Jongmense vra . . .
Wat is daarmee verkeerd om iemand terug te kry?
“Hy het my beledig.”—Conneel, ’n 15-jarige, in die tronk weens moord.
Andrew, ’n 14-jarige, wat sy onderwyseres by ’n skooldans doodgemaak het, het gesê dat hy onderwysers en sy ouers haat en kwaad is vir meisies omdat hulle hom verwerp het.
DIE tydskrif Time noem dit “’n dodelike neiging”. ’n Ontstoke jeugdige smokkel ’n dodelike wapen by die skool in en begin op sy skoolmaats en onderwysers skiet. Dit het al begin lyk asof sulke tragiese voorvalle in die Verenigde State so algemeen geword het dat een TV-nuusnetwerk die neiging as “’n ontploffing in geweld beskryf het”.
Gelukkig is skietery by skole redelik seldsaam. En tog toon die onlangse misdade wat uit woede voortspruit, hoeveel opgekropte woede party jongmense het. Wat gee moontlik aanleiding tot hierdie uitbarstings? Sommige van hierdie jongmense het blykbaar woedend geword weens ’n onreg of omdat mense in gesagsposisies hulle mag misbruik het. Ander is klaarblyklik kwaad gemaak omdat hulle portuurs hulle aanhoudend geterg het. Een 12-jarige seun wat ’n klasmaat—en toe homself—geskiet het, is geterg omdat hy oorgewig was.
Dit is so dat die meeste jongmense heel moontlik nooit ernstig daaraan sal dink om sulke uiterste geweld te gebruik nie. Tog is dit nie maklik om gekrenkte en pynlike gevoelens te bowe te kom wat ontstaan as jy ’n slagoffer van rassisme, afknouery of wrede tergery is nie. Ben vertel van sy skooldae: “Ek was altyd korter as die meeste kinders van my ouderdom. En omdat my kop kaalgeskeer was, het die ander kinders my alewig geterg en my teen my kop geklap. Dit het my baie kwaad gemaak. Wat dit nog erger gemaak het, is dat mense in gesagsposisies my geïgnoreer het toe ek hulle om hulp gevra het. Dit het my nog kwater gemaak!” Ben sê verder: “Al wat my gekeer het om ’n vuurwapen te vat en daardie mense te skiet, was die feit dat ek nie een gehad het nie.”
Hoe moet jy jongmense beskou wat mense wat hulle leed aangedoen het, probeer terugkry? En wat moet jy doen as jy self die slagoffer van mishandeling word? Vir die antwoord hierop moet ons kyk wat God se Woord hieroor sê.
Selfbeheersing—’n Teken van krag!
Mishandeling en ongeregtigheid is niks nuuts nie. Een Bybelskrywer het hierdie raad gegee: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede; moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen” (Psalm 37:8, NW). Woede lei alte dikwels daartoe dat ’n mens jou selfbeheersing verloor en uiting daaraan gee sonder om die gevolge in ag te neem. As jy “driftig” raak, kan dit tot ’n woedeuitbarsting lei! Wat kan dit tot gevolg hê?
Dink aan die Bybelse voorbeeld van Kain en Abel. ‘Kain het baie kwaad geword’ vir sy broer Abel. As gevolg daarvan het Kain, “toe hulle in die veld was, . . . teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan” (Genesis 4:5, 8). Koning Saul is ’n ander voorbeeld van iemand wat nie sy woede kon beheers nie. Omdat hy jaloers was op die militêre prestasies van die jong man Dawid, het hy nie net vir Dawid nie, maar ook sy eie seun Jonatan met spiese gegooi!—1 Samuel 18:11; 19:10; 20:30-34.
Daar is weliswaar tye wanneer dit gepas is om kwaad te word. Maar selfs dan kan regverdige verontwaardiging slegte gevolge hê as dit nie beheers word nie. Byvoorbeeld, Simeon en Levi het beslis die reg gehad om kwaad te word vir Sigem toe hulle uitvind dat hy hulle suster Dina verkrag het. Maar pleks van kalm te bly, het hulle hulle broers opgesweep, soos gesien kan word in hulle latere woorde: “Behoort enigiemand ons suster soos ’n prostituut te behandel?” (Genesis 34:31, NW). En toe hulle op hulle kwaadste was, het hulle “elkeen sy swaard geneem en, sonder dat iemand iets vermoed het, na die stad gegaan en almal wat manlik is, doodgemaak” wat in Sigem se stad gewoon het. Hulle woede was aansteeklik, want “die ander seuns van Jakob” het ook aan hierdie moorddadige aanval deelgeneem (Genesis 34:25-27, NW). Jare later nog het Simeon en Levi se vader, Jakob, hulle onbeheerste toorn veroordeel.—Genesis 49:5-7.
Hieruit leer ons ’n belangrike les: Onbeheerste toorn is ’n teken van swakheid, nie van krag nie. Spreuke 16:32 sê: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem.”—Ons kursiveer.
Die dwaasheid van vergelding
Die Skrif gee dus hierdie raad: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Moet julle nie wreek nie” (Romeine 12:17, 19). Vergelding—of dit fisiese geweld of net harde woorde is—word nie deur God goedgekeur nie. Terselfdertyd is sulke wraak eenvoudig onprakties en onverstandig. Om maar een ding te noem, geweld lei gewoonlik tot meer geweld (Matteus 26:52). En harde woorde lok dikwels net meer harde woorde uit. Onthou ook dat toorn dikwels ongeregverdig is. Weet jy byvoorbeeld werklik of die persoon wat jou te na gekom het, kwade bedoelings gehad het? Was die persoon bloot onbedagsaam of ongeskik? En al het hy jou doelbewus seergemaak, regverdig die situasie dan werklik dat jy hom in gelyke munt terugbetaal?
Kyk byvoorbeeld na die Bybel se woorde in Prediker 7:21, 22: “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het.” Ja, dit is nie lekker as mense sleg van jou praat nie. Maar die Bybel erken dat dit nou maar eenmaal gebeur. Het jy nie dalk al iets van iemand anders gesê wat jy eerder nie moes gesê het nie? Waarom moet jy dan oorreageer as iemand iets leliks van jou sê? Die beste manier om tergery te hanteer, is dikwels om dit bloot te ignoreer.
Dit is ook onverstandig om te oorreageer wanneer jy voel dat jy nie reg behandel is nie. ’n Tiener met die naam David vertel wat gebeur het toe hy en ’n paar mede-Christene basketbal gespeel het. “Iemand van die ander span het my met die bal raakgegooi”, sê David. Omdat hy dadelik gedink het dat hy dit moedswillig gedoen het, wou David die ander speler terugkry en het hy die bal met mening na hom teruggegooi. “Ek was smoorkwaad”, erken David. Maar voordat sake vererger het, het David tot Jehovah gebid. Hy het vir homself gesê: ‘Wat doen ek; wil ek nou met ’n Christenbroer baklei?’ Later het hulle mekaar om verskoning gevra.
In sulke gevalle is dit goed om die voorbeeld van Jesus Christus te onthou. “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie” (1 Petrus 2:23). Ja, wanneer jy onder druk verkeer, moet jy nie onbeheers reageer nie, maar tot God bid en vra dat hy jou help om nie jou selfbeheersing te verloor nie. Hy sal mildelik “heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Lukas 11:13). Pleks van iemand te probeer terugkry wanneer hy jou te na gekom het, sal dit beter wees as jy na daardie persoon toe gaan en julle daaroor praat (Matteus 5:23, 24). Of as jy die slagoffer van aanhoudende afknouery is, miskien deur ’n boelie by die skool, moet jy nie by ’n lelike konfrontasie betrokke raak nie. Jy moet eerder praktiese stappe doen om jouself te beskerm.a
’n Jong persoon wat woede laat staan het
Baie jongmense het hierdie Bybelbeginsels toegepas en goeie resultate behaal. Catrina is byvoorbeeld op ’n vroeë ouderdom aangeneem. Sy sê: “Ek het ’n probleem met my humeur gehad, want ek het nie verstaan waarom my eie ma my weggegee het nie. Daarom het ek dit op my pleegma uitgehaal. Om die een of ander rede het ek gevoel dat ek eintlik my eie ma terugkry as ek my pleegma seermaak. Ek het dus alles gedoen—haar beledig, my voete gestamp en te kere gegaan. Ek het veral daarvan gehou om deure toe te slaan. Ek het gewoonlik ook gesê: ‘Ek haat jou!’—net omdat ek so kwaad was. As ek nou terugkyk, kan ek nie glo dat ek hierdie dinge gedoen het nie.”
Wat het Catrina gehelp om haar toorn te beheers? Sy antwoord: “Deur die Bybel te lees! Dit is baie belangrik, want Jehovah weet hoe ons voel.” Catrina het ook vertroosting gevind wanneer sy en haar gesin artikels in die Ontwaak! gelees het wat oor haar spesifieke gesinsituasie gehandel het.b “Ons almal kon saam gaan sit en mekaar se gevoelens verstaan”, sê sy.
Jy kan ook leer om jou woede te beheers. Wanneer jy geterg, afgeknou of sleg behandel word, moet jy die woorde van die Bybel in Psalm 4:4 (NW) onthou: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie.” Hierdie woorde kan jou help sodat jy nie voor vernietigende woede swig nie.
[Voetnote]
a Sien die “Jongmense vra . . . ”-artikels wat in 8 Junie 1984; 22 Augustus 1985 en 8 Augustus 1989 in die Ontwaak! verskyn het, vir praktiese raad oor wat jy kan doen omtrent onregverdige onderwysers en kinders wat jou by die skool afknou of treiter.
b Sien die reeks met die titel “Aanneming—die vreugdes, die uitdagings” wat in die Ontwaak! van 8 Mei 1996 verskyn het.
[Prent op bladsy 15]
Die beste manier om tergery te hanteer, is dikwels om dit bloot te ignoreer