Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 15 bl. 121-128
  • Antitipiese, hedendaagse Edom gaan weggedoen word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Antitipiese, hedendaagse Edom gaan weggedoen word
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesaja se profesie teen Edom
  • ’n Lot soos Edom s’n
  • Jehovah stort verontwaardiging oor die nasies uit
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Bybelboek nommer 31—Obadja
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Obadja waarsku en troos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Oorsig van Obadja
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 15 bl. 121-128

Hoofstuk 15

Antitipiese, hedendaagse Edom gaan weggedoen word

1, 2. Hoe beskou die Skepper die swaar bewapende nasies, en wat is Jehovah se beslissing, volgens Jesaja se profesie?

DIE wêreld is vandag sterker bewapen as ooit tevore. Die kernwapens van die nasies is ’n wesenlike bedreiging vir die voortbestaan van die mensdom. Hoe beskou die Skepper van die mensdom, Jehovah God, dan die situasie? Dit word duidelik gestel in hoofstuk 34 van Jesaja se profesie, wat open met die woorde:

2 “Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom. Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed. En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel [ondoeltreffende menseregerings] word inmekaar gerol soos ’n boek en al sy leërskare val af soos ’n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom” (Jesaja 34:1-4). Voorwaar ’n droewe profesie!

3. (a) Waarna word die nasies aangesê om te luister, en waarom kan Jehovah tereg bevele aan hulle gee? (b) Wat toon dat die nasies nie geluister het nie?

3 Die Skepper van die heelal het vandag ’n twis met die nasies. Dit is waarom daar ’n beroep op die nasies gedoen word om te luister na die Bybelse boodskap wat hy sedert 1919 oor die hele wêreld laat verkondig. Hulle moet luister na wat hy deur sy Getuies te sê het. Maar die verloop van wêreldgebeure toon dat hulle dit nie gedoen het nie, en sy Getuies is nie ernstig opgeneem deur die nasies, wat die Verenigde Volke verkies het bo die hemelse Koninkryk in die hande van sy gekroonde Seun, die “Vredevors”, nie.

Jesaja se profesie teen Edom

4, 5. (a) Wie was die Edomiete, en watter gesindheid het hulle teenoor hulle tweelingbroernasie, Israel, geopenbaar? (b) Wat het Jehovah gevolglik bepaal dat daar met Edom moes gebeur?

4 Onder die hedendaagse volksgroepe is daar ’n besonder verantwoordelike element. Daardie element word afgebeeld deur die nasie Edom, wat spesifiek in hierdie profesie gemeld word. Die Edomiete was die afstammelinge van Esau, wat sy eersgeboortereg aan sy tweelingbroer, Jakob, verkoop het vir “brood en die kooksel lensies”. Dit was by daardie geleentheid dat Esau Edom genoem is, wat “Rooi” beteken (Genesis 25:24-34). Omdat Jakob hom uit die kosbare eersgeboortereg verdring het, is Esau met haat vir sy tweelingbroer vervul. Edom het die onversoenlike vyand van die eertydse nasie Israel, of Jakob, geword, al was hulle ook tweelingbroernasies. Vir hierdie vyandigheid teenoor God se volk het Edom hom die verdiende toorn van Jehovah, die God van Israel, op die hals gehaal en het Hy bepaal dat Edom vir ewig uitgewis moes word. Hierdie goddelike beslissing word uiteengesit in die woorde van die profeet Jesaja:

5 “Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word. Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ’n slagoffer in Bosra [Edom se vernaamste stad] en ’n groot slagting in die land Edom.”—Jesaja 34:5, 6.

6. (a) Waarom kon Jehovah sê dat hy sy “swaard” “in die hemel” teen Edom swaai? (b) Watter onbroederlike gesindheid het Edom teenoor Jehovah se volk geopenbaar toe die koninkryk van Juda deur Babilon aangeval is?

6 Die land van die moorddadige nasie Edom moet deurweek word met hulle eie bloed deur die toedoen van Jehovah se “swaard”. Edom was in ’n hoë, bergagtige gebied geleë (Jeremia 49:16). Deur ’n groot slagting in daardie land te veroorsaak, kon Jehovah dus in beeldspraak sê dat hy sy swaard van oordeel “in die hemel” geswaai het. Edom was ’n sterk gemilitariseerde nasie, en sy leërs het deur hemelhoë bergreekse rondgeswerf om die land teen invallers te beskerm. Edom se leër kon dus gepas “die leërskare van die hemel” genoem word. Maar magtige Edom het geen hulp aan sy tweelingbroernasie, Israel, verleen toe dié deur die leërs van Babilon aangeval is nie. Edom het hom eerder verheug oor die omverwerping van die koninkryk van Juda en die verwoesters selfs aangehits (Psalm 137:7). In sy verraad het Edom selfs individue wat om hulle lewens gevlug het, aangekeer en hulle dan aan die vyand uitgelewer (Obadja 10-14). Die Edomiete het beplan om die verlate land van die Israeliete oor te neem en teen Jehovah geroem.—Esegiël 35:10-15.

7. Hoe het die God van Israel die verraderlike gedrag van die nasie Edom beskou?

7 Het Jehovah, die God van eertydse Israel, hierdie onbroederlike gedrag van die Edomiete teenoor sy uitverkore volk oorgesien? Nee. Dit is waarom God in sy hart besluit het tot “’n dag van wraak” en “’n jaar van vergelding” as straf vir wat sy aardse organisasie, genaamd Sion, kwaadwillig aangedoen is. Die profesie het gesê: “Want die HERE hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” in die Hof van die Heelal.—Jesaja 34:8; Esegiël 25:12-14.

8. (a) Wie het Jehovah gebruik om Edom te straf? (b) Wat het die profeet Obadja omtrent Edom voorspel?

8 Nie lank na die vernietiging van Jerusalem nie het Jehovah begin om sy regverdige wraak op die Edomiete uit te oefen deur middel van die koning van Babilon, Nebukadnesar (Jeremia 25:8, 15, 17, 21). Toe Babilon se leërs teen Edom opruk, kon niks die Edomiete red nie! Babilon se leërs het die Edomiete van hulle rotsagtige hoogtes laat neertuimel. Dit was “’n jaar van vergelding” vir Edom. Dit is soos Jehovah deur ’n ander profeet voorspel het: “Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal ’n skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig . . . soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.”—Obadja 10, 15.

9. Wie is die antitipiese, hedendaagse Edom, en waarom?

9 Dit weerspieël ook Jehovah se gesindheid teenoor die antitipiese, hedendaagse Edom. Wie is dit? Wel, wie het in die 20ste eeu die voortou geneem in die beskimping en vervolging van Jehovah se knegte? Is dit nie die afvallige Christendom deur sy trotse geestelikeklas nie? Ja! Die Christendom, die ryk van valse Christene, het homself berghoog in die aangeleenthede van hierdie wêreld verhoog. Dit is ’n hoë deel van die organisasie van die mensestelsel, en sy Kerke maak die vernaamste deel van Babilon die Grote uit. Maar Jehovah het “’n jaar van vergelding” teen die antitipiese, hedendaagse Edom bepaal weens verregaande wangedrag teenoor sy volk, sy Getuies.

’n Lot soos Edom s’n

10. Hoe beskryf Jesaja 34:9, 10 Edom se lot, maar op wie is die profesie vandag van toepassing?

10 Terwyl ons die verdere deel van hierdie profesie van Jesaja bespreek, kan ons die hedendaagse valse Christendom in gedagte hou: “Sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word. Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op” (Jesaja 34:9, 10). Die land Edom word dus uitgebeeld as ’n plek wat so dor geword het dat dit was asof sy strome vol pik en asof sy stof swawel was, waarna hierdie ontvlambare stowwe aan die brand gesteek is.—Vergelyk Openbaring 17:16.

11, 12. Wat sou volgens die profetiese beskrywing in Jesaja 34:10-15 van die land Edom word, en hoe lank sou daardie toestand voortduur?

11 Jesaja se profesie sê voorts: “Van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie. Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid. Sy edeles—daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan. En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal ’n lêplek van jakkalse, ’n verblyf vir die volstruise wees. En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die naggees daar in vrede en vind ’n rusplek vir hom. Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers.”—Jesaja 34:10-15.

12 Edom sou ’n ‘woeste’ land sonder menslike bewoners word. Dit sou ’n woesteny word met slegs wilde diere, voëls en slange daarin. Hierdie dorheid van die land sou “vir altyd en ewig” voortduur, soos vers 10 sê. Sy voormalige bewoners sou nie daarin herstel word nie.—Obadja 18.

13. Wat word in “die boek van die HERE” vir die valse Christendom voorspel, en wat is hierdie boek spesifiek?

13 Watter verskriklike lot het dit tog vir die hedendaagse teenbeeld van Edom—die valse Christendom—afgebeeld! Hy is ’n bittere vyand van Jehovah God, wie se Getuies hy wreed vervolg het. Sy naderende vernietiging net voor Armageddon is gevolglik in “die boek van die HERE” voorspel (Jesaja 34:16). Hierdie “boek van die HERE” is spesifiek sy boek van afrekening, met besonderhede van die afrekening wat voorlê vir diegene wat sy vyande en die verdrukkers van sy volk is. Die dinge wat in “die boek van die HERE” geskryf gestaan het oor eertydse Edom, is bewaarheid, en dit waarborg dat die profesie, soos dit op die valse Christendom, die hedendaagse Edom, van toepassing is, eweneens vervul sal word.

14. Die antitipiese Edomiete van vandag het wie nie aangeneem nie, en watter voorbeeld van Jehovah se volk het hulle nie nagevolg nie?

14 Die antitipiese Edomiete van vandag het Jehovah God in hierdie “voleinding van die wêreld” nie as Koning aangeneem nie. Aangesien die valse Christendom so ’n vername deel van Babilon die Grote is, is hy daarbenewens gedoem om in haar plae te deel. Hy het nie geluister na Jehovah se bevel om uit Babilon die Grote ‘uit te gaan’ nie (Openbaring 18:4). Hy het nie die voorbeeld van die oorblyfsel van geestelike Israeliete of dié van die “groot menigte” “ander skape” nagevolg nie.

15, 16. Wat wag in die nabye toekoms op die valse Christendom, soos in Openbaring 17 en 18 en Jesaja 34 voorspel is?

15 Die valse Christendom se onmiddellike toekoms is voorwaar droef. Hy doen alles in sy vermoë om sy politieke vriende te paai en te voorkom dat hulle hulle kragte saamsnoer en hom aanval en volkome vernietig. Maar dit is tevergeefs!

16 Volgens Openbaring hoofstukke 17 en 18 gaan die almagtige God, Jehovah, dit in hulle harte gee om hulle politieke en militêre krag saam te span in dierlike optrede teen Babilon die Grote met al haar godsdienskomponente, die Christendom inkluis. Dit sal die hele aarde bevry van nagemaakte Christelike godsdiens. Die Christendom se situasie sal ooreenstem met die droewe toestand wat in Jesaja 34 beskryf word. Hy sal nie daar wees vir die volkome deurslaggewende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” teen die nasies wat Babilon die Grote dan reeds verwoes het nie. Die antitipiese Edom, die valse Christendom, sal volkome van die aardbodem uitgewis wees, “vir altyd en ewig”.

[Prent op bladsy 122]

Die Christendom sal ’n soortgelyke oordeel ontvang as die Edomiete, die afstammelinge van Esau, wat sy eersgeboortereg vir ’n enkele maaltyd verkoop het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel