Laat God jou lei na “die werklike lewe”
’N NOODSAAKLIKE eienskap van enige gids is betroubaarheid. Diegene wat Jehovah, die Outeur van die Bybel, ken, is daarvan oortuig dat hy die heel betroubaarste persoon is. Hy ‘kan nie lieg nie’ (Titus 1:2; 2 Timoteus 3:16). Die godvresende man Josua, wat Israel in die Beloofde Land ingelei het, het persoonlik getuig van Jehovah se betroubaarheid. Hy het die volk toegespreek en gesê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
Sedert Josua se tyd is baie meer Bybelprofesieë vervul. Die feit dat al hierdie profesieë vervul is, gee ons ’n stewige grondslag vir sterk geloof in die profesieë wat nog vervul moet word. ’n Aantal hiervan is in verband met God se voorneme vir die aarde en gehoorsame mense.
Sal jy baat vind by God se leiding?
Jehovah, die verpersoonliking van liefde, wil hê dat ons nou en vir ewig gelukkig moet wees (Johannes 17:3; 1 Johannes 4:8). Ja, dit is God se begeerte dat ons “die werklike lewe”—die ewige lewe—moet geniet (1 Timoteus 6:12, 19). Daarom verkondig meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah vreugdevol die “goeie nuus van die koninkryk” aan hulle naaste in gehoorsaamheid aan God se bevel (Matteus 24:14). Tans doen hulle hierdie werk in 235 lande—onder feitlik elke nasie op die aarde!
God se Koninkryk is ’n hemelse regering in die hande van Jesus Christus (Daniël 7:13, 14; Openbaring 11:15). Onder sy heerskappy sal al die goddeloses—diegene wat weier om hulle aan Jehovah se regverdige standaarde te onderwerp—vernietig word (Psalm 37:10; 92:7). Dan sal die hele aarde “beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:9.
Dink aan die vrede en harmonie wat sal heers wanneer elke persoon op die planeet God “met gees en waarheid” aanbid en hom gewillig aan sy liefdevolle leiding en volmaakte standaarde onderwerp! (Johannes 4:24). Mense sal uiteindelik “die werklike lewe” geniet wat God belowe het!
Maar soos voorspel is, sal betreklik min mense God se leiding aanvaar en die lewe kry (Matteus 7:13, 14). Wil jy een van hulle wees? Indien wel, nooi Jehovah se Getuies jou hartlik om die Skrif te ondersoek en toe te laat dat God se raad jou lei. Deur dit te doen, sal jy self “smaak” hoe goed Jehovah werklik is (Psalm 34:8). Net soos instink voëls gewis na hulle bestemming lei, sal Jehovah sy lojale knegte na die lewe in die Paradys lei.—Lukas 23:43.
[Prent op bladsy 8, 9]
“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”—MATTEUS 5:5
“Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—PSALM 37:11
“Die tent van God is by die mensdom . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie.”—OPENBARING 21:3, 4
“Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”—SPREUKE 2:21, 22