Is daar ’n oplossing?
WAT moet ’n mens doen met iets wat jy nie wil hê nie? “Gooi dit weg” klink na ’n eenvoudige, voor die hand liggende antwoord. Maar dit is nie altyd so eenvoudig om van afval ontslae te raak nie. Waar moet dit gegooi word? ’n Italiaanse omgewingsorganisasie skat dat ’n glasbottel wat in die see gegooi word, 1 000 jaar sal neem om te vergaan. In teenstelling hiermee sal sneesdoekies binne net drie maande vergaan. ’n Sigaretstompie besoedel die see tot 5 jaar lank; plastieksakke, 10 tot 20 jaar; nylonartikels, 30 tot 40 jaar; blikkies, 500 jaar; en polistireen, 1 000 jaar.
Sulke vullis het geweldig toegeneem. Deesdae het die handelswêreld baie om te verkoop, en die advertensiewese wil hê ons moet glo dat ons dit alles nodig het. Die Britse koerant The Guardian sê onomwonde: “Adverteerders help ons om behoeftes te bevredig wat ons nooit geweet het ons het nie.” Ja, ons word in die versoeking gebring om die nuutste op die mark te koop sodat ons nie miskien iets nuuts misloop nie. En in advertensietaal beteken “nuut” natuurlik “beter en van hoër gehalte”, terwyl “oud” “van laer gehalte en verouderd” beteken.
Daarom word ons dikwels aangespoor om eerder iets nuuts te koop as om iets ouds te herstel. Daar word aangevoer dat dit praktieser en goedkoper is om ou goed te vervang as om dit te herstel. Soms is dit waar. Maar dit is dikwels duur en onnodig om ou goed weg te gooi en dit met nuwes te vervang.
Baie hedendaagse goedere is bedoel om weggegooi te word. Dit is dalk moeilik om te herstel—iets wat ’n mens in gedagte moet hou wanneer jy ’n artikel koop. ’n Duitse verbruikerstydskrif het gesê: “Die lewensduur van verskillende goedere word voortdurend al hoe korter. Wat gister ‘die mode’ was, is vandag ‘uit die mode’ en word dikwels op die ashoop gegooi. Daar is dus elke dag nuttige grondstowwe wat nuttelose vullis word!”
Bevoordeel hierdie eindelose gekoop werklik die verbruiker? Eintlik word sakeondernemings wat daarop uit is om geld te maak, daardeur bevoordeel. Die Switserse weekblad Die Weltwoche sê: “’n Ekonomiese ineenstorting sou onafwendbaar wees as elkeen sy meubels en sy voertuig lewenslank sou gebruik, of selfs twee keer so lank as wat hy dit nou gebruik.” ’n Ekonomiese ineenstorting is beslis nie die antwoord nie, aangesien dit ook verbruikers hulle werk sal laat verloor. Wat is dan van die oplossings vir die oormaat vullis?
Gooi weg, herbenut of verminder?
Party nywerheidslande kies die maklikste uitweg deur eenvoudig hulle afvalstowwe in ontwikkelende lande te stort. ’n Verslag toon byvoorbeeld dat daar “by een welbekende stortplek in Nigerië gevind is dat 3 500 ton giftige chemikalieë uit meer as 8 000 verroeste dromme gelek het en die grond sowel as die grondwater vergiftig het”. Hierdie metode om van afval ontslae te raak, is klaarblyklik nie ’n praktiese oplossing of ’n bewonderenswaardige manier om ander mense te behandel nie.
Wat van die herwinning van artikels wat mense nie meer wil hê nie sodat dit weer gebruik kan word en nie net weggegooi word nie? Sulke programme vereis natuurlik dat verbruikers hulle vullis in verskillende kategorieë verdeel, iets wat reeds op party plekke deur die wet vereis word. Amptenare vra dalk dat vullis in kategorieë soos papier, karton, metaal, glas en organiese afvalstowwe ingedeel word. Glas moet moontlik ook volgens kleur gesorteer word.
Herwinning het besliste voordele. Die boek 5000 Days to Save the Planet sê dat die herwinning van aluminium “geweldig baie energie spaar” en “omgewingskade weens strookmynbou vir die ontginning van aluminiumerts [kan] verminder”. Die boek sê verder: “Vir dieselfde hoeveelheid papier wat vervaardig word, gebruik herwinning net die helfte van die energie en ’n tiende van die water. . . . Baie afvalprodukte kan herwin en weer gebruik word. . . . Selfs waar nywerhede hulle eie afvalstowwe nie weer kan gebruik nie, kan hulle dit soms vir ander se gebruik herwin . . . In Holland is daar al sedert die vroeë 1970’s ’n suksesvolle afvaluitruilnetwerk.”
Ander owerhede lê eerder meer klem op die voorkoming van afval in die eerste plek as om na maniere te soek om van vullis ontslae te raak. Die bogenoemde boek waarsku dat “optrede dringend nodig is” as die mensdom wil “wegbeweeg van ’n weggooi-ekonomie . . . na ’n bewaringsgemeenskap wat afvalstowwe tot ’n minimum beperk en minder hulpbronne verbruik”.
Maar diegene wat wil “wegbeweeg van ’n weggooi-ekonomie”, sal bereid moet wees om die goedere wat hulle koop, so lank moontlik te gebruik en dit net weg te gooi wanneer dit onherstelbaar is. Artikels wat mense nie meer wil hê nie, maar wat nog bruikbaar is, moet vir ander gegee word wat dit sal gebruik. Volgens die kantoor van die Duitse Öko-Institut (Instituut vir Toegepaste Ekologie) in Darmstadt sal ’n huisgesin wat deurgaans bly by die beginsel “Gebruik en moenie verbruik nie”, 75 persent minder vullis as die gemiddelde huisgesin hê.
Maar sal genoeg huisgesinne by hierdie beginsels bly? Dit lyk onwaarskynlik. Die mensdom se vullisprobleem is net ’n simptoom van groter kwessies. In vandag se weggooigemeenskap het al hoe meer mense wat ons ’n weggooimentaliteit kan noem. Kom ons ondersoek hierdie gesindheid—en ’n paar van die uiterstes waartoe dit kan lei.
Die gevare van ’n weggooimentaliteit
’n Weggooimentaliteit kan maklik verder gaan as geringe vermorsing. Dit kan maak dat mense niks waardeer nie en onbedagsaam is, sodat hulle groot hoeveelhede onaangeraakte kos en ander hulpbronne ongeërg vermors. Diegene wat egosentries is en deur giere en onbeduidende voorkeure beïnvloed word, sal dalk voortdurend genoodsaak voel om goeie klere, meubels en ander artikels met nuwes te vervang.
Maar die weggooimentaliteit kan meer as net dinge behels. ’n Duitse projek wat op die benutting van weggegooide huishoudelike goedere toegespits is, het onlangs gesê: “Soos ons die sitkamerstel behandel, wat ná vyf jaar nie meer vir ons mooi is nie en dus weggegooi en deur ’n nuwe vervang word, behandel ons ook mense. Die vraag is hoe lank ons samelewing dit kan duld.” Die verslag verduidelik: “Sodra iemand se werkverrigting nie meer 100 persent is nie, word hy vervang. Daar is mos baie werkers beskikbaar!”
In sy boek Earth in the Balance het die voormalige Amerikaanse visepresident Al Gore die gepaste vraag gevra: “As ons die dinge wat ons gebruik, as weggooibaar begin beskou, het ons dan eweneens ons beskouing van ons medemens verander? . . . Het ons algaande waardering vir die uniekheid van elkeen verloor?”
Vir mense wat waardering en respek vir ander verloor, sal dit waarskynlik makliker—en minder afkeurenswaardig—wees om vriende of huweliksmaats te verstoot. Die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung lewer kommentaar oor hierdie denkwyse en sê: “Ons koop twee keer per jaar nuwe klere, elke vier jaar ’n nuwe motor en elke tien jaar ’n nuwe sitkamerstel; ons soek elke jaar ’n nuwe vakansieplek; ons verander van blyplek, beroep, onderneming—waarom dan nie van huweliksmaat nie?”
Dit lyk of party mense vandag bereid is om feitlik enigiets weg te gooi wanneer dit ’n las word. Gedurende 1999 is ’n geraamde 100 000 katte en 96 000 honde byvoorbeeld in een Europese land deur hulle eienaars weggegooi. ’n Diereaktivis daar sê dat haar landgenote dit “nie as ’n langtermynverpligting beskou om ’n troeteldier te hê nie. Hulle sal in September ’n jong hondjie koop en dit [’n jaar later wanneer hulle met vakansie gaan] in Augustus weggooi.” Nog erger, die weggooimentaliteit raak selfs menselewe.
’n Gebrek aan respek vir lewe
Baie mense dink vandag blykbaar dat hulle eie lewe baie min werd is. Hoe so? ’n Europese tydskrif het byvoorbeeld onlangs gesê dat jongmense in onlangse jare al hoe waaghalsiger geword het. Dit kan gesien word in die feit dat hulle gewilliger is om aan waaghalssport deel te neem. Hulle is bereid om hulle lewe ter wille van ’n paar oomblikke van opwinding op die spel te plaas! Winsbehepte sakemanne is gretig om hierdie neiging uit te buit. ’n Duitse politikus het gesê dat organiseerders van waaghalssport “dikwels meen dat geldmakery belangriker as mense se gesondheid en lewe is”.
En wat van ongebore menselewens wat weggegooi word? Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat “daar jaarliks ongeveer 75 miljoen kinders wêreldwyd verwek word wat niemand eintlik wil hê nie. Vir baie vroue is aborsie die enigste oplossing.” Selfs ná geboorte verkeer babas in gevaar. Volgens die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo “word al hoe meer babas op straat weggegooi”. Is dit ook in julle omgewing die geval?
Oral om ons in vandag se wêreld sien ons bewyse dat menselewe dikwels beskou word as goedkoop, waardeloos, iets wat sommerso weggegooi kan word. Ons sien hierdie neiging in die geweld van gewilde vermaak, met “helde” wat in een rolprent of TV-program ’n klomp “misdadigers” doodmaak. Ons sien dit in die voortgesette vlae van geweldsmisdade wat oor die hele aarde voorkom, met diewe wat hulle slagoffers net vir ’n paar sente doodmaak—of om hoegenaamd geen rede nie. En ons sien dit in die nuus in die weersinwekkende berigte van terreurdade, etniese suiwerings en openlike volksmoorde, wat alles die hardvogtige, grootskaalse slagting van mense behels—kosbare lewens wat soos vullis weggegooi word.
Ons kan moontlik nie anders as om in ’n weggooigemeenskap te lewe nie, maar ons kan ’n weggooimentaliteit vermy. Die volgende artikel sal bespreek wat ons kan help om die probleme van vandag se weggooigemeenskap die hoof te bied, sowel as die ongewenste gesindhede wat daarmee gepaardgaan.
[Prent op bladsy 6]
Op baie plekke is herwinning verpligtend
[Prente op bladsy 7]
Laat veranderende giere jou genoodsaak voel om goeie klere weg te gooi en nuwes te koop?
[Prent op bladsy 8]
Ongebore kinders moet gekoester word, nie weggegooi word nie
[Erkenning]
Index Stock Photography Inc./BSIP Agency
[Prent op bladsy 8]
Die lewe is te kosbaar om dit ter wille van opwinding op die spel te plaas