Ons beskou die wêreld
Die Serwiese Departement van Godsdienssake het die aansoek dat die regsliggaam van Jehovah se Getuies geregistreer word, goedgekeur. Volgens regeringsverslae is Jehovah se Getuies al sedert 1930 in die gebied bedrywig.
Volgens skatting is 95 persent van alle musiek wat in 2009 regoor die wêreld afgelaai is, onwettig afgelaai.—TIME, VSA.
Aardbewings—“Die dodelikste rampe”
“Aardbewings het die dodelikste rampe in die afgelope dekade veroorsaak”, sê die Verenigde Nasies se Internasionale Strategie vir Rampvermindering, wat sy basis het in Genève, Switserland. Van diegene wat in hierdie tydperk weens rampe gesterf het, is byna 60 persent dood as gevolg van aardbewings. Hierdie “potensiële natuurramp” hou steeds ’n ernstige bedreiging in, want 8 van die 10 stede met die grootste bevolkings in die wêreld is geleë op verskuiwingslyne in aardbewingsones. Die afgelope tien jaar het meer as 780 000 mense hulle lewe verloor in 3 852 voorvalle wat as rampe geklassifiseer is.
Gevaarlike beroep
“In 2009 het altesaam 110 joernaliste weens hulle werk hulle lewe verloor, wat beteken dat verlede jaar die dodelikste in die afgelope dekade” vir hierdie beroep was, sê die Internasionale Persinstituut, wat sy hoofkantoor in Wene, Oostenryk, het. In onlangse jare is “joernaliste opsetlik aangeval” in konflikgebiede soos Afganistan, Irak, Pakistan en Somalië, sê die berig. Dit het gelei tot minder mediadekking en ’n “kommerwekkende gebrek aan inligting oor . . . komplekse gebeure” in hierdie gebiede. Irak was oor die afgelope dekade die gevaarlikste land vir joernaliste, gevolg deur die Filippyne, Colombia, Mexiko en Rusland, in hierdie volgorde.
Goedkoop invoergoedere, minder inbrake
“Weens ’n toename in goedkoop elektroniese goedere” sal Britse inbrekers dalk sonder werk wees, sê ’n Reuters-nuusberig uit Londen, wat James Treadwell aanhaal, ’n lektor in kriminologie aan die Universiteit van Leicester, Engeland. Die feit dat nuwe DVD-spelers byvoorbeeld so goedkoop is, beteken dat hierdie goedere byna geen herverkoopwaarde het nie. Dit is “eenvoudig nie die moeite werd om dit te steel nie”, sê Treadwell. Maar laer pryse het nie ’n einde aan misdaad gemaak nie. Inteendeel, diewe spits hulle nou toe op duurder en meer verkoopbare items, ‘soos selfone en iPod’s, wat mense saam met hulle ronddra’. Voormalige inbrekers wend hulle dus tot ander misdade, soos straatroof.