Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 2/8 bl. 18-20
  • Die Selfoon—Vriend of vyand?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Selfoon—Vriend of vyand?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Goudmyn
  • Nuwe taal geskep
  • Sommige negatiewe aspekte
  • Selfone en kanker
  • Selfoon-“verslawing”
    Ontwaak!—2003
  • Het ek ’n selfoon nodig?
    Ontwaak!—2002
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Die skielike groei in tegnologie
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 2/8 bl. 18-20

Die Selfoon—Vriend of vyand?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

’N PAAR jaar gelede was selfone nie so klein soos vandag nie. Dit was slegs draagbaar as jy baie sterk was of dit in jou motor laat installeer het, aangesien die batterye baie swaar was. Hierdie telefone was groter as skoendose en het duisende rande gekos.

Vandag is daar sowat 1,35 miljard selfone. In sommige lande besit meer as die helfte van die bevolking ’n selfoon. Die meeste van hulle pas in jou handpalm, en soms word hulle selfs gratis voorsien.a Die Australiese tydskrif The Bulletin berig: “Daar is byna net soveel van hierdie toestelle as TV-stelle en persoonlike rekenaars saam.” In meer as 20 lande is daar nou meer selfone as landlyntelefone. Volgens een bedryfsdeskundige is selfone nie net ’n tegnologiese wonder nie, maar “’n sosiale verskynsel”.

Watter uitwerking het die selfoon op die samelewing? Is dit ’n vriend of ’n vyand?

’n Goudmyn

Die florerende selfoonbedryf is ’n goudmyn vir talle besighede. Een groot firma het gesê: “Die selfoonbedryf is die grootste verbruikersegment in die elektronikamark tot nog toe.” Met ander woorde, meer geld word tans op selfone gespandeer as op enige ander elektroniese toestel in die verlede.

Byvoorbeeld, in Australië besit meer as 15 miljoen van die 20 miljoen bewoners ’n selfoon. Die kliënte van slegs een van die baie telefoonmaatskappye in daardie land het 7,5 miljard selfoonoproepe in ’n onlangse jaar gemaak. Wêreldwyd bring selfone miljarde rande per jaar vir telekommunikasiemaatskappye in. Dit is maklik om te verstaan waarom groot maatskappye die selfoon as ’n vriend beskou.

Nuwe taal geskep

Baie van die miljoene boodskappe wat tussen hierdie hipertegnologiese toestelle gestuur word, is nie in die vorm van die gesproke woord nie, maar in die vorm van die geskrewe woord. Al hoe meer selfoongebruikers—veral jongmense—praat nie oor die selfoon nie, maar gebruik eerder ’n fasiliteit wat die Teksboodskapdiens (Short Message Service of kortweg SMS) genoem word. Hierdie diens, wat betreklik goedkoop is, stel hulle in staat om kort boodskappe te tik en aan mekaar te stuur. Omdat hierdie manier van kommunikasie vereis dat ’n mens ’n boodskap op die selfoon se klein toetsbord tik, gebruik diegene wat baie SMS-boodskappe stuur, verkorte woorde wat letters en syfers kombineer om woordklanke te vorm. Al is dit baie meer moeite om ’n boodskap beknop te formuleer en te tik as om met die ander persoon te praat, word daar wêreldwyd sowat 30 miljard boodskappe elke maand gestuur.

Waaroor gaan al hierdie boodskappe? ’n Britse studie het aan die lig gebring dat 42 persent van jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 24 SMS’e gebruik om te flankeer, 20 persent hierdie modieuse vorm van kommunikasie gebruik om afsprake te reël en 13 persent SMS’e gebruik om verhoudings te beëindig.

Party sosiale kommentators is bekommerd dat die verkeerde spelling en sintaksis wat in SMS-boodskappe gebruik word, die letterkundige vaardighede van jongmense benadeel. Ander stem nie saam nie en sê dat die SMS-verskynsel “die skryfkuns in ’n nuwe geslag laat herleef”. ’n Woordvoerder vir ’n maatskappy wat ’n Australiese woordeboek publiseer, het vir die koerant Sun-Herald gesê: “Dit gebeur nie dikwels dat ons die geleentheid het om ’n heel nuwe [taalstyl] te ontwikkel nie . . . die kombinasie van teksboodskappe [SMS’e] en die internet beteken dat jongmense baie meer skryf. [Hulle] moet oor die nodige vlotheid en woordvaardigheid beskik om die styl op te tel en die modewoorde en kode . . . van die genre te bemeester.”

Sommige negatiewe aspekte

Hoewel selfone ’n nuttige hulpmiddel vir sosiale sowel as sakebedrywighede is, kan hierdie toestelle vir baie werknemers meer soos ’n hindernis as ’n hulp wees—dit laat hulle voel asof hulle aan die kantoor vasgeketting is. In een opname is gevind dat 80 persent van werknemers van reklamemaatskappye en 60 persent van konstruksiewerkers voel dat hulle te alle tye vir hulle werkgewers of vir kliënte beskikbaar moet wees. Omdat mense voel dat hulle ’n selfoonoproep moet beantwoord ongeag waar hulle is of waarmee hulle besig is, skep dit volgens een navorser ’n “kultuur van onderbrekings”. In reaksie hierop het ingenieurs met ’n boumateriaal vorendag gekom wat in restaurante en teaters gebruik kan word om selfoonseine te blok.—Sien die venster “Wenke vir selfoongebruikers”.

Hierdie toestelle wat so algemeen geword het, skep meer as net irriterende onderbrekings; dit het die potensiaal om ’n vyand te word. Volgens ’n Kanadese studie is dit net so gevaarlik om ’n selfoon te gebruik terwyl jy bestuur as om te bestuur wanneer jy onder die invloed van alkohol is. Professor Mark Stevenson, van die Universiteit van Wes-Australië se Navorsingsentrum vir Beserings, verduidelik dat dit aansienlik moeiliker is om ’n gesprek oor ’n telefoon te voer as om net ’n gesprek met iemand in die motor te hê. Ondanks die gevare en die feit dat die polisie in sommige plekke oortreders kan beboet, is daar in ’n onlangse opname gevind dat 1 uit 5 Australiese bestuurders SMS-boodskappe gestuur het en een derde oproepe gemaak of ontvang het terwyl hulle bestuur het.

Die ongepaste gebruik van selfone hou ook gevaar in wanneer ’n mens in ’n vliegtuig is. Hoewel die bedrading in nuwer vliegtuie afgeskerm is sodat selfoonseine geen uitwerking daarop het nie, is dit blykbaar nie die geval met alle vliegtuie wat nog in diens is nie. New Scientist berig: “Tydens toetse aan boord van twee vliegtuie het Brittanje se Burgerlike Lugvaartowerheid [CAA] bevestig dat selfoonbestraling die werking belemmer van elektroniese toerusting wat onontbeerlik is vir die veiligheid van die vliegtuig.” ’n Woordvoerder van die CAA het een van die groot gevare geïdentifiseer wat selfone inhou en gesê: “’n Selfoon stuur ’n sterker sein uit hoe verder dit van ’n basisstasie is. Namate ’n vliegtuig klim, neem die sterkte van die selfoonsein dus toe, en dit verhoog die steuringsvlak op ’n kritieke tyd in ’n vlug.” Volgens ’n Australiese studie het persoonlike elektroniese toestelle, insluitende selfone, daartoe gelei dat ’n aantal kommersiële vliegtuie probleme tydens vlugte ondervind het omdat passasiers die waarskuwings geïgnoreer het om die toestelle af te skakel terwyl hulle aan boord is.

Selfone en kanker

’n Voortslepende geskil in verband met selfone is of radiofrekwensies wat deur selfone en basisstasies uitgestraal word, kanker in mense kan veroorsaak. Omdat honderdmiljoene mense hierdie toestelle gebruik, sal dit ’n groot gesondheidsrisiko laat ontstaan as net ’n klein persentasie van hulle gesondheidsprobleme sou ontwikkel. Daarom is tientalle deeglike wetenskaplike studies gedoen om die uitwerking van selfoonbestraling op lewende weefsel te ondersoek. Watter gevolgtrekkings is bereik?

Die Onafhanklike Kennergroep vir Selfoonaangeleenthede (IEGMP) het ’n verslag gepubliseer wat sê: “Op grond van die bewyse wat tans beskikbaar is, meen die Kennergroep dat die algemene publiek nie oor die gebruik van selfone bekommerd hoef te wees nie.” New Scientist het ook berig: “Ondanks bangmaakstories in onlangse jare dui die meeste bewyse tot nou toe aan dat blootstelling aan selfoonradiofrekwensie-uitstraling nie ’n nadelige uitwerking op mense se gesondheid het nie. Dit was egter moeilik om studies wat wel ’n nadelige uitwerking getoon het, met dieselfde resultaat te herhaal.”

Omdat daar nog steeds twyfel bestaan oor die uitwerking wat selfone op mense se gesondheid kan hê, word miljoene rande aan verdere navorsing gespandeer. Totdat ’n definitiewe antwoord gevind word, stel die IEGMP die volgende voor: “Beperk die gebruik van [selfone] tot die kortste tyd moontlik. Gebruik selfone met ’n lae spesifieke energieabsorpsietempo (SAR). Gebruik ’n handvrye stelsel en ander toestelle wat SAR verminder.” Die Kennergroep stel ook voor dat “kinders jonger as sestien daarvan afgeraai moet word om selfone te gebruik”, omdat kinders se ontwikkelende senustelsel hulle “vatbaarder vir enige onbekende gesondheidsgevare” sal maak.

Hoewel geskille oor die selfoon hardnekkig voortduur, het dit ’n verreikende impak op ekonomiese sowel as sosiale gebied. Soos in die geval van ander elektroniese toestelle—die TV en die persoonlike rekenaar—het die selfoon die potensiaal om ’n nuttige slaaf of ’n veeleisende meester te wees. Die besluit of dit ’n vriend of vyand gaan word, is letterlik in die hande van die gebruiker.

[Voetnoot]

a Selfone word soms gratis voorsien aan diegene wat ’n kontrak met die diensverskaffer teken om oor ’n vasgestelde tydperk ’n sekere hoeveelheid aan oproepe te spandeer.

[Venster/Prent op bladsy 19]

WENKE VIR SELFOONGEBRUIKERS

 1. Praat sagter wanneer jy jou selfoon in ’n openbare plek gebruik. Die mikrofoon op die selfoon is baie sensitief, en diegene om jou stel heel waarskynlik nie in jou privaat gesprek belang nie.

 2. Sit jou selfoon af of sit die vibreerfunksie aan wanneer jy by ’n godsdienstige byeenkoms, sakevergadering, bioskoop of ander openbare geleentheid of in ’n restaurant is.

 3. Moenie ’n selfoon gebruik terwyl jy bestuur nie.

[Prent op bladsy 18]

Wêreldwyd word sowat 30 miljard teksboodskappe per maand gestuur

[Prent op bladsy 20]

Dit is net so gevaarlik om ’n selfoon te gebruik terwyl jy bestuur as om te bestuur wanneer jy onder die invloed van alkohol is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel