Die Bybel se beskouing
Is al die dele van die Bybel nog toepaslik?
“Die Bybel het uiters min praktiese waarde vir die moderne mens, behalwe dat dit onbenullige feite voorsien om blokkiesraaisels reg te kan invul of vrae op speletjiesprogramme reg te kan beantwoord.”
“Bybelse verwysings na geslagslyne, maagdelikheid en vrees vir God was toepaslike kulturele konsepte in Bybeltye, maar dit is nouliks toepaslik in die een-en-twintigste eeu.”
“Die Bybel was verouderd nog voordat dit die eerste keer gedruk is.”
HIERDIE kommentare is onlangs van ’n webwerf geneem wat die onderwerp “Is die Bybel verouderd en nie meer toepaslik nie?” bespreek het. Hoe voel jy oor hierdie menings? Stem jy saam daarmee?
Dalk stem jy nie saam met so ’n algehele verwerping van die Bybel nie, maar wonder jy tog of alles in die Bybel toepaslik is. Die Bybels wat in die meeste kerke gebruik word, is immers verdeel in wat algemeen bekend staan as die Ou Testament en die Nuwe Testament, wat die indruk skep dat meer as 75 persent van die Bybel verouderd is.
Niemand bring meer die diereoffers wat in die Mosaïese Wet voorgeskryf is nie. Waarom is al hierdie besonderhede aangaande offerandes dan in die boek Levitikus bewaar? (Levitikus 1:1–7:38). En wat van die eerste hoofstukke van 1 Kronieke, wat byna geheel en al uit geslagslyste bestaan? (1 Kronieke 1:1–9:44). As niemand wat vandag lewe sy of haar herkoms direk kan terugvoer na enigiemand wat in hierdie hoofstukke gemeld word nie, van watter nut is hierdie lyste dan?
Gestel jy pluk ’n appel van ’n appelboom af. Is die boom wat die appel voortgebring het, van geen waarde nadat jy die appel gepluk het nie? Nie as jy nog vrugte wil hê nie! Die Bybel is in party opsigte soos hierdie appelboom. Sekere dele van die Bybel, soos die Psalms of die Bergpredikasie, lyk dalk maklik om te verstaan en besonder “smaaklik”. Ons heg dalk groot waarde aan hierdie dele—soos in die geval van ons gunstelingvrug—maar moet ons die res as onbelangrik beskou? Wat sê die Bybel self hieroor?
Omstreeks die jaar 65 HJ het die apostel Paulus sy tweede brief aan Timoteus geskryf en hom herinner: “Jy [het] van kleintyd af die heilige geskrifte geken . . . , wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus.” Paulus het vervolgens gesê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:15, 16). Het Paulus net van die Nuwe Testament gepraat toe hy geskryf het: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”?
Let op Paulus se woorde dat Timoteus “die heilige geskrifte” van “kleintyd” af geken het. As Timoteus, soos sommige meen, in sy dertigerjare was toe hierdie brief geskryf is, was hy ’n klein kindjie toe Jesus gesterf het. Dit was voordat enige deel van die Nuwe Testament, oftewel die Griekse Geskrifte, geskryf is. Timoteus se moeder was Joods, en daarom sou die heilige geskrifte wat sy hom as ’n jong kind geleer het, die Ou Testament, oftewel die Hebreeuse Geskrifte, gewees het (Handelinge 16:1). Paulus se verwysing na “die hele Skrif” het ongetwyfeld die hele Ou Testament ingesluit, wat voorskrifte vir offerandes en geslagsregisters bevat.
Meer as 1 900 jaar later vind ons nog steeds op verskeie maniere baat by hierdie dele van die Bybel. In die eerste plek sou ons nie eens die Bybel gehad het as God nie toegesien het dat dit geskryf en bewaar is deur ’n volk wat hy uitverkies het nie (Romeine 3:1, 2). In eertydse Israel was die Mosaïese Wet nie net ’n heilige reliek wat vir toekomstige geslagte bewaar moes word nie, maar dit was in werklikheid daardie nasie se grondwet. Besonderhede in die Wet wat dalk vandag vir ons onnodig lyk, was noodsaaklik vir die behoud en behoorlike funksionering van eertydse Israel. Verder was die geslagsregisters in die Bybel nodig om die Messias te identifiseer, wat volgens profesie ’n direkte afstammeling van koning Dawid sou wees.—2 Samuel 7:12, 13; Lukas 1:32; 3:23-31.
Hoewel Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, moet hulle geloof beoefen in die voorspelde Messias, Jesus Christus. Die eertydse geslagsregisters wat in die Bybel bewaar is, bewys dat Jesus inderdaad die beloofde “seun van Dawid” was. En besonderhede aangaande offerandes vergroot ons waardering vir die veel belangriker offerande wat Jesus gebring het en bou ons geloof in die waarde daarvan op.—Hebreërs 9:11, 12.
Paulus het aan die eerste-eeuse Christengemeente in Rome geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Hierdie teks herinner ons daaraan dat die Bybel tot ons voordeel geskryf is, maar nie net tot óns voordeel nie. God se volk word al meer as 3 500 jaar lank deur die geïnspireerde woorde daarin gerig, onderrig en tereggewys—in die wildernis Sinai, in die Beloofde Land, in Babiloniese ballingskap, in die Romeinse Ryk en nou aardwyd. Geen ander boek kan tereg hierdie aanspraak maak nie. Soos met ’n appelboom se wortels, is dit dalk aanvanklik moeilik om die waarde van sekere dele van die Bybel te sien. Miskien moet ’n mens ’n bietjie grawe om hierdie waarde te ontdek, maar die inspanning sal ryklik beloon word!
HET JY AL GEWONDER?
● Van wanneer af het Timoteus “die heilige geskrifte” geken?—2 Timoteus 3:15.
● Watter dele van die Bybel is geïnspireer en nuttig?—2 Timoteus 3:16.
● Hoe kan ons baat vind by “alles wat tevore geskryf is”?—Romeine 15:4.
[Prente op bladsy 29]
Die besonderhede in die Bybel vergroot ons waardering vir die offerande wat Jesus gebring het