Hoofstuk 10
‚Hulle sal nie meer honger hê nie’
1. Hoe ernstig is die wêreld se voedselkrisis?
EEN van die grootste probleme waarmee die wêreld vandag te kampe het, is die voedselkrisis. Hoë pryse skep vir baie mense probleme. Ander word deur verhongering in die gesig gestaar. Onlangs is berig dat daar elke jaar 40 miljoen mense—en party jare tot 50 miljoen—sterf omdat hulle nie genoeg kos het om te eet nie. Ongeveer tien maal soveel ly aan ernstige ondervoeding. Ofskoon sommige lande baie meer produseer as wat hulle kan eet, word pogings om die oorskot aan die hulpbehoewendstes beskikbaar te stel dikwels deur politieke wedywer en kommersiële hebsug in die wiele gery.—Vergelyk Openbaring 6:5, 6.
2. Waarom het selfs mense in lande waar daar oorvloed is rede tot kommer?
2 Selfs vir lande wat skynbaar ’n oorvloed het, lyk die toekoms duister. Waarom? Hedendaagse boerderymetodes is dikwels van petroleum afhanklik, en die wêreldvoorraad is nie onuitputlik nie. Die oormatige gebruik van kunsmis besoedel hulle waterbronne. Die oorbenutting van plaagdoders, wat bedoel is om gewasse te beskerm, vernietig ook organismes wat onontbeerlik is vir die toekomstige vrugbaarheid van die grond. Op bykans elke terrein van mensebedrywigheid is ernstige probleme aan die toeneem. Aurelio Peccei, president van ’n internasionale groep intellektuele, het die wêreld vergelyk met ‚’n opslagkoeël wat van een ramp na die ander slinger’. Is dit realisties om jou hoop vir die toekoms op so ’n wêreld te vestig?—Jeremia 10:23; Spreuke 14:12.
3. Wie kan waarborg dat die hele mensdom oorgenoeg voedsel kry, en wat gee jou daardie vertroue?
3 Miljoene mense was verstandig genoeg om te erken dat hulle die hulp nodig het wat net God kan gee. Omdat hulle Bybelprofesie ondersoek het, weet hulle dat Jehovah God alreeds sy hemelse Seun Jesus Christus op die troon geplaas en hom die hele aarde as sy besitting gegee het (Psalm 2:7, 8). Hy het die wysheid en die vermoë om te waarborg dat die hele mensdom oorgenoeg van die aarde se opbrengs sal kry (Psalm 72:7, 8, 16; Kolossense 1:15-17). Nadat die huidige selfsugtige stelsel uit die weg geruim is, sal Christus die werksaamhede van die oorlewendes so bestuur dat die hele aarde ’n vrugbare paradys sal word.
4. Wat moet ons nou doen as ons by daardie fisiese voorsienings baat wil vind?
4 Die persone wat permanent by sy heerskappy baat sal vind, is egter die wat begryp dat die mens nie van brood alleen lewe nie, mense wat geestelike dinge waardeer en wat besef dat hulle versterk moet word deur God se wil te leer en dit te doen. Die Bybel wys herhaaldelik op die belangrikheid hiervan (Johannes 4:34; 6:27; Jeremia 15:16). Jesus het dit beklemtoon toe hy gesê het: „Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Ons het nou sulke geestelike voedsel nodig as ons die einde van hierdie wêreld wil oorleef. Hoe ons dit kan verkry, word vir ons toegelig in die Bybelverhaal oor Josef en sy broers.
„GAAN NA JOSEF”
5. Hoe het dit gekom dat Josef ’n slaaf in Egipte geword het?
5 God het aan Josef, ’n agterkleinseun van Abraham, drome gegee wat getoon het dat Josef ’n prominente rol in die lewe sou hê. As gevolg hiervan, en ook omdat hy sy vader se oogappel was, het Josef se tien halfbroers hom gehaat. Hulle het saamgesweer om hom dood te maak maar hom eindelik as ’n slaaf verkoop, en hy is na Egipte weggevoer. Hoe sou God se voorneme in verband met Josef nou vervul word?—Genesis 37:3-11, 28.
6. (a) Hoe het Farao van Josef te hore gekom? (b) Wat was die drome wat Farao gekwel het?
6 Toe Josef 30 jaar oud was, het Jehovah gesorg dat Farao, die koning van Egipte, twee drome droom wat hom gekwel het. In die eerste het hy sewe koeie gesien, „mooi van aansien en vet van vleis”, asook sewe ander koeie wat „lelik van aansien en maer van vleis” was. Die maer koeie het toe die vettes opgeëet. In ’n ander droom het Farao sewe „vet en mooi are” aan een steel gesien, en sewe ander are „wat maer en deur die oostewind verskroei was”. Weer het die maeres die vettes verslind. Wat het dit alles beteken? Nie een van die wyse manne van Egipte kon die drome uitlê nie. Maar Farao se skinker het onthou dat, toe hy in die gevangenis was, ’n mede-gevangene, Josef, drome reg uitgelê het. Farao het dadelik vir Josef ontbied.—Genesis 41:1-15.
7. (a) Hoe het Josef die voedseladministrateur van Egipte geword? (b) Wat het die Egiptenaars gedoen om aan die lewe te bly toe die hongersnood baie erg geword het?
7 Sonder om die eer vir homself te neem, het Josef vir Farao gesê: „Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee” (Genesis 41:16, 25). Josef het verduidelik dat die tweede droom dieselfde beteken as die eerste en die sekerheid daarvan beklemtoon het. Sewe jaar van oorvloed in Egipte sou deur sewe jaar van hongersnood gevolg word. Hy het Farao aangeraai om ’n bekwame man oor die berging van graan gedurende die jare van oorvloed aan te stel om vir die hongersnood voor te berei. Omdat Farao besef het dat God self al hierdie dinge aan Josef geopenbaar het, het hy vir Josef as voedseladministrateur aangestel en hom die magtigste persoon in Egipte naas Farao self gemaak. Soos voorspel, het die sewe jaar van buitengewone oorvloed gekom, en Josef het ontsaglike hoeveelhede voedsel weggebêre. Daarna het die voorspelde hongersnood die land in ’n wurggreep vasgevat. Toe die volk Farao om brood gesmeek het, het hy geantwoord: „Gaan na Josef, doen wat hy julle sê.” Daarop het Josef aan hulle graan verkoop—waarvoor hulle eers met geld betaal het, toe met hulle vee en eindelik in ruil vir hulleself en hulle grond. Om aan die lewe te bly, het hulle hulself geheel en al aan die diens van Farao oorgegee.—Genesis 41:26-49, 53-56; 47:13-26.
8. (a) Wat moes Josef se halfbroers doen om die nodige voedsel te kry? (b) Waarom is hierdie verhaal vir ons bewaar?
8 Die hongersnood het ook die lande rondom Egipte geraak. Uiteindelik het Josef se eie halfbroers van Kanaän af gekom. Meer as 20 jaar het verloop sedert hulle hom as slaaf verkoop het, en hulle het hom nie herken nie. Hulle het voor hom neergebuig, soos Josef se drome lank tevore voorspel het, en gesê dat hulle voedsel wou koop (Genesis 37:6, 7; 42:5-8). Josef het hulle vernuftig op die proef gestel en oortuigende bewys gesien dat hulle gesindheid teenoor hom en hulle vader inderdaad verander het. Uiteindelik het hy vir hulle gesê wie hy is en verduidelik dat God hom voor hulle uit na Egipte gestuur het „om lewens te behou”. Op sy aanbeveling het hulle hul vader en hul gesinne na Egipte gebring om daar te woon (Genesis 45:1-11). Alles is tot ons voordeel opgeteken, en die profetiese betekenis daarvan hou verband met gebeure in ons dag.—Romeine 15:4.
STIL NOU JOU HONGER EN DORS
9. (a) Waarom is daar vandag geestelike hongersnood in die wêreld? (b) Waarom is dit een van die grondoorsake van die mensdom se probleme?
9 Een van die grondoorsake van die mensdom se probleme is geestelike hongersnood. Omdat hulle Jehovah die rug toegekeer het, begunstig hy hulle nie met ’n begrip van sy Woord nie. Gevolglik ondervind hulle „’n honger nie na kos nie, ’n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor” (Amos 8:11, NAV). Geestelik verhongerde mense tas na antwoorde op lewensbelangrike vrae soos: Wat is die sin van die lewe? Waarom sterf mense? Is daar werklik hoop vir die toekoms? Rasend van geestelike honger berokken sulke mense hulleself en ander dikwels skade wanneer hulle onsedelike en kriminele dade pleeg om hulle drange te bevredig.
10. (a) Watter toestand heers onder Jehovah se knegte, ter vervulling van Jesaja 65:13, 14? (b) Wanneer is die tydperk van geestelike hongersnood en van geestelike oorvloed?
10 In teenstelling hiermee het Jehovah sy lojale knegte met geestelike oorvloed geseën, en daar heers ware liefde onder hulle. Hy het hulle insig gegee in die versadigende geestelike waarhede van sy geïnspireerde Woord en het vir hulle, as sy getuies, werk gegee om te doen. Hulle verkondig hierdie waarhede met genoeë aan ander wat geestelik honger is en graag ’n verhouding met God wil verkry (Jesaja 65:13, 14; Lukas 6:21). In eertydse Egipte het die sewe jaar van hongersnood ná die sewe jaar van oorvloed gekom. Maar in ons dag loop die tydperk van geestelike hongersnood en van geestelike oorvloed gelyktydig.
11. (a) Wie word deur Farao en deur Josef afgebeeld, en waarom? (b) Hoe kom die optrede van die „groot menigte” met dié van die verhongerde Egiptenaars ooreen?
11 Vandag is dit nie Farao wat koning is nie. Jehovah God, die Grotere Farao, is die Soewerein van die heelal. Hy het Jesus Christus die magtigste persoon naas homself gemaak. Jehovah het aan Jesus, as die Grotere Josef, die verantwoordelikheid toevertrou om lewensonderhoudende geestelike voedsel te verskaf. Die godsdienstige en sekulêre filosofieë van die wêreld het die mensdom met ’n knaende, geestelike honger gelaat. Al manier waarop hulle hulle honger kan stil, is deur hulle na Jesus Christus te wend en geestelike voedsel te verkry op die manier wat hy bepaal. Miljoene mense, afgebeeld deur die verhongerde Egiptenaars, doen dit. Deur Jesus Christus wy hulle hulle ten volle en vir goed aan Jehovah toe, en so word hulle ’n deel van die groot menigte wat verwag om die komende dag van God se wraak te oorleef.
12. (a) Hoe verskaf Jesus uit die hemel geestelike voedsel aan ons hier op aarde? (b) Wat oortuig jou van die identiteit van „die getroue en verstandige dienskneg”?
12 Maar Jesus is in die hemel. Hoe verskaf hy geestelike voedsel aan ons hier op aarde? Hy het voorspel dat hy dit deur sy „getroue en verstandige dienskneg” sou doen (Mattheüs 24:45-47). Dit is ’n samegestelde „dienskneg” wat bestaan uit sy gemeente van geesgesalfdes terwyl dié nog op aarde is. (Vergelyk Jesaja 43:10.) ’n Oorblyfsel van hierdie geesgesalfdes is vandag hier op aarde. Hierdie ware Christengemeente kan maklik uitgeken word deur die leringe en gebruike daarvan met die Bybel te vergelyk. Hy verkondig waarlik wat Jesus beveel het. Daarom bemoei hy hom nie met die politieke aangeleenthede van die wêreld nie, maar al sy lede is openbare verkondigers van God se Koninkryk. Hulle is nie verdeel onder die sektes van die Christendom nie. Hulle is verenig, soos Jesus voorspel het—almal getuies van Jehovah in navolging van hulle Heer. (Kyk Johannes 17:16, 20, 21; Mattheüs 24:14; 28:19, 20; Openbaring 1:5.) Hulle geniet geestelike oorvloed en is baie gewillig om dit met ander te deel.
13. (a) Hoe het baie mense getoon dat hulle soos Josef se tien halfbroers is? (b) Hoe kan ons almal baat vind by die geestelike voedsel wat Christus deur die „dienskneg”-klas voorsien?
13 Baie mense spot met hierdie gesalfde Christene en sê: ‚Dink julle miskien julle is beter as ons? Dink julle julle is die enigstes met die regte geloof?’ Maar later erken party nederig dat Jehovah waarlik getuies op die aarde het en dat hulle werklik Sy woord verkondig. Hulle kom tot die besef dat daar, volgens die Bybel, net een ware Christengemeente is en dat sy lede verenig is (Efesiërs 4:5; Romeine 12:5). ’n Eerlike en nederige ondersoek van die feite het hulle na daardie organisasie gelei. Josef se tien halfbroers het sulke persone afgebeeld wat vroeër vervolgers van Jesus se gesalfde volgelinge was of wat morele ondersteuning aan sulke vervolgers gegee het maar nou ’n ware gemoedsverandering ondergaan het (Johannes 13:20). Hulle neem dankbaar die geestelike voedsel aan wat Jesus Christus deur middel van sy ‚getroue dienskneg’-klas voorsien. Hulle word geestelik sterk wanneer hulle hulle laat voed deur die Bybelwaarhede wat in Wagtoringpublikasies behandel word, die vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld bywoon en aktief God se wil doen. Is jy een van hierdie nederiges?—Hebreërs 10:23-25; vergelyk Johannes 4:34.
14. Watter geestelike toestande geniet diegene wat lewe volgens die beginsels wat hulle uit hierdie Bybeldrama geleer het?
14 Almal wat hulle lewe liefdevol deur Jesus Christus tot beskikking van hulle Skepper stel, vind aangename verkwikking. Geestelik sal hulle „nie meer honger en nie meer dors hê nie, . . . want die Lam [Jesus Christus] wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei”.—Openbaring 7:16, 17; Jesaja 25:6-9.