Ons beskou die wêreld
Bank tyd in plaas van geld
In Spanje het daar ’n nuwe soort bank ontstaan. Verskeie plaaslike vrywilligerorganisasies het “tydbanke” gestig wat dienste onder mense uitruil. “Die ‘Tydbank’ is die eerste bank wat nie met geld werk nie”, sê Elvira Méndez, die hoof van die Spaanse vereniging Gesondheid en die Gesin. Hierdie banke hou ’n lys van mense wat hulle beskikbaar stel om sekere take te verrig, soos om na bejaardes om te sien, babas op te pas, te kook, skoon te maak of onderrig te gee. Die eenheid wat gebruik word, is die uur, en alle aktiwiteite het dieselfde waarde. Om iemand byvoorbeeld ’n uur lank in kwantumfisika te onderrig, is gelykstaande daaraan om ’n uur lank hare te sny of babas op te pas. Die ontvanger betaal vir die diens deur ander take te verrig, en die tyd wat hy daaraan bestee, word weer aan hom gekrediteer. Tydbanke wil sodoende die tradisionele uitruiling van dienste wat vroeër onder goeie bure bestaan het, probeer organiseer en aanmoedig.
Troeteldiere volgens bestelling gekloon
Troeteldiere word nou volgens bestelling gekloon. Die eerste geval in die Verenigde State was van ’n katjie wat vir ’n vrou in Texas gekloon is, berig The New York Times. Toe Nicky, die kat wat sy 17 jaar lank gehad het, doodgegaan het, het sy ’n katjie laat kloon van Nicky se DNS wat vroeër geberg is. Dit het haar R300 000 uit die sak gejaag. Die katjie wat Little Nicky genoem word, is glo identies aan die oorspronklike kat, selfs wat sy persoonlikheid betref. Die maatskappy wat Little Nicky gekloon het, beplan ook om honde te kloon “omdat die mark hiervoor winsgewender is as dié vir katte”, sê die koerant. David Magnus, die mededirekteur van die Sentrum vir Biomediese Etiek by die Stanford-universiteit in Kalifornië en ’n kritikus van hierdie praktyke, het gesê: “Dit hou sedelike probleme in en is in sekere opsigte afkeurenswaardig. Met $50 000 [R300 000] kon sy vir baie verdwaalde diere ’n huis voorsien het.”
Honde sien epileptiese aanvalle kom?
Party honde wat langer as ’n jaar as troeteldiere aangehou is, weet voor die tyd as die kinders saam met wie hulle woon, epileptiese aanvalle gaan kry, berig die Spaanse koerant Diario Médico. Navorsers het hierdie gevolgtrekking gemaak nadat hulle ’n studie op 45 gesinne gedoen het. Verskeie ouers wat epileptiese kinders het, het opgemerk dat hulle hond hom voor ’n aanval “eienaardig” gedra. Hy sal die kind dwing om te sit of teen die kind leun, sodat as die kind sou val, hy sy val kan breek.
Boetan verbied tabakverkope
Die koninkryk van Boetan, wat tussen Indië en China in die Himalajas geleë is, het die verkope van alle tabakprodukte verbied. Die verbod is nie van toepassing op buitelandse diplomate, toeriste of diegene wat vir nieregeringsorganisasies werk nie. Boetan is glo die eerste land ter wêreld wat hierdie stap geneem het. Dit is ook onwettig om in openbare plekke te rook. “Die stappe is deel van die regering se pogings om Boetan ’n rookvrye land te maak”, sê BBC News.
Hartsiekte hou verband met trauma in kinderjare
Wanneer iemand fisiese of sielkundige probleme as kind deurgemaak het, vergroot dit sy kanse om later in die lewe aan hartsiekte te ly. Navorsers in Atlanta, Georgia, en San Diego, Kalifornië, in die VSA, het tot hierdie gevolgtrekking gekom nadat hulle die mediese rekords van 17 337 volwassenes ondersoek het. Science News verduidelik dat die deelnemers beoordeel is volgens “wie van hulle as kinders gesinsgeweld gesien het, verstandelike of fisiese mishandeling of verwaarlosing ondervind het of saam met iemand gewoon het wat tronk toe gegaan het, dwelms of alkohol misbruik het of sielsiek was”. Daar is gevind dat hoe meer traumatiese ondervindings iemand vroeg in die lewe gehad het, “hoe groter sy of haar kanse is om hartsiekte op te doen” as ’n volwassene.
Besmette bloed in Japan
Die Japannese gesondheidsdepartement het die ongewone stap geneem om “die name van 6 916 hospitale en 17 mediese verskaffers [bekend te maak] wat glo ’n bloedproduk in voorraad gehou het wat met hepatitis C besmet is”, sê The Japan Times. Die stolmiddel het “een van die grootste mediese rampe in Japan se na-oorlogse geskiedenis” veroorsaak. Volgens die koerant is daar tussen 1980 en 2001 omtrent 290 000 mense met die stolmiddel behandel. Ongeveer 10 000 van hulle is besmet. Baie van hulle was swanger vroue wat die middel ontvang het om bloeding tydens geboorte te stop. Die departement se aankondiging het gevolg op veldtogte deur slagoffers wat die probleem onder die publiek se aandag wou bring en enigiemand wat dalk die produk ontvang het, wou aanmoedig om hulle vir hepatitis C te laat toets. Hepatitis C kan dodelik wees as dit nie behandel word nie.
Paddas sterf uit
Volgens die tydskrif New Scientist gaan miljoene paddas dood, en niemand verstaan eintlik waarom nie. Hulle loop ’n groter gevaar om uit te sterf as voëls of soogdiere. Byna een derde van die 5 743 bekende amfibiespesies word bedreig. Dit is ’n paar van die gevolgtrekkings ná die eerste wêreldwye opname van amfibieë. Die tydskrif berig dat “wetenskaplikes sedert 1989 bekommerd is oor die gesondheid van amfibieë toe hulle tydens die eerste Internasionale Herpetologie Konferensie hulle bevindings vergelyk het en gevind het dat daar ’n skielike en geheimsinnige afname in baie spesies regoor die wêreld was”. Dit is bekend dat nege amfibiespesies sedert 1980 uitgesterf het en ’n verdere 113 spesies wat destyds bestaan het, “nie meer gevind kan word nie”. Die dierkundige James Hanken van die Harvard-universiteit sê: “Ons weet eenvoudig nie wat die afname veroorsaak nie.”
Vertrouenskrisis
Regoor die wêreld wantrou mense politici en sakeleiers, berig die Paryse dagblad International Herald Tribune. Volgens ’n opname deur Gallup Internasionaal wat in 60 lande gedoen is, glo die meeste mense dat politieke leiers “oneerlik” is, “te veel mag” het, “te maklik beïnvloed word” en hulle “oneties gedra”. Meer as 80 persent van die respondente in Afrika, Wes-Asië en Latyns-Amerika het hulle twyfel uitgespreek oor die eerlikheid van politici. Sakeleiers het ’n ietwat beter reputasie—slegs ongeveer 40 persent van respondente het gedink dat sakeleiers oneerlik is en dat hulle hulle oneties gedra. Wat wêreldwye sekuriteit betref, was 55 persent van die mense in Wes-Europa pessimisties oor die toekoms. In Egipte het 70 persent van die mense gedink dat “die toekoms donker lyk”. Die optimistiesste respondente was van ander Afrikalande wat aan die opname deelgeneem het, en 50 persent van hulle het gevoel dat die situasie sal verbeter.