Die Bybel se beskouing
Kan selftoegediende pyn jou help om nader aan God te kom?
DIE meeste mense deins terug by die gedagte aan selftoegediende pyn. Nogtans is aanbidders wat hulle liggame gepynig het deur gebruike soos om hulleself te kasty, om tot die uiterste toe te vas en om ’n boetehemp te dra wat hulle vel irriteer, verheerlik as voorbeelde vir godvresende persone. Hierdie gebruike is nie net oorblyfsels van die Middeleeue nie. Volgens onlangse nuusberigte het selfs prominente, hedendaagse godsdiensleiers al selfkastyding beoefen.
Wat beweeg mense om op so ’n manier te aanbid? Volgens ’n woordvoerder van ’n verklaarde Christenorganisasie is “vrywillig aanvaarde ongemak ’n manier om jouself te verbind met Jesus Christus en die lyding wat hy vrywillig aanvaar het om ons van sonde los te koop”. Maar ten spyte van wat godsdiensleiers beweer, wat sê die Bybel oor hierdie onderwerp?
Koester jou liggaam
Aanbidding van God deur middel van selftoegediende pyn word nie in die Bybel aanbeveel of goedgepraat nie. Trouens, die Bybel moedig godvresende mense duidelik en herhaaldelik aan om na hulle liggaam om te sien. Kyk na die manier waarop die Bybel die geneentheid tussen ’n man en vrou beskryf. Dit verwys na die manier waarop ’n man sy eie liggaam natuurlikerwys sal behandel en maan: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam . . . Geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.”—Efesiërs 5:28, 29.
Sou die opdrag om jou vrou lief te hê soos jou eie liggaam, veel beteken het as daar van aanbidders verwag is om hulle liggame tydens aanbidding wreed te mishandel? Dit is duidelik dat daar van liefhebbers van skriftuurlike beginsels verwag word om hulle liggaam te koester en selfs ’n mate van liefde daarvoor te hê, en hierdie heilsame liefde vir hulleself moet ook hulle huweliksmaat insluit.
Dit is gepas dat die Bybel baie beginsels bevat wat sy lesers help om hulle liggaam te koester. Die Bybel praat byvoorbeeld van die voordeel van matige oefening (1 Timoteus 4:8). Dit verwys na die geneeskundige waarde van sekere kosse asook die slegte gevolge van ’n swak dieet (Spreuke 23:20, 21; 1 Timoteus 5:23). Die Skrif moedig mense aan om gesond te bly, want dit laat hulle toe om so bedrywig moontlik te wees (Prediker 9:4). As daar van Bybellesers verwag word om hulle gesondheid op hierdie maniere te beskerm, hoe kan daar dan ook van hulle verwag word om hulle liggame te pynig?—2 Korintiërs 7:1.
Moet Christene Jesus se lyding nadoen?
Sekere organisasies fokus verkeerdelik op die lyding wat Jesus en sy vroeë volgelinge verduur het om selfpyniging vandag aan te moedig. Maar die lyding wat deur God se knegte in die Bybel beskryf word, was nooit selftoegediende lyding nie. Wanneer Christenbybelskrywers na Christus se lyding verwys het, het hulle dit gedoen om Christene aan te moedig om vervolging te verduur, nie om hulle eie vervolging te veroorsaak nie. Diegene wat hulle liggame pynig, volg dus nie Jesus Christus na nie.
Ter toeligting: Stel jou voor jy sien hoe ’n vriend wat jy bewonder, deur ’n woedende skare beledig en geslaan word. Jy merk op dat jou vriend die aanval met ’n kalm, vreedsame gemoed verduur en nie terugslaan of hulle ook beledig nie. As jy jou vriend wou navolg, sou jy jouself begin slaan en beledig? Natuurlik nie! As jy dit doen, sal jy die optrede van die skare navolg. As jy so aangeval word, sal jy eenvoudig probeer om nie wraak te neem nie.
Dit is dus duidelik dat daar nie van Christus se volgelinge verwag word om hulleself te pynig nie. Waarom sou dit vir hulle nodig wees om die woedende skares na te boots wat Jesus gepynig het en hom wou doodmaak? (Johannes 5:18; 7:1, 25; 8:40; 11:53). Wanneer hulle vervolg word, moet hulle eerder die kalm, vreedsame manier navolg waarop Jesus ontberinge verduur het.—Johannes 15:20.
’n Onskriftuurlike verdraaiing
Selfs voor die Christelike era het die geskrifte wat Joodse lewe en aanbidding gerig het, die Jode verbied om hulle vlees op enige manier leed aan te doen. Die Wet het byvoorbeeld die Jode uitdruklik verbied om hulleself te sny, ’n gebruik wat blykbaar algemeen was onder eertydse nie-Joodse nasies (Levitikus 19:28; Deuteronomium 14:1). As God nie wou hê dat mense hulle liggaam moes sny nie, sou hy ook nie wou hê dat hulle dit met swepe moes skend nie. Die Bybelstandaard is duidelik—om jou eie vlees op enige manier opsetlik te skend, is vir God onaanvaarbaar.
Net soos ’n kunstenaar wil hê dat sy werk gerespekteer moet word, wil Jehovah God, die Skepper, hê dat sy skepping, die menseliggaam, gerespekteer moet word (Psalm 139:14-16). Om die waarheid te sê, selfpyniging versterk nie jou verhouding met God nie. Dit sal dit eerder verswak, en dit verdraai die leringe van die Evangelies.
Die apostel Paulus het onder inspirasie van sulke onderdrukkende, mensgemaakte leerstellings gesê: “Juis dié dinge het wel ’n skyn van wysheid in ’n selfopgelegde vorm van aanbidding en skynnederigheid, ’n streng behandeling van die liggaam; maar hulle het geen waarde in die bestryding van die bevrediging van die vlees nie” (Kolossense 2:20-23). Die gebruik om jouself te pynig, is waarlik van geen waarde om jou te help om nader aan God te kom nie. Die vereistes van ware aanbidding van God is eerder verkwikkend, sag en lig.—Matteus 11:28-30.
HET JY AL GEWONDER?
● Hoe beskou God die menseliggaam?—Psalm 139:13-16.
● Kan die pyniging van jou vlees jou help om teen verkeerde begeertes te stry?—Kolossense 2:20-23.
● Is ware aanbidding veronderstel om swaar of wreed te wees?—Matteus 11:28-30.
[Lokteks op bladsy 11]
Die Bybelstandaard is duidelik—om jou eie vlees op enige manier opsetlik te skend, is vir God onaanvaarbaar
[Prent op bladsy 10]
’n Pelgrim kruip in pyn na ’n kerk
[Erkenning]
© 2010 photolibrary.com