Hoofstuk 2
Die grootse tema van die Bybel
Die uitlegging van die Skrif Die geheime wat in die boek Openbaring opgesluit is, slaan opregte studente van die Bybel al lank dronk. Hierdie geheime moes op God se bestemde tyd geopenbaar word, maar hoe, wanneer en aan wie? Net God se gees kon die betekenis bekend maak toe die vasgestelde tyd nader gekom het (Openbaring 1:3). Hierdie heilige geheime sou aan God se ywerige slawe op die aarde geopenbaar word sodat hulle versterk sou word om sy oordele bekend te maak (Matteus 13:10, 11). Daar word nie beweer dat die verduidelikings in hierdie publikasie onfeilbaar is nie. Ons sê soos Josef van die ou tyd: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie?” (Genesis 40:8). Maar terselfdertyd glo ons vas dat die verduidelikings wat hierin uiteengesit word, met die Bybel in sy geheel strook en toon op watter merkwaardige wyse goddelike profesieë in die wêreldgebeure van ons rampspoedige tye vervul word.
1. Wat is Jehovah se grootse voorneme?
’N BYBELSPREUK lui: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin” (Prediker 7:8). Dit is in die boek Openbaring dat ons lees van die dramatiese klimaks van Jehovah se grootse voorneme om sy naam voor die hele skepping te heilig. Soos God herhaaldelik deur een van sy vroeëre profete gesê het: “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 25:17; 38:23.
2. Watter bevredigende kennis help Openbaring, asook vroeëre boeke van die Bybel, ons om te verkry?
2 Soos Openbaring die seëvierende einde van sake duidelik uiteensit, so word die begin daarvan in vroeëre boeke van die Bybel vir ons beskryf. Deur hierdie verslag te ondersoek, kan ons die betrokke geskille verstaan en ’n geheelbeeld van God se voornemens kry. Hoe bevredigend is dit tog! Bowendien behoort dit ons tot optrede aan te spoor sodat ons deel kan hê aan die wonderlike toekoms wat vir die mensdom voorlê (Psalm 145:16, 20). Dit sou gepas wees om nou eers die agtergrond en tema van die hele Bybel te bespreek, sodat ons die allerbelangrikste geskil waarvoor die hele mensdom nou staan, asook God se duidelik verklaarde voorneme om daardie geskil te besleg, in gedagte kan hou.
3. Watter profesie in die boek Genesis gee die tema aan van die hele Bybel, met inbegrip van Openbaring?
3 Die Bybel se eerste boek, Genesis, vertel van “die begin” en beskryf God se skeppingswerke, insluitende die kroon van sy aardse skepping, die mens. Genesis meld ook die eerste goddelike profesie, wat God self sowat 6 000 jaar gelede in die tuin van Eden uitgespreek het. ’n Slang is pas tevore gebruik om die eerste vrou, Eva, te bedrieg; op haar beurt het sy haar man, Adam, oorreed om Jehovah se wet saam met haar te skend deur van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet. Toe God ’n oordeel oor die sondige egpaar uitgespreek het, het hy vir die slang gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 1:1; 2:17; 3:1-6, 14, 15). Hierdie profesie gee die tema aan van die hele Bybel, met inbegrip van Openbaring.
4. (a) Wat het met ons eerste ouers gebeur nadat God die eerste profesie uitgespreek het? (b) Watter vrae ontstaan in verband met die eerste profesie, en waarom moet ons weet wat die antwoorde is?
4 Onmiddellik nadat God die profesie uitgespreek het, het hy ons eerste ouers uit Eden uitgedryf. Hulle kon nie meer uitsien na ewige lewe in die Paradys nie; hulle sou hulle lewe op die onbewerkte aarde buite die tuin moes slyt. Omdat hulle ter dood veroordeel is, sou hulle sondige kinders voortbring (Genesis 3:23–4:1; Romeine 5:12). Maar wat beteken die profesie wat in Eden gegee is? Wie is daarby betrokke? Hoe hou dit met Openbaring verband? Watter boodskap het dit vandag vir ons? Dit is lewensbelangrik dat ons weet wat die antwoorde op hierdie vrae is as ons persoonlike verligting wil verkry van die gevolge van die tragiese gebeurtenis wat daartoe gelei het dat Jehovah hierdie profesie uitgespreek het.
Die hooffigure in die drama
5. Wat het gebeur met betrekking tot God se soewereiniteit en sy naam toe die slang Eva bedrieg het, en hoe sal die geskil besleg word?
5 Die profesie van Genesis 3:15 is gerig tot die slang wat vir Eva gelieg het deur vir haar te sê dat sy nie weens haar ongehoorsaamheid sou sterf nie, maar dat sy onafhanklik, ’n godin, sou word. Die slang het Jehovah sodoende tot leuenaar gemaak en te kenne gegee dat mense hulle lot kan verbeter deur Sy opperheerskappy te verwerp (Genesis 3:1-5). Jehovah se soewereiniteit is in twyfel getrek en sy goeie naam beklad. Die boek Openbaring beskryf hoe die regverdige Regter, Jehovah, die Koninkryksheerskappy van sy Seun, Jesus Christus, gebruik om sy soewereiniteit te regverdig en sy naam van alle smaad te suiwer.—Openbaring 12:10; 14:7.
6. Hoe identifiseer Openbaring die een wat deur ’n slang met Eva gepraat het?
6 Is daardie woord “slang” net op ’n letterlike slang van toepassing? Glad nie! Openbaring identifiseer vir ons die berugte geesskepsel wat deur daardie slang gepraat het. Dit was “die groot draak . . . , die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei”, wat “Eva deur sy listigheid verlei het”.—Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 11:3.
7. Wat dui aan dat die vrou van Genesis 3:15 tot die geesteryk behoort?
7 Genesis 3:15 praat vervolgens van “die vrou”. Was dit Eva? Sy het moontlik so gedink. (Vergelyk Genesis 4:1.) Maar ’n langdurige vyandskap tussen Eva en Satan het onmoontlik geword toe Eva meer as 5 000 jaar gelede gesterf het. En aangesien die Slang met wie Jehovah gepraat het, ’n onsigbare gees is, moet ons verwag dat die vrou ook tot die geesteryk behoort. Openbaring 12:1, 2 bevestig dit deur aan te dui dat hierdie figuurlike vrou Jehovah se hemelse organisasie van geesskepsele is.—Sien ook Jesaja 54:1, 5, 13.
Twee opponerende sade
8. Waarom behoort ons baie belang te stel in wat nou oor twee sade gesê word?
8 Daar word vervolgens in Genesis 3:15 gemeld dat daar twee sade is. Ons behoort baie in hulle belang te stel, want hulle hou verband met die groot geskil ten opsigte van regmatige soewereiniteit oor hierdie aarde. Elkeen van ons, hetsy jonk of oud, is hierby betrokke. Aan watter een van hierdie sade gee jy die voorkeur?
9. Wat sluit die saad van die Slang beslis in?
9 In die eerste plek is daar die saad, of nageslag, van die Slang. Wat is dit? Dit sluit beslis die ander geesskepsele in wat hulle by Satan geskaar het in sy opstand en uiteindelik “saam met hom neergeslinger” is na die omgewing van die aarde (Openbaring 12:9). Aangesien Satan, of Beëlsebub, “die heerser van die demone” is, is dit duidelik dat hulle sy onsigbare organisasie uitmaak.—Markus 3:22; Efesiërs 6:12.
10. Hoe identifiseer die Bybel ander as deel van Satan se saad?
10 Daarbenewens het Jesus vir Joodse godsdiensleiers van sy dag gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen” (Johannes 8:44). Deur God se Seun Jesus teë te staan, het hierdie godsdiensleiers getoon dat hulle ook Satan se nageslag is. Hulle was deel van Satan se saad en het hom as hulle figuurlike vader gedien. Baie ander mense het hulle deur die geskiedenis heen ook as sodanig geïdentifiseer deur Satan se wil te doen, veral deur die dissipels van Jesus teë te staan en te vervolg. Daar kan gesê word dat hierdie mense gesamentlik Satan se sigbare organisasie op die aarde uitmaak.—Sien Johannes 15:20; 16:33; 17:15.
Die identiteit van die saad van die vrou
11. Wat het God deur die eeue heen aangaande die saad van die vrou geopenbaar?
11 Die profesie in Genesis 3:15 verwys ten slotte na die saad van die vrou. Terwyl Satan sy saad ontwikkel het, het Jehovah voorbereidings getref vir sy “vrou”, of hemelse gemalinorganisasie, om ’n saad voort te bring. Jehovah het oor ’n tydperk van sowat 4 000 jaar die besonderhede in verband met die koms van die saad progressief aan gehoorsame godvresende mense geopenbaar (Jesaja 46:9, 10). Abraham, Isak, Jakob en ander kon dus geloof opbou in die belofte dat die saad in hulle geslagslyn sou verskyn (Genesis 22:15-18; 26:4; 28:14). Satan en sy trawante het dikwels hierdie knegte van Jehovah weens hulle onwankelbare geloof vervolg.—Hebreërs 11:1, 2, 32-38.
12. (a) Wanneer en met watter gebeurtenis het die vernaamste deel van die saad van die vrou gekom? (b) Met watter doel is Jesus gesalf?
12 Uiteindelik, in die jaar 29 van ons Gewone Jaartelling, het die volmaakte man Jesus na die Jordaanrivier gegaan en is hy gedoop. Jehovah het Jesus daar deur heilige gees verwek en gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Jesus is daar geïdentifiseer as die een wat vanuit God se geestelike organisasie in die hemel gestuur is. Hy is ook gesalf as die aangewese Koning van die hemelse Koninkryk wat heerskappy oor die aarde in Jehovah se naam sou herstel en sodoende die geskil oor regering, of soewereiniteit, eens en vir altyd sou besleg (Openbaring 11:15). Jesus is dus die vernaamste Lid van die saad van die vrou, die voorspelde Messias.—Vergelyk Galasiërs 3:16; Daniël 9:25.
13, 14. (a) Waarom behoort dit ons nie te verbaas om te leer dat die saad van die vrou nie net een prominente persoon sou wees nie? (b) Hoeveel het God uit die mense gekies om die sekondêre deel van die saad te word, en watter soort organisasie maak hulle uit? (c) Wie anders dien in eenheid saam met die saad?
13 Sou die vrou se saad bloot een prominente persoon wees? Wel, wat van Satan se saad? Die Bybel toon dat Satan se saad ’n mag der menigte goddelose engele en godonterende mense insluit. Dit behoort ons dus nie te verbaas om te leer van God se voorneme om 144 000 handhawers van onkreukbaarheid uit die mense te kies om priesterlike medeheersers van die Messiaanse Saad, Jesus Christus, te word nie. Openbaring verwys na hulle wanneer dit sê dat die Duiwel, in sy vyandskap teenoor God se gemalinorganisasie, “weggegaan [het] om oorlog te voer teen die oorblywendes van haar saad”.—Openbaring 12:17; 14:1-4.
14 In die Bybel word gesalfde Christene Jesus se broers genoem, en as sy broers het hulle dieselfde Vader en dieselfde moeder (Hebreërs 2:11). Hulle Vader is Jehovah God. Hulle moeder moet derhalwe “die vrou”, God se hemelse gemalinorganisasie, wees. Hulle word ’n sekondêre deel van die saad, terwyl Christus Jesus die primêre deel is. Die gemeente van hierdie geesverwekte Christene op die aarde maak God se sigbare organisasie uit wat dien onder sy gemalinorganisasie in die hemele, waar hulle by hulle opstanding met Christus Jesus verenig sal word (Romeine 8:14-17; Galasiërs 3:16, 29). Miljoene ander skape uit alle nasies word bymekaargebring om in eenheid saam met God se organisasie op die aarde te dien, al is hulle nie deel van die saad nie. Is jy een van hierdie ander skape? Dan het jy die vreugdevolle vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 10:16; 17:1-3.
Hoe vyandskap ontwikkel het
15. (a) Beskryf die ontwikkeling van Satan se menslike en engelesaad. (b) Wat het gedurende die Vloed van Noag se dag met Satan se saad gebeur?
15 Satan se menslike saad het baie vroeg in die geskiedenis van die mensdom te voorskyn begin kom. Daar was byvoorbeeld Kain, die eerste mens wat gebore is, “wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer [Abel] doodgemaak het” (1 Johannes 3:12). Henog het later gesê dat Jehovah “met sy heilige tienduisende [sal kom], om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Daarbenewens het opstandige engele hulle by Satan gevoeg en deel van sy saad geword. Hulle het “hulle eie gepaste woonplek [in die hemele] verlaat” om vleeslike liggame aan te neem en met die dogters van die mense te trou. Hulle het ’n bomenslike basternageslag van bullebakke voortgebring. Daardie wêreld het so vol geweld en slegtheid geword dat God dit in die Vloed vernietig het, terwyl getroue Noag en sy gesin die enigste mense was wat behoue gebly het. Die ongehoorsame engele—nou demone onder Satan se beheer—moes noodgedwonge hulle gedoemde menslike vrouens en basterkinders verlaat. Hulle het hulle vleeslike liggame afgelê en na die geesteryk teruggekeer, waar hulle wag op die voltrekking van God se vinnig naderende oordeel aan Satan en sy saad.—Judas 6; Genesis 6:4-12; 7:21-23; 2 Petrus 2:4, 5.
16. (a) Watter tiran het ná die Vloed op die toneel verskyn, en hoe het hy getoon dat hy deel van Satan se saad is? (b) Hoe het God die planne van die voornemende bouers van Babilon se toring verydel?
16 Kort ná die groot Vloed het ’n tiran genaamd Nimrod op die aarde verskyn. Die Bybel beskryf hom as “’n magtige jagter in verset teen Jehovah”—waarlik ’n deel van die Slang se saad. Hy het, soos Satan, ’n opstandige gees geopenbaar en die stad Babel, of Babilon, gebou, waardeur hy minagting getoon het vir Jehovah se voorneme dat die mensdom versprei om die aarde te vul. Babilon se middelpunt sou ’n groot toring wees “met sy spits in die hemel”. God het die planne van die voornemende bouers van daardie toring verydel. Hy het hulle taal verwar en “hulle daarvandaan oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi”, maar het toegelaat dat Babilon self bly staan.—Genesis 9:1; 10:8-12; 11:1-9.
Politieke moondhede verskyn
17. Watter korrupte aspek van die mensegemeenskap het na vore gekom namate die mensdom vermenigvuldig het, en watter ontsaglike ryke het gevolglik ontstaan?
17 In Babilon het daar aspekte van die mensegemeenskap verskyn wat weens minagting vir Jehovah se soewereiniteit ontwikkel het. Een hiervan was polities van aard. Namate die mensdom vermenigvuldig het, het ander ambisieuse mense Nimrod se voorbeeld gevolg deur vir hulle mag toe te eien. Die een mens het oor die ander begin heers tot sy nadeel (Prediker 8:9). In Abraham se tyd het Sodom, Gomorra en nabygeleë stede byvoorbeeld onder die mag van konings van Sinear en ander verafgeleë lande geval (Genesis 14:1-4). Uiteindelik het militêre en organisatoriese genieë ontsaglike ryke tot hulle eie verryking en eer opgerig. Die Bybel verwys na party van hierdie ryke, met inbegrip van Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome.
18. (a) Watter standpunt neem God se volk in ten opsigte van die politieke heersers? (b) Hoe het politieke owerhede soms God se belange bevorder? (c) Hoe het baie heersers getoon dat hulle deel van die Slang se saad is?
18 Jehovah het die bestaan van hierdie politieke moondhede geduld, en sy volk het relatiewe gehoorsaamheid aan hulle gegee wanneer hulle in lande onder hulle beheer gewoon het (Romeine 13:1, 2). Soms het politieke owerhede selfs God se voornemens bevorder of as ’n beskerming vir sy volk gedien (Esra 1:1-4; 7:12-26; Handelinge 25:11, 12; Openbaring 12:15, 16). Nietemin het baie politieke heersers ware aanbidding hewig teëgestaan en sodoende getoon dat hulle deel van die Slang se saad is.—1 Johannes 5:19.
19. Hoe word wêreldmoondhede in die boek Openbaring uitgebeeld?
19 In die meeste gevalle het menseheerskappy jammerlik in gebreke gebly om vir ons as mense geluk te bring of om ons probleme op te los. Jehovah het die mensdom toegelaat om met elke regeringsvorm te eksperimenteer, maar hy keur nie korrupsie goed nie en ook nie die slegte manier waarop regerings oor mense gesag voer nie (Spreuke 22:22, 23). Openbaring beeld verdrukkende wêreldmoondhede gesamentlik as ’n trotse en monsteragtige dier uit.—Openbaring 13:1, 2.
Selfsugtige handelaars
20, 21. Watter tweede groep moet saam met die “militêre bevelvoerders” en “sterk manne” as deel van Satan se goddelose saad getel word, en waarom?
20 Oneerlike handelaars in materiële goedere, wat noue bande met politieke leiers het, het op die toneel verskyn. Verslae wat in die ruïnes van eertydse Babilon opgegrawe is, toon dat saketransaksies waarin die teëspoed van ander mense uitgebuit is, destyds baie algemeen was. Die wêreld se handelaars beywer hulle tot vandag toe nog vir selfsugtige gewin, en in baie lande het ’n paar baie ryk geword terwyl die meerderheid van die bevolking van armoede vergaan. In hierdie nywerheidseeu het die handelaars en vervaardigers groot wins gemaak deur die politieke moondhede te voorsien van groot voorrade duiwelse vernietigingswapens, insluitende wapens vir massavernietiging wat nou groot kommer wek. Sulke hebsugtige sakemagnate en ander soos hulle moet saam met die “militêre bevelvoerders” en “sterk manne” as deel van Satan se goddelose saad getel word. Hulle is almal deel van die aardse organisasie wat volgens God en Christus se oordeel teregstelling verdien.—Openbaring 19:18.
21 ’n Derde element van die mensegemeenskap wat God se veroordeling verdien, moet by die korrupte politiek en hebsugtige kommersialisme gevoeg word. Wat is dit? Wat Openbaring van hierdie bekende wêreldstruktuur sê, sal jou dalk verbaas.
Babilon die Grote
22. Watter soort godsdiens het in eertydse Babilon ontwikkel?
22 Toe die oorspronklike Babilon gebou is, was dit meer as ’n politieke onderneming. Aangesien daardie stad weens minagting van Jehovah se soewereiniteit opgerig is, was godsdiens daarby betrokke. Trouens, eertydse Babilon het ’n bron van afgodiese aanbidding geword. Sy priesters het godonterende leerstellings verkondig, soos die oorlewing van die mensesiel ná die dood en dat die hiernamaals ’n plek van ewige afgryse en foltering is waaroor demone toesig hou. Hulle het die aanbidding van skepsele en van ’n menigte gode en godinne bevorder. Hulle het mites versin om die oorsprong van die aarde en die mensdom daarop te verklaar en het verdorwe rites uitgevoer en offers gebring, kwansuis om vrugbaarheid en goeie oeste, sowel as oorwinning in oorlog, te verseker.
23. (a) Wat het die mense met hulle saamgeneem toe hulle van Babilon af versprei het, en met watter gevolg? (b) Watter naam gee Openbaring aan ’n wêreldomvattende ryk van valse godsdiens? (c) Waarteen het valse godsdiens nog altyd ’n stryd gevoer?
23 Toe die verskillende taalgroepe van Babilon af oor die aarde versprei het, het hulle Babiloniese godsdiens met hulle saamgeneem. Rites en godsdiensopvattings soortgelyk aan dié van eertydse Babilon het dus onder die oorspronklike inwoners van Europa, Afrika, die Amerikas, die Verre-Ooste en die Suidsee gefloreer, en baie van hierdie godsdiensopvattings bestaan vandag nog. Openbaring verwys dus tereg na die wêreldomvattende ryk van valse godsdiens as ’n stad genaamd Babilon die Grote (Openbaring, hoofstukke 17, 18). Oral waar valse godsdiens gesaai is, het dit verdrukkende priesterdomme, bygelowigheid, onkunde en onsedelikheid voortgebring. Dit was ’n magtige instrument in Satan se hand. Babilon die Grote het nog altyd ’n verbete stryd teen die ware aanbidding van die Soewereine Heer Jehovah gevoer.
24. (a) Hoe kon die Slang die Saad van die vrou “in die hakskeen” wond? (b) Waarom word die verwonding van die vrou se saad as net ’n hakskeenwond beskryf?
24 As ’n uiters laakbare deel van die Slang se saad het die skrifgeleerdes en die Fariseërs in eerste-eeuse Judaïsme die voortou geneem in die vervolging van en uiteindelike moord op die vernaamste verteenwoordiger van die saad van die vrou. Sodoende kon die Slang “hom [die “saad”] in die hakskeen wond” (Genesis 3:15; Johannes 8:39-44; Handelinge 3:12, 15). Waarom word dit as net ’n hakskeenwond beskryf? Dit is omdat hierdie verwonding hom net kortliks hier op die aarde geraak het. Dit was nie permanent nie, want Jehovah het Jesus op die derde dag opgewek en hom tot geeslewe verhef.—Handelinge 2:32, 33; 1 Petrus 3:18.
25. (a) Hoe het die verheerlikte Jesus reeds daadwerklik opgetree teen Satan en sy engele? (b) Wanneer sal Satan se aardse saad verwyder word? (c) Wat sal dit beteken wanneer die Saad van God se vrou Satan, die slang, se “kop vermorsel”?
25 Die verheerlikte Jesus Christus dien nou aan God se regterhand en oordeel Jehovah se vyande. Hy het reeds daadwerklik opgetree teen Satan en sy engele deur hulle neer te werp en hulle bedrywigheid tot die aarde te beperk—wat die toename van weë in ons dag verklaar (Openbaring 12:9, 12). Maar die voorspelde verwydering van Satan se aardse saad sal plaasvind wanneer God sy oordeel aan Babilon die Grote en alle ander dele van Satan se organisasie op die aarde voltrek. Die Saad van God se vrou, Jesus Christus, sal uiteindelik Satan, daardie listige ou slang, se “kop vermorsel”, en dit sal beteken dat hy heeltemal vernietig en geheel en al uit menseaangeleenthede verwyder sal word.—Romeine 16:20.
26. Waarom is dit uiters belangrik dat ons die profesie in Openbaring ondersoek?
26 Hoe sal dit alles gebeur? Dit is wat in die Bybelboek Openbaring vir ons ontsluier word. Dit word aan ons geopenbaar in ’n reeks visioene wat treffende tekens en simbole bevat. Laat ons hierdie kragtige profesie gretig ondersoek. Ons is inderdaad gelukkig as ons die woorde van Openbaring hoor en onderhou! Deur dit te doen, sal ons ’n aandeel daaraan hê om die naam van die Soewereine Heer Jehovah te vereer en sal ons sy ewige seëninge ontvang. Lees asseblief verder en wees verstandig deur toe te pas wat jy leer. In hierdie tyd van klimaks in die mensdom se geskiedenis kan dit jou redding beteken.
[Venster/Prent op bladsy 13]
Eertydse spykerskrifverslae van saketransaksies
Die boek Ancient Near Eastern Texts, geredigeer deur James B. Pritchard, gee ’n lys van byna 300 wette wat in Babiloniese tye deur Hammoerabi opgestel is. Hierdie wette toon dat dit nodig was om die flagrante oneerlikheid te verbied wat blykbaar in daardie dae in die handelswêreld aan die orde van die dag was. Beskou een voorbeeld: “As ’n heer sonder getuies en kontrakte silwer of goud of ’n slaaf of ’n slavin of ’n os of ’n skaap of ’n esel of enigiets by ’n heer se seun of ’n heer se slaaf gekoop het of dit van hulle ontvang het vir bewaring, moet daardie heer doodgemaak word omdat hy ’n dief is.”