Gelukkig om ’n herder te wees
Soos vertel deur Alimbek Bekmanof
Toe ek drie jaar oud was, het ek skape begin oppas, en ek het daarvoor lief geword om vir hulle te sorg. Teen die tyd dat ek 17 was, was ek ’n ervare herder. Later het ek van ’n ander soort herder geleer, ’n geestelike herder. Kom ek verduidelik waarom dit my selfs groter vreugde verskaf het om as so ’n herder te dien.
EK IS in 1972 gebore. My groot Kirgistanse gesin het in die dorpie Tjirpikti, op die oewer van die pragtige Issik Koel-meer, gewoon. Die gebied rondom die meer is ’n gewilde toeriste-aantreklikheid vir besoekers aan Kirgistan, wat voorheen ’n republiek van die Sowjetunie was. Nou woon ek saam met my vrou, Goelmira, in Bisjkek, Kirgistan se hoofstad, ongeveer 200 kilometer van waar ek grootgeword het.
’n Herder en skape
Toe ek ’n kind was, het ons die skape in die lente na hoogliggende weivelde in die berge gelei. Dit het beteken dat ons meer as 3 000 meter moes klim, wat ons etlike dae geneem het. Party ander herders het ’n korter roete gekies en die weivelde vinniger bereik. Maar die pad wat hulle gekies het, was naby klowe en ravyne, en skape wat ’n bietjie afgedwaal het, is soms beseer—of het hulle selfs doodgeval.
Op sulke roetes het wolwe dikwels die skape skrikgemaak of aangeval, hulle van die kudde afgeskei en doodgemaak. Daarom het my oom ’n pad gekies wat makliker en minder gevaarlik is, al het dit ’n ekstra dag of langer geneem. Soms wou ek gou maak, maar my oom het my gestop. “Alimbek”, het hy gesê, “dink aan die skape, nie aan jouself nie.”
In die pragtige weivelde hoog in die berge is tydelike krale, of kampe, gemaak om die skape gedurende die nag te beskerm. Party herders het daarvan gehou om laat te slaap en het die skape eers lank ná sonop by die weiveld gekry. Teen die tyd dat die skape begin wei het, was dit al warm.
Die skape het kort voor lank kop onderstebo bymekaar gestaan en swaar asemgehaal. Omdat hulle nie genoeg kon eet nie, het hulle swak en maer geword. My oom daarenteen het voor dagbreek opgestaan—teen vieruur die oggend—en hy het die skape onder sy sorg teen sonop by ’n goeie weiveld gehad. Daar het hulle tyd gehad om in die verfrissende vroeë oggendlug te wei. Soos mense dikwels gesê het: “As jy na die skape kyk, sien jy die herder.”
’n Goeie tyd om die skape te ondersoek en te behandel, is wanneer hulle rus nadat hulle gewei het. Een van die grootste probleme wat ons skape gehad het, was dat sekere vlieë eiers in die skape se naeltjie lê. Wanneer dit gebeur, raak die naeltjie ontsteek en swel dit op. As die probleem nie betyds ontdek word nie, kan die pyn so intens word dat die skaap dalk sal wegdwaal en doodgaan. Ons het ons skape amper elke dag ondersoek sodat ons hulle kon behandel. Al het dit tyd en inspanning geverg, was ons beloning dat die skape gesond en tevrede was.
Elke aand wanneer ons van die weiveld na die kraal teruggekeer het, het ons die skape getel. Hulle het deur ’n smal hekkie in die kraal ingegaan—soms tot drie of vier op ’n slag. Daar was etlike honderde skape in ons kudde, maar ons kon die skape later so goed tel dat ons tot 800 skape binne 15 tot 20 minute kon tel. Dit het baie oefening geverg, maar ons het dit reggekry!
As ons agtergekom het dat ’n skaap weggeraak het, het my oom ’n geweer en ’n staf geneem en uitgegaan om na die verlore skaap te soek—hy het selfs in die reën en die donker uitgegaan om na net een lammetjie te soek. Hy het hard geroep. Sy stem het wilde diere afgeskrik. Wanneer ’n skaap daardie stem gehoor het, kon jy sommer sien dat dit veilig gevoel het.
Ons het elke skaap ’n naam gegee volgens die verskille in hulle voorkoms of karaktertrekke. In ’n kudde was daar byna altyd hardkoppige skape. Om die een of ander rede wou hulle net nie gehoorsaam wees aan die herder nie. Partykeer was ander skape geneig om ’n ongehoorsame skaap te volg. Die herder het dus probeer om die hardkoppiges te leer en te dissiplineer. Hy het byvoorbeeld so ’n skaap alleen in die kraal gelos. Mettertyd het sommige daaruit geleer en die herder se leiding gevolg. Skape wat hardkoppig gebly het, het op ons etenstafel beland.
’n Ander soort herder
In 1989 het ek vegkuns bestudeer en baie bekwaam daarin geword. Die volgende jaar is ek opgeroep vir die Sowjetleër. Terwyl ek in Rusland diensplig verrig het, het my makkers wat ook vegkuns beoefen het, hulle eie misdadigersbende georganiseer. Toe ek na Kirgistan teruggekeer het, het hulle vir my gesê dat ek alles sou hê as ek by hulle aansluit. Maar gedurende daardie tyd het ek Jehovah se Getuies leer ken.
Die Getuies het vrae beantwoord wat my sedert my kinderjare gekwel het, soos: ‘Waarom sterf mense?’ Ek het uit ons besprekings begin verstaan dat die dood die gevolg is van die eerste mens, Adam, se sonde (Romeine 5:12). Ek het ook uit die Bybel geleer dat Jehovah, die ware God, sy Seun Jesus as ons Verlosser gestuur het en dat ons oorgeërfde sondes bedek kan word as ons geloof in Jehovah en sy Seun stel. Dit sal ons dan in aanmerking laat kom om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe, in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme vir die mens.—Psalm 37:11, 29; 83:18; Johannes 3:16, 36; 17:1-5; Openbaring 21:3, 4.
Die Bybelse antwoorde wat die Getuies op my vrae voorsien het, was so duidelik en verstaanbaar dat ek uitgeroep het: “Dis hoe dit moet wees!” Ek wou nie meer met my vorige makkers assosieer nie. Hulle het my ’n paar keer probeer oorreed om terug te keer na hulle groep. Maar my begeerte om Bybelwaarhede te leer en toe te pas, was sterk genoeg om my te help om hulle aanloklike aanbiedings te weerstaan en het daartoe gelei dat ek later ’n geestelike herder geword het.
Omtrent daardie tyd het ’n geloofsgeneser wat bekend was in ons gebied, my ma kom besoek. Toe ek eendag by die huis aankom, was die vrou besig om ’n spiritistiese séance te hou. Sy het gesê dat ek ’n spesiale gawe het en het my aangespoor om na die moskee toe te gaan om ’n amulet te kry. Sy het beweer dat die amulet my sal help. Sy het my amper daarvan oortuig dat ek die gawe van genesing sou ontvang as ek dit doen.
Die volgende dag het ek na die Getuies wat die Bybel met my gestudeer het, gegaan en hulle van haar besoek vertel. Hulle het my in die Bybel gewys dat Jehovah gekant is teen alle vorme van spiritisme omdat dit te doen het met bose geeste (Deuteronomium 18:9-13). As gevolg van die demone se invloed kon ek ’n paar nagte lank nie slaap nie. Toe die Getuies my geleer het hoe om in ooreenstemming met God se wil te bid, was ek gou van die nagmerries ontslae. Ek het oortuig geraak dat ek die ware Herder, Jehovah, gevind het.
Ek het geleer dat Dawid, die skrywer van baie psalms in die Bybel, ook in sy jeug ’n herder was. Hy het Jehovah “my Herder” genoem, en sy gevoelens oor Hom het vir my kosbaar geword (Psalm 23:1-6). Ek wou Jehovah se Seun, Jesus, wat die “herder van die skape” genoem word, navolg (Hebreërs 13:20). By ’n byeenkoms wat vroeg in 1993 in Bisjkek gehou is, het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
’n Belangrike vergadering
’n Groot aantal van my familielede, sowel as bure, het begin bymekaarkom om die Bybel te studeer. Omtrent 70 mense van ons dorpie het naby die Issik Koel-meer vergader. Een van my familielede, wat die hoof van die dorpsraad was, het baie belanggestel. Hy het gesê dat hy ’n groot vergadering sou reël waartydens ons ons nuutgevonde geloof kon verduidelik. Maar plaaslike godsdiensleiers het mense in die gebied begin aanhits om ons predikingswerk teë te staan. Hulle het saamgespan om hierdie vergadering te gebruik om mense teen ons te laat draai.
Op die bestemde dag het omtrent duisend mense vergader, insluitende mense van drie nabygeleë dorpies. ’n Paar Getuies was teenwoordig, en een van hulle het ons Bybelse oortuigings begin verduidelik. Ná minder as vyf minute het iemand opgestaan en uittartende vrae geskreeu. Aantygings en dreigemente is rondgeslinger, en die skare is opgesweep tot die punt waar hulle ons te lyf wou gaan.
Op daardie oomblik het een van my ouer broers, wat onlangs die Bybel begin studeer het, opgestaan om ons te verdedig. Almal was bang vir hom en het hom vermy omdat hy goed kon baklei. Hy het moedig tussen die aanvallers en die Getuies gestaan, en ons het vertrek sonder dat enige geweld plaasgevind het. Gedurende die daaropvolgende jare het baie van dié wat daardie vergadering bygewoon het, Getuies geword. Vandag is meer as 50 uit ons dorpie van omtrent 1 000 inwoners Jehovah se Getuies.
’n Herder se dogter
’n Paar maande voor die groot byeenkoms van Jehovah se Getuies in Augustus 1993 in Moskou, Rusland, het ek vir Goelmira, ’n Getuie uit ’n Kirgistanse dorpie, ontmoet. Haar familie was ook herders. In 1988, toe die bedrywighede van die Getuies nog in die Sowjetunie verbied was, het Goelmira se ma die Bybel saam met ’n Getuie, Aksami, begin studeer. In die 1970’s het Aksami die eerste Kirgistanse Getuie in die gebied geword.
Kort daarna het Goelmira by haar ma aangesluit vir die Bybelstudie met Aksami. In 1990 het hulle albei gedoopte Getuies geword. Goelmira se hart het haar kort voor lank beweeg om as ’n pionier aan die voltydse bediening te begin deelneem.
Ek het Goelmira net af en toe gedurende die volgende twee jaar gesien, aangesien ek omtrent 160 kilometer van haar tuisdorpie af gewoon het. In Maart 1995 het ek besluit om haar beter te leer ken, en daarom het ek toe een oggend na haar huis toe gegaan. Ek was geskok toe ek uitvind dat sy die volgende dag vertrek om by die takkantoor in Rusland te gaan dien, meer as 5 633 kilometer daarvandaan!
Teen daardie tyd het ek reeds as ’n voltydse bedienaar gedien en Russies begin leer, aangesien ons op daardie stadium nog nie van ons lektuur in Kirgisies gehad het nie. Ek en Goelmira het drie jaar lank vir mekaar geskryf en gereël om dieselfde Skrifgedeeltes te lees sodat ons geestelike gedagtes met mekaar kon bespreek. Intussen het ek in die eerste Kirgisiese gemeente, in die dorp Baliktji, gedien.
Ek dien Jehovah saam met Goelmira
In 1998 het Goelmira met vakansie na Kirgistan gekom, en ons het getrou. Ek is genooi om saam met haar by die takkantoor in Rusland te dien. Hoe bly was ek tog dat ek Russies begin leer het! Later is ek aangewys om saam met die Kirgisiese vertaalspan te werk, wat Bybellektuur in Kirgisies voorsien het. Ek het tot Jehovah gebid en vir wysheid en geduld gevra. En natuurlik was my medewerker, Goelmira, van groot hulp.
In 2004 is ons vertaalspan na Bisjkek gestuur, waar ek aangestel is om te dien op die komitee wat toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies in Kirgistan. Daar was toe sewe Kirgisiese gemeentes en oor die 30 Russiese gemeentes in die land. Nou is daar meer as 20 Kirgisiese gemeentes en baie Kirgisiese groepe, waaraan omtrent 40 persent van die sowat 4 800 Getuies in Kirgistan behoort.
Ek en Goelmira het besluit om Engels te leer, aangesien dit ons in ons bediening sou help as ons dit kon praat. Dit het daartoe gelei dat ons in 2008 ’n uitnodiging ontvang het om na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in die Verenigde State te gaan. Daar het ek die spesiale skool bygewoon vir diegene wat in hulle onderskeie lande die leiding in die predikingswerk neem.
Ek en Goelmira voel nou meer bekwaam om na die geestelike behoeftes van die mense in Kirgistan om te sien. Ons ondervindinge het ons gehelp om eerstehands te sien dat Jehovah waarlik ’n liefdevolle herder is. Ek het persoonlik die vervulling van die Bybelpsalm ondervind wat sê: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam.”—Psalm 23:1-3.
[Prent op bladsy 23]
Ons skape in die weiveld
[Prent op bladsy 23]
Ons het die skape elke aand getel om seker te maak dat nie een weg is nie
[Prent op bladsy 24]
Ek en Goelmira vandag