Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 2/8 bl. 5-8
  • Waarom ’n groeiende probleem?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ’n groeiende probleem?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Armoede en kinderprostitusie
  • ’n Einde aan kinderprostitusie?
  • “’n Barbaarse misdaad”
    Ontwaak!—2003
  • “Ek sal ’n einde aan jou prostitusie maak”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Diskriminasie teen die vroulike geslag
    Ontwaak!—1998
  • Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 2/8 bl. 5-8

Waarom ’n groeiende probleem?

HET jy geweet dat mensehandel die wêreld se derde grootste kriminele aktiwiteit is en slegs deur die handel in dwelms en wapens oortref word? Volgens die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur is daar ’n konstante toename in alle vorme van prostitusie.

In een Latyns-Amerikaanse land het ’n Parlementêre Kommissie van Ondersoek berig dat meer as 500 000 meisies as kinderprostitute werk, al is prostitusie onwettig.

In ’n ander land is daar omtrent 300 000 kinderprostitute op die strate, veral in gebiede waar daar met dwelms handel gedryf word.

In Asiatiese lande word ongeveer ’n miljoen jong meisies na berig as prostitute gebruik onder omstandighede waarin hulle soos slawe behandel word. Party lande het die reputasie dat hulle mekkas vir kinderprostitusie en sekstoerisme is.

Weens die hoë voorkomssyfer van seksueel oordraagbare siektes, soos vigs, is kliënte bereid om baie meer vir kinders te betaal wat hulle dink maagde is en dus waarskynlik nie besmet is nie. “Weens die vrees vir vigs soek mans meisies en seuns wat al hoe jonger is, en dit vererger die probleem selfs verder”, verduidelik Luíza Nagib Eluf van Brasilië se Departement van Justisie. Sy het gesê: “Die seksuele uitbuiting van meisies en tieners is die ernstigste maatskaplike probleem onder arm vroue in Brasilië.”

Armoede en kinderprostitusie

Kinderprostitusie floreer in ’n omgewing waar mense in ellende en armoede lewe. Volgens een staatsamptenaar hou die uitbuiting van kinders en kinderprostitusie in haar land “beslis verband met die verbrokkeling van die gesin en is dit die gevolge van ellende en honger”. Party ouers beweer dat armoede hulle verplig het om hulle kinders as prostitute te verkoop. Straatkinders word prostitute omdat hulle dit as die enigste manier sien om aan die lewe te bly.

Die koerant O Estado de S. Paulo verduidelik dat ’n meisie moontlik ’n prostituut sal word as sy by ’n straatbende aansluit. Om iets te ete te kry, sal sy dalk steel en net soms haar liggaam verkoop. Daarna word sy ’n professionele prostituut.

Soms word tieners na ander lande gestuur om as prostitute te werk. “Die bedrae geld wat prostitute aan hulle gesinne in hulle tuisland terugstuur, is baie groot as ’n mens die armoede in party Asiatiese en Afrikalande in ag neem”, berig UNESCO Sources. “Prostitusie in hierdie lande word ook bevorder omdat toeriste van ryk lande spesifiek kom om gebruik te maak van die ‘dienste’ van jongmense en kinders.”

Die tydskrif Time beskryf die gevare waaraan straatkinders wat prostitute is, in ’n Latyns-Amerikaanse stad blootgestel word en sê: “Party van die prostitute is net 12 jaar oud. Hierdie kinders, wat dikwels uit gebroke gesinne kom, slaap gedurende die dag waar hulle ook al ’n plekkie kan kry en gaan snags na die disko’s toe waar die matrose uithang.”

Onder die invloed van dwelms kan ’n kinderprostituut aan vernederende behandeling onderwerp word waartoe sy nie normaalweg sou instem nie. Volgens die tydskrif Veja het die polisie byvoorbeeld 92 video-opnames gevind wat ’n dokter gemaak het van barbaarse martelsessies van meer as 50 vroue, waarvan party minderjarig was.

Ondanks hierdie grusame werklikheid het ’n jong prostituut gesê: “As ek werk soek, sal ek nie genoeg kan verdien om aan die lewe te bly nie omdat ek nie enige opleiding het nie. My gesin weet presies wat ek doen, en ek wil nie hierdie lewenswyse laat vaar nie. Dit is my liggaam, en ek doen daarmee wat ek wil.”

Prostitusie was nooit hierdie meisies se doel in die lewe nie. Volgens ’n maatskaplike werker ‘wil talle jong prostitute trou’ en droom hulle van ’n “ridder op ’n wit perd”. Hoewel daar komplekse situasies is wat daartoe lei dat hulle prostitute word, beweer een navorser: “Die skokkendste feit is dat die meeste in hulle eie huis verkrag is.”

’n Einde aan kinderprostitusie?

Maar daar is hoop vir hierdie arme kinders. Prostitute van alle ouderdomme het al hulle lewenswyse verander. (Sien die venster “Mense kan verander” op bladsy 7.) God se Woord, die Bybel, het wêreldwyd miljoene mense gehelp om goeie bure en getroue gesinslede te word. Dit sê die volgende oor mense wat voorheen hoereerders, egbrekers, diewe, gierigaards en dronkaards was: “Dit [is] wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:9-11.

Vandag, soos in Bybeltye, is daar mense wat hulle lewe ten goede verander. Maar meer is nodig om die vloed van seksuele uitbuiting te stuit. Party regerings en ander organisasies voer ’n stryd teen sekstoerisme en kinderprostitusie. Maar realisties gesproke is daar min wat mense kan doen om ellende en armoede te beëindig. Wetgewers kan nie die gedagtes en gesindhede verander waaruit onsedelikheid voortspruit nie.

Maar mense sal nie al hierdie probleme kan oplos nie; daar is net een oplossing—God se Koninkryk. Die volgende artikel sal verder verduidelik.

[Lokteks op bladsy 6]

Armoede dra dikwels by tot kinderprostitusie

[Venster op bladsy 6]

’n Hoë prys

Daisy was net ses jaar oud toe een van haar broers haar seksueel gemolesteer het. Gevolglik het sy by haar ouer broer gebly totdat sy op 14-jarige ouderdom in ’n nagklub begin werk het. Ná ’n paar dae het Daisy siek geword. Toe sy herstel het, het die eienaars van die nagklub gesê dat sy hulle geld skuld, sodat sy genoodsaak was om ’n prostituut te word. Ná omtrent ’n jaar was sy nog steeds in die skuld, en dit het gelyk asof sy dit nooit sou kon afbetaal nie. Maar ’n matroos het die res van haar skuld betaal en haar na ’n ander stad geneem waar hy haar soos ’n slaaf behandel het. Sy het hom verlaat en later drie jaar lank saam met ’n ander man gewoon, waarna hulle getrou het. As gevolg van ernstige huweliksprobleme het sy drie keer selfmoord probeer pleeg.

Uiteindelik het sy en haar man die Bybel begin studeer. Maar Daisy het gevoel dat sy nie waardig is om een van Jehovah se Getuies te word nie. Toe sy uit die Bybel gewys is dat Jehovah God mense aanvaar wat die nodige veranderinge aanbring, het sy haar lewe aan hom toegewy. Daisy het baie hard probeer om te doen wat reg is, maar het nie gevoel dat sy genoeg doen nie en het dus by tye depressief geraak. Maar gelukkig het sy hulp aanvaar om die traumas wat veroorsaak is deur seksuele mishandeling en haar lewe as ’n kinderprostituut, te bowe te kom en om emosionele ewewig te vind en te behou.

[Venster op bladsy 7]

Mense kan verander

Toe Jesus Christus op aarde was, het hy innig jammer vir die geteisterde, sondige mense gevoel. Hy het geweet dat prostitute, ongeag hulle ouderdom, hulle lewenswyse kan verander. Jesus het selfs vir die godsdiensleiers gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle dat die belastinggaarders en die hoere voor julle in die koninkryk van God ingaan” (Matteus 21:31). Hoewel daar op hulle neergesien is weens hulle lewenswyse het sulke regskapenes vergifnis ontvang as gevolg van hulle geloof in die Seun van God. Berouvolle sondaars was bereid om hulle lewenswyse van prostitusie te laat vaar om die seëninge van God se Koninkryk te ontvang. Daarna het hulle in harmonie met God se regverdige standaarde gelewe. Vandag aanvaar alle soorte mense die waarheid van God se Woord en verander hulle hulle lewenswyse.

Neem byvoorbeeld wat gebeur het met Maria, Carina en Estela, wat in die eerste artikel genoem is. Benewens die feit dat Maria se ma druk op haar uitgeoefen het om voort te gaan as ’n prostituut, moes sy ook hard stry teen haar dwelmgewoonte. Sy verduidelik: “Ek het dwelms gebruik om my gevoelens van waardeloosheid te onderdruk omdat ek ’n lewe van prostitusie gelei het.” Maria vertel hoe sy deur die Christengemeente van Jehovah se Getuies ontvang is: “Ek is beïndruk deur die liefde wat die gemeentelede aan my betoon het. Almal—kinders en volwassenes—het my met respek behandel. Ek het opgemerk dat die getroude mans getrou aan hulle vrouens is. Ek is baie bly omdat hulle my as hulle vriend aanvaar.”

Toe Carina 17 jaar oud was, het Jehovah se Getuies haar besoek. Sy het die Bybel begin studeer, hoewel sy nog ’n tyd lank as ’n prostituut gewerk het. Met verloop van tyd het sy waardering vir Bybelwaarhede begin opbou. Sy het dus besluit om na ’n stad ver daarvandaan te verhuis, waar sy een van Jehovah se Getuies geword het.

Estela, wat vroeg in haar lewe by prostitusie, swelgerye en strawwe drinkery betrokke geraak het, het in die Bybel begin belangstel. Sy het egter nie gedink dat God haar ooit sou vergewe nie. Maar mettertyd het sy tot die besef gekom dat Jehovah God wel dié wat berou het, vergewe. Estela, wat nou ’n lid van die Christengemeente en ook getroud met drie kinders is, sê: “Ek is baie bly en dankbaar teenoor Jehovah dat hy my uit die modder uitgehelp het en my in sy rein organisasie aanvaar het.”

Hierdie ondervindinge bevestig wat die Bybel sê, naamlik dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4.

[Prent op bladsy 7]

Kinderprostitute is dikwels dwelmgebruikers

[Foto-erkenning op bladsy 5]

© Jan Banning/Panos Pictures, 1997

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel