Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 19 bl. 113-119
  • Die verseëling van die Israel van God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verseëling van die Israel van God
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vier winde
  • Die verseëling van God se slawe
  • Hoeveel word verseël?
  • Die Israel van God vandag
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Christengetuies met hemelse burgerskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ‘Die hele Israel sal gered word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 19 bl. 113-119

Hoofstuk 19

Die verseëling van die Israel van God

Visioen 4—Openbaring 7:1-17

Onderwerp: Die 144 000 word verseël, en ’n groot menigte word gesien wat voor Jehovah se troon en voor die Lam staan

Tyd van vervulling: Vandat Christus Jesus in 1914 op die troon geplaas is tot in sy Duisendjarige Heerskappy

 1. “Wie kan staan” gedurende die groot dag van goddelike gramskap?

“WIE kan staan?” (Openbaring 6:17). Ja, wie? Wanneer die groot dag van goddelike gramskap Satan se stelsel verwoes, sal heersers en volke van die wêreld heel moontlik hierdie vraag vra. Vir hulle sal dit lyk asof die naderende ramp alle menselewe sal uitwis. Maar sal dit? Gelukkig verseker God se profeet ons: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 2:32). Die apostels Petrus en Paulus bevestig hierdie feit (Handelinge 2:19-21; Romeine 10:13). Ja, dié wat die naam van Jehovah aanroep, sal oorlewendes wees. Wie is hulle? Namate die volgende visioen hom ontvou, sal ons sien.

 2. Waarom is dit merkwaardig dat daar oorlewendes van Jehovah se oordeelsdag sal wees?

2 Dit is werklik merkwaardig dat enigiemand Jehovah se oordeelsdag sal oorleef, want ’n ander profeet van God beskryf dit met hierdie woorde: “Kyk! ’n Windstorm van Jehovah, woede, het uitgegaan, ’n meesleurende orkaan. Op die hoof van die goddeloses sal dit neerwarrel. Die brandende toorn van Jehovah sal nie wyk totdat hy die idees van sy hart verwesenlik het en totdat hy dit uitgevoer het nie” (Jeremia 30:23, 24). Dit is dringend dat ons stappe doen om daardie storm te deurstaan!—Spreuke 2:22; Jesaja 55:6, 7; Sefanja 2:2, 3.

Die vier winde

 3. (a) Watter spesiale diens wat deur engele verrig word, sien Johannes? (b) Wat word deur “die vier winde” gesimboliseer?

3 Voordat Jehovah hierdie grimmigheid ontketen, verrig hemelse engele ’n spesiale diens. Johannes sien dit nou in die visioen: “Hierna het ek op die vier hoeke van die aarde vier engele sien staan, wat die vier winde van die aarde styf vashou, sodat geen wind op die aarde of op die see of teen enige boom sou waai nie” (Openbaring 7:1). Wat beteken dit vandag vir ons? Hierdie “vier winde” is ’n treffende simbool van vernietigende oordeel wat binnekort losgelaat sal word op ’n goddelose aardse gemeenskap, op die golwende “see” van wettelose mense en op verhewe heersers wat, soos bome, steun en onderhoud uit die mense van die aarde put.—Jesaja 57:20; Psalm 37:35, 36.

 4. (a) Wat stel die vier engele voor? (b) Wat sal die uitwerking op Satan se aardse organisasie wees wanneer die vier winde losgelaat word?

4 Hierdie vier engele stel ongetwyfeld vier engelegroepe voor, wat deur Jehovah gebruik word om die voltrekking van oordeel tot die vasgestelde tyd terug te hou. Wanneer die engele daardie winde van goddelike gramskap loslaat om terselfdertyd uit die noorde, suide, ooste en weste te warrel, sal die verwoesting verskriklik wees. Dit sal ooreenkom, maar op ’n ontsaglike skaal, met Jehovah se gebruik van die vier winde om die eertydse Elamiete te verstrooi, wat tot hulle verplettering en uitroeiing gelei het (Jeremia 49:36-38). Dit sal ’n reusestormwind wees, baie verwoestender as die “orkaan” waardeur Jehovah die nasie Ammon verdelg het (Amos 1:13-15). Geen deel van Satan se organisasie op die aarde sal kan staan in die dag van Jehovah se grimmigheid nie, wanneer hy sy soewereiniteit tot in alle ewigheid regverdig.—Psalm 83:15, 18; Jesaja 29:5, 6.

 5. Hoe help Jeremia se profesie ons om te verstaan dat God se oordele die hele aarde sal insluit?

5 Kan ons seker wees dat God se oordele verwoesting oor die hele aarde sal saai? Luister weer na sy profeet Jeremia: “Kyk! ’n Rampspoed gaan uit van nasie tot nasie, en ’n groot storm sal uit die mees afgeleë dele van die aarde opgewek word. En dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê” (Jeremia 25:32, 33). Dit is gedurende hierdie groot storm dat duisternis hierdie wêreld sal verswelg. Die regeringselemente daarvan sal so geskud word dat hulle in die vergetelheid verdwyn (Openbaring 6:12-14). Maar die toekoms sal nie vir almal duister wees nie. Ter wille van wie word die vier winde dan teruggehou?

Die verseëling van God se slawe

 6. Wie beveel die engele om die vier winde terug te hou, en waarvoor gee dit tyd?

6 Johannes beskryf verder hoe party vir oorlewing gemerk sal word: “En ek het ’n ander engel van die sonsopgang af sien opkom, met ’n seël van die lewende God; en hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: ‘Moenie die aarde of die see of die bome beskadig tot ná ons die slawe van ons God op hulle voorkoppe verseël het nie.’”—Openbaring 7:2, 3.

 7. Wie is die vyfde engel werklik, en watter getuienis help ons om sy identiteit vas te stel?

7 Hoewel hierdie vyfde engel nie by name genoem word nie, dui al die getuienis daarop dat hy die verheerlikte Here Jesus moet wees. In ooreenstemming met die feit dat Jesus die Aartsengel is, oefen hy hier gesag oor die ander engele uit (1 Tessalonisense 4:16; Judas 9). Hy styg uit die ooste op, soos “die konings wat van die sonsopgang af kom”—Jehovah en sy Christus—wat kom om oordeel te voltrek, soos konings Darius en Kores gedoen het toe hulle eertydse Babilon verneder het (Openbaring 16:12; Jesaja 45:1; Jeremia 51:11; Daniël 5:31). Hierdie engel kom ook met Jesus ooreen in die sin dat die verseëling van gesalfde Christene aan hom toevertrou word (Efesiërs 1:13, 14). En wanneer die winde losgelaat word, is dit Jesus wat die hemelse leërs lei om oordeel aan die nasies te voltrek (Openbaring 19:11-16). Jesus sou dus logieserwys die een wees wat sou beveel dat die vernietiging van Satan se aardse organisasie teruggehou word totdat God se slawe verseël is.

 8. Wat is die verseëling, en wanneer het dit begin?

8 Wat is hierdie verseëling, en wie is hierdie slawe van God? Die verseëling het op Pinkster 33 G.J. begin toe die eerste Joodse Christene met heilige gees gesalf is. Later het God “mense van die nasies” geroep en gesalf (Romeine 3:29; Handelinge 2:1-4, 14, 32, 33; 15:14). Die apostel Paulus het geskryf dat gesalfde Christene ’n waarborg het dat hulle “aan Christus behoort” en het bygevoeg dat God “ook sy seël op ons gedruk en ons die pand van wat gaan kom, dit wil sê die gees, in ons harte gegee” het. (2 Korintiërs 1:21, 22; vergelyk Openbaring 14:1.) Wanneer hierdie slawe as God se geestelike seuns aangeneem word, ontvang hulle derhalwe vooruit ’n bewys van hulle hemelse erfenis—’n seël of pand (2 Korintiërs 5:1, 5; Efesiërs 1:10, 11). Hulle kan dan sê: “Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word.”—Romeine 8:15-17.

 9. (a) Watter volharding word van die oorblywende geesgesalfde seuns van God vereis? (b) Hoe lank sal die toetsing van die gesalfdes voortduur?

9 “Mits ons saam ly”—wat beteken dit? Om die kroon van die lewe te ontvang, moet gesalfde Christene volhard, getrou selfs tot in die dood (Openbaring 2:10). Dit is nie ’n geval van ‘eenmaal gered, altyd gered’ nie (Matteus 10:22; Lukas 13:24). Hulle word eerder vermaan: “Julle [moet] julle uiterste bes doen om julle roeping en verkiesing vir julle te verseker.” Soos die apostel Paulus moet hulle uiteindelik kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar” (2 Petrus 1:10, 11; 2 Timoteus 4:7, 8). Hier op die aarde moet die toetsing en sifting van die oorblywende geesverwekte seuns van God dus voortduur totdat Jesus en die engele wat hom vergesel, die seël stewig ‘op die voorkop’ van al hierdie seuns bevestig het, waardeur hulle onweerlegbaar en onherroeplik as beproefde en getroue “slawe van ons God” geïdentifiseer word. Hierdie seël word dan ’n permanente merk. Wanneer die vier winde van verdrukking losgelaat word, sal al die lede van geestelike Israel blykbaar finaal verseël wees, hoewel ’n paar nog in die vlees lewend sal wees (Matteus 24:13; Openbaring 19:7). Die hele ledetal sal volledig wees!—Romeine 11:25, 26.

Hoeveel word verseël?

10. (a) Watter tekste toon dat die getal van die verseëldes beperk is? (b) Hoeveel word altesaam verseël, en hoe word hulle in ’n lys aangegee?

10 Jesus het vir dié gesê wat vir hierdie verseëling in aanmerking kom: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Ander tekste, soos Openbaring 6:11 en Romeine 11:25, toon dat die getal van hierdie klein kuddetjie inderdaad beperk en, trouens, vooraf bepaal is. Johannes se volgende woorde bevestig dit: “En ek het die getal gehoor van dié wat verseël is, honderd-vier-en-veertigduisend, verseël uit elke stam van die kinders van Israel: Uit die stam Juda twaalfduisend wat verseël is; uit die stam Ruben twaalfduisend; uit die stam Gad twaalfduisend; uit die stam Aser twaalfduisend; uit die stam Naftali twaalfduisend; uit die stam Manasse twaalfduisend; uit die stam Simeon twaalfduisend; uit die stam Levi twaalfduisend; uit die stam Issaskar twaalfduisend; uit die stam Sebulon twaalfduisend; uit die stam Josef twaalfduisend; uit die stam Benjamin twaalfduisend wat verseël is.”—Openbaring 7:4-8.

11. (a) Waarom kan die verwysing na die 12 stamme nie op letterlike, vleeslike Israel van toepassing wees nie? (b) Waarom gee Openbaring ’n lys van die 12 stamme? (c) Waarom is daar geen uitsluitlik koninklike of priesterlike stam in die Israel van God nie?

11 Kan dit nie na letterlike, vleeslike Israel verwys nie? Nee, want Openbaring 7:4-8 verskil van die gewone stamlys (Numeri 1:17, 47). Die doel van hierdie lys is klaarblyklik nie om vleeslike Jode volgens hulle stamme te identifiseer nie, maar om te toon dat geestelike Israel ’n soortgelyke organisatoriese struktuur het. Dit is gebalanseerd. Daar gaan presies 144 000 lede van hierdie nuwe nasie wees—12 000 uit elk van 12 stamme. Geen stam in hierdie Israel van God is uitsluitlik koninklik of priesterlik nie. Die hele nasie gaan as konings regeer, en die hele nasie gaan as priesters dien.—Galasiërs 6:16; Openbaring 20:4, 6.

12. Waarom is dit gepas dat die 24 ouderlinge die woorde van Openbaring 5:9, 10 voor die Lam sing?

12 Hoewel die natuurlike Jode en Joodse proseliete die eerste geleentheid gegee is om vir geestelike Israel gekies te word, het slegs ’n minderheid van daardie nasie gunstig gereageer. Jehovah het die uitnodiging gevolglik aan die nie-Jode gerig (Johannes 1:10-13; Handelinge 2:4, 7-11; Romeine 11:7). Soos die Efesiërs, wat voorheen “vervreemd [was] van die staat Israel”, kon nie-Jode nou met God se gees verseël word en deel van die gemeente van gesalfde Christene word (Efesiërs 2:11-13; 3:5, 6; Handelinge 15:14). Dit is dan gepas dat die 24 ouderlinge voor die Lam sing: “Met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers.”—Openbaring 5:9, 10.

13. Waarom kon Jesus se halfbroer Jakobus sy brief tereg rig “aan die twaalf stamme wat oral verstrooi is”?

13 Die Christengemeente is “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie” (1 Petrus 2:9). Aangesien dit natuurlike Israel as God se nasie vervang, word dit ’n nuwe Israel wat “werklik ‘Israel’” is (Romeine 9:6-8; Matteus 21:43).a Daarom was dit heeltemal gepas dat Jesus se halfbroer Jakobus sy herderlike brief gerig het “aan die twaalf stamme wat oral verstrooi is”, dit wil sê aan die wêreldwye gemeente van gesalfde Christene wat met verloop van tyd 144 000 sou tel.—Jakobus 1:1.

Die Israel van God vandag

14. Wat toon dat Jehovah se Getuies nog altyd die mening gehuldig het dat die 144 000 die letterlike getal is van dié wat geestelike Israel uitmaak?

14 Dit is interessant dat Charles T. Russell besef het dat die 144 000 ’n letterlike getal persone is wat ’n geestelike Israel uitmaak. In The New Creation, Deel VI van sy Studies in the Scriptures, wat in 1904 uitgegee is, het hy geskryf: “Ons het alle rede om te glo dat die bepaalde, vasgestelde getal van die uitverkorenes [uitgekose gesalfdes] die getal is wat etlike kere in Openbaring (7:4; 14:1) gemeld word; naamlik 144 000 wat ‘uit die mense losgekoop is’.” In Lig, Boek Een, wat in 1930 deur die Bybelstudente uitgegee is, is daar ook gesê: “Die 144 000 lede van die liggaam van Christus word dus in die vergadering getoon as uitverkore en gesalf, of verseël.” Jehovah se Getuies het nog altyd die mening gehuldig dat letterlik 144 000 gesalfde Christene geestelike Israel uitmaak.

15. Wat het opregte Bybelstudente net voor die dag van die Here gemeen dat die natuurlike Jode ná die einde van die Tye van die Nasies sou geniet?

15 Verdien natuurlike Israel nie vandag nogtans ’n mate van spesiale guns nie? In die tydperk net voor die dag van die Here, toe opregte Bybelstudente baie van die basiese waarhede van God se Woord herontdek het, is daar geglo dat die Jode ná die einde van die tye van die nasies weer eens ’n bevoorregte posisie voor God sou geniet. C. T. Russell se boek The Time Is at Hand (Deel II van Studies in the Scriptures), wat in 1889 uitgegee is, het Jeremia 31:29-34 gevolglik op die natuurlike Jode toegepas en gesê: “Die wêreld is getuie van die feit dat Israel se straf onder die oorheersing van die Nasies sedert [607] v.C. voortgeduur het, dat dit steeds voortduur en dat daar geen rede is om hulle herorganisasie as ’n volk voor 1914 n.C., die einde van hulle ‘sewe tye’—2 520 jaar—te verwag nie.” Dit het gelyk asof die Jode dan as ’n volk herstel sou word, en hierdie vooruitsig is blykbaar in 1917 versterk, toe die Balfour-verklaring Britse steun beloof het om Palestina ’n volkstuiste vir die Jode te maak.

16. Watter pogings het Jehovah se Getuies aangewend om die natuurlike Jode met die Christelike boodskap te bereik, en met watter resultaat?

16 Ná die Eerste Wêreldoorlog het Palestina ’n mandaatgebied onder Groot-Brittanje geword, en baie Jode kon na daardie land terugkeer. In 1948 is die politieke staat Israel gestig. Het dit nie aangedui dat die Jode goddelike seëninge sou ontvang nie? Jehovah se Getuies het baie jare lank geglo dat dit die geval is. Hulle het dus in 1925 ’n boek met 128 bladsye, Comfort for the Jews, uitgegee. In 1929 het hulle Lewe vrygestel, ’n aantreklike publikasie met 360 bladsye, wat bedoel was om by die Jode ingang te vind en wat ook die Bybelboek Job bespreek het. Groot pogings is aangewend, veral in die stad New York, om die Jode met hierdie Messiaanse boodskap te bereik. Gelukkig het ’n paar persone gunstig gereageer, maar die Jode oor die algemeen het, soos hulle voorvaders van die eerste eeu, die bewyse van die Messias se teenwoordigheid verwerp.

17, 18. Wat het God se slawe op die aarde aangaande die nuwe verbond en die Bybel se herstellingsprofesieë begin verstaan?

17 Dit was duidelik dat die Jodedom, as ’n volk en as ’n nasie, nie die Israel was wat beskryf is in Openbaring 7:4-8 of in ander Bybelprofesieë oor die dag van die Here nie. In navolging van tradisie het die Jode voortgegaan om die gebruik van die goddelike naam te vermy (Matteus 15:1-3, 7-9). In ’n bespreking van Jeremia 31:31-34 het die boek Jehova, wat in 1934 deur Jehovah se Getuies uitgegee is, uitdruklik gesê: “Die nuwe verbond [het] niks te doen . . . met die natuurlike afstammelinge van Israel en met die mensdom in die algemeen nie, maar . . . is tot geestelike Israel [beperk].” Die Bybel se herstellingsprofesieë het nie betrekking op die natuurlike Jode of op politieke Israel nie, wat ’n lid is van die Verenigde Nasies en deel is van die wêreld waarvan Jesus in Johannes 14:19, 30 en 18:36 gepraat het.

18 In 1931 het God se slawe op die aarde met groot vreugde die naam Jehovah se Getuies aangeneem. Hulle kon die woorde van Psalm 97:11 van ganser harte onderskryf: “Lig het opgegaan vir die regverdige, en blydskap vir die opregtes van hart.” Hulle kon duidelik onderskei dat net geestelike Israel in die nuwe verbond ingebring is (Hebreërs 9:15; 12:22, 24). Onverskillige natuurlike Israel het geen deel daaraan gehad nie, en ook nie die mensdom oor die algemeen nie. Hierdie begrip het die weg gebaan vir ’n helder flits van goddelike lig wat uitsonderlik is in die annale van teokratiese geskiedenis. Dit sou openbaar hoe ryklik Jehovah sy barmhartigheid, liefderyke goedhartigheid en waarheid gee aan alle mense wat nader aan hom kom (Eksodus 34:6; Jakobus 4:8). Ja, ander benewens die Israel van God sou baat vind by die feit dat die engele die vier winde van vernietiging terughou. Wie kan dit wees? Kan jy een van hulle wees? Laat ons nou sien.

[Voetnoot]

a Die naam Israel beteken gepas “God stry; Stryder (Volharder) met God”.—Genesis 32:28, voetnoot in NW.

[Volbladillustrasie op bladsy 114]

[Prente op bladsy 116, 117]

Die algemene verkiesing van die ware Israel van God het plaasgevind vanaf Pinksterdag in 33 G.J. tot in 1935, toe die klem by ’n geskiedkundige byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, verskuif is na die insameling van ’n groot menigte met die vooruitsig op aardse lewe (Openbaring 7:9)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel