Eensaamheid—Identifiseer die oorsake
EENSAAMHEID is nie dieselfde as afsondering nie. Volgens een woordeboek dui eensaamheid eerder “meer dikwels op alleenheid wat gepaardgaan met ’n begeerte na geselskap”. Dieselfde woordeboek verduidelik dat afsondering na die situasie kan verwys waar “iemand hom uit vrye wil . . . van gewone kontak met ander afsny”.
Afsondering kan onder sekere omstandighede dus wenslik wees. Baie sonder hulle dikwels af om te bid of te peins, soos Jesus Christus gedoen het (Matteus 14:13; Lukas 4:42; 5:16; 6:12). Eensaamheid is daarenteen iets pynliks. Wat kan aanleiding gee tot eensaamheid?
● Afgesonderd in besige stede
In groot stede woon duisende—selfs miljoene—mense baie naby aan mekaar. Maar ironies genoeg, wanneer soveel mense digby mekaar lewe, kom eensaamheid algemeen voor. Die gewoel van die stadslewe kan baie mense verhinder om hulle bure werklik te leer ken. Gevolglik woon stadsbewoners op die ou end tussen vreemdelinge. Die feit dat vreemdelinge alte dikwels gewantrou word en dat mense graag hulle privaatheid wil beskerm, speel beslis ’n groot rol in die algemeenheid van eensaamheid in groot stede.
● Onmenslike behandeling van werknemers
Die manier waarop talle groot sakeondernemings en nywerhede bestuur word, het daartoe gelei dat werknemers in alle poste eensaam en onbevoeg voel. Werkers ondervind dikwels eindelose druk en spanning.
Wat meer is, in groot maatskappye skep die stelselmatige verplasing van personeel gevoelens van onsekerheid, alleenheid en eensaamheid onder werkers. Die International Herald Tribune het kommentaar gelewer oor ’n reeks selfmoorde onder die personeel van party Franse korporasies en gesê dat baie Franse werkers meen dat “die pas van ekonomiese verandering te veel druk op hulle plaas”.
● Koue kommunikasie
In Japan het professor Tetsoero Saito gesê: “Kommunikasievermoë sal ongetwyfeld verswak namate selfone en ander toestelle nou tussen mense kom.” In Australië het The Sunday Telegraph berig: “Tegnologie maak . . . mense meer afgesonderd. Mense . . . stuur eerder e-posse of SMS’e as om met mekaar te praat.”
Die 21-jarige Rachel, wat in Frankryk woon, het beskryf waarom sy eensaam voel en gekla: “Ek vind dat mense nie meer veel van ’n poging aanwend om jou te sien nie omdat hulle meen dat SMS’e, e-posse en aanlynkommunikasie genoeg is. Maar dit laat my net eensamer voel.”
● ’n Veranderde omgewing
Die ekonomiese krisis het ’n grootskaalse beweging van mense veroorsaak—mense moet noodgedwonge verhuis om hulle werk te behou of werk te vind. Verhuising neem mense van hulle bure, hulle vriende, hulle skool en soms van hulle familie af weg. Diegene wat so ontwortel word, voel soos ’n plant wat sonder sy wortels oorgeplant is.
Francis onthou die dag toe hy van Ghana af in Frankryk aangekom het. Hy verduidelik: “Die taalgrens, die gebrek aan vriende en die koue klimaat het alles daartoe bygedra dat ek baie eensaam gevoel het.”
Behjat onthou toe sy as ’n immigrant in Engeland aangekom het en erken: “Dit was vir my moeilik om by die plaaslike kultuur aan te pas. Ek het mense geken, maar geen hegte vriende of familielede gehad met wie ek dinge kon bespreek en vir wie ek kon vertel hoe ek werklik voel nie.”
● Die dood van ’n geliefde
Die dood van ’n huweliksmaat laat ’n groot leemte in die lewe van die maat wat agterbly. Dit kan veral die geval wees wanneer iemand sy of haar huweliksmaat oor ’n lang tydperk versorg het. Gevoelens van algehele leegheid kom dikwels voor.
Fernande, ’n weduwee wat in Parys woon, verduidelik: “Wat vir my die moeilikste is, is dat ek nie meer my beste vriend—my man—in my vertroue kan neem nie.” Anny sê sy mis haar man “veral wanneer belangrike besluite oor gesondheidsprobleme of ander sake geneem moet word”.
● Egskeiding, skeiding, ongewenste ongetroude staat
’n Egskeiding of skeiding het dikwels gevoelens van eensaamheid en mislukking tot gevolg. Kinders ly gewoonlik die meeste, baie meer as wat voorheen besef is. Party deskundiges meen dat daar ’n groter moontlikheid bestaan dat kinders uit gebroke huwelike eensame volwassenes sal word.
Diegene wat ongetroud is omdat hulle nie ’n geskikte huweliksmaat kan vind nie, ondervind gewoonlik tye van eensaamheid. Sulke gevoelens kan erger word wanneer ander taktlose opmerkings maak, soos: “Sal jy nie gelukkiger wees as jy trou nie?”
Enkelouers ondervind ook eensaamheid. Ouerskap bring nie net vreugdes mee nie, maar ook probleme, en enkelouers moet dit sonder ’n maat se insette oplos.
● Bejaardheid en jeugdige onervarenheid
Bejaardes voel dalk dikwels eensaam, selfs as hulle nie deur familielede verwaarloos word nie. Hulle word miskien nou en dan deur familie of vriende besoek, maar wat van die ander tye—moontlik die dae of weke wanneer niemand hulle besoek nie?
Aan die ander kant van die ouderdomskaal ondervind jongmense dikwels eensaamheid. Baie raak verslaaf aan ontspanning wat ander persone uitsluit—soos TV-kykery, videospeletjies en die gewoonte om tallose ure alleen voor hulle rekenaar deur te bring.
Is dit moontlik om ’n oplossing vir hierdie toenemende tendens te vind? Wat kan ’n mens omtrent eensaamheid doen?
[Lokteks op bladsy 5]
“Die taalgrens, die gebrek aan vriende en die koue klimaat het alles daartoe bygedra dat ek baie eensaam gevoel het”