmeek om my oë oop te maak en vir my te wys wat ek omtrent hom moes weet.”
Net die blote feit dat jy bid, is soms nuttig, aangesien dit ’n mens kan help om stil te staan en om sake vanuit Jehovah se oogpunt te deurdink. Maar Karen het ook praktiese raad nodig gehad. Sou sy ’n wonderdadige antwoord ontvang? Wel, beskou ’n Bybelverslag aangaande koning Dawid. Toe Dawid uitgevind het dat sy vertroude vriend Agitofel ’n raadgewer vir sy verraderlike seun Absalom was, het hy gebid: “o HERE, verydel tog die raad van Agitofel!” (2 Samuel 15:31). Maar Dawid het ook in ooreenstemming met sy gebed opgetree. Hy het sy vriend Husai hierdie opdrag gegee: ‘Jy moet vir my die raad van Agitofel verydel’ (2 Samuel 15:34). Karen het op ’n soortgelyke manier in ooreenstemming met haar gebed opgetree deur met ’n ervare Christen- ouer man te praat wat haar vriend geken het. Hy het haar vrese bevestig: Haar vriend het min geestelike vooruitgang gemaak.
Karen sê: “Daardie situasie het my oë wyd oopgemaak vir die krag van gebed.” Ongelukkig het haar voormalige vriend rykdom nagejaag en opgehou om God te dien. “As ek met hom getrou het”, sê Karen, “sou ek moontlik alleen na Christelike vergaderinge moes gegaan het.” Gebed het Karen gehelp om ’n goeie besluit te neem.
Hulp om jou emosies te beheers
“’n Sot laat al sy gees uit,” sê die Bybel in Spreuke 29:11 (NW), “maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm.” Die probleem is dat baie mense vandag onder geweldige emosionele druk verkeer en dikwels hulle humeur verloor—soms met rampspoedige gevolge. Die jong Kobus sê: “Ek en ’n werksmaat het gesukkel om oor die weg te kom. Eendag het hy ’n mes uitgepluk.” Wat sou jy gedoen het? Kobus het gebid. Hy sê: “Jehovah het my gehelp om kalm te bly, en ek het my werksmaat oorreed om van plan te verander. Hy het die mes laat val en weggeloop.” Die feit dat Kobus sy emosies beheers het, het hom gehelp om nie kwaad te word nie, en dit het waarskynlik sy lewe gered.
Jy sal nou wel nie dikwels met ’n mes gekonfronteer word nie. Maar daar sal baie situasies in jou lewe wees wanneer jy jou emosies sal moet beheers. Gebed kan jou help om kalm te bly.
Hulp met bekommernisse
Jeanette onthou toe sy ’n paar jaar gelede “deur ’n moeilike tyd gegaan het”. Sy sê: “My werk, familie, vriende—dit het gelyk of niks uitwerk nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie.” Jeanette het spontaan om hulp gebid. Maar daar was ’n probleem. “Ek het nie geweet wat om vir Jehovah te vra nie”, sê sy. “Uiteindelik het ek vir gemoedsrus gevra. Ek het hom elke aand gevra om my te help om my nie oor alles te bekommer nie.”
Hoe het daardie gebede haar gehelp? Sy sê: “Hoewel my probleme nie verdwyn het nie, het ek ’n paar dae later besef dat ek nie meer so besorg of bekommerd daaroor was nie.” Die Bybel belowe: “Laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
Hulp om nader aan God te kom
Beskou die ondervinding van ’n jong man met die naam Paul. “Ek het kort tevore by familie ingetrek”, sê hy. “Een aand het ek in ernstige depressie verval. Ek het onlangs gematrikuleer, en ek het al my vriende gemis. Ek het daardie aand begin huil toe ek dink aan al die goeie tye wat ons saam geniet het.” Wat kon Paul doen? Hy het vir die eerste keer vurig gebid. Hy sê: “Ek het my hart oopgemaak en Jehovah krag en gemoedsrus gevra.”
Wat was die gevolg? Paul vertel: “Die volgende oggend het ek wakker geword en so verlig gevoel soos nog nooit tevore in my lewe nie. Ek het van ’n pynlike gemoedstoestand gegaan na ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan’.” Noudat Paul se hart kalm was, kon hy sake minder emosioneel beskou. En hy het gou besef dat ‘die goeie ou dae’ eintlik glad nie so goed was nie (Prediker 7:10). Trouens, die “vriende” wat hy so erg gemis het, het nie werklik ’n goeie invloed op hom gehad nie.
Paul het bowenal Jehovah se sorg op ’n persoonlike manier ondervind. Hy het ervaar hoe waar die woorde van Jakobus 4:8 is: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Vir Paul was dit ’n groot keerpunt. Hy is beweeg om Jehovah bo enigiets anders in sy lewe te stel en om sy lewe aan hom toe te wy.
Praat met God!
Hierdie positiewe ondervindinge moet jou die versekering gee dat gebed jou kan help. Dit sal natuurlik net die geval wees as jy ernstig daaroor is om God te leer ken en ’n vriendskap met hom aan te kweek. Ongelukkig stel baie jongmense dit uit. Kariena is in ’n Christenhuis grootgemaak. Maar sy erken: “Ek dink dat ek net in die laaste paar jaar die ongelooflike betekenis van ons unieke verhouding met Jehovah ten volle begryp het.” Johan, wat aan die begin genoem is, is as ’n Christen grootgemaak, maar het ’n paar jaar lank opgehou om ware aanbidding te beoefen. “Dit was eers toe ek besef wat ek verloor het”, sê hy, “dat ek my tot Jehovah gewend het. Ek weet nou hoe koud en leeg die lewe sonder daardie verhouding kan wees.”
Moet egter nie wag tot ’n krisis jou tref voor jy nader aan God kom nie. Begin vandag reeds met hom praat—gereeld! (Lukas 11:9-13). “Stort julle hart uit voor sy aangesig!” (Psalm 62:9). Jy sal gou vind dat gebed jou werklik kan help!
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Sal God na my gebede luister?” in die Ontwaak! van 22 Junie 2001.
[Venster/Prente op bladsy 15]
Gebed kan jou help om
● beter besluite te neem
● gedurende spanningsvolle tye kalm te bly
● verligting van bekommernisse te vind
● nader aan God te kom