Waarom mense nie meer kans sien vir die lewe nie
“Die weg na selfmoord is in elke geval uniek: dit is uiters privaat, onmoontlik om te begryp en ontstellend.”—Kay Redfield Jamison, psigiater.
“OM TE lewe, is om te ly.” Dit is wat Rjoenosoeke Akoetagawa, ’n gewilde skrywer in 20ste-eeuse Japan, geskryf het kort voordat hy selfmoord gepleeg het. Hy het egter daardie stelling met die volgende woorde ingelei: “Ek wil natuurlik nie doodgaan nie, maar . . . ”
Soos Akoetagawa wil baie mense wat hulle lewe neem, nie werklik doodgaan nie, maar hulle wil “’n einde maak aan alles wat gebeur”, het een sielkundeprofessor gesê. Die woorde wat so dikwels in selfmoordbriefies gevind word, gee dit te kenne. Frases soos: ‘Ek kon dit nie langer verduur nie’, of: ‘Waarom moet ek nog langer leef?’ toon ’n sterk begeerte om die harde werklikhede van die lewe te ontvlug. Maar om selfmoord te pleeg, is “soos om ’n verkoue met ’n atoombom te dokter”, soos een deskundige dit beskryf het.
Hoewel mense om verskillende redes selfmoord pleeg, dra sekere gebeure in die lewe gewoonlik tot selfmoord by.
Aanleidende faktore
Dit is nie ongewoon vir jongmense wat moed opgee en selfmoord pleeg, om dit te doen weens dinge wat vir ander dalk na kleinighede lyk nie. Wanneer jongmense seergemaak voel en niks daaromtrent kan doen nie, beskou hulle moontlik hulle eie dood as ’n manier om diegene terug te betaal wat hulle seergemaak het. Hirosji Inamoera, ’n spesialis wat mense met selfmoordneigings in Japan behandel, het geskryf: “Kinders hoop om die persoon wat hulle seergemaak het, deur middel van hulle eie dood te straf.”
’n Onlangse opname in Brittanje het getoon dat dit byna sewe keer waarskynliker is dat kinders wat kwaai afgeknou word, selfmoord sal probeer pleeg. Die emosionele pyn wat hierdie kinders ondervind, is ’n werklikheid. ’n Dertienjarige seun wat homself opgehang het, het ’n briefie agtergelaat met die name van vyf kinders wat hom getreiter het en selfs geld van hom afgepers het. “Help asseblief ander kinders”, het hy geskryf.
Ander probeer dalk hulle lewe neem wanneer hulle by die skool in die moeilikheid beland of met die gereg bots, ’n liefdesteleurstelling het, ’n slegte skoolrapport kry of hulle oor die eksamen of die toekoms bekommer. Onder adolessente wat goed presteer en geneig is om perfeksioniste te wees, kan ’n terugslag of ’n mislukking—hetsy dit ’n werklikheid of net hulle verbeelding is—tot ’n selfmoordpoging aanleiding gee.
Onder volwassenes is finansiële of werkverwante probleme algemene oorsake van selfmoord. In Japan, ná jare van ekonomiese afswaai, was die selfmoordsyfer onlangs meer as 30 000 per jaar. Volgens die Mainichi Daily News het byna driekwart van die middeljarige mans wat hulleself om die lewe gebring het, dit gedoen “weens probleme as gevolg van skuld, mislukte sakeondernemings, armoede en werkloosheid”. Gesinsprobleme kan ook tot selfmoord aanleiding gee. ’n Koerant in Finland het berig: “Middeljarige mans wat onlangs geskei is”, is een van die hoërisikogroepe. ’n Studie in Hongarye het bevind dat die meeste meisies wat selfmoord oorweeg, in gebroke gesinne grootgeword het.
Aftrede en fisiese siekte speel ook ’n groot rol, veral onder die bejaardes. Pasiënte kies dikwels selfmoord as ’n uitweg, nie wanneer ’n siekte noodwendig terminaal is nie, maar wanneer die lyding as ondraaglik beskou word.
Nie almal reageer egter op hierdie aanleidende faktore deur selfmoord te pleeg nie. Inteendeel, wanneer hulle voor sulke beproewende situasies te staan kom, neem die meeste mense nie hulle lewe nie. Waarom beskou party mense dan selfmoord as die oplossing, terwyl die meeste nie so voel nie?
Onderliggende faktore
“’n Groot deel van die besluit om selfmoord te pleeg, hang af van jou beskouing van wat gebeur”, sê Kay Redfield Jamison, ’n professor in psigiatrie aan die Mediese Fakulteit van die Johns Hopkins-universiteit. Sy voeg by: “Die meeste gesonde verstande beskou geen gebeurtenis as so erg dat dit selfmoord regverdig nie.” Eve K. Mościcki, van die Amerikaanse Nasionale Instituut van Geestesgesondheid, sê dat baie faktore—waarvan party onderliggend van aard is—saamwerk om tot selfmoord aanleiding te gee. Sulke onderliggende faktore sluit in geestesiektes en verslawingsteurnisse, genetiese samestelling en ’n chemiese wanbalans in die brein. Kom ons kyk na ’n paar hiervan.
Die vernaamste van hierdie faktore is geestesiektes en verslawingsteurnisse, soos depressie, bipolêre gemoedsversteurings, skisofrenie en alkohol- of dwelmmisbruik. Navorsing in Europa sowel as die Verenigde State toon dat meer as 90 persent van geslaagde selfmoorde met sulke versteurings verband hou. Trouens, Sweedse navorsers het gevind dat die selfmoordsyfer onder mans wat glad nie aan sulke versteurings gely het nie 8,3 per 100 000 was, maar onder diegene met depressie het dit tot 650 per 100 000 gestyg! En deskundiges sê dat die faktore wat tot selfmoord aanleiding gee, soortgelyk is in Oosterse lande. Maar selfs wanneer depressie met hierdie faktore gepaardgaan, is selfmoord nie onvermydelik nie.
Professor Jamison, wat self eenkeer probeer selfmoord pleeg het, sê: “Dit lyk of mense depressie kan verduur solank daar hoop is dat dinge sal verbeter.” Sy het egter gevind dat die verstand se vermoë om selfmoordneigings te onderdruk, geleidelik verswak wanneer die toenemende wanhoop ondraaglik word. Sy vergelyk die situasie met die manier waarop die remskoene van ’n motor slyt weens aanhoudende wrywing.
Dit is lewensbelangrik om sulke neigings te herken omdat depressie behandel kan word. Gevoelens van hulpeloosheid kan te bowe gekom word. Wanneer die onderliggende faktore behandel word, reageer mense moontlik anders op die hartseer en spanning wat dikwels tot selfmoord aanleiding gee.
Party dink dat ’n mens se genetiese samestelling dalk ’n onderliggende faktor in baie selfmoorde kan wees. Gene speel weliswaar ’n rol wanneer ’n mens se temperament gevorm word, en studies toon dat daar in party families meer gevalle van selfmoord voorkom as in ander. Maar “’n genetiese vatbaarheid vir depressie impliseer geensins dat selfmoord onvermydelik is nie”, sê Jamison.
’n Chemiese wanbalans in die brein kan ook ’n onderliggende faktor wees. In die brein kommunikeer miljarde neurone deur middel van elektrochemiese impulse. By die vertakte punte van die senuvesels is klein gapings wat sinapse genoem word en waaroor neurotransmittors inligting chemies oordra. Dit is moontlik dat die vlak van een neurotransmittor, serotonien, ’n uitwerking het op ’n mens se biologiese geneigdheid tot selfmoord. Die boek Inside the Brain verduidelik: “’n Lae serotonienvlak . . . kan lewensgeluk laat verdwyn, ’n persoon se belangstelling in die lewe laat afneem en die risiko van depressie en selfmoord laat toeneem.”
Feit is egter dat niemand voorbestem is om selfmoord te pleeg nie. Miljoene mense lewe saam met hartseer en spanning. Dit is hoe die verstand en die hart op probleme reageer wat daartoe lei dat party hulle eie lewe neem. Dit is nie net die faktore wat direk tot selfmoord aanleiding kan gee wat behandel moet word nie, maar ook die onderliggende faktore.
Wat kan dus gedoen word om ’n positiewer gesindheid aan te kweek sodat ’n mens ’n mate van jou lewenslus kan terugkry?
[Venster op bladsy 6]
Geslag en selfmoord
Hoewel die kanse, volgens ’n studie in die Verenigde State, twee tot drie keer groter is dat vroue sal probeer selfmoord pleeg, is die kanse van sukses by mans vier keer groter. Vroue is ten minste twee keer meer geneig as mans om aan depressie te ly, wat moontlik die groter aantal selfmoordpogings verklaar. Maar hulle depressiewe toestand is moontlik minder intens, en gevolglik maak hulle dalk van minder radikale metodes gebruik. Daarenteen maak mans moontlik gebruik van aggressiewer metodes wat ’n groter sekerheid van sukses bied.
Maar in China slaag meer vroue as mans. Trouens, ’n studie toon dat sowat 56 persent van die wêreld se selfmoorde onder vroue veral in plattelandse gebiede in China plaasvind. Na bewering is een van die redes waarom impulsiewe selfmoordpogings onder vroue daar slaag die maklike toegang tot dodelike plaagdoders.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Selfmoord en eensaamheid
Eensaamheid is een van die faktore wat tot depressie en selfmoord aanleiding gee. Jouko Lönnqvist, wat aan die hoof van ’n studie oor selfmoorde in Finland was, het gesê: “Vir baie [van diegene wat selfmoord gepleeg het,] was hulle daaglikse lewe eensaam. Hulle het baie vrye tyd gehad, maar min sosiale interaksie.” Kensjiro Ohara, ’n psigiater by die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Hamamatsoe in Japan, het gesê dat “afsondering” die rede is vir die onlangse toename in selfmoorde onder middeljarige mans in daardie land.
[Prent op bladsy 5]
Onder volwassenes is finansiële of werkverwante probleme algemene oorsake van selfmoord