Hoofstuk 20
Wat gaan jy kies?
1, 2. (a) Hoe beïnvloed die “evangelie” miljoene mense vandag? (b) Hoe is hierdie wêreldwye insamelingswerk voorspel?
DIE Paradys wat onder God se Koninkryk herstel gaan word, is die soort nuus wat die mensdom nodig het. En Jesus het voorspel dat die aardwye verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” ’n kenmerk sou wees van die tyd net ‘voordat die einde kom’ (Mattheüs 24:14). Dit is presies wat miljoene van Jehovah se Getuies vandag doen. Hulle verkondig hierdie evangelie of goeie nuus aan miljoene ander wat reageer deur die Bybel te bestudeer en met hulle om te gaan.
2 Hierdie groot, aardwye opvoedingswerk wat mense uit alle nasies versamel, is in die Bybel voorspel. Jesaja se profesie het oor hierdie laaste dae gesê: ‘Die aanbidding van Jehovah sal vasstaan, en mense uit alle nasies sal daarheen toestroom. Jehovah sal hulle sy weë leer, en hulle sal in sy paaie wandel.’—Jesaja 2:2-4; kyk ook Jesaja 60:22; Sagaria 8:20-23.
3. Watter skeiding het die Koninkryksboodskap tot gevolg?
3 Die wêreldwye verkondiging van die Koninkryk lei tot ’n duidelike skeiding van mense. Deur middel van beeldspraak het Jesus vir ons dag voorspel: “Voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.” Diegene wat met die Skepper se voornemens saamwerk, word “skape” genoem. Diegene wat onafhanklik bly, word “bokke” genoem. Wat hulle lot betref, het Jesus gesê dat die “skape” “die ewige lewe” sal maai, maar die “bokke” “die ewige straf”.—Mattheüs 25:32-46.
Moenie ‘die waarheid vir ’n leuen verruil nie’
4. (a) Wat is noodsaaklik as ons wil aanhou lewe? (b) As wat moet die evolusieteorie volgens die Bybel geklassifiseer word?
4 Dit is noodsaaklik vir ons toekoms om ons lewens in ooreenstemming met God se voornemens te bring, aangesien “die fontein van die lewe” by hom is (Psalm 36:10). Ons moet dus nie verstrik raak in filosofieë wat met die werklikheid bots nie.Romeine 1:25 praat van diegene “wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper”. Soos ons gesien het, strook die evolusieteorie nie met die werklikheid nie—dit is in werklikheid ’n “leuen”.Romeine 1:20 sê dat mense, in die lig van die getuienis, “geen verontskuldiging” het wanneer hulle die feite oor die God van die Skepping vir so ’n “leuen” verruil nie.
5, 6. (a) By wie het die evolusieleer werklik ontstaan? (b) Waarom is dit vandag so gewild? (c) Hoe moet ons hieroor voel?
5 Dit behoort jou nie te verbaas dat die evolusieteorie vandag so gewild is ondanks die getuienis daartéén nie. Die eintlike boodskap van hierdie opvatting is dat daar geen God is nie, dat hy oorbodig is. By wie sou so ’n kolossale leuen ontstaan het? Jesus het die bron geïdentifiseer toe hy gesê het: “Die duiwel . . . is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”—Johannes 8:44, NAV.
6 Ons moet die feit onder die oë sien dat die evolusieteorie in Satan se kraam pas. Hy wil hê dat mense sy weg en dié van Adam en Eva moet inslaan deur teen God in opstand te kom. Dit is veral nou die geval, aangesien die Duiwel “min tyd” oorhet (Openbaring 12:9-12). As ’n mens aan evolusie glo, sal dit gevolglik beteken dat jy sy belange bevorder en jou blind hou vir die wonderlike voornemens van die Skepper. Hoe moet ons dan hieroor voel? Ons voel verontwaardig wanneer persone ons van ons geld of selfs van ’n paar materiële besittings probeer beroof. Ons moet selfs verontwaardiger voel oor die evolusieleerstelling en die bron daarvan, aangesien die doel daarvan is om ons van die ewige lewe te beroof.—1 Petrus 5:8.
‘Almal sal moet weet’
7. Wat sê die Skepper gaan hy omtrent sy bestaan en sy naam doen?
7 Binnekort sal almal weet dat daar werklik ’n Skepper is. Hy sê: “Ek sal beslis my grote naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, . . . en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 36:23, NW). Ja, almal sal moet weet dat “Jehovah God is. Dit is hy wat ons gemaak het, en nie onsself nie.”—Psalm 100:3, NW.
8. Hoe gaan Jehovah binnekort die nasies konfronteer?
8 Die nasies sal besef dat Jehovah die God van die Skepping is wanneer hy hulle binnekort konfronteer. Dit sal gebeur wanneer hy ’n einde maak aan die miserabele, menslike eksperiment om onafhanklik van God te probeer wees. Dan sal die volgende plaasvind: “Vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie.” “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit.”—Jeremia 10:10, 11; kyk ookOpenbaring 19:11-21.
9. (a) Waarom sal evolusie nie in die Paradys geleer word nie? (b) Watter ontsagwekkende vertoon van Jehovah se vermoë sal bewys dat hy die mens geskep het?
9 In die komende Paradys sal die nasies, hulle onderwysstelsels en hulle media dus nie langer bestaan nie. En daarom sal evolusie dan nie meer geleer word nie. Inteendeel, “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek”, soosJesaja 11:9 toon. Elke persoon sal opgelei word om die Skepper intiem te ken. Hulle sal hulle verwonder aan hoe hy in die verlede sy voornemens volbring het. Hulle sal sy toekomstige werke in die Paradys sien en daaroor verheug wees. En daardie ontsagwekkende werke sal die opstanding insluit. Dit sal onomstootlik bewys dat God die mens geskep het. Waarom? Omdat sy vermoë om miljarde dooie mense weer te skep beslis sal bewys dat hy in staat was om die eerste mensepaar te skep.
’n Keuse
10. Watter vrae moet ons beantwoord in die lig van die feit dat Jehovah reeds die toekoms bepaal het?
10 Nee, die toekoms sal nie deur ’n blinde evolusieproses bepaal word nie. Die toekoms is reeds deur die Skepper bepaal. Dit is sy voornemens wat verwesenlik gaan word, nie dié van ’n mens of die Duiwel nie (Jesaja 46:9-11). In die lig hiervan is daar vrae wat elkeen van ons moet beantwoord: Waar staan ek? Wil ek vir ewig in ’n paradys lewe? Indien wel, voldoen ek aan God se vereistes vir oorlewing?
11. Wie se voorbeeld moet ons volg as ons in die Paradys wil lewe?
11 As ons vir ewig in die Paradys wil lewe, toon die Bybel dat ons die voorbeeld moet volg van diegene wat die Skepper, sy voornemens en sy wette respekteer. Dit vermaan: “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.”—Psalm 37:37, 38.
12. (a) Wat sal God nie laat voortduur nie, al het mense die vryheid om te kies? (b) Wat wag op diegene wat hulle keusevryheid gebruik om God te dien?
12 God het ons die vryheid gegee om te kies of ons hom wil dien of nie. En hoewel hy mense nie gaan dwing om gehoorsaam te wees nie, gaan hy ook nie toelaat dat goddeloosheid, lyding en ongeregtigheid onbepaald voortduur nie. Hy sal ook nie toelaat dat enigiemand wat die vrede en geluk in sy toekomende Paradys wil versteur, aanhou lewe nie. Dit is waarom hy mense nou nooi om hulle keusevryheid te gebruik om hom te dien. Diegene wat dit doen, sal sien hoe hierdie onbevredigende wêreld eindig, en dan sal hulle die groot vreugde smaak om die aarde in ’n paradys te help omskep.—Psalm 37:34.
13. Wat moet ons doen as ons “die ewige lewe” wil hê?
13 Baie mense wil hulle weliswaar nie na Jehovah se vereistes skik nie. Dit is hulle verantwoordelikheid, en groot verlies (Esegiël 33:9). Maar is dit jou begeerte om ‘die ewige lewe te verwerf’? (1 Timotheüs 6:19). Jesus het getoon wat jy in daardie geval moet doen toe hy in gebed tot God gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
14. Watter verstandige weg moet ons sonder versuim inslaan?
14 Die verstandige weg wat ’n mens sonder versuim moet inslaan terwyl daar nog tyd is, is om die Skepper se wil te leer ken en opreg te probeer doen. Sy geïnspireerde Woord vermaan: “Voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE . . . Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:2, 3.
15. Watter wonderlike vooruitsig het ootmoediges?
15 Mag jy so ’n ootmoedige wees wat hom nederig aan God se wil onderwerp. En as jy een is, wat dan? “Die wêreld gaan verby”, sê die Bybel, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Watter wonderlike vooruitsig—die ewige lewe op ’n paradysaarde—mits jy die regte keuse doen!
[Lokteks op bladsy 247]
Miljoene stroom na die ware aanbidding van Jehovah
[Lokteks op bladsy 248]
By wie het die idee van evolusie werklik ontstaan?
[Lokteks op bladsy 249]
Binnekort sal almal weet dat daar ’n Skepper is
[Lokteks op bladsy 249]
Die opstanding sal bewys dat God inderdaad die mens geskep het
[Lokteks op bladsy 250]
Die toekoms is reeds bepaal
[Lokteks op bladsy 250]
Hoe gaan ons ons keusevryheid gebruik?
[Prent op bladsy 251]
Diegene wat die regte keuse doen, het ’n heerlike vooruitsig