Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/06 bl. 10-13
  • Pelgrims en Puriteine—Wie was hulle?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pelgrims en Puriteine—Wie was hulle?
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiensomwentelinge in Engeland
  • Van Separatiste tot Pelgrims
  • ’n Nuwe begin in die nuwe wêreld
  • Die Puriteine se aanbidding
  • Hoogmoed lei tot geweld
  • Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid
    Ontwaak!—1996
  • Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken
    Ontwaak!—2000
  • Die goue era van koningin Elizabeth I—Mite of werklikheid?
    Ontwaak!—2010
  • Geld en sedes—’n les uit die geskiedenis
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 2/06 bl. 10-13

Pelgrims en Puriteine—Wie was hulle?

AAN die Noord-Amerikaanse kus by Plymouth, Massachusetts, lê ’n groot granietklip met die jaartal 1620 daarop uitgekerf. Dit word Plymouth Rock genoem en daar word algemeen aanvaar dat dit naby die plek is waar ’n groep Europeërs byna 400 jaar gelede aan wal gegaan het. Jy ken hulle dalk as die Pelgrims of die Pelgrimvaders.

Baie mense ken die verhale van die gasvrye Pelgrims wat hulle Indiaanse vriende na groot oesmaaltye genooi het. Maar wie was die Pelgrims, en waarom het hulle na Noord-Amerika gekom? Om antwoorde te kry, moet ons teruggaan na die tyd van die Engelse koning Hendrik VIII.

Godsdiensomwentelinge in Engeland

Minder as 100 jaar voor die Pelgrims na Amerika geseil het, was Engeland ’n Rooms-Katolieke land, en koning Hendrik VIII het die pouslike titel Verdediger van die Geloof gedra. Maar toe pous Klemens VII geweier het om Hendrik se huwelik met Katharina van Aragon, die eerste van die koning se ses vroue, te ontbind, het dit tot ’n breuk gelei.

Terwyl Hendrik besig was met sy huislike probleme, het die Protestantse Hervorming in ’n groot deel van Europa ’n omwenteling in die Rooms-Katolieke Kerk veroorsaak. Omdat hy nie graag die aansien wou verloor wat die kerk hom gegee het nie, het Hendrik aanvanklik die Hervormers uit Engeland gehou. Toe het hy van plan verander. Die Katolieke Kerk het geweier om sy huwelik te ontbind, en daarom het Hendrik beheer oor die kerk oorgeneem. In 1534 het hy die pous se beheer oor Engelse Katolieke beëindig en homself opperhoof van die Anglikaanse Kerk gemaak. Kort voor lank het hy kloosters gesluit en hulle ontsaglike eiendomme verkoop. Toe Hendrik in 1547 dood is, was Engeland besig om ’n Protestantse nasie te word.

Hendrik se seun Eduard VI het die breuk met Rome gehandhaaf. Ná Eduard se dood in 1553 het Maria, Hendrik se Rooms-Katolieke dogter by Katharina van Aragon, koningin geword en daarna probeer om die nasie aan pouslike gesag te onderwerp. Sy het baie Protestante gedwing om na ander lande te vlug en het meer as 300 mense na die brandstapel gestuur, wat haar die naam Maria die Bloedige besorg het. Maar sy kon nie die wind van verandering keer nie. Maria het in 1558 gesterf, en haar opvolger en halfsuster, Elizabeth I, het seker gemaak dat die pous van toe af nie veel seggenskap in die Engelse godsdienslewe het nie.

Sommige Protestante het egter gevoel dat dit nie genoeg was om bloot afgeskeie van die Roomse Kerk te wees nie—alle spore van Rooms-Katolisisme moes verwyder word. Hulle wou die aanbidding van die kerk suiwer, en daarom is hulle Puriteine genoem. Sommige Puriteine het dit nie nodig geag om biskoppe te hê nie en het gemeen dat elke gemeente homself moet bestuur, afgeskeie van die staatskerk. Hulle is Separatiste genoem.

Die twisgierige Puriteine het tydens Elizabeth se bewind op die voorgrond getree. Die informele kleredrag van sommige geestelikes het die koningin dwars in die krop gesteek, en in 1564 het sy die Aartsbiskop van Kantelberg beveel om ’n eenvormige standaard af te dwing. Die Puriteine het dit as ’n terugkeer na die ampsgewade van die Katolieke priesters beskou en geweier om toe te gee. Nog ’n geskil het ontstaan oor die ou hiërargie van biskoppe en aartsbiskoppe. Elizabeth het die biskoppe in hulle amp gehou en geëis dat hulle aan haar as hoof van die kerk trou sweer.

Van Separatiste tot Pelgrims

Jakobus I het Elizabeth in 1603 opgevolg, en hy het groot druk op die Separatiste geplaas om hulle aan sy gesag te onderwerp. In 1608 het ’n Separatiste-gemeente van die dorp Scrooby na Holland gevlug weens die vryheid wat daardie land gebied het. Maar die Hollandse verdraagsaamheid teenoor ander godsdienste en losse sedes het die Separatiste mettertyd selfs minder tuis laat voel as wat hulle in Engeland was. Hulle het besluit om Europa te verlaat en in Noord-Amerika te gaan woon. Die bereidwilligheid van hierdie groep Separatiste om ter wille van hulle oortuigings ver weg te trek, het daartoe gelei dat hulle later as die Pelgrims bekend gestaan het.

Die Pelgrims, waaronder baie Separatiste, het toestemming gekry om hulle in die Britse kolonie Virginië te vestig en het in September 1620 op ’n skip met die naam Mayflower na Noord-Amerika vertrek. Ongeveer 100 volwassenes en kinders het twee stormagtige maande op die Noord-Atlantiese Oseaan deurgebring voordat hulle in Kaap Cod, honderde kilometers noord van Virginië, aangekom het. Daar het hulle die Mayflower-ooreenkoms opgestel, ’n dokument waarin hulle hulle begeerte uiteengespreek het om ’n gemeenskap te stig en hulle aan die wette daarvan te onderwerp. Hulle het hulle op 21 Desember 1620 by die nabygeleë Plymouth gevestig.

’n Nuwe begin in die nuwe wêreld

Die vlugtelinge het onvoorbereid op die winter in Noord-Amerika aangekom. Binne maande het die helfte van die groep gesterf. Maar die lente het verligting gebring. Die oorlewendes het geskikte huise gebou en by die Indiane geleer hoe om inheemse voedselgewasse te verbou. Teen die herfs van 1621 was die Pelgrims so voorspoedig dat hulle tyd opsygesit het om God vir sy seën te dank. Dit is waar die vakansiedag Thanksgiving wat deesdae in die Verenigde State en op ander plekke gevier word, sy oorsprong het. Nog immigrante het opgedaag, en gevolglik het Plymouth binne 15 jaar ’n bevolking van meer as 2 000 mense gehad.

Intussen het sommige Puriteine in Engeland, soos die Separatiste, besluit dat hulle “Beloofde Land” ook oor die Atlantiese Oseaan lê. In 1630 het ’n groep van hulle by ’n plek noord van Plymouth aangekom en die Massachusettsbaai-kolonie gestig. Teen 1640 het daar ongeveer 20 000 Engelse immigrante in Nieu-Engeland gewoon. Nadat die Massachusettsbaai-kolonie in 1691 Plymouth deel van die kolonie gemaak het, was dit nie meer moontlik vir die Separatiste-Pelgrims om hulle heeltemal af te sonder nie. Boston het die geestelike sentrum van die streek geword, aangesien die Puriteine op daardie stadium die godsdienslewe in Nieu-Engeland oorheers het. Hoe het hulle hulle godsdiens beoefen?

Die Puriteine se aanbidding

Die Puriteine in die Nuwe Wêreld het aanvanklik vergaderplekke van hout gebou waar hulle Sondagoggende bymekaargekom het. As die weer gunstig was, was dit draaglik binne, maar in die winter het die dienste die vasberadenheid van selfs die getrouste Puritein op die proef gestel. Die vergaderplekke was nie verhit nie, en die gelowiges het kort voor lank gesit en bibber van die koue. Hulle predikers het dikwels handskoene gedra om hulle hande teen die ysige lug te beskerm terwyl hulle gebare maak.

Die Puriteine het hulle oortuigings op die leringe van die Franse Protestantse Hervormer Johannes Calvyn gegrond. Hulle het die voorbeskikkingsleer aangeneem en geglo dat God voorbestem het watter mense hy sou red en watter mense hy tot ’n ewige helse vuur sou verdoem. Ongeag wat mense gedoen het, hulle kon nie hulle posisie voor God verander nie. ’n Persoon het nie geweet of hy by sy dood die hemel se sagte briese sou geniet of soos ’n lamppit vir ewig sou brand nie.

Later het Puriteinse leraars oor berou begin preek. Hulle het gewaarsku dat, hoewel God barmhartig is, diegene wat sy wette nie gehoorsaam nie, reguit hel toe gaan. Daardie predikers het die vlamme van die hel gestook en dit warm gehou sodat hulle beheer oor die mense kon uitoefen. ’n Prediker van die 18de eeu met die naam Jonathan Edwards het eenkeer gepraat oor die onderwerp “Sondaars in die hande van ’n toornige God”. Sy beskrywings van die hel was so skrikwekkend dat ander geestelikes emosionele bystand moes verleen aan die ontstelde gemeente wat die preek gehoor het.

Evangeliedienaars wat van buite Massachusetts daar kom preek het, het hulle lewe in gevaar gestel. Die owerhede het ’n Kwakerprediker genaamd Mary Dyer drie keer verdryf; maar sy het bly terugkeer en haar opvattings verkondig. Hulle het haar op 1 Junie 1660 in Boston gehang. Phillip Ratcliffe het blykbaar vergeet met watter ywer die Puriteinse leiers teen teenstanders opgetree het. Vir sy toesprake teen die regering en teen die kerk van Salem het hulle hom met ’n sweep geslaan en hom ’n boete opgelê. Toe het hulle, sodat hy nie sou vergeet nie, sy ore afgesny voordat hulle hom laat gaan het. Puriteinse onverdraagsaamheid het mense uit Massachusetts verdryf en tot die groei van ander kolonies bygedra.

Hoogmoed lei tot geweld

Baie Puriteine het hulleself as die “uitverkorenes” van God beskou en het op die inboorlinge neergesien as laer wesens wat die land beset het. Hierdie gesindheid het gegriefdheid veroorsaak, en party inboorlinge het hulle begin aanval. Die Puriteinse leiers het gevolglik wette aangaande die Sabbat in so ’n mate verslap dat mans vuurwapens kerk toe kon dra. Toe, in 1675, het toestande versleg.

Metacomet, ook bekend as koning Philip, van die Wampanoag-Indianestam, het gesien hoe sy mense hulle grond verloor en het begin om Puriteinse nedersettings te plunder, huise af te brand en setlaars uit te moor. Die Puriteine het weerwraak geneem, en die gevegte het maande lank geduur. In Augustus 1676 het die Puriteine Philip in Rhode-eiland gevang. Hulle het hom onthoof en sy liggaam in vier stukke gesny. So het Koning Philip se Oorlog en ’n onafhanklike lewe vir die Indiane van Nieu-Engeland tot ’n einde gekom.

Gedurende die 18de eeu het die Puriteinse ywer ’n nuwe uitlaatklep gevind. Sommige geestelikes in Massachusetts het hulle skerp uitgelaat oor Engelse oorheersing en het gehelp om ’n begeerte na onafhanklikheid aan te wakker. In hulle besprekings van ’n revolusie het hulle politiek en godsdiens gemeng.

Die Puriteine was dikwels hardwerkend, moedig en toegewy aan hulle godsdiens. Mense praat steeds van ’n “Puriteinse karakter” en “Puriteinse eerlikheid”. Maar opregtheid alleen reinig iemand nie van verkeerde leerstellings nie. Die vermenging van politiek en godsdiens is iets wat Jesus Christus vermy het (Johannes 6:15; 18:36). En wreedheid is teenstrydig met hierdie belangrike waarheid: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”—1 Johannes 4:8.

Verkondig jou godsdiens leerstellings soos die helse vuur, voorbeskikking of ander onskriftuurlike leerstellings? Raak jou godsdiensleiers by politieke veldtogte betrokke? ’n Opregte studie van God se Woord, die Bybel, sal jou help om “die vorm van aanbidding [te vind] wat . . . rein en onbesmet is”, waarlik suiwer en aanvaarbaar vir God.—Jakobus 1:27.

[Venster/Prent op bladsy 13]

DIE PURITEINE EN DIE HELSE VUUR

Deur die helse vuur te verkondig, het die Puriteine God se Woord weerspreek. Die Bybel leer dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is, dat hulle nie in staat is om pyn of plesier te ervaar nie (Prediker 9:5, 10). Wat meer is, die idee om mense te folter, het nooit in die ware God ‘se hart opgekom nie’ (Jeremia 19:5; 1 Johannes 4:8). Hy versoek mense ernstig om hulle lewe te verander, en hy tree barmhartig teenoor verstokte sondaars op (Esegiël 33:11). In teenstelling met hierdie skriftuurlike waarhede het die Puriteinse predikers God dikwels as wreed en wraaksugtig uitgebeeld. Hulle het ook ’n wrede beskouing van die lewe bevorder, waaronder die gebruik van geweld om teenstanders stil te maak.

[Prent op bladsy 10]

Pelgrims gaan aan wal in Noord-Amerika, 1620

[Erkenning]

Harper’s Encyclopædia of United States History

[Prent op bladsy 12]

Die eerste “Thanksgiving”, 1621

[Prent op bladsy 12]

Puriteinse vergaderplek, Massachusetts

[Prent op bladsy 12]

Johannes Calvyn

[Prent op bladsy 12]

Jonathan Edwards

[Prent op bladsy 13]

Gewapende Puriteinse egpaar op pad kerk toe

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Library of Congress, Prints & Photographs Division

[Foto-erkennings op bladsy 12]

Links bo: Snark/Art Resource, NY; regs bo: Harper’s Encyclopædia of United States History; Johannes Calvyn: Portrait in Paul Henry’s Life of Calvin, from the book The History of Protestantism (Vol. II); Jonathan Edwards: Dictionary of American Portraits/Dover

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Foto’s: North Wind Picture Archives

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel