Hoofstuk 21
’n Hartlike verwelkoming vir die wat terugkeer
1. Watter soort persone word in hierdie hoofstuk bespreek?
DAAR is baie mense wat op een tydstip genoeg kontak met Bybelwaarheid gehad het om te besef dat Jehovah die ware God is en om iets van sy voornemens af te weet. Hoewel hulle nie Jehovah se Getuies is nie, het hulle miskien die Bybel saam met die Getuies bestudeer. Of dalk was hulle ouers Getuies. Baie van hulle het al vergaderinge by ’n Koninkryksaal bygewoon. Hulle het moontlik selfs al die Koninkryksboodskap aan ander verkondig. Maar hulle het nie hulle lewe daaraan gewy om God se wil te doen nie. Waarom nie?
2. (a) Waarom het hulle van Jehovah se organisasie weggedwaal? (b) Waarom begin hulle terugverlang?
2 Die wêreld bied aanloklike dinge wat hulle graag wil hê, dinge wat hulle meen tot hulle genieting van die lewe sal bydra, en hulle dwaal van Jehovah se organisasie af weg in hulle najaging van sulke dinge. Maar party van hulle besef mettertyd dat hulle nie die soort lewe gevind het waarna hulle op soek was nie. Hulle sien die feit onder die oë dat hulle saam met die wêreld sal vergaan as hulle bly soos hulle is. Hulle het nie die sekuriteit en geestelike oorvloed in Jehovah se „huis” vergeet nie, en hulle wil daarheen terugkeer. Maar sal Jehovah hulle aanvaar?
’N VERLORE SEUN KEER TERUG
3. (a) Hoe het Jesus ’n soortgelyke situasie in die gelykenis van die verlore seun beskryf? (b) Wie is deur die vader afgebeeld?
3 Ons vind die antwoord in Jesus se welbekende gelykenis van die verlore seun. In die gelykenis het Jesus vertel van ’n man wat twee seuns gehad het. Die jongste seun het sy vader om sy deel van die eiendom gevra. Nadat hy dit gekry het, het hy na ’n ver land gegaan waar hy alles roekeloos verkwis het deur losbandig te lewe. Toe daar ’n hongersnood in daardie land kom, was die jong man so erg in die nood dat hy verplig was om varke op te pas, maar hy is nie eers toegelaat om hulle kos te eet nie. Die oorweldigende probleme het hom so geskok dat hy tot besinning gekom het. Hy het gedink aan die oorvloed wat selfs die huurlinge in sy vader se huis geniet, en hy het besluit om terug te keer. Hy sou sy sondige weg bely en vra om teruggeneem te word, nie as ’n seun nie, maar as ’n huurling (Lukas 15:11-19). Maar sou sy vader hom terugneem na alles wat hy gedoen het? Hoe sou Jehovah, wat in hierdie gelykenis deur die vader afgebeeld is, so ’n persoon ontvang?
4. Hoe het die vader sy seun ontvang toe hy teruggekeer het?
4 Jehovah se gevoelens in die saak kom baie duidelik na vore in Jesus se daaropvolgende woorde: „Toe hy [die jongste seun] nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”—Lukas 15:20-24.
HOE GELD DIE GELYKENIS VANDAG?
5. (a) Wie is deur die oudste seun in Jesus se gelykenis afgebeeld? (b) Wie is dan deur die jongste seun, die verlore seun, afgeskadu?
5 In hierdie gelykenis kom die oudste seun, die eersgeborene, ooreen met „die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Hebreërs 12:23). Wat van die jongste seun? Hy moet ’n ander groep verteenwoordig as die „klein kuddetjie” wat die hemelse hoop het. Nie al die Here se „ander skape” is soos die jongste seun nie, maar sommige is wel. Selfs voor die insameling van die „ander skape” in 1935 besonder opvallend geword het, was daar persone wat geweet het dat Jehovah die enigste ware God is. Hulle het geweet van die hoop op aardse lewe onder sy Koninkryk, en hulle het nie gedink dat hulle tot „die gemeente van eersgeborenes” met hemelse verwagtinge behoort nie. Maar in plaas daarvan om hulle aan Jehovah se diens te wy, het hulle in wêreldlike strewes opgegaan. Hulle het die „eiendom” wat God hulle gegee het, die tyd en die lewe wat hy goedgunstiglik aan hulle geskenk het, op selfsugtige wyse vir selfbevrediging gebruik. Maar in 1935, toe Jehovah se knegte vir die eerste keer begryp het wie die „groot menigte” is, het baie wat deur die jongste seun afgebeeld is hulle heelhartig aangebied vir diens in die Vader se huis. Dit was ’n tyd van gejubel soos Jesus in sy gelykenis beskryf het.
6. Hoe het sommige persone in die vervulling dieselfde gesindheid as die oudste seun geopenbaar, maar het al die lede van die oorblyfsel so gevoel?
6 Dit is waar dat nie almal destyds verheug was oor die verskyning van die klas wat deur die jongste seun afgeskadu is nie. Jesus het in sy gelykenis getoon dat dit die geval sou wees. Maar nie al die oorblywende lede van die „klein kuddetjie” het so ’n gees geopenbaar nie, en in sy gelykenis het Jesus die weg oopgelaat vir selfs dié wat aanvanklik ontevrede was om in die vreugde te deel wat Jehovah self ondervind wanneer sulke sondaars opreg berou toon.—Lukas 15:7, 10, 25-32.
7, 8. (a) Wat het in meer onlangse jare veroorsaak dat sommige ver van Jehovah se huisgesin weggedwaal het? (b) In watter opsigte het sommige soos die verlore seun gevoel? (c) Waarom behoort hulle terug te keer?
7 Sedert daardie gebeure van die middel-dertigerjare het ander egter besef dat hulle ook in sekere opsigte soos daardie verlore seun is. Hulle is goed bekend met Jehovah se geestelike huisgesin, sy sigbare organisasie, maar hulle lewenswyse het hulle ver daarvan laat wegdwaal, asof na „’n ver land”. Hulle het nie Jehovah se knegte teengestaan nie, maar hulle eie lewenswyse het nie met die standaarde van God se Woord gestrook nie. Hulle het miskien hulle hele lewe rondom hulle sekulêre werk en hulleself gebou, maar nie die nodige aandag geskenk aan hulle verpligtinge teenoor God en aan die erns van die tyd waarin ons lewe nie. Party het aanstoot geneem aan die onvolmaakthede van ander wat toe aan die gemeente verbonde was en het nie geduldig op Jehovah gewag om sake reg te stel nie. Maar in watter toestande het hulle beland wanneer hulle hulle van die huisgesin van die geloof afgesonder het?
8 Sommige het later tot die besef gekom dat hulle geestelik arm geword het. Hulle kan sien dat die kort tydjies van plesier wat hulle het nie vir hulle blywende geluk bring nie. Hulle kan ook vind dat hulle lewenswyse hulle fisies, emosioneel en geestelik aftakel. In hul binneste voel hulle leeg, soos die geval is met almal wat sonder God is en geen hoop het nie (Efesiërs 2:12). Hulle besef dat dit net in Jehovah se „huis” is waar hulle waarlik gelukkig was. Hulle wil terugkeer. Moet hulle? Watter voordeel kan dit hoegenaamd vir hulle inhou as hulle in hulle verarmde toestand bly? Uitstel kan rampspoedig wees. As hulle aan die wêreld bly vasklou, gaan hulle hulle lewe verloor wanneer dit vernietig word.
9. (a) Waarom wil Jehovah hê dat sulke persone moet terugkeer? (Esegiël 18:23). (b) Wat word van hulle vereis?
9 Maar kan sulke persone terugkeer? Jehovah nooi hulle hartlik uit om dit te doen, en sy sigbare organisasie verleen liefdevolle hulp aan almal wat op die uitnodiging reageer (Sagaria 1:3, 4). Wat word van hulle vereis? Soos Jesus in sy gelykenis getoon het, moet hulle tot besinning kom, die inisiatief neem om terug te keer en erken dat hulle teen God gesondig het. As hulle hulle aan erg onchristelike gedrag skuldig gemaak het, moet hulle aan die ouere manne oortuigende bewys lewer dat hulle nou daardie lewenswyse laat vaar het en dat hulle waarlik berouvol is. Hulle opregte begeerte moet nou wees om Jehovah as deel van sy sigbare organisasie te dien (Lukas 15:18-21; Spreuke 28:13). As dit werklik hulle hartsbegeerte is, kan hulle daarvan seker wees dat hulle groot vreugde sal smaak as hulle hulle slegte weë en gedagtes verlaat en na Jehovah terugkeer (Jesaja 55:7). Maar as hulle wil verseker dat hulle vreugde verder strek as die plesier om weer hartlik by die Koninkryksaal welkom geheet te word, moet hulle ’n deeglike, geestelike herbouingsprogram aanpak.
BOU OP ’N GOEIE FONDAMENT
10. (a) Watter beskouing van Jehovah se vereistes moet berouvolle persone verkry? (b) Hoe kan hulle ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah opbou?
10 Dit is veral belangrik dat diegene wat na Jehovah se huisgesin terugkeer deeglik vertroud raak met die verskillende aspekte van Jehovah se persoonlikheid en dat hulle ’n hegte, persoonlike verhouding met hom opbou. Hulle moet besef dat alles wat Jehovah van ons verlang inderdaad vir ons beswil is. Sy gebooie neem nie die vreugde uit die lewe nie, maar beskerm ons eerder teen dinge wat kortstondige opwinding bring maar tot ’n bittere oes lei (Jesaja 48:17; Galasiërs 6:7, 8). Wanneer hy ons tugtig, is dit omdat hy ons liefhet (Spreuke 3:11, 12). Persoonlike studie gevolg deur bepeinsing oor wat ons geleer het, ernstige gebed en gereelde bywoning van vergaderinge sal ons help om ons volle vertroue in Jehovah te stel en ons op sy leiding te verlaat in alles wat ons doen.—Spreuke 3:5, 6.
11. Hoe sal die wat afgedwaal het, gehelp word indien hulle (a) sou leer om die kwaad te haat? (b) insig sou soek? (c) goddelike standaarde konsekwent sou toepas? (d) sou leer om na te dink oor die gevolge van wat hulle wil doen? (e) liefdevolle besorgdheid teenoor ander sou te toon?
11 Die wat afgedwaal het, het moontlik geweet wat reg en wat verkeerd is. Maar nou moet hulle ook leer om die kwaad te haat, en hulle moet dit bly haat solank hulle daardeur omring word (Psalm 97:10). Om hulp te kry in hierdie verband, moet hulle nie alleen kennis soek nie, maar ook insig. Dit vereis allereers dat hulle dinge met God in verband bring. Ons moet die verskillende middele uitken waardeur hy ons onderrig, en ons moet besef hoe ons reaksie op sy raad ons verhouding met hom raak (Spreuke 4:7; 9:10, vergelyk NW). Ons moet besef hoe belangrik dit is om konsekwent te wees—om Jehovah se standaarde te alle tye en in alle omstandighede toe te pas (Titus 2:11, 12; 1 Thessalonicense 4:7). Ons moet ook versigtig wees dat ons nie net aan kortstondige plesier dink nie, maar aan die moontlike gevolge van ons besluite. (Vergelyk Spreuke 20:21; 23:17, 18; Hebreërs 11:24-26.) En ons behoort liefdevol besorg te wees oor die uitwerking wat ons woorde en dade op ander het.—Romeine 15:1, 2.
12. (a) Watter besef in verband met Satan en sy metodes sal help om ons te beskerm? (b) Wat is nodig om as oorwinnaars uit die stryd te tree?
12 As Christene sal ons grootliks versterk word as ons besef dat ons ons midde-in ’n geestelike oorlog bevind. Ons vernaamste teenstander is Satan die Duiwel, saam met sy demone. Hy probeer op elke moontlike manier om ons aandag af te lei van die lewensbelangrike Koninkrykswerk wat Jehovah aan ons opgedra het. Sy doel is om ons te verlok sodat ons van Jehovah se standaarde afwyk en ’n deel word van die wêreld waarvan hy die owerste is. Sy strikke is dikwels gerig op normale begeertes (na geluk, gerief, liefde en teerheid), maar hy moedig ons aan om buitensporige klem te lê op sulke begeertes of om hulle op onbetaamlike wyse te bevredig. Slegs deur ten volle gebruik te maak van die geestelike wapenrusting wat God voorsien, kan ons as oorwinnaars uit hierdie stryd om ons geestelike lewens tree.—Efesiërs 6:11-18.
13. (a) Hoe kan ons rus vir ons siele vind? (b) Waarom verskaf dit ons waarlik geluk om Jehovah as navolgers van Christus te dien?
13 Jesus het gesê dat ons rus sal vind vir ons siele as ons na hom toe kom en sy „juk” op ons neem (Mattheüs 11:29, 30). Om ’n „juk” op jou te neem, beteken dat jy dien. Maar wanneer ons Jehovah as navolgers van sy Seun dien, bring dit waarlik rus en verkwikking mee. Hoe so? Omdat dit tot ware vryheid lei. Ons is nie meer diensknegte van die sonde, gevangenes daarvan, wat dinge doen wat ons weet ons nie moet doen en miskien wens dat ons nie doen nie (Johannes 8:32, 34-36). As ons Christelike persoonlikheid op Jesus Christus as die fondament gebou is, sal ons sy rol in Jehovah se voorneme erken, na hom luister en van hom leer. Hy het daarin behae geskep om sy Vader se wil te doen. Ons sal ook leer om dit te doen (Johannes 4:34; Psalm 40:9). Omdat ons God se morele standaarde handhaaf, sal ons ’n skoon gewete kan geniet. Ons sal nie net vir onsself lewe nie, maar ons sal die geluk smaak wat ’n mens ervaar wanneer jy gee (Handelinge 20:35). Die lewe sal vir ons ware betekenis aanneem. En ons sal bowenal die vreugde hê wat verskaf word deur die wete dat ons welgevallig is vir Jehovah, die Vader van almal wat sy seuns word.—Spreuke 10:22.