Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 4
Die Bybel het voorspel dat die Christus sou ly en sterf
In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.
TOE Jesus Christus sowat 2 000 jaar gelede op aarde was, het hy geweet dat hy deur die toedoen van sy vyande ’n wrede dood sou sterf. Hoe het Jesus dit geweet? Hy was goed bekend met die profesieë wat in die Hebreeuse Geskrifte, of die “Ou Testament”, oor hom opgeteken is. ’n Aantal van hierdie profesieë is meer as 700 jaar voor Jesus se geboorte deur die profeet Jesaja neergeskryf. Hoe kan ons seker wees dat Jesaja se woorde voor die tyd opgeteken is?
In 1947, in die Wesoewer, het ’n Bedoeïeneherder versteekte boekrolle gevind in ’n grot by Qumran, aan die noordwestelike oewer van die Dooie See. Hierdie boekrolle, tesame met ander wat in nabygeleë grotte gevind is, is later die Dooie See-rolle genoem. Dit sluit ’n afskrif van die volledige boek Jesaja in.a Hierdie afskrif dateer uit omstreeks die tweede eeu voor Jesus se geboorte. Wat Jesaja neergeskryf het, was dus werklik profesieë. Wat het hy voorspel oor die lyding van die Christus, of Messias?b Kyk na twee van Jesaja se profesieë.
Christus se lyding voorspel
Profesie 1: “Ek het my rug gegee vir dié wat slaan.”—Jesaja 50:6.c
Vervulling: In die jaar 33 HJ het Jesus se Joodse vyande hom voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gebring om verhoor te word. Die goewerneur het besef dat Jesus onskuldig was en het hom probeer vrylaat. Maar aangesien die Jode daarop aangedring het dat Jesus doodgemaak moet word, het Pilatus “uitspraak gelewer dat daar aan hulle eis voldoen moes word” en het hy Jesus oorgelewer om aan die paal gehang te word (Lukas 23:13-24). Maar eers “het Pilatus Jesus geneem en hom gegesel”, of erg laat slaan (Johannes 19:1). Soos Jesaja voorspel het, het Jesus geen weerstand gebied nie, maar ‘sy rug gegee vir dié wat slaan’.
Wat die geskiedenis toon:
● Die geskiedenis bevestig dat die Romeine hulle slagoffers gewoonlik gegesel het voordat hulle hulle tereggestel het. Volgens een naslaanwerk is ’n persoon “gegesel met ’n sweep wat ’n aantal leerriempies gehad het waaraan stukkies lood of skerp metaal vasgemaak is. Die slagoffer is . . . op die kaal rug geslaan . . . totdat die vlees oopgeskeur is. Soms het dit die dood tot gevolg gehad.” Jesus het hierdie geseling egter oorleef.
Christus se dood voorspel
Profesie 2: “Hy [het] sy siel in die dood uitgestort” (Jesaja 53:12).d Psalm 22:16 verskaf nog inligting en sê: “’n Groep bose manne het my omsingel, hulle het my hande en my voete deurboor.”—“New International Version.”
Vervulling: “Nadat [Pilatus] Jesus laat gesel het, het hy hom oorgelewer om aan die paal gehang te word”, sê Markus 15:15. In Jesus se geval het hierdie wrede teregstellingsmetode behels dat sy hande en voete aan ’n paal vasgenael word (Johannes 20:25). ’n Paar uur later het “Jesus . . . hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas”.—Markus 15:37.
Wat die geskiedenis toon:
● Hoewel sekulêre bronne nie veel inligting verskaf oor hoe Jesus gesterf het nie, het die gerespekteerde Romeinse geskiedskrywer Tacitus, wat omstreeks 55 HJ gebore is, geskryf: “Christus, aan wie die naam [Christene] ontleen is, is tydens die bewind van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus.”e Tacitus se woorde stem ten volle ooreen met die Evangelieverslae, wat ook melding maak van keiser Tiberius, Pontius Pilatus en ander amptenare.—Lukas 3:1; 23:1-33; Johannes 19:1-24.
Die geskiedenis bevestig ook dat die Romeine slawe en mense wat hulle as veragtelike misdadigers beskou het, aan ’n paal gehang het. Soms het die Romeine hulle slagoffers aan ’n paal vasgebind. Ander kere het hulle spykers gebruik. “Spykers is deur die slagoffer se hande en voete gekap”, sê een naslaanwerk, “en hy het in verskriklike pyn daar gehang”, terwyl hy “ontsettend dors [was] en sy liggaam van die folterende pyn bly saamtrek het”.
Soos vroeër gemeld is, het Jesus lank voor die tyd geweet dat hy ’n wrede dood sou sterf. Toe sy dood naderkom, kon hierdie moedige man dus vir sy lojale volgelinge sê: “Ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal hom ter dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer om die spot mee te dryf en te gesel en aan die paal te hang” (Matteus 20:18, 19). Maar waarom, vra party, moes Jesus sterf? Die antwoord op hierdie vraag raak ons almal, en dit hou verband met die beste nuus wat ons ooit kan ontvang!
“Hy is vir ons ongeregtighede verbrysel”
As onvolmaakte mense doen ons dikwels verkeerde dinge. Die Bybel noem dit sonde. Sonde kan vergelyk word met sanderigheid in ’n enjin. Die sanderigheid sal uiteindelik slytasie in die enjin veroorsaak, en dit sal gaan staan. Net so veroorsaak sonde dat ons oud word, siek word en doodgaan. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, sê Romeine 6:23. Christus se dood maak dit egter vir ons moontlik om uit hierdie tragiese toestand bevry te word. Hoe so? In ’n ander verstommende profesie het Jesaja geskryf dat die Christus “vir ons oortreding” sou sterf, of “vir ons ongeregtighede verbrysel” sou word, en dat daar “weens sy wonde . . . vir ons genesing” was.f—Jesaja 53:5.
Jesaja se profesie laat ons dink aan Jesus se woorde in Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”
Hoe kan jy geloof in Jesus opbou? Deur meer omtrent hom te leer. Jesus het in gebed gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Hierdie kosbare kennis word in die Bybel gevind.—2 Timoteus 3:16.
Jesus wil natuurlik hê dat soveel mense moontlik die ewige lewe moet verkry. Daarom het hy kort voor sy dood hierdie merkwaardige voorspelling gemaak: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk [God se regering, wat die voordele van Christus se offerande ten behoewe van die mensdom sal aanwend] sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Soos ons in die volgende twee artikels in hierdie reeks sal sien, was hierdie profesie ook baie akkuraat.
[Voetnote]
a Die enigste volledige boekrol bevat die hele boek Jesaja. Die ander boekrolle is fragmente.
b Sien die Ontwaak! van Julie 2012 om te sien watter ander Bybelprofesieë die Messias help identifiseer.
c Die konteks toon dat die “ek” in hierdie profesie na Christus verwys. Vers 8 sê byvoorbeeld: “Die Een [God] wat my [Jesus Christus] regverdig verklaar, is naby.” Toe Jesus op aarde was, was hy die enigste mens wat in God se oë regverdig, of sonder sonde, was.—Romeine 3:23; 1 Petrus 2:21, 22.
d Jesaja 52:13–53:12 bevat talle profetiese besonderhede oor die Messias. Jesaja 53:7 sê byvoorbeeld: “Hy is net soos ’n skaap na die slagplek gelei . . . Hy [het] ook nie sy mond oopgemaak nie.” Vers 10 voeg by dat hy sy siel as “’n skuldoffer” aangebied het.
e Ander eertydse kroniekskrywers maak ook melding van Christus, onder meer die gerespekteerde Romeinse geskiedskrywer Suetonius (eerste eeu); Plinius die Jongere, die goewerneur van Bitinië (vroeë tweede eeu); en die Joodse geskiedskrywer Josefus (eerste eeu), wat verwys na “Jakobus, die broer van Jesus wat die Christus genoem is”.
f Jesus “het geen sonde begaan nie” en het dus nie verdien om te sterf nie (1 Petrus 2:22). Maar hy het sy lewe vir ons opgeoffer, en sodoende het hy vir ons sondes betaal en ons uit die dood losgekoop. Jesus se dood word dus ’n “losprys” genoem (Matteus 20:28). Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, wat beskikbaar is op die webwerf www.jw.org.
[Venster/Prent op bladsy 20]
CHRISTUS SE OFFERDOOD VOORAFGESKADU
God se Wet aan die nasie Israel het voorskrifte ingesluit wat ’n voorafskaduwing was, of as ’n model gedien het, van wat die Messias later sou doen. Byvoorbeeld, nadat ’n Israeliet gesondig het, of aan God ongehoorsaam was, moes hy ’n dier offer wat sonder gebrek was (Levitikus 17:11; 22:21). Kon diereoffers ten volle vir sondes versoening doen? Nee (Hebreërs 10:4). Maar dit kon, en het, die offerande voorafgeskadu wat sonde sou bedek—die offerande van “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29; Hebreërs 10:1, 5-10). Almal wat geloof beoefen in daardie figuurlike Lam, Jesus Christus, het die kosbare hoop op die ewige lewe.—Johannes 6:40.